Wednesday, December 10, 2008

Underhill en die Mistiek

Ek lees op die oomblik Evelyn Underhill (1875-1941) se gewilde boek oor die mistiek, The Mystics of the Church – geskryf reeds in 1925. Sy was ‘n bekende Britse Anglikaan wat die eerste vrou was om ‘n teologiese lesing by Oxford te kon gee (1921). Die boek lees heerlik en is ‘n maklike inleiding in die mistiek. Ek kan dit nie neersit nie. Dit is gevul met inligting, maar is ook meesleurend geskryf in ‘n gees van sensitiwiteit en meelewendheid. Sy begin by mistiek in die Bybel en loop dan deur daarmee vanaf die vroeë kerk, die vroeë Middel-eeue, die Franciskaanse mistiek, die Engelse Middeleeuse mistiek, die Duitse en Vlaamse mistiek, die twee Katarinas, die Spaanse mistiek, Franse sewentiende eeuse mistiek, sommige Protestantse mistici en dan ‘n paar moderne mistici.

Ek het die boek verlede week tussen my boeke op Gourits raakgeloop, verras om iets van Underhill daar te ontdek. Ek het haar eers verlede jaar leer ken as ‘n wydgelese en gerekende skrywer oor die mistiek. Die boek wat ek op by boekrak ontdek, en wat nou al 83 jaar oud is, is al krakerig van ouderdom en soms is ek versigtig om om te blaai sodat die bladsye nie onder my hande verkrummel nie!

Ek is die eerste een wat hierdie eksemplaar op my boekrak lees, kom ek met ‘n skok agter. En ek het self al die boek seker vir 'n dekade of twee op my boekrak. Elke dertig bladsye of so moet ek van die bladsye deursny. ‘n Mens kry nog somtyds mos boeke wat vroeër op die mark gekom het waarvan al die bladsye nie deurgesny is nie.

Om te dink: 83 jaar lank het die boek gestaan en wag om gelees te word – my voorganger van wie ek dit oorgeneem het, het dit ook maar op die rak laat staan en van almal wat al voor my boekrak gestaan het, was daar niemand wat die begeerte gehad het om dit oop te slaan nie. En so het dit oud geword. En so het die wêrelde van mense wat die nabyheid van God smagtend gesoek het wat sy in haar boek beskryf, ongemerkd en ongelees op ‘n rak bly staan. En dit terwyl ek oor soveel jare al die teologiese uppity-stuff deurgewerk het.

Maar miskien is daar kompensasie in die feit dat toe ek die boek sien en dit herken, ek dit blitsvinnig opgeraap het en net daar staande begin lees het.

Dis asof my hart stik soos dit hom versluk aan die koel waters van eeue se Godsverlange.

Dit is boeiend om te sien hoe iemand wat duidelik deur die mistiek aangegryp is, met liefde en empatie van een groot mistikus na die ander beweeg en helder, betrokke oor hulle skryf. Al die grotes is daar: Paulus, Augustinus, Dionusios die Areopagiet, Eckhart, Ruusbroec, Jan van die Kruis – ‘n skatkis van geskiedenis en mistiek. En sy haal die pragtigste gedeeltes uit hulle geskrifte aan. Van haar leer ek veral dat mistici ‘n godgesentreerdheid of ‘n Christusgesentreerdheid in hul mistieke belewing toon. Sy vertel die aangrypende verhaal van Henry Martyn (1781-1812) wat uit ‘n Wesleyaanse agtergrond gekom het en in Cambridge tot bekering gekom het. Hy was briljant (met ‘n “exquisite and critical mind”) en het voor ‘n belowende akademiese loopbaan gestaan, maar hy was ook terselfdertyd ‘n kinderlike, nederige en verwonderende (“adoring”) mens. Mettertyd het hy begin om ‘n lewe van totale eenvoud te leef. In 1805 (24 jaar oud), op pad na Indië om daar sendingwerk te doen, skryf hy:

My verbeelding kry vlerke en vlieg na ‘n plek van afsondering waar ek in alleenheid met God kan gesels... Wat is die wêreld, wat is godsdienstige geselskap tog sonder God? Dit word ‘n gejaag en ‘n menigte wanneer God uit my gesigsveld verdwyn. Die mees verlate woestyn sal soos die Paradys lyk met net ‘n bietjie van God se teenwoordigheid... Ek het so ‘n behoefte om alleen met God te wees... Dit is soms verstommend dat mense met gevoelens en liggame soos ek, en in alle ander opsigte dieselfde, niks weet van daardie vervullende en verbasende Wese in Wie ek totale geluk vind (Underhill 234-5).

Die boek verwys dikwels na mistici wat hul spesiale mistieke ervaringe vir hulself hou, jare daaroor nadink, hul lewens getransformeer tot eenvoud, met harte wat uitgaan na ‘n wêreld wat sonder die nabyheid van God wil leef. Sy wys nuanses aan, byvoorbeeld deur van al Martyn se harde en geleerde vertalingswerk te vertel, deur Franciskus van Assisi se beeld as iemand wat alles opgeoffer het vir die armes, te verdiep. Ja, skryf sy, Franciskus was wel die ryke wat sy besittings prysgegee het. Maar moenie hom net oordeel aan sy uiterlike optrede en daarvoor bewonder nie. Belangrik is om te onthou dat Franciskus homself en sy volgelinge as die berouvolles van Assissi beskryf het. Wat vir hom getel het was onafgewaterde sagmoedigheid en onbegrensde liefde. Sy lewe staan, voeg sy by, in die teken van verborgenheid, van ‘n onophoudelike verlange na die Oneindige - 'n verlange wat agter sy sagtheid en ontferming verhuld, maar gedurig teenwoordig was. Vir hom, soos vir Martyn, was die wêreld, die eindige, vaal in vergelyking met wat werklik saak gemaak het: om ontslae te raak van uiterlike dinge, in volslae armoede te wees, beteken bevryding van alle hindernisse wat die siel vasbind. Wegkom van hulle, beteken om vry te word vir die eenheid met die Ewige God (Underhill 89-90).

Die mistiek besef ek weer, maar nou nog meer konkreet is daardie deel word van God, die ervaring van eenheid met God, waarvan net die kortste van oomblikke, net 'n breukdeel van 'n sekonde, genoeg is om jou vir ewig te bind aan die Een wat egte volheid gee.

In my agterkop bly hierdie voorstelling van die eerste kante van die mistiek hang: mistiek vertel van daardie intieme verlange na God. Maar juis in hierdie verlange is God teenwoordig (sien elders op hierdie blog).

Ek skryf hierdie woorde tydens een van die grootste finansiële krisisse in die wêreldgeskiedenis. Die nuus is gelaai met berigte oor vallende aandeelmarkte, oor ‘n ineengestorte huismark, oor skelm direkteure en bestuurders van maatskappye. ‘n Angstigheid hang soos ‘n rook van besoedeling oor ons gekontamineerde wêreld.

Ek smag, soos Martyn: “Die mees verlate woestyn sal soos die Paradys lyk met net ‘n bietjie van God se teenwoordigheid.” Dit is goed as ons gestroop word, in die woestyn beland. Maar dit is alleen goed as ons die woestyn binnegaan – verlangend en biddend tot God.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive