Friday, November 13, 2009

Calvinistiese spiritualiteit - enkele voorlopige opmerkings

Vanjaar is die 500e geboortejaar van Calvyn. Terwyl dit baie aandag kry in lande waar die Calvinisme ‘n sterk invloed gehad het, is dit jammer dat ons so min nadink oor ons Calvinistiese tradisie. Binne spirtitualiteit is Calvinistiese spiritualiteit ook ‘n verwaarloosde tema, terwyl die Calvinisme ‘n sterk spirituele karakter het.

Vir Calvyn was een van die belangrikste uitgangspunte dat God die inisiatief neem om die mens met God te versoen. Lank voordat die mens bewus is daarvan, word die genade oor hom of haar uitgestort. Sonder die inisiatief kan ‘n mens nie die verhouding van God tot die mens verstaan nie. God begin, maar volvoer ook die redding van die skepping. Daarom volg die belangrikste motief in Calvinistiese spiritualiteit: “Soli Deo gloria” - - aan God alleen die eer, Dit is ‘n kerngedagte in die Calvinisme.

Hierdie sentrale motief hang saam met die diepe sondebesef wat ‘n mens in Calvinisme aantref: die mens is in sonde ontvang en gebore – en kan niks doen om hom- of haarself te red nie. Sonde is so deel van ons bestaan dat ons net gered kan word as dit van buite af tot ons kom. Sekere vorme van Calvinisme, soos die swartkouskerke in Nederland, lê groot klem hierop. Hulle het ‘n strenge en treurige siening waarin die sondigheid en die inherente neiging tot die kwaad sterk op die voorgrond staan.

Maar in die hoofstroom Calvinisme is daar net soveel klem op God se genade in Christus: ons het ‘n nuwe lewe ontvang deur die Middelaar. Hy bring en maak vir ons ‘n nuwe bestaan moontlik. Die sonde het nie meer ‘n onbreekbare houvas op ons nie. God gee boonop die Heilige Gees wat ons bemagtig om in heiligmaking te stry teen die mag van die sonde. Christus oorwin en lei vir ons in in ‘n oorwinningslewe.

Daarom is ‘n lewe van dankbaarheid so belangrik: omdat ons ten spyte van ons sondigheid soveel genade ontvang het, moet ons daadwerklik reageer en ‘n lewe van heiligmaking soek uit dankbaarheid vir die oorvloedige manier waarop ons geseën is. En ons doen dit nie net in ons geestelike lewe nie – Calvinistiese spiritualiteit beklemtoon dat ons op alle vlakke van die lewe heilig moet lewe. In ons familie, kerk, gemeente, skool, werk, sport, skepping, ekonomie en kultuur het ons die taak om ons verhouding met God daadwerklik uit te leef sodat God se naam op alle terreine van ons bestaan geëer kan word. Calvinistiese spirtualiteit is gerig op die realiteit waarin ons lewe. Dit is daarom ‘n realistiese spiritualiteit: dit aanvaar die wêreld is maar sleg sondig en dat hierdie sondigheid oral uitslaan. In ons stryd sal ons moet weet ons moet nooit te gerus wees nie. Al is die mag van die sonde gebreek en al werk die Heilige Gees met mag en mening onder en in ons, is die sonde nog ‘n gegewe en moet ons dit ten alle koste beveg.

Hierdie is maar enkele voorlopige gedagtes oor Calvinistiese spiritualiteit. Dit sal die moeite werd wees om dieper hieroor na te dink.

Thursday, November 12, 2009

Wanneer God se woorde en menslike ervaring mekaar ontmoet. Oor verlange as ‘n mistieke moment.

Spiritualiteit gaan oor “ervaarde” geloof. Dit kan ook as “geleefde” geloof beskryf word. Die woord “ervaring” is egter ‘n moeilike woord wat allerhande verwarring veroorsaak. Dit laat mense dikwels aan emosies of gevoelens dink. En dan word geloof maar wisselvalling, want dikwels is ons na die hoogtepunt van ons godsdienstige ekstase, aan die twyfel wanneer daar moeilike tye van ontnugtering aanbreek.

Spiritualiteit as ervaarde geloof is iets anders as emosionele geloof.

Nie dat emosies onbelangrik is nie. Die evangelie maak bly en maak ons ryk in ons emosionele ervaringe. Maar kyk na die twee Emmausgangers. Hulle is in hierdie vertelling oor hul reis na Emmaus hoogs emosionele mense. Lukas 24:17 vertel dat Jesus vir hulle gevra het waaroor hulle dan so hewig loop en gesels, waarop daar dan volg: “Hulle het gaan met treurige gesigte loop staan.” En dan, soos in die vorige blogs bespreek is, volg hulle gesprek oor hul “ervaringe” met Jesus. Maar hier stal hulle nie hul emosies uit nie, hoewel ons uit hul vertelling aflei hoe hulle oor Jesus gevoel het. Hulle vertel eintlik eers net veral wat hulle van Jesus ervaar het, amper net “feite.” Hulle noem alles wat met Jesus gebeur het, alles wat hulle so lank oor maande en jare heen met Jesus “ervaar” het, hoe hulle hom “beleef” het en hulle geloof met Hom uitgeleef het.

Maar die gebeure wat hulle vertel, ontsluit ook hoe diep Jesus in hul hart ingekruip het. Hulle was inderdaad oorweldig deur hulle ervaringe van Jesus. “Hy was magtig in woord en daad voor God en die hele volk” – hierdie “profeet.” Hulle woorde vertel van hulle groot bewondering vir Jesus se vroomheid, vir sy wandel voor God, vir Jesus se spiritualiteit. Hulle was behoorlik beïndruk en verwonderd. En dan vertel hulle meer waarom Jesus hulle harte so geraak het: omdat hulle in Hom hoop ontdek het. Hulle het vertrou dat Hy Israel sou verlos. Al die beloftes waarop God se volk soveel eeue verwag het, het vir hulle in Jesus waar geword.

En toe kom die groot ontnugtering, kruisiging (vers 20) en die leë graf (vers 24) – met Jesus nêrens in sig nie.

So deel hulle hul lewe met Jesus en die wrede ontnugtering aan die einde met Jesus wat nou hul reisgenoot is, die vreemdeling in Jerusalem: alles wat hulle die vorige paar jaar beleef en ervaar het, word aan die vreemde man oorvertel. Hulle harte, aangeraak deur Jesus, is in stukke, want die Jesus wat hulle van so naby gesien en beleef het, is nêrens te sien nie. Hulle is nie net wanhopig nie, nie net nog in skok nie, maar hulle verstaan ook nie meer wat aangaan nie. Hulle het die Lig ervaar. Nou ervaar hulle duisternis. Hulle het met hoop die toekoms ingevaar. Nou loop hulle, verslae, die skemer in, weg van Jerusalem, stad van God se spesiale Seun, terug na hulle ou bestaan. Hulle het vir jare ervaar hoe Jesus met hulle kragtig praat, vir hulle laat voel hoe naby God aan hulle is. Nou reis hulle sonder hom en al wat hulle kan doen is om hulle leë harte, hulle oorvloed van woorde in heftige gesprekke met mekaar te deel. Hulle ervaar hoe hul geloof ernstig bedreig word en dit maak hulle desperaat.

