Sunday, April 17, 2011

Die onvervangbare waarde van 'n mens se lewe. Oor geweld en ons polisie.



Ek het al voorheen op hierdie blog oor die polisie geskryf en my kommer te kenne gegee oor die aggressiewe, selfs brutale optrede teenoor die gemeenskap.

Intussen het verskeie voorvalle van polisie-geweld mense geskok.

Maar niks kom by die gebeure in Ficksburg waar Andries Tetane, ongewapend, deur die polisie aangerand is nie en toe deur 'n polisielid wat 'n meter of twee van hom gestaan het, doodgeskiet is.

Hy is dood omdat hy vir die polisie geskreeu het om nie 'n ouer man met 'n waterkanon te spuit nie, maar eerder vir hom.

Selfs nadat hy geskiet is, op die grond neergeval het, het hy nog een keer opgestaan en moedig probeer regop bly. Hy was aan die voorpunt van die opmars, terwyl hy onvermoeid gestry het dat sy gemeenskap 'n menswaardige bestaan gegun word.

Om hom het alles ten hemele uitgeroep oor 'n gemeenskap wat in die aller-ellendigste omstandighede verwaarloos word en selfs die mees basiese geriewe ontbeer. En dit terwyl korrupte mense in ons land om elk hoek en draai bedrog pleeg - meestal ten koste van die armstes van armes. 

Sy laaste woorde aan sy vriend, Molefi Nonyane, was: "Ek het probeer veg. Nou is ek moeg. Help my."

Terwyl ek die toneel van hierdie onderwyser en gemeenskapsleier se dood voor my op die skerm sien afspeel, ervaar ek woede en teensin wat nie in woorde uitgedruk kan word nie.

Die polisie is in alle beskaafde lande die vriend van die gemeenskap, die beskermer van die weerloses, die hoeder van die reg. Met fermheid en dissipline word reg en orde bevorder, nie met geweld en brutaliteit nie. 

Dit is die etos wat diep in polisie-geledere ingegrein moet word. Dit is wat hulle moet dink, elke keer as hulle straat-op gaan, as hulle met die publiek te doen kry. 

Die optrede van die polisie in Ficksburg het niks met so 'n etos te doen nie. 


Dit het twee dae geneem voordat die polisie-lede wat vir hierdie daad verantwoordelik is, in hegtenis geneem is. Twee dae voordat iemand besef het dat dit krimineel is om 'n ongewapende mens wat vir die bestaanswaardigheid van gemeenskappe opkom, dood te skiet. 

Mense kan nie genoeg protesteer teen sulke dade nie. Met blydskap het ek daarom gelees dat die Suid-Afrikaanse Raad van kerke 'n verklaring uitgereik het waarin woede oor die voorval uitgespreek is. Dit is die soort van ding wat elke ordentlike mens nou behoort te doen - protesteer. Iewers behoort gelowige mense wat glo in die onvervangbare waarde van elke menselewe veral hul stem te laat hoor. 

Intussen is die vraag wat by mens bly opkom: watter soort mens word lid van die polisie en besluit sommer net om iemand naby hom dood te skiet wanneer hy dink die tyd is reg daarvoor? Of: nie minder belangrik nie: watter soort mense bestook ouer persone met 'n waterkanon terwyl hulle vreedsaam hul griewe rig? 

Wat is fout met ons mense?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive