Sunday, March 04, 2012

Wanneer die kerk sterk is, maar mens in die steek laat.... Oor die Woestynvaders en Reformasie Spiritualiteit


Spiritualiteit het te doen met ‘n wonderbaarlike bonte mengelmoes van godsdienstige ervaringe. In Christelike Spiritualiteit begin dit by Bybelse tye en loop deur vele trajekte oor die wêreld heen in baie lande, tradisies en kerke.

Maar daar is ook sekere patrone en ooreenkomste in hierdie bonte verskeidenheid. Soms kry ‘n mens verrassende insigte uit die geskiedenis oor sulke patrone.

Neem byvoorbeeld die Reformasie wat so fundamenteel met die Rooms-Katolieke kerk gebreek het en die groot beweging van die Protestantisme aan die gang gesit het.

Maar die Reformasie het sy wortels diep in die geskiedenis gehad – en van alle dinge juis in een van die vroegste vorme van Christelike Spiritualiteit, naamlik die Woestynvaders en -moeders.

‘n Mens kan na die Woestynvaders en –moeders van die vierde en vyfde eeu kyk en bloot net raaksien dat hulle uitgewyk het van die besige sentra na die stilte en afgesonderdheid van die kloosters.

Maar eintlik was hierdie monastieke beweging ‘n protes-aksie wat gebore is uit ‘n innerlike verlange na vervulling en geestelike groei.

Dit was vreemd dat hulle woestyn toe is. Want die kerk was toe al sterk en goed gevestig. Daar was baie mense wat geestelik in beheer was.

Maar toe kom die Woestynvaders en –moeders en vertrek weg van hierdie sterk, groeiende vroeë kerk, uit frustrasie dat die kerk, ten spyte van sy uiterlike mag en groei, nie meer vir hulle in hul geloof voed nie.

In die vierde eeu was daar byvoorbeeld in die beroemde Nitria gemeenskap naby Alexandrië in Egipte 5 000 monnike. Onder hierdie geweldige getal mense was daar net 8 priesters. Die res was leke. 4992!

Die verhouding lyk bietjie skeef.

Hoe kom dit dan?

In daardie tyd was priesters deel van ‘n kerk-struktuur waarin die hiërargie al hoe sterker geword het, skryf McGrath.  Onderaan was daar die leke, die “gewone” mense wat al hoe meer “ondergeskik” was aan die “hoër” ampte van die deken, die priester en die biskop.

Die monnike het woestyn toe getrek omdat hulle ‘n diepe behoefte aan geestelike groei gehad het. Hulle het gevoel hulle kry die geestelike voeding nie in die kerk nie al was die kerk toe sterk aan die groei en al hoe magtiger.

Oral waar die kerk magstrukture ontwikkel, knou dit die geestelike lewe op een of ander manier. Want later, in die Middeleeue, sou dit weer gebeur dat mense in die tyd van die Reformasie vrae gevra het wat die amptelike, magtige kerk nie kon of wou beantwoord nie.

Die Reformasie het in hierdie tyd as nuwe beweging aan die gang gekom. En weer eens was dit gedeeltelik ‘n reaksie teen die mag van die kerkstrukture en die geestelike vervlakking van die kerklike lewe.

Die Reformasie het die “amp” van gelowige beklemtoon. Dit was ‘n wesenlike aspek van die Reformasie. Voor God is alle mense gelyk. ‘n Priester is nie nader aan God nie en het ook nie voorrang in geestelike sake nie. Hoogstens sou ‘n mens kon sê, is die priester die een wat die gelowige “bedien” met die evangelie. Die priester staan nie bo die leek nie, maar stut en steun die leek tot geestelike groei.

Dit is ‘n tragedie: met ‘n sterk priester-groep en ‘n deeglik organisasie aan die orde, was mense geestelik honger.

Die Spiritualiteit van die Reformasie was dus gefokus op die geestelike groei van elke mens, ondanks en ten spyte van die priesters. Die geestelike lewenskuns was vir hulle die eintlike en belangrikste taak van die kerk. Die kerk ontwikkel nie ‘n struktuur waarin ‘n klomp uitgesoektes oor ander “regeer” en waarin die aandag meer op die struktuur val nie. As die kerk dan ampte het, moet dit dienence ampte wees -  geestelikes wat voete was, wat twee-twee uitgaan om die evangelie te dien, wat die armes en ontheemdes versorg en wat mense begelei om in God se weg te wandel. 

Die Reformasie het met hierdie insigte dieselfde gedoen as wat gebeur het met die monastieke beweging se visie van die algemene priesterskap van alle gelowiges. Die patroon wat hom afgeëts het met die monastieke beweging het hom nou in die Reformasie herhaal.  

In albei word beklemtoon dat alle mense priesters is. Die verhouding met God word nie “bemiddel” nie. Niemand is “beter” as ander ingelig oor God nie. Daar is niemand tussen God en mens nie. God reik uit na mense en raak hulle met ‘n lewensveranderende hand aan. Dit gebeur direk en onmiddellik.

Maar, sou ‘n mens vra, waar het dinge dan eintlik begin deformeer? McGrath voeg ‘n sinnetjie by: in die Middeleeue, skryf hy, het die Reformasie so sterk na vore gekom as ‘n beweging vir die leke, vir die vryheid van priesterlike dwingelandy, omdat die kerk maklik mense vir die amp van priester georden het. Dit was net ‘n kwessie van aanmeld en aanstel. En daar het jy jou priester gehad.

In die hele proses het die gedagte dat God ‘n mens roep en dat ‘n mens hierdie roeping het, verdring of minder ernstig opgeneem.

Stof tot nadenke. Hoe dink die kerk hieroor, veral in ‘n moderne omgewing waar, verstaanbaar, mense deeglik vir die bediening opgelei word. Die amp is immers ‘n professie. Jy meld jou aan vir opleiding en dan loop jy maar deur al die prosesse. Jy kom anderkant uit met die nodige grade en dan is jy reg. En op die manier word ‘n mens deel van die kerklike magstruktuur.

Maar waar is die roeping? En waar is die Reformasie se belangrike punt dat ‘n gemeente bymekaar kom en bid vir iemand wat God roep tot diens in hulle midde. Meer nog: die Reformasie het onderstreep dat almal, elke mens geroep is tot diens. Gelowiges, het Jesus al geleer, heers nie oor mekaar nie. Heers oor mekaar, en nog minder baasspelery het binne Reformatoriese Spiritualiteit nie plek nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive