Bonhoeffer, het jy op 11 Maart 2011 aangeteken, skryf die volgende:
O God, vroeg in die oggend roep ek na U.
Help my om te bid en my gedagtes op U te rig; ek kan dit nie self doen nie.
Daar is duisternis in my, maar by U is daar lig;
ek is eensaam, maar U laat my nie alleen nie;
ek is swak, maar U kan my help;
ek is rusteloos, maar by U is daar vrede.
In my is daar bitterheid, maar by U kry ek geduld;
ek verstaan nie u weë nie, maar U ken die pad wat ek moet volg …
Maak my vry en laat my toe om nou so te lewe
dat ek voor U en voor mense kan staan.
Here, wat hierdie dag ook al mag bring, laat U Naam geprys word.
Amen.
Daar is 'n oorvloed van donkerte om 'n mens; Alleen-wees. lusteloosheid, verwyte, radeloosheid - soos in Bonhoeffer se eerste 8 bedes.
Op elkeen hiervan is daar egter 'n alternatief: Saam met God wees, krag van Bo kry, vrede ervaar, rigting vind.
Die besef van die alternatief op die donkerte kom nie sommer net uit niks op nie.
Dit kom tot hulle wat daarna verlang. As 'n gawe - van buite jouself.
Die diepe verlange is die beginpunt van die reis: om na God te roep, sommer vroeg reeds in die dag, nog voordat die donker dinge oor mens kom.
Die wete kom nie natuurlik nie. Dit word nie ontdek nie. Dit word geskenk.
Aan hulle wat roep daarna, aan hulle wat toelaat dat God met hulle praat ("ek kan dit nie self doen nie"). Hulle wat afhankelik is.
En dit word 'n daaglikse versugting van die geestelike reis wat mens lewenslank bybly - hierdie versugting na vryheid: dan is dit die tyd om te kan regop staan. Opstaan uit die verslaentheid. Ongebonde deur eie ingekeerdheid.
Vryheid is die pad wat vir 'n mens gegee word.
Dan raak mens vry van 'n self-ingekeerdheid, 'n donkerte, die onrus.
Die belangrikste: waar mens vry word, volg die vreugde: laat U Naam geprys word. Baie dinge wat oor mens se pad kom kan uiteindelik nie die helder lig wat op mens skyn verdoof nie.
Dit is: solank ons gedagtes op die Goedheid van ons lewe gerig is. Wie soek, sal vind. Wie smag, sal staande bly.