Friday, July 15, 2011

Wanneer iemand 'n mens verontreg. Oor die veilige ruimte.


Net Chagall (Biddende Job) kan groen, simbool van heiligheid, so skilder.


Dit skryf Nouwen in sy Dagboek:

25 Julie

 

Delf in ons geestelike reserwes


Wanneer iemand ons seermaak, beledig, ignoreer, of verwerp, ontstaan daar ’n diepe innerlike protes in ons.

Dit kan die vorm aanneem van woede of depressie, ‘n begeerte om weerwraak te neem, of selfs die drang om onsself skade aan te doen. Ons kan ’n diepe drif voel om hulle wat ons seergemaak het, terug te kry of om onsself aan die wêreld of mense te onttrek in ’n selfmoordbui van selfverwerping.

Hoewel hierdie ekstreme reaksies abnormaal lyk, is hulle nooit ver weg van ons harte nie. Deur die lang nagte ontdek ons dikwels hoe ons broei op woorde en dade wat ons kon gebruik het in reaksie op wat ander vir ons gesê of aan ons gedoen het.

Dit is presies hier dat ons diep in ons geestelike reserwes moet delf en die sentrum van ons bestaan moet vind. Hierdie sentrum lê anderkant die behoefte om ander of onsself kwaad aan te doen. Dit is die sentrum waar ons vry is om te vergewe en lief te hê.


Nouwen wys hiermee uit hoedat ons reaksie op wat ander mense doen, ons lewe kan oorheers – hoewel dit eintlik nie werklik met die hart van ons lewe te doen het nie.

Om weerwraak te koester is oppervlakkig, bedoel hy. Dit neem ‘n mens weg van jou egte bestemming.

Die mens se bestemming is op ‘n heel ander plek: In die diepste binnekant van ons lewe is daar ‘n ruimte waarin mense volledig vry is. Dit is ‘n ruimte waar ander mense nie kan inmeng nie.

Dit is die ruimte wat werklik saak maak. Dit is ‘n vaste burg van vrede.  

Wat is dan die probleem? Waarom laat ‘n mens toe dat ander mense ‘n mens se lewe tot niet maak of dat eie behepthede en gedane onreg jou lewe op sleeptou neem?

Die antwoord lê in die “delf” van Nouwen se laaste paragraaf. Verby die oppervlakkige dinge, moet ‘n mens grawe om by die dieper vlakke van ons bestaan uit te kom. En dit gebeur nie. Ons leef nie asof daar ‘n goudaar in ons lewe is wat maar net oopgegrawe moet word nie.

Hoe doen ‘n mens dit? Daar is baie, baie voorstelle wat mense maak om mede-gelowiges prakties te help vergeet van die kwaad wat hulle aangedoen is. Asemhalingstegnieke, ontladingstegnieke, verdringingstegnieke, vervangingstegnieke.

Hierdie tegnieke wil almal vir ‘n mens help om jou reaksie op die kwaad ernstig op te neem en doelbewus van jouself te vra om jou emosies daaroor in ‘n regte rigting te stuur sodat dit nie ‘n obsessie word nie.

Dit is nuttige raad en seker die moeite werd om in gedagte te hou.

Daar is nog ‘n moontlikheid wat 'n egte geestelike oefening kan word: wanneer ‘n mens op soek is na die diepste deel van jou lewe waar jy werklik vry is, ook van jou wraak- en haatgedagtes, is dit eintlik ‘n soeke na ‘n plek waar God woon. God woon in die volmaakte en in vrede. ‘n Mens word vry van weerwraaksgevoelens en van obsessiewe gedagtes omdat ‘n mens iets veel belangrikers ontdek en begin nastreef – die liefde van God en die intieme verhouding wat God met mense aanknoop.

Dink maar aan die Onse Vader, die volmaakte gebed. Wanneer dit meditatief gebid word, met die hele hart, hele siel en die hele verstand, vind daar ‘n verskuiwing van ‘n mens se belewing plaas. Die verlange beweeg weg van ‘n obsessie met ‘n mens se diepe verontwaardiging, van jou seergemaakte binneste, na die heiliging van God se naam. Die gebed bring ons in ‘n veilige ruimte in waar die bede is om die koms van God se koninkryk, die begeerte is dat God se wil sal geskied. Dit is die vra om die paradys. Hier, in die modelgebed, is daar nie ‘n gebed dat my aardse koninkryk veilig sal wees en dat my wil om weerwraak suksesvol sal wees nie. Dan volg die kort versoek dat ‘n mens die broodnodig as gawe sal ontvang (geniet die dag se voedsel). Dit is genoeg. Wie dit het, het die lewe. En uiteindelik is al die aandag weer gerig op God: Want aan God behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid.

‘n Mens leef in die ruimte waarop jou hart biddend gerig is. Deur die modelgebed van die Here Jesus  word die bidder se innerlike ingestem op die Vader, word hy/sy omvorm om in die teenwoordigheid van die Ewige te leef. Wat dan saak maak is dat n mens nooit hierdie ruimte sal kwyt wees nie – vandaar die gebed om vergewe te word van alles wat ‘n mens se verblyf in die ruimte tot niet maak. Hieruit volg die gebed aan God om sondervergifnis en daarna die mistieke, kort opmerking: soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

Deur die Onse Vader te bid, delf ‘n mens diep in jou reserwes in. Dit is die manier om tuis te kom by die woning waar al ons behepthede, maar selfs die onreg wat ‘n mens aangedoen word, nietig lyk.

Nie dat dit maklik is nie. Spirtualiteit is ‘n proses van groei. Die kerk het nie verniet nog atlyd beklemtoon dat ‘n mens die Onse Vader nie genoeg kan bid nie. Elke dag, dikwels ‘n paar keer ‘n dag, veral in woelige krisistye. Bietjie vir bietjie met die bid van elke dag sak die wortels dieper en dieper af na die vrugbare grond waaruit die sterk boom van die lewe groei.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive