Tuesday, December 24, 2013

Kinderlik

Hy was, vir dié wat veel weet,
vir hulle met hoë harte,
gróót invloedrykes,
'n werkerseun uit 'n veraf plek
wat durf bly saampraat het.

Omdat hy menigtes laat hoop,
dié met oop, verlangende hart,
met eenvoud van gemoed,
word, wrewelrig, hy uit hul heilige plek weggeneem,
vroom tot bedrieër in hul hoë hof verdoem.

Hy wat reis om met daardie Grootdag
van vereniging,
van versoening
die brug te bou, die weg te wys,
het, verlangend, verworpe, pyn gely, gesterf.


Tog was hy tot op die allerlaaste vry
van afstand,
van vyandskap,
sodat, uiteindelik, in die tuin, lig na lig, 
helder lig, sy lewe onomkeerbaar, paradyslik, binnestroom.

Hulle is deur daardie oorvloedigheid van
die Lig,
die suiwerende lig,
tog nog vrygemaak -
die pentateugiese lig van sy woorde, sy sterwe, sy lewe.


En, hieruit, uit die woorde en die lewe, juis toe:
die mistieke, die innerlike wete -
lank reeds het hulle die goddelike roeringe
van vryheid gevoel.
So lank terug, reeds toe hy nog kind was:

In sy stal van die veraf plek was reeds, Verborge,
al die vrede van die tuin:
helder, as engellig,
suiwer, as engelklank,
vir hulle wat wag, kinderlik verlangend, wag op die Een-voudige.


Blog Archive