Friday, May 25, 2012

Selfs jou mure praat van oorlog




Voor ons konferensie in Malta kry ons die kans om die eiland bietjie te verken. Dit is nie ‘n groot eiland nie. ‘n Mens kan in twee ure reg rondom die eiland ry.

Klein.

Maar jy is skaars op pad of jy loop teen die verskriklike geskiedenis van die plek vas.
Wat my die meeste opval is die geweldige mure wat om elke hoek en draai gebou is. Dit is reusagtige mure wat almal ten doel het om die viand uit te hou.

Want, sien, Malta is, vanuit ‘n strategiese hoek gesien , die kosbaarste stukkie aarde in die Mediterreense See.

Wie Malta beheer, beheer die noorde van Afrika en Europa. Daarom was Malta die slagoffer van al die groot ryke. Die groot slag teen die Ottomaanse Ryk het in die sestiende eeu hier plaasgevind. Die Ridders was hier. Die Britte was daarna die base.

Dit is ‘n verskriklike geskiedenis van geweld en oorlog.

Gisteroggend is ons vir die oggend op ‘n bootjie uit na die Blue Grotto. Die water is helder, helder, gloeiend blou. Die kranse is oorweldigend hoog. Die onherbergsame kuslyn laat jou wonder hoe die skepies vanouds benoud moes gesoek het na ‘n hawe waar hullle anker kon gooi.

Op pad daarheen, ry ons verby ‘n eiland langs die kus, so groot soos ‘n rugbyveld. Daar is pragtige rotsformasies op die eiland. Maar niemand mag meer daarop land nie, behalwe wie ‘n spesiale permit kry. Die plek is te verniel en word tans beskerm.

Ja, vertel ons gids, in die tweede wêreldoorlog het die verveelde Britse soldate teiken na die eiland geskiet.
Bedink dit: jaar na jaar, decade na decade, eeu na eeu, het die plaaslike inwoners base gehad. Onder hulle, sien ek, was die kanon-malle Lord Methuen wat van 1915-1918 goewerneur van Malta as kolonie was. Ons ken hom. Hy was een van die booswigte wat in die Boere-oorlog die aarde verskroei en die duisende kinders se dood in konsentrasie-kampe aanskou het. Hier op Malta sou hy sy mag met nog groter toewyding kon laat geld.

Arme land: Generaals was hul politieke heersers. Vreemde heersers het hul land beset. Dag en nag het hulle oorlog ingeasem en teen die gesigte van vreemde magshebbers vasgekyk.

 Wat ‘n geskiedenis het ons aardbol tog nie.

Blog Archive