Monday, June 28, 2010

Hoe die skaapwagter elke skaap se naam geken het. Oor Moody en die mistagogie! (9)

Moody, daardie beroemde Amerkaanse evangelis uit die tweede helfte van die negentiende eeu vertel die storie van ‘n vriend van hom wat in Sirië ‘n skaapwagter ontmoet het wat die reputasie gehad het dat hy al sy skape name gegee het en hulle name onthou het.

Moody se vriend, op besoek by die man, wou hom toets. Hy vra hom toe om van sy skape te roep.

Die skaapwagter roep toe: “Karel.” Een van die skape hou op eet en kyk op na hom. Die skaapwagter roep hom: “Kom hier.” Die skaap het nader gekom en na hom gestaan en staar.

Dit het hy met ‘n paar van die skape gedoen.

Die vriend van Moody vra toe vir hom hoe hy dit regkry want, uiteraard vir ‘n stadsjapie, die skape lyk almal dieselfde. Die skaapwagter verduidelik toe dat hy elkeen van die skape herken aan tipiese kenmerke. Die een het ingedraaide voete. Die ander een het ‘n skewe oog. Nog een het ‘n merkie onder sy oor.

Die vriend sit toe en dink by homself dat die skaapwagter elkeen van die skape uitken aan een of ander gebrek. Nie een van die skape was perfek nie.

En nou die toepassing wat Moody fokus op die motief van die skape se gebreklikheid: Só, sê Moody, kyk die Here na mense. Daar is ‘n gierige mens en die Here stel ‘n skaapwagter aan om hom te help waak daarteen. Daar is ‘n mens wat ‘n egte skinderbek is. ‘n Ander een wat skelm is. Hulle het ‘n skaapwagter nodig om oor hulle te waak en hulle te beskerm teen hul eie swakheid. Daar is nie ‘n mens op aarde wat nie ‘n swakheid, ‘n gebrek het nie, vertel Moody.

Ons sleep ons sondigheid saam met ons.

En nou die eintlike punt: As ‘n mens regtig jou swakheid wil weet, moet ‘n mens iemand hê wat dit vir jou kan uitwys. God sou nooit vir Christus uitgestuur het as die mens nie hulp en versorging nodig gehad het nie. Ons is so swak en dom en gebreklik soos skape....

Dis nogal ‘n storie vol spronge, dink ek aanvanklik. Veral van die storie na die toepassing. Maar later besef ek, Moody wil die mistagogiese proses beklemtoon. En hy doen dit aan die hand van ‘n groeiende bewussyn van ‘n mens se feilbaarheid. Ons geestelike mondering het sy onbeskermde plekke wat ons blootstel. Ons moet dit weet – dit is deel van menslikheid. En juis daarom leef die mens in afhanklikheid van geestelike begeleiding. Daarsonder val die geestelike reis maklik vas. Met geestelike begeleiding word die reis verrykend.

Ons het reeds gesien dat die mistagogie een fundamentele uitgangspunt het: dit kan net plaasvind wanneer iemand uit sy eie na ‘n mistagoog gaan en sy hart vir daardie persoon oopmaak.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive