Thursday, December 11, 2008

Meister Eckhart: as mistikus. Oor die Verborge God.

Die Duitse Dominikaan, Meister Eckhart (1260-1328), speel ‘n belangrike rol in die geskiedenis van die mistiek. Hy was ‘n geleerde, presiese denker – hy word nie verniet “Meister” (“professor”) genoem nie. Hy het onder andere in die universiteit by Parys by die fakulteit van lettere klas gegee en sy werke wys hoe versigtig en presies hy gedink het. Hy het ‘n groot invloed selfs in die filosofie uitgeoefen. Hy het ‘n goeie reputasie gehad, onder andere in ‘n opsienersfunksie oor verskeie kloosters. Dit was egter veral in sy mistiek dat hy die denke van vele later mistici sou stuur.

Eckhart is die man van paradokse – hy gebruik dikwels teenoorgestelde stellings om helderheid oor ‘n saak te bring. Dit werk dikwels op ‘n heel eenvoudige vlak (hy het 'n punt gemaak om met "gewone" nie-akademiese mense oor sy gedagtes te praat), soos wanneer hy byvoorbeeld oor die mens se tranformasie die volgend skryf: As ‘n mens gehoorsaam is en jou eie wil verloën, skep dit die ruimte vir God om in jou te kom. As ek niks vir myself wil nie, sal God se wil in my werk. Hoe sterker ‘n mens na God dors, hoe sterker is God in jou teenwoordig (dit is my gunsteling insig vir hierdie dag!). Hoe meer ‘n mens na God se wil lewer, hoe meer outentiek en eg is jou wil. Hoe meer ‘n mens jou in jouself afsluit, hoe meer sluit ‘n mens God uit. Hoe meer ‘n mens jouself aan God oorgee, des te meer gee God Godself aan jou. Die groot geheim bly dit: God werk in die mens. Die volle lewe kom alleen maar deur ‘n mens oop te stel vir hierdie goddelike werking en omvorming.

Meer kompleks is Eckhart se siening van God wat latere denkers sterk beïnvloed het. In hierdie siening is Ekhart byvoorbeeld onder andere beïnvloed deur Thomas van Aquinas se siening van die analoë verhouding tussen God en mens. Tussen God en mens is daar ‘n ooreenstemmende manier van bestaan. Die werklikheid soos ons dit ken, is verganklik en eindig, maar is afhanklik van en “lyk” iewers “soos” die onverganklike en oneindige. Eckhart het hierdie siening egter in ‘n sekere sin op sy kop gekeer. Hy is veral bekend oor die paradoksale manier waarop hy oor God gepraat het. Aan die een kant was daar vir hom ‘n onoorbrugbare afgrond tussen mens en God. Selfs wanneer ons oor God praat, moet ons besef dat ons eintlik nie regtig oor God kan praat nie. Dit is nie meer moontlik om vas te hou aan die tradisionele opvatting dat die mens iewers kennis van God se bestaan het nie. God is té en totaal anders en alles wat ons oor God wil sê is futiele pogings om die Ondeurgrondelike en die Onuitsegbare in woorde vas te lê. Ons moet alles was ons van God verstaan ontken en verwerp sodat ons by God self kan uitkom. Omdat God so ánders is, kan ons God na God se wese en bestaan nie ken nie. Ons moet dus bewus wees van God wat “bestaan” agter alles wat vir ons God is.

Aan die ander kant beklemtoon Eckhart weer op ‘n merkwaardige manier ‘n intieme verhouding tussen God en mens. Sommige mense dink Eckhart se idee van God is té koud en onpersoonlik. In werklikheid straal daar ‘n warmte en egtheid uit in die manier waarop Eckhart praat oor God se teenwoordigheid in mense se lewens. In ons godsdienstige ervaring ontmoet ons God op hierdie besondere manier. Dit is wel waar dat God totaal anders as die mens is, maar tog is God teenwoordig in die mens. ‘n Mens op sy eie is niks. ‘n Mens deel egter aan God se bestaan omdat God in die mens as skepsel teenwoordig is. God as die oneindige is anders as die mens wat eindig is, maar God deel God se oneindige bestaan met die mens – alleen maar met die verskil dat God wesenlik oneindig is teenoor die mens wat net eindig is. Wat saak maak vir mense is om God te sien, skryf hy. Om God te kan sien, moet ‘n mens van niks afhankliks wees nie – niks wat eindig is nie. Ons lyk dus nie van nature soos God nie. Ons raak God se beeld alleen maar wanneer ons ons oopstel vir God. En ons leef altyd met hierdie wete: ons staan voor ‘n oneindige God, onbegryplik, totaal anders. Dit maak die feit dat God in my wil woon en my wil omvorm na God se beeltnis, soveel meer merkwaardig. Ek – eindige, beperkte mens is ‘n ruimte waar God teenwoordig is!


As ons betrokke raak by al die tydelike, voorlopige dinge, staan dit in ons pad om by God te wees. Wat saak maak is ook om in verwondering by God te wees, in eerbied voor die groot Verborgene wat in koesterende liefde onder ons woon – altyd reg om ons te ontmoet, al is ons dikwels nie vir God gereed nie. Wat so aangrypend is van Eckhart is dat hy sê ons kan God ontmoet wanneer ons in stilte wag op God, maar ook wanneer ons in barmhartigheid uitreik na ander. Underhill skryf in haar boek The Mystics of the Church (p.135) ‘n aanhaling uit sy werk: “Sou ‘n mens soos Paulus in ‘n staat van verrukking verkeer en ‘n siek mens roep om hulp, sou dit beter wees om uit die verrukking te breek en liefde te wys aan hom wat dit nodig het.” Pragtig, ne? En dan dink sommige mense nog die mistiek is wêreld-ontvlugtend en selfsugtig op ‘n mens se eie geestelike genoegdoening ingestel!

Eckhart is een van die mistici wat ‘n teosentriese mistiek het. Sy mistiek word gedra deur sy nadenke oor God. Maar dit is ook ‘n liefdesetiek, wat ‘n mens vervul met die verwondering oor geskenkte, goddelike liefde. En dit is ‘n liefdesetiek wat ‘n mens met passie uitdryf na ander wat om liefde roep.

Vir my is die aantreklikste aspek van Eckhart se mistiek egter op hierdie oomblik dat dit my weereens bewus maak van God se ondeurgrondelikheid – die mysterium tremendum et fascinosum. So word Jesus byvoorbeeld in Markus Evangelie uitgebeeld: die Verborgene op wie ons nooit ‘n houvas kry nie – Hy is te groot vir ons. En tog maak hy die storm om ons stil, wys hy ons hoe om rustig te slaap as die golwe oor die skip slaan. (Sien Luke Johnson se analise in sy Inleiding tot die Nuwe Testament). As ek kyk hoe God gekommodifiseer word en as handlanger uitgebeeld word van mense wat God afpers om vir hulle rykdom en voorspoed te gee, dank ek die mistiek vir die ánder, egter perspektief wat ek in Eckhart leer ken. Die miljoene en die gelaaide feestafels sal nie my honger hart kan stilmaak nie. Net die liefde wat van Bo kom en wat deur my na ander spoel sal my lewe ‘n ewigheidskwaliteit gee.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive