Wednesday, April 18, 2012

Die mistiek van lyding


Dorothee Sølle skryf uitvoerig oor die mistieke karakter van lyding.

Sy vertel aan die einde van haar aangrypende hoofstuk oor die verhouding van mistiek en lyding van ‘n voorval toe 'n man opgestaan en gepraat het by ‘n vergadering in 1996 in Duitsland waar daar beswaar gemaak is teen die vervoer van atoom-afval en die dodelike risiko's wat daaraan verbonde is.

Die man vertel van die lang stryd teen die magshebbers wat twintig jaar van sy lewe in beslag geneem het. Steeds weer is die een onderneming na die ander aan die demonstrante en beswaarmakers gegee, net om eenvoudig geïgnoreer te word. Beloftes, vriendskappe en vertroue het in die slag gebly deur die klipharde houding van mense wat die mag gehad het om oor die saak te besluit.

“As daar maar net die kleinste aanduiding was dat iets aan die saak gaan verander”,  het die man desperaat uitgeroep. “As ons net kon onderhandel, gesprekke kon voer en kon vorder. As ‘n mens net die gevoel kry dat hierdie dodelike bedreiging van die mensdom op een of ander manier besweer word.”

Toe sê hy: “Die moeilikste is om nie tou op te gooi nie en om nie in te gee vir die magte wat onversteurd hulle gang gaan en vere oor die saak voel.”

Sølle het nie goedkoop antwoorde vir die man nie. Daar is nie maklike trooswoorde nie. Nee, skryf sy, wat sy wel in die man se woorde hoor is die “stil uitroep”, die “silent cry”. Soos nêrens anders merk sy die innerlike pyn van die man.

Maar, voeg sy by, dit is hierdie pyn wat ‘n mens aan die gang hou. En dit is ‘n volgehoue pyn waarsonder ‘n mens nie meer weerstand kan bied nie. Dit is die pyn wat ‘n mens aandryf en laat volhard.

Die man het oor jare heen nie sy stryd opgegee nie, al het dit by hom veel pyn veroorsaak. Hoewel hy magteloos was, het hy - het die pyn - hom steeds laat bly glo. En teenoor sy geloof te midde van magteloosheid staan die brute ongeloof in mag van sy teenstanders.

Die man, skryf sy, leef ‘n mistiek van lyding uit. In ‘n mens se agonie, in jou pyn, word ‘n mens een met God in God se pyn. Dit bring ‘n mens om te deel in die kruis, om die kruis van Christus in jou lewe op te neem.

Mistiek van lyding.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive