Sunday, March 02, 2025

Droewige rykdom of die hemelse skat.


Watts se skildery van die ryk jongman. (Tate galery). Ryk, maar bedroefd.   



Droewige rykdom of die hemelse skat.

 

Al drie evangelies vertel die verhaal van iemand wat na Jesus kom en vra hoe om die ewige lewe te beërwe (Lukas 18; Matteus 19 en Markus 10): 

 

Matteus en Markus sê dit was ‘n jongman. 


Net Markus vertel hoe Jesus gereageer het toe die jongman vir hom sê dat hy van kindsbeen af ‘n wetsgehoorsame lewe gehad het. 

Markus skryf dan dat Jesus hom aangekyk het en hom liefgekry het. (Ὁ δὲ Ἰησοῦς ἐμβλέψας αὐτῷ ἠγάπησεν αὐτὸν).  

Die ontmoeting met die jongman begin op ‘n opvallende manier: die jongman "hardloop" na Jesus toe. Hy is gretig en haastig. Die eenvoudige opmerking wys op sy dringende verlange om so gou as moontlik by Jesus uit te kom. Dit is 'n driftige verlange wat hy het. 

Die jongman se positiewe houding word onderstreep as hy voor Jesus "kniel" (vers 17). In Markus evangelie is kniel ‘n simbool vir verwondering en ontsag: die eerbied blyk ook wanneer hy vir Jesus sy lewensbelangrike vraag vra. 

Ook in die kniel en in sy vraag wys  ‘n dringende verlange na die ewige lewe. 

Sy vraag oor die “ewige lewe” word in vers 21 verduidelik: as ‘n mens Jesus volg deur ook jou aardse skatte in sy diens te stel, het jy “’n skat in die hemel.” Want as jy ook jou skatte kan prysgee, “volg” jy Jesus. In vers 30 word dit verder verduidelik: volgeling van Jesus ontvang huise, broers en susters, ma’s en kinders, en grond – en lewe in ‘n nuwe bedeling. Mens word deel van ‘n familie, die huisgesin van God.

Om by Jesus te wees, skryf Markus dus, is lewensvervullend - dit oortref enige iets wat jy mag weet of het.  

Dit is genoeg. Dit is waarom die lewe gaan.  

Terwyl Jesus egter vir die jongman liefkry, gaan hy bedroefd en treurig “weg” van Jesus.  Jesus herken sy innige verlange. Hy merk op sy soeke na vervulling. 

Die jongman het dus baie van Jesus gedink. Hy was bereid om van hom te leer oor dinge wat hom na aan die hart gelê het. 

Maar hy gaan bedroef weg, onaangeraak deur die liefdesblik en liefdesaanbod van Jesus. 

Hy dink eerder aan al die besittings waarvan hy ontslae moet raak. 

Sy lang lewe van getrouheid het aan die wet hom onvervuld gelaat het. 

Soveel so, dat hy skoon treurig raak daarvan. Soveel so, dat hy nie eers die liefdesuitreiking van Jesus herken nie. Hy word uitgenooi om by Jesus te wees. 

Hy besef nie: wat hy sou prysgee om Jesus te volg, sou hy “honderd keer” meer ontvang (vers 30). Nabyheid, nou, maar ook in ewigheid. 

Dit is ‘n verhaal wat vertel van menslike blindheid vir God se nuwe lewe. Wie sy lewe verloor… Die droewige verhaal is ‘n verhaal van deformasie: die droewige lot van ‘n vlak verhouding met God. 

Maar al hierdie opmerkings het nog nie by die kern van die ontmoeting met die jongman uitgekom nie. Want in die diepste punt van die verhaal gaan die om omgee, ontferming, om mededeelsaamheid, Dis nie die verkoop van besittings wat die struikel blok is nie. 

Jesus stuur die jongman se aandag na die armes: hulle wat niks het nie. 

Mens kan vol lof vir Jesus wees, maar 'n droewige lewe wag op jou as jy nie met die oë van Jesus die nood van hulle wat niks of min het miskyk. 

Ontferming - een van die pilare van 'n geestelike lewe. 

 


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive