Monday, January 02, 2012

Mistiek en vriendskap




Wat maak ‘n skrywer soos Teresa van Avila invloedryk?

Sekerlik het dit te doen met haar ywer, haar doelgerigtheid, haar toewyding, haar opoffering en haar insig.

Maar in haar outobiografie kom daar iets heel spesiaal na vore wat help verklaar waarom sy tot in ons tyd nog so wyd gelees word. Die spesiale trek is ‘n kenmerk van die mistieke lewe wat te dikwels vergeet word.

Teresa van Avila, die bekende mistikus uit die sestiende eeu, het na haar ingrypende bekering (sien gister se blog) en na die totale breuk wat sy met haar verlede, ook as gelowige gemaak het, vele besondere ervarings gehad. Sy het die ingryping van God op baie maniere beleef – en met hierdie ervarings ywerig haar pad van hervorming geloop.

Maar haar aandag was nie ingestel op al die wonderlike dinge wat met haar gebeur het nie. Trouens, dikwels ondersoek Teresa al hierdie spesiale oomblikke met ‘n kritiese gees. Sy wou seker maak dat sy daarin na die wil van God geleef het. Sy was bedug dat van hierdie spesiale dinge selfs bose oorspronge kon gehad het. Daarom het sy moeite gedoen om te beklemtoon dat sy nie ervarings in haar lewe wou duld wat sy, in haar woorde, van die duiwel sou kry nie.

Wat my egter spesiaal aangryp in my leeswerk oor Teresa is die klem wat sy lê op die werking van God self in haar lewe. Dit is dus ook nie by haar ‘n kwessie van “nederige” “self-verloëning” nie. Haar selfloosheid word gedryf deur iets diepers en groters: vir haar is alles wat met haar gebeur ‘n teken van haar “vriendskap” met God. Dit is nie die wonders en die spesiale dinge wat tel nie, maar dat God in haar lewe aan die werk is.

Vir haar gaan dit om God wat haar lei, wat by haar is, wat haar gids is en wat in ontferming by haar bly.

Haar bewussyn van God se vriendskap met haar, is wat Teresa se werk so invloedryk maak: in haar werke herken mense vandag nog God as vriend – die Een wat die sondaar met barmhartigheid tegemoet snel en tot nuwe mens omvorm.

Dit is die magnetiese krag van die mistiek – om tog, in tye en plekke waar God se gesig nie altyd deur mense se lewens gewys word nie, vir mense uit te laat kom by iemand in wie se lewe ‘n mens die Ewige Ontfermer se teenwoordigheid herken.

Om God se hand in joune te voel - vriendskap, nabyheid, intimiteit.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive