Thursday, October 31, 2013

God se totale verlange


In Lukas 15 word die volgende gelykenis van Jesus vertel:

8 “Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?

9 En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê:

‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’

10 Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Die laaste paar dae bly hierdie gelykenis in my kop vassteek.

Die boodskap gaan blykbaar oor God se omgee vir die “verlorene.”

Tog is daar iets meer:

God, vertel die gelykenis, is ryk. God is soos iemand wat 10 muntstukke het.

Dit is nie die grootste ramp, dus, as een van die tien wegraak nie. Daar bly tog genoeg oor?

Dit is soos die gelykenis van die skaapwagter wat min gepla is oor 99 skape wat hy nog het, maar gaan soek na die een wat weggeraak het. Hy los, trouens, die 99 net so in die woestyn. Dit is nie die veiligste plek om ‘n skaap te los nie.

Hoekom sou hy dit wou doen?

Hy het immers nog 99 skape. Dit is soos die pa van die verlore seun wat meer oor hom begaan is as oor die een seun wat hom getrou tuis bly dien het.

God se houding is anders: een skaap of muntstuk wat weg is, is genoeg rede om uit te gaan en daarna te soek.

Jy is altyd by my, het die pa vir die oudste seun gesê. Maar as een deel van ons familie ontbreek, ly almal.

As een skaap weg is, as een muntstuk ontbreek, word die volmaakte vermink. God soek die volheid van die skepping. Niks mag ontbreek nie.

Die lelies en die voëltjies het hul plek: God gee om.

Hieroor kan ‘n mens alleen maar bly wees.

Dit is ‘n boodskap oor God se verlange na heelheid. Niks, nie die kleinste van dinge, ontbreek in God se ryk nie.

Die gelykenis sê veel meer van God as van verlore mense. Dit is ‘n verhaal van God se totale verlange.




Blog Archive