Wat ‘n “ervaring!” ‘n Mens wens dit nie jou grootste vyand toe nie. Om na die intensiteit, na die nabyheid van God, hierdie leegheid, hierdie donkerte te beleef en te ervaar, moes wreed gewees het. Daar was die berge van ekstase, die oomblike van verheerliking, maar ook die valleie van ontsetting, die kruisiging. Alles was ingebrand in en deel van hul “ervaring” van Jesus. Hulle ervaring is juis “ervaring” omdat hulle so diep daarby betrokke is. Dit is nie ‘n “geskiedenis” wat hulle vertel nie. Hulle praat nie vaagweg of onbetrokke oor Jesus nie.

Maar kyk nou na die ander pool van hierdie gesprek tussen die Emmausgangers en Jesus: hoewel hulle oor hul eie gevoelens en ervaringe en reaksies en harte praat, praat hulle terselfdertyd oor Jesus. En dink hulle gedurig na in hul woorde oor hoe God in Jesus gewerk het. Hulle visie is nie op hulself gerig nie, maar iewers onthou hul gedurig dat hulle ervaring direk geknoop was aan Jesus. Hulle lewe is gestuur deur die profeet, deur die Een magtig in woord en daad, deur Jesus se nabyheid aan God. Daar is gedurig ‘n wisselwerking tussen hulle en Jesus, twee pole: die goddelike en die menslike. Hulle is somber, treurig, wanhopig. Maar hulle bly dink oor God, oor Jesus, oor nabyheid, oor mag, oor hoop, oor die lewe. Dit is ‘n spanning, ‘n treitering. Ons sien dus in hul intense gepraat oor hul ervaring juis iets van hoe God inderdaad hulle lewens aangeraak en verander het.

En Jesus, wat hulle naloop, loop nie met hulle ‘n maklike pad as hulle so oor hul ervaring en oor God praat nie. Hy doen hier nie wonders nie of vertel nie van sy opstanding nie. Maar hy maak vir hulle die Bybel oop – hulle moet hier maar leer geloofservaring bring dikwels groot druk en vra van mens om die moeilike pad te loop. Loop met julle verslae harte terug op God se pad, vra hy van die twee. Kyk terug, na alles wat God in die verlede gedoen het – lank voordat julle vir Jesus leer ken het. Dink daaraan dat julle lewe deel is van die groot, groot werk van God deur die eeue in die harte van mense wat ook in moeilike omstandighede die pad van wysheid moes leer ken. Gaan soek vir Lig in hierdie voetspoor van God, in die Bybel.

En Jesus lê geduldig vir hulle die Skrif uit. Jesus stuit hulle in hul somberheid en wanhoop deur vir hulle te laat opkyk, buite hulle self, buite hul ervaring om – deur hulle geslote, gebroke harte oop te maak na Bo, deur hulle ervaring oop te breek met God se woorde uit die verlede.

Later het hierdie twee self vertel wat die ervaring van Jesus se Bybelstudie aan hulle “gedoen” het, wat hulle “ervaar” het toe Jesus vir hulle God se voetspore deur die eeue laat naloop het. Hulle vertel hoe hulle harte brandende was in hulle toe Hy vir hulle die Skrif uitgelê het. Hulle ervaring met Jesus voor sy dood en nou die ervaring met Jesus deur die Skrif, het ‘n verdere mistieke ervaring in hulle veroorsaak. Spiritualiteit is immers ook ‘n proses gelaai met baie spannende ervaringe en altyd weer nuwe maniere van ontmoeting met God. Die “woorde van Jesus” oor “God se woorde” deur die eeue laat hulle hart in vlamme uitbars. Hulle hart brand met die vuur van verlange: terwyl hulle in wanhoop teruggaan huis toe, terwyl hulle op pad is na hul ou lewe sonder Jesus, maak die herinneringe, die meditatio, die gedagtes oor God se trou, die Skrifte van alle tye, onverwags en uit die bloute hulle lewe weer nuut. Hulle harte word geheel, genees en die ou verlange, die hoop op God, vat weer in hulle binneste vlam.

Dit is wat gebeur wanneer ons met ons ervaringe by God uitkom. Niks in hierdie storie gaan om allerhande mooi broodjies te bak oor wie Jesus nou regtig was en wat hy nou werklik gedoen het of nie gedoen het nie – allerhande teologiese en slim praatjies nie. Hier is twee mense wat deur Jesus se aardse bediening oorweldig is – in Hom het hulle God sien werk. En toe God “anders” gewerk het as wat hulle gewoond was, het dit hulle verpletter. Totdat hulle gaan nadink het, weer na die bron van die lewe teruggekeer het en weer gaan luister het na God se ou tyding. Toe hulle weer God se voetspoor gevolg het, het daar opnuut weer ‘n mag in hulle lewens begin werk. En weer eens, toe hulle hul ervaringe, ook van die leë graf aan die Woord gaan toets het, het die diepe verlange in hulle weer opgevlam.

Spiritualiteit gaan oor hierdie “polêre” spanning tussen ons ervaring en God se woord. Wanneer ons ons geloofslewe met al sy pyn steeds weer in die lig van die wysheid van alle eeue toets, word ons her”vorm” en nuut gemaak. In ons word die verlange na God wakker gemaak sodat ons weer tot God wil bid – biddende verlange, brandende harte.

Ons geloof is onherroeplik, onlosmaaklik verbind aan die wyse woorde van God deur die eeue heen. Daarsonder is ons magteloos, uitgelewer aan sinloosheid en wanhoop. En as ons ons eie slimmigheid met daardie lewenswysheid wil vervang, is die resultate dodelik. Dan bly ons by die leë graf vasstaan en vlug ons ons ou bestaan in.

God se woorde van lewenswysheid wat oor die eeue heen op so baie manier aan mense gegee is om hul op hul geloofsreis te begelei, wat dikwels ook so anders is as wat ons dink, is die woorde van die lewe en van krag. Dit kan ons dooie harte weer laat ontvlam. Veertig jaar kan ons deur die woestyn met woeste ervaring loop, solank die vuurkolom saam met ons die pad loop.

Die mistieke ervaring van Kierkegaard. Oor die bron-ervaring in spiritualiteit

Die beroemde skrywer Soren Kierkegaard (1813-1855) word as een van die groot denkers uit ons geskiedenis beskou. Hoewel hy meestal as filosoof en teoloog bekend is, word hy ook as ‘n mistikus beskou. Hierdie beroemde man het ‘n heel eenvoudige, maar ingrypende oomblik in sy lewe gehad wat hom vir die res van sy lewe sou bybly.

Toe hy 25 jaar oud was, het hy na jare se wilde plesierigheid weer in die huis gaan bly. Hy skryf op 19 Mei 1838 hierdie merkwaardige ervaring neer wat hom oorval het daardie oggend om half elf. Hy probeer dan die ervaring onder woorde bring deur die volgende inskrywing in sy dagboek:

“Daar is so iets soos ‘onbeskryflike vreugde’ wat onverklaarbaar deur ons gloei net soos wat Paulus onverwags en sonder enige rede uitgeroep het: ‘Wees bly, ek herhaal, verbly julle.’ Dit is nie ‘n vreugde oor dit of dat nie... maar dit is die siel wat jubelend met tong en mond uit die diepte van die hart uitroep. Ek verheug my oor my vreugde, deur, in, met, by, op en oor my vreugde,’ – ‘n hemelse refrein wat as te ware skielik ons ander gesing onderbreek, ‘n vreugde wat lawe, wat soos ‘n briesie verfris en afkoel, ‘n wind wat waai uit die vlaktes van Mamre na die ewige woning.”

Kierkegaard verwys hier na Paulus se opmerking oor vreugde in Fil.4:4, maar belangriker is die ommekeer en transformasie wat hierdie mistieke ervaring in sy lewe gebring het. In hierdie tyd is hy met sy pa versoen, maar hy het ook diep godsdienstig geraak. Twee maande later het hy, ongewoond vir ‘n Lutheraan, byvoorbeeld gaan bieg, waarna hy ook verder die nagmaal gebruik het. Daarmee wou hy sy mistieke ervaring afrond. Vanaf 1841 tot 1846 het hy sy merkwaardige geskrifte begin skryf wat soveel invloed vir eeue daarna sou uitoefen.

‘n Mens dink onmiddellik aan Pascal se mistieke ervaring as jy hiervan lees. Maar by Kierkegaard oorheers die vreugde. Dit is ‘n diep, vervullende vreugde wat hy nie eintlik onder woorde kan bring nie – dit is “onbeskryflik.” Daar is ook die vuur waaroor Pascal so aangrypend praat. Kierkegaard voel die vreugde soos ‘n vuur in hom gloei en sy hele wese vul. En hierdie vreugde is net daar, sommer net. Dit vloei uit sy diepeste innerlike en stroom na buite.

Ons praat in spiritualiteit oor die bron-ervaring. Dit is wanneer ‘n mens deur ‘n bepaalde oomblik oorweldig word. Niks sal weer daarna dieselfde wees nie en alles wat met jou gebeur sluit iewers aan by die bronervaring. Kierkegaard, die Lutheraan uit Denemarke, die diep denker, die groot filosoof, die veelgelese teoloog, se woorde is hier min. Dit het alles begin op die oomblik toe hy gevul is met ‘n vreugde wat hom so deurgloei het dat hy eintlik maar net nog kon sing van blydskap. Dit is die bron van nuwe lewe.

Tuesday, November 10, 2009

Vrees vir die Here. Oor bewondering en ontsag vir God.

‘n Mens sien dit soms: ‘n kind kry ‘n graad aan ‘n universiteit. Sy of haar ouers het nie ‘n universiteitsopleiding nie. Die pa en die ma is diep beïndruk met hul seun of dogter se geleerdheid. Hulle sal selfs dalk sê: “ons het nou nie die geleerdheid wat jy het nie, my kind” en dan trots met hul kind praat. Iewers staan hulle in ontsag: met die gradedag is daar ‘n kanselier, rektor, professore, doktorsgrade, cum laude grade, medaljes, prosessies. Om te dink, dink hulle met ontsag, dat jy ook hierdie wonderlike dag kan beleef. Hulle blom van die trots. Maar in hul trots is hulle veral lief vir hulle kind.

Daar is in die Bybel dikwels sprake van die vrees van die Here. Ons is skrikkerig vir die woord, want ons wil nie graag vir God met “angs” assosieer nie. “Vrees vir die Here” is miskien daarom nie altyd ‘n goeie woord nie. Dalk is “ontsag” beter.

Solank as wat ons onthou dat die vrees van die Here die beginsel van wysheid is. Omdat ons vir God ontsag het, voor God in verwondering staan, diep beïndruk deur God se grootheid en almag, wil ons graag soos God wees, of naby God wees. Want ons respekteer God. Vrees van die Here het niks te doen met ‘n kruiperigheid voor ‘n God vir wie ons eintlik bang is nie. Ontsag vir die Here roer iets in ons hart. Dit steek in ons ‘n vlam van liefde aan. Dit is vir ons goed om so by God te wees. God roep vrees of ontsag by ons op sodat ons God kan liefhê.

Die ouers van ‘n slim kind wat graad gekry het, wat so in ontsag voor al die wonderlike geleerde dinge en gebruike op gradedag staan en wat gloei in liefdestrots op hul kind, is maar ‘n flou beeld van die geestelike lewe. Omdat ons by God is, geboeid deur God se grootheid, almag, mag, bring dit ons tot liefde. Dan wil ons God se wil graag doen, omdat ons weet dit is die gebooie van 'n God wat groot is.

Monday, November 09, 2009

Die Gees spreek deur die Woord: oor Spiritualiteit en Gereformeerde Spiritualiteit

Spiritualiteit, kom ek agter, is in meer as een opsig vir mense ‘n vreemde woord. Hulle vind dit vreemd. Dit is ook 'n nuwe woord wat eers in die afgelope paar jaar na vore gekom het om oor die geloofservaring te praat. En soos met alle vreemde woorde lok dit nogal misverstand of negatiewe gevoelens opl. Ek lees juis gister in 'n kerkkoerant 'n totaal verwarde opvatting van spiritualiteit as so 'n vae gevoel van "geestelikheid." Ek hoor selfs dat mense meer as normaalweg sukkel om die woord uit te spreek.

En tog is dit eintlik ‘n heel bekende woord as ‘n mens dit verbind met die Engelse “Spirit.” Dan het spiritualiteit te doen met ‘n geestelike lewenswyse, or ‘n lewe in ooreenstemming met die Heilige Gees of onder die leiding van die Gees. "Heiligmaking" sou iets van die betekenis na vore bring. ‘n Woord soos “hermeneutiek” wat in elke teoloog of predikant se woordeskat voorkom, word dan spirituele hermeneutiek – of uitlegkunde wat ‘n geestelike karakter het.

Daar is onder verstarde denkers nogal ‘n vooroordeel teenoor “spiritualiteit” want hulle verwar dit heel verkeerdelik selfs nog met “spiritisme” as iets wat te doen het met oproep van geeste. Spiritualiteit het niks daarmee te doen nie. Of hulle dink Spiritualiteit is ‘n Geesdrywery en dit het te doen met bonatuurlike, emosionele opsweping van gevoelens. Spiritualiteit het ook nie hiermee te doen nie. Nog ander dink Spiritualiteit as ‘n lewe na die Gees kan ‘n klomp skynheiligheid tot gevolg hê, want dan val die klem op die mens se geloofsprestasies en is daar ‘n uitstellery van die mens se goeie werke.

Onder mense uit ‘n gereformeerde tradisie is daar ‘n sekere manier van geloofservaring wat al lank gevestig is. Dit sluit in om elke dag in die oggend en/of in die aand Bybel te lees en te bid. Dit is ‘n mens se persoonlike geloofslewe waarop daar groot klem gelê word. Maar ook baie kenmerkend van ‘n Gereformeerde Spiritualiteit is om saam as familie “boeke te vat.” En in vroeëre tye het mense hul vroomheid heel konkreet uitgedruk deur te kniel by die bed of by die etenstafel. Dit is tipiese kenmerke van Gereformeerde Spiritualiteit - 'n "vroom" mens leef op so 'n "vroom" manier. Nog ‘n belangrike vorm van Spiritualiteit is die bywoning van erediense op ‘n Sondag waar die preek as uitleg van God se Woord ‘n groot rol speel. Iemand wat nie kerk toe gaan nie, word as “kerklos” of “onverskillig” beskou. ‘n Gereformeerde vroomheid sal kerkgang hoog op die lys van vroomheidspraktyke stel.


Daar is nog ander vorme van Gereformeerde Spiritualiteit. Wat so interessant is, is dat die vorme wat hierbo genoem is, almal fokus op die “Woord van God.” In die hart van Gereformeerde Spiritualiteit staan die klem op die Bybel as God se woord aan gelowiges. Die Gees werk deur die Woord en nie op allerhande ongekontroleerde maniere nie. Daar is nie ‘n direkte, ekstatiese ervaring naas die Woord nie.


Hirdie is net enkele opmerkings oor 'n kern-aspek van Gereformeerde Spiritualiteit en oor Spiritualiteit as die omvormende verhouding van God met die mens. Dit is 'n wonderlike woord wat wys op een van die diepste dimensies van ons aardse bestaan.

Sunday, November 08, 2009

Afskeid en vreugde. Oor die spesiale plek van die natuur in ons lewens

Op pad terug van my daaglikse oefening, hoor ek die kermgeluid van die boomsaag onmiddellik. Reg voor die Moederkerk is 'n reuse eikeboom vanmiddag afgesaag.

Ek neem foto's, maar voel treurig - dit is 'n slag in my hart. Ons bly tussen eikebome waarvan sommige 200 jaar oud is. Ek probeer soms dink wat hierdie bome al alles beleef het en soms, as ek verby hulle stap, raak ek net aan hulle, so 'n oomblik van kommunikasie, van eenwording met al die tye. Amper soos wat 'n mens sommer net iets kosbaars vashou. Soos 'n foto van iemand wat nie meer daar is nie. Soos wat mense in Washington by die onvergeetlike monument vir slagoffers in die Vietnam-oorlog met hul vinger oor die name van hul geliefdes vee.

Om een van hierdie bome te verloor is byna 'n persoonlike ramp. Heel gepas is die bui reen wat uitsak, treurig - dit is trane wat hartseer loop.

Oorkant die pad, van waar ek foto's neem, kyk ek dankbaar na die oorblywende bome, wat darem reusagtig is. Maar 'n mens weet, dit gaan nog jare en jare en jare neem voordat die babatjie wat hulle 'n rukkie terug geplant het, so sal uitrys en trots sy voorganger se plek sal inneem. Nog tweehonderd jaar....


Hier is 'n paar foto's.

















Ek staan met my rug teen Die Hoek se tuin. Wit rose trek my aandag. 'n Klein troosprys. Ek neem foto's en besef weer waarom bruide wit aantrek en waarom Openbaring van wit klere praat.







Saturday, November 07, 2009

Die Skrif laat ons harte ontvlam. Oor die rol van oratio in ons geestelike reis

Wanneer ons mediteer oor die Skrif, het Guigo gesê toe hy oor lectio divina geskryf het, is dit soos ‘n koei wat herkou. Die voedsel, die Skrifwoorde, word oor en oor herkou, gesmaak en geproe. En dit is wat ook gebeur in die verhaal van die Emmausgangers wanneer Jesus op pad vir hulle weer die Skrif verduidelik.

So dikwels tevore het Jesus aan sy dissipels vertel hoe die Skrif sy bediening en sy lewe illustreer en belig. En die twee Emmausgangers het iets daarvan onthou en verstaan: hulle praat van Jesus as profeet en as die hoop van Israel (Lk. 24:19-21. Maar Jesus vind dit tog nodig, hier in hulle tyd van krisis, om weer die voedsel te herkou. In verse 25-27 verduidelik hy daarom “wat in die hele Skrif oor hom gesê is.” Hy “mediteer” dus hier saam met hulle oor God se woord. Hulle somber gesigte, hulle wanhoop is rede genoeg om terug te gaan na wat die Here vir hulle in die Skrifte wil sê. Hulle menslike ervaring van hul verhouding met God moet weer aan God se woorde getoets word. Hulle spiritualiteit word na die hart van die saak teruggebring, na wat God se wil en woorde is. Dis tyd vir Bybelstudie!

En die “Bybelstudie” is kort. Heel eenvoudig hoor hulle dat Jesus se lyding in lyn is met die Skrif. Dit “moes,” soos die Bybel voorspel, gebeur. Maar dan volg daar meer, baie meer: Jesus se lyding het gebeur sodat Jesus in sy heerlikheid kon ingaan. Die woordjie vir “heerlikheid” ‘n besonder intense, gelaaide woord. In die Ou Testament is die woord “heerlikheid,” die kabod en dit wys op die oorweldigende teenwoordigheid van God. Die Emmausgangers het reeds vertel hulle het gehoor van ‘n engelvisioen dat Jesus “lewe.” Nou hoor hulle dat Jesus se nuwe lewe beteken dat Hy die heerlikheid van God ingaan.

Ons hoef nie te spekuleer oor wat hulle gevoel het toe Jesus in hierdie hoogs gelaaide taal met hulle gepraat het en sy boodskap oor die Skrifwoorde weer met hulle “herkou” het nie. Ons hoor later uit hulle eie mond hoe hulle oor hul unieke Bybelstudie gevoel het. Net nadat Jesus hulle so onverwags verlaat aan die einde van die verhaal, vra hulle vir mekaar, “was ons harte nie brandende in ons toe hy op pad met ons gepraat het en die Skrif vir ons geopen het nie?” (vers 32). Die woorde van Jesus wat hulle aanhoor, het hulle harte aan die brand gesteek. Die woorde van God het “in” hulle binneste innerlike vir hulle aangeraak, getuig hulle aan die einde van die dag teenoor mekaar. Die Woord van die Skrif het hulle getransformeer, het in hulle ‘n diepe begeerte geplant. En om te begeer, is om verlangend tot God te bid. Hulle harte het in gebed ontvlam. Dit is wat ons in die spiritualiteit as “oratio” ken – die biddende reaksie op God se worod. Wanneer ‘n mens oor die Skrif mediteer en Jesus self daarin met ‘n mens hoor praat en ‘n mens in jou innerlike aanraak, breek jou hart oop in gebed. Dit weet ons uit hul eie getuienis, het met hulle op pad na Emmaus gebeur.

Soveel kere het hulle die ou, ou boodskap gehoor. Maar hierdie keer, op weg na Emmaus, het dit in hul harte ingesink op so ‘n unieke manner dat hulle nie van Jesus kon afskeid neem nie en na Hom bly uitreik het. Daarom nooi hulle Jesus uit om by hulle te oornag – wat ‘n simbool is vir hulle biddende reaksie op Jesus se Bybelklas. En hoe sterk is hulle begeerte na Hom nie: “Hulle het sterk by hom aangedring, ‘Bly by ons’” (vers 29). En so sterk het Jesus in die sentrum van hul bestaan ingekom deur sy Bybeluitleg, dat toe hulle die maaltyd reggemaak het in hul huis in Emmaus, Jesus die rol van die gasheer gespeel het en die brood gebreek en gebid het. Ons hoor hier iets van Petrus se gebed na die voetewassing: Here, nie net my voete nie – ook my hele liggaam. Hulle weergawe is: “Here gee vir ons meer as net ‘n Bybelles. Bly by ons... Word ons gasheer...” Die herkou van die voedsel, het ‘n groter honger in hulle laat ontbrand en ‘n krag in hul lewens losgelaat wat nie meer gestuit sou kon word nie.

Hierdie twee dissipels het ‘n bestaanskrisis ondervind. Alles om hulle het in duie gestort. Hulle is oorweldig deur somberheid en wanhoop. Maar in ‘n gebaar van genade ontvang hulle die gawe van God se Teenwoordigheid, se heerlike Presensie, skaars herkenbaar. En tog was God daar – in Jesus en in die Woorde van alle tye. In die donker nag van hul siel, in hul donkerste oomblik het ‘n vonk ontbrand en hulle hart laat ontvlam. “Gee ons meer,” “bly by ons,” “voed ons,” “moenie uit ons lewens weggaan nie, want by U is die woorde van die lewe.”

Hoe merkwaardig. Die Gees kom ons tegemoet en, selfs al weet ons dit nie, bid die Gees in ons. Ons wandel in die duisternis met die gevoel God is nie daar nie – al begeer ons tog God se teenwoordigheid. En al die tyd, al die tyd, is God by ons. In ons biddende verlange, is God daar. En waar ons ook al aan God se woorde vashou, moet ons harte in gebed ontvlam.

Friday, November 06, 2009

Ontsteld en wanhopig. Oor God se teenwoordigheid onder ons in die duistere tye.

In die hart van die verhaal oor die Emmausgangers kry ‘n mens die gesprek tussen hulle en Jesus. Dit is ‘n tweerigting gesprek, ‘n dialoog waarin hulle in ‘n diep gesprek met mekaar verkeer: Eers praat hulle en dan reageer Jesus.

Die twee dissipels se toespraak gaan grotendeels oor “die dinge wat in hierdie dae onder ons gebeur het” en waaroor almal praat (Lk. 24:18).

Dit bly maar ‘n hoogs ironiese verhaal: Jesus, die man met wie hulle maande en maande saamgeleef het in ‘n intieme klein groepie, is weer by hulle. Maar nou is Hy die vreemdeling. Hulle verduidelik aan Jesus alles wat met Hom gebeur het!

Hulle gee vir Jesus die feite, en hierdie feite word dan verder verduidelik in taal wat lyk of hulle darem hul storie goed ken. In netjiese teologiese taal lewer hulle kommentaar oor die godsdienstige implikasies van alles die Jesus-gebeure. Jesus van Nasaret het as profeet van God kragtig onder hulle gewerk en gepraat totdat hy deur die leiers gekruisig is. En hulle weet, as goeie gelowiges, van die hoop op die toekoms, op redding, terwyl hulle ook vertel hoedat hulle gedink het Jesus beliggaam hierdie hoop.

Maar dan, in die tweede deel van hulle gesprek, wy hulle uit oor die gevolge van hierdie gebeure en fokus op hoe dit hulle raak. Hier pak hulle hul hart uit vir die “vreemdeling.” Eerstens vertel hulle dat hulle aan die einde van hul hoop gekom het dat Jesus hulle as Israel sou verlos (Lk.24:21). Jesus se kragtige bediening het dus eintlik vir hulle op niks uitgeloop. Wanhoop is hulle voorland. Tweedens word hulle “ook” verder “ontstel” deur die nuus van die vroue dat die graf leeg was en die dissipels wat gaan kyk het en gesien het dit was so. Wanhopig en ontsteld is hierdie twee mense wat Jesus oor so baie jare gevolg het. Hulle praat nie oor die sensasie van ‘n moontlike opstanding nie. Hulle is verbysterd en hartseer. Hulle is getraumatiseerd. Hy is ‘n vreemdeling vir hulle en alles wat van Hom gesê word, jaag hulle net dieper in verwarring in.

Dit is hoe hulle die goddelike gebeure onder hulle “lees” en hoe hulle daaroor mediteer. Die ironie word ‘n tragedie: die geloof word swak, die hoop slaan om in wanhoop. Dit is nie eintlik ‘n besondere geestelike lees van God se woord wat tot hulle gekom het deur die profeet Jesus nie. Hulle sien die krag van Jesus se bediening, maar het nie meer vertroue daarin nie.

En kyk ook na hulle verdere “lees” van die gebeure, want ander dinge het oor hul pad gekom waaroor hulle nadink: die vroue vertel van ‘n “visioen” van engele met die woorde dat Jesus lewe. Maar selfs hierdie engele-woord lees hulle ook nie juis baie geestelik nie. Hulle word daardeur ontsteld en hartseer. Die vroue sien engele en hulle ontvang ‘n visioen, die dissipels weet dit en praat daaroor, maar tog “sien hulle nie vir Jesus nie.”

Hoe baie praat God met hierdie mense, met ons as gelowiges? Keer op keer. Ons “ervaar” dit, maar ons kom tog nie tot aanskouing, tot die sien van Jesus nie. Ons “ervaar” eerder ons menslike gebrekkigheid, ons ontsteltenis, ons wanhoop. Jesus, met wie ons so nou saamleef en in wie ons selfs ‘n profeet raaksien, ervaar ons in ‘n ommesientjie as die “vreemdeling in Jerusalem.” Ons kan God se woord van alle kante verduidelik, sonder dat ons God self herken.

Maar dan is daar weer die hoogs kontemplatiewe element: om te dink dat hulle nog oor hulle seer en wanhoop kan bly praat. Jesus gee hulle ‘n kans om soekend te vertel van wat in hulle harte omgaan. Selfs al lyk dit of hulle aan die einde van die pad gekom het, of dinge behoorlik uitmekaar val, is hulle besig om met God te praat – die hoogste ironie. Die antifrase. Hoe meer ‘n mens wanhoop, hoe meer is God in gesprek met ons. In ons roep na God, is God teenwoordig. Jesus weet. Daarom is hy by hulle. Daarom het hy hulle gevolg toe hulle uit Jerusalem padgegee het, in die skemer van ‘n einde sonder hoop in om by hulle te wees in die oomblikke dat hulle Hom nie meer raak”gesien” het nie. Hy het immers self maar net ‘n dag of wat vroeër uitgeroep: Waarom het U my verlaat? Selfs in ons duisternis oomblikke, is die skoue van God daar. Ons hoor die evangelie, ons sien die Immanuel: ek is met julle tot aan ....

Thursday, November 05, 2009

Om Jesus te sien sonder om Hom te herken. Oor die leegheid van ons godsdiens.

Die verhaal van die Emmaus-gangers is in meer as een opsig pragtig. Luke as meester verteller het geweet hoe om sy teks goed te skryf. Deel van die teks se skoonheid is te vinde in die manier waarop Lukas die verskillende dele daarvan in ‘n balans met mekaar plaas. As ‘n mens dit versigtig lees, sien ‘n mens hoe netjies Lukas dit opgebou het:

Die storie begin en eindig met ‘n beskrywing van die twee dissipels op weg. In vers 13 word vertel hoe hulle op die opstandingsdag, laat middag, (“dieselfde dag”), na hulle dorp, 12 kilometer weg van Jerusalem reis terwyl hulle in ‘n diep gesprek met mekaar gewikkel is. Die gedeelte eindig terwyl hulle na Jerusalem terugkeer, maar dan praat hulle met die ander dissipels oor hul ontmoeting met Jesus (verse 33 tot 35). Hulle vertrek “van Jerusalem” en keer terug “na Jerusalem.” Lukas beklemtoon hierdie reis-motief baie versigtig en maak seker dat ons sien dat dit ‘n reis weg van Jerusalem en terug na Jerusalem is. Hy herhaal die motief in vers 32 waar die dissipels self vertel wat met hulle gebeur het “toe hulle op pad was.” En in vers 35 vertel hulle wat met hulle “op pad” gebeur het. Die verhaal van die twee dissipels is dus ‘n reisverhaal. En dit pas, weer eens, goed in in die geheel van Lukas se Evangelie en Handelinge. In die Evangelie reis Jesus byvoorbeeld van Lukas 9:51 na Jerusalem om “opgeneem” te word (in die hemel), wat dan ook uiteindelik aan die slot gebeur (Luk 24:50-53 – vergelyk vLuk 24:26 waar Jesus self praat oor sy “heerlikheid ingaan”). As ons dit onthou, word die Emmaus-episode nogal dramaties en veelseggend: Lukas omsluit die verhaal deur ‘n reis-raamwerk om daarmee eintlik te vertel dat hulle Jesus se reis na die hemel vanuit Jerusalem nie meer verwag het nie. Hulle geloof is dus tot niet. Hulle verlaat Jerusalem, die plek waar alles tot ‘n hoogtepunt sou kom. As ‘n mens vanuit Handelinge hierna kyk, het hulle amper nie gedeel in die groot getuienislewering tot aan die eindes van die aarde nie (Hand.1:6-8). In Handelinge reis mense die wêreld in, vanuit Jerusalem, om die groot vernuwing aan te kondig. Die klein reisverhaal van die Emmausgangers word nog meer dramaties as ons dit in die lig van die groot reisverhaal sien: hoe God Jerusalem gebruik as die knooppunt vir die groot dinge van die Here. En byna-byna is die Emmausgangers hul aandeel in hierdie dinamiese gebeure kwyt – was dit nie vir Jesus wat hulle gaan haal het nie. Ons herken dadelik hierin ‘n dieper element: hulle reis is ons geestelike reis. En ons geestelike reis het sy dieptes van moed en hoop opgee. Maar gelukkig is daar Een wat ons agterna sit en kom terughaal....

Maar dit is nog net die buitenste raamwerk van die verhaal. Daarin voeg Lukas nou ‘n verdere raam wat netjies gebalanseer is. In die nuwe deel, terwyl die twee op reis is, kom Jesus by en sluit by hulle aan (Hy reis steeds agter sondaars aan!). Maar hulle herken hom nie (soos altyd...; verse 15-16). Daar is hierdie merkwaardige opmerking: Hulle oë is weerhou, sodat hulle hom nie herken het nie. Lukas maak seker dat ons sien hoe geslote hulle is vir wat hulle voor hulle sien. Hierdie gedeelte word gebalanseer met verse 31-32. Wanneer Jesus die brood vir hulle breek, gaan hulle oë oop. Gebrek aan sig kontrasteer met die sien en herkenning van die goddelike.

Daar is dan nog ‘n derde raam wat binne in die tweede raam ingebou is: Op ‘n seker stadium van die reis nader Jesus hulle (al herken hulle Hom nie) en vra hulle uit oor hul gesprek. Hulle gaan dan met ‘n somber gesig staan (vers 17). Weer eens balanseer Lukas dit met ‘n gedeelte in verse 28-29. Hier nader die twee dissipels vir Jesus: hulle wil hê Hy moet by hulle bly. Hulle gaan sit aan tafel en Jesus breek brood vir hulle. Jesus sluit aan by hulle, wat kontrasteer met Jesus wat verder wil reis. Jesus praat met hulle, wat kontrasteer met hulle wat met Jesus praat en hom uitnooi om oor te bly.

In die middel van die storie is ‘n direkte gesprek wat uit twee dele bestaan – maar nou tussen die twee dissipels en Jesus. Dit is ‘n hoogs ironiese gesprek: hulle praat met Jesus oor die afwesige Jesus! Die leser is so bietjie verslae: hoe is dit moontlik dat hulle kan praat met Jesus sonder om hom te herken? En kyk net hoe bly hulle aanmekaar en praat met Jesus. Vanaf vers 19 tot 24 praat hulle – en nog meer ironies, die gesprek met Jesus is oor die leë graf. Kon hulle dan nie eers vir ‘n oomblik die kloutjie by die oor bring nie, veral omdat hulle van die leë graf geweet het? En selfs nog meer ironies eindig hulle gesprek: die ander dissipels in Jerusalem wat by die leë graf was, het Jesus nie “gesien” nie. Hulle sien Jesus, maar sien Hom ook nie. Hulle gepraat word dan gebalanseer met Jesus se antwoord as die tweede deel van die gesprek. En Jesus praat deur die Skrif, soos hy gedurig gedoen het toe hy nog met hulle was. Hy doen eksegese, hy verklaar die Bybel. Hy “mediteer” met hulle oor die betekenis van God se Woord.

Lukas vertel dus vir ons ‘n storie van twee dissipels wat wegloop van die plek waar Jesus die einde van sy aardse lewe verwag het en die begin van die nuwe dinge van God sou gebeur. Terwyl hulle al pratende reis, kom Jesus by – maar sonder dat hulle Hom herken. Hulle praat met Jesus. Hulle word deur Jesus gehelp met verduidelikings. En tog, ervaar hulle nie ‘n uitweg uit hul ellendige somberheid nie. En dan kry hulle ‘n laaste kans. Jesus toets hulle. Hy maak of hy wil verder reis, weg van hulle. Maar hulle nooi hom binne, teen skemeraand, as dit reeds op hul geestelike reis donker word. En Jesus deel hulle gasvryheid, terwyl Hy ook weer die een is wat die Gasheer word. Hy gee vir hulle ‘n teken: hulle kan die breek van die brood beleef. En dan val die skille van hul oë en is hulle weer terug op pad na Jerusalem om oor Jesus te getuig.

Deur die verhaal so te ontleed, daaroor te mediteer, die betekenis daarvan ook op formele vlak te ontrafel, ontdek ons meer van die doel daarvan. Voorheen het die twee dissipels gehoor van die leë graf. Maar die ervaring het nie die dissipels getransformeer nie, al het Jesus hulle jare daarop voorberei. Daardie episode eindig met die opmerking dat hulle Jesus nie “gesien” het nie (vers 24). Nou, met hierdie verhaal, word Jesus vir die eerste keer gesien. Maar selfs hierdie “sien,” vertel Lukas, is nog nie transformatief nie. Die egte verandering en omvorming kom eers wanneer hulle aan Jesus herberg gee, met hom aan tafel gaan, die brood gebreek word. Al hul gepraat, al Jesus se gepraat bring nie die omvorming nie, totdat die brood breek. Deur so na te dink besef ons ook meer van die antwoord op ons skokkende ervaring dat die Emmausgangers ‘n spieëlbeeld van ons eie geestelike reis is: ons hoor van wonderbare dinge oor Jesus, maar ons sien hom nie. Ons sien Jesus, ons praat met Jesus selfs, maar ons herken hom nie. Wat is die oplossing? Daar moet aan ons die verborge moment gegun word, die oomblik wanneer Jesus uit genade vir ons voed, dat ons tot herkenning kom en omkeer na waar God ons wil hê. Maar al kan ons dikwels nie die genade afdwing nie, kan ons bly soek daarna, vir Jesus bly uitnooi – al wil Hy skynbaar aanreis sonder ons.

Deur ons versigtige lees van die teks word ons gebring by die punt waar ons die kontemplatiewe kan kontempleer – hoe ons, op ons geestelike reis, die goddelike kan “aanskou,” hoe ons antwoorde kan vind op die skokkende ervaring dat ons, soos die Emmausgangers, naby aan Jesus kan wees sonder om dit te besef en sonder dat dit ‘n duit verskil aan ons lewens maak.

Wednesday, November 04, 2009

Geskok by die lees van Lukas se verhaal oor die Emmausgangers (Luk.24).

Die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24:13-33 het my die afgelope paar jaar al hoe meer geboei. Lukas was ‘n uitsonderlike skrywer. Hy het vir ons die gelykenis van die verlore seun gegee – een van die mooiste verhale oor liefde en die gebrek aan liefde wat ooit in die wêreldliteratuur geskryf is. En net hy vertel vir ons die boeiende storie van Saggeus en Jesus se merkwaardige ontmoeting. Sy geboorteverhale is ook uniek, om nie eers van sy meesterlike vertelling van die Handelinge van die apostels te praat nie.

En dit is maar ‘n paar voorbeelde uit sy werke. Geen wonder mense het gedink die boek het besondere kwaliteit en gesag nie. Lank voordat ‘n mens dit ontleed het, deur net die boek te “lees” (lectio), bewonder ‘n mens dit al.

Onder al hierdie verhale, staan die een oor die twee dissipels op pad na Emmaus op die dag van Jesus se opstanding vir my al hoe meer uit – as waarskynlik die mooiste van Lukas se verhale.

Om die Emmausgangers uit te sonder, is al ‘n groot aanspraak. Maar ek doen dit om verskeie redes:

Eerstens is dit ‘n opstandingsverhaal waarvan daar net vier in Lukas se evangelie is en waarvan hierdie een verreweg die langste en mees intense een is. Lukas, net soos met die geboorte van Jesus, vertel vir ons iets oor die opstanding wat ons nêrens ander lees nie.

Tweedens kom dit aan die einde van sy evangelie. Hier is die kans vir Lukas om die hele verhaal van Jesus se lewe en bediening af te rond, tot closure te bring. En nie net die lengte nie, maar ook die inhoud van die verhaal wys dat hy deur die gebeure met die twee dissipels die verhaal van Jesus wonderlik afrond.

Derdens is dit so ‘n eenvoudige verhaal. As ‘n mens dit lees (lectio), raak iets in die verhaal jou elke keer op ‘n nuwe manier. Ons weet almal dat ‘n meester-verteller iemand is wat ‘n uitsonderlike vermoë het om iets eenvoudigs te vertel. Ons weet ook dat sulke eenvoud dikwels bedrieglik is. In werklikheid, soos ons sal sien, is dit ‘n baie komplekse verhaal met wonderlike nuanses.

Vierdens is die verhaal meesterlik in sy detail, wat 'n besondere werking op die leser het. Toe ek vandag weer die verhaal lees, tref dit my byvoorbeeld hoe die twee dissipels “ernstig” met mekaar loop en praat (vers 17). En onmiddellik daarna vertel Lukas hoe in ‘n klein detail opmerking hoe hulle “met somber gesigte” gaan staan het (ves 17). Ons kan dit nie mis nie. Ons loop saam met hierdie twee dissipels die twaalf kilometer na hul dorpie en “voel” met die lees daarvan hoe hulle deur die verborge gebeurtenisse geraak is. En behalwe dat hierdie beskrywing vir ons in ‘n bepaalde atmosfeer van radeloosheid intrek, word dit soveel aangrypender as ‘n mens dink hierdie “ernstigheid” en “somberheid” kom oor hulle nadat hulle gehoor het Jesus het verskyn aan sommige dissipels (vers 23). En as ‘n mens dit lees en jou inleef in hulle omstandighede, skryf Lukas nog verder hoe Jesus hulle vasvat oor hulle gebrekkige insig en hul traagheid (vers 25). Jesus het opgestaan, verstaan ons so maklik. Maar nie vir hierdie twee nie. Vir hulle het Jesus nie opgestaan nie. Ons “lees” van die teks raak iets in ons en maak ons onseker oor hoe ons hulle moet verstaan.

‘n Mens “lees” hierdie klimaktiese verhaal, geskryf wanneer alles waarvoor Jesus gekom het, tot ontknoping kom, dus geboeid. Lukas trek ons deur sy woorde tydloos in ‘n atmosfeer in asof daar nie twintig eeue verloop het sedert dit gebeur het nie. Dit is ‘n mistieke ervaring: ‘n mens “lees” die verhaal en jy verloor enige sin van distansie tussen die Stellenbosch waarin jy sit en lees en die Emmaus waarheen die dissipels op pad is. Want, as jy nou mooi gaan terugsit en dink, selfs net oor hierdie paar trefwoorde van somberheid, kan die blote lees van die teks jou skielik soos ‘n vuishou in die maag tref.

Skielik besef ons waarom ons so ongemaklik voel oor die twee dissipels: alles wat ons altyd van Jesus hoor, uit Jesus se mond self, uit Bybelskrywers se mond, uit God se woord, van Moses, van die profete (vers 27), van die groot Bybelverklaarders deur die eeue, van ons geloofsgenote, ons ouers, ons predikante en almal wat bydrae tot ons geestelike reis, dit alles gaan eintlik by die een oor in en by die ander oor uit.

Ons is soos hierdie Emmausgangers, gelowiges, dissipels van Jesus, maar met somber gesigte en ‘n trae gees. Hierdie twee: dit is ek.

Wanneer ons hulle storie lees, weet ons in ons hart dit is eintlik ons storie. Deur net die teks te lees, is dit asof die teks vir ons sê: hier loop jy. Hier praat jy. Hier reageer jy op Jesus se opstanding. Dit is jou traagheid. Dit is jou somber gesig.

Net om die teks te lees, is dus al ‘n mistieke ervaring (lectio en contemplatio moet dus nooit geskei word nie – selfs lectio kan kontemplatief werk). En skielik is daar iets wat in ons harte vir ons herinner om terug te blaai deur Lukas se boek. Die Gees herinner ons dat ons nie net stukkies van Lukas moet lees nie. Lectio is nie maar sommer net ‘n vinnige kykie in die Bybel nie. Ons lees volledig, want as ons so omvattende lees, word ons dieper ingetrek in die verborge werking van God se Gees. Ons lees mos Lukas se spiritualiteit, sy geestelike ervaring van Jesus – en ons mag niks daarvan verwaarloos nie. In hoofstuk 1 lees ons hoe versigtig Lukas al hierdie dinge gaan ondersoek het. Nie om ‘n historiese boek aanmekaar te slaan nie, hoewel dit sekerlik vir hom nie onbelangrik was nie. Maar sodat ons “seker kan weet” dat alles waaroor ons onderrig is, “betroubaar is” (Luk.1:4). Lukas trek ons in deur sy meesterlike vertelling om met ons oor ons geloofstryd te praat. Daar is baie dinge waaroor ons wonder, waaroor ons ernstig loop en gesels. Daar is groot dinge in ons lewe wat ons gesigte somber laat lyk. Maar as ons tog net lees, goed lees, sal ons God se verborge werking wel ervaar, tot sekerheid kom.

Onmiddellik dus, as ons die teks “lees” verander iets in ons. Ons is nie meer net belangstellende lesers nie. Ons is betrokke lesers. Ons wil nou “meer” ervaar, meer “lees”, mediteer, bid en kontempleer. Ons is deur ons lees geprikkel, vasgevang in ‘n geestelike proses, wat nog lank nie geëindig het nie. En daarom sal ons meer aandag aan die Emmausgangers moet gee – aan al die baie ander dimensies van hierdie verhaal wat so ‘n sterk houvas op ons begin kry het. Hopelik kan ons dit in die volgende blogs doen.

Deur die teks te “lees” word ons so ingetrek, so betrek, dat ons sê: Wat nou? Hoe nou gemaak met ons skok en ontnugtering? En daarmee begin ons geestelike reis in al sy baie fasette.

Tuesday, November 03, 2009

Elke dag is 'n goddelike vandag. Oor die durende teenwoordigheid van God in ons lewens.

As gelowiges sien ons uit na die toekoms wanneer, glo ons, ons by God sal wees. Dit is die tyd dat ons trane afgevee sal word, ons pyn oor sal wees en ons die teenwoordigheid van God sal ervaar.

Ons neem hierdie hoop oor van Jesus, wat dikwels daaroor gepraat het.

Maar ons kan so op die toekoms gerig wees, dat ons ‘n interessante aspek van Jesus se bediening miskyk. Jesus praat dikwels oor hoe God reeds in ons lewens ingekom het en besig is om alles nuut te maak. Hy doen dit heel eenvoudig wanneer hy praat oor redding wat “vandag” aangebreek het. In die Lukas Evangelie is Jesus gedurigdeur verbind met die woordjie “vandag” - meer as in die ander evangelies.

“Vandag is die Saligmaker vir julle gebore in die stad van Dawid” hoor die skaapwagters as Jesus se geboorte vir hulle aangekondig word (Lk 2:11).

“Vandag is hierdie Woord in julle ore vervul” hoor die sinagoge-gangers in Lk.4:21.

“Vandag het ons ongelooflike dinge gesien,” roep die skare uit na ‘n wonderdaad van Jesus en aanbid God.

“Vandag moet ek by jou tuisgaan,” sê Jesus vir Saggeus en voeg dan later by: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom” Lk.19:5 en 9).

“Vandag sal jy saam met my in die paradys wees,” beloof Jesus die man wat saam met hom aan ‘n kruis hang (Lk.23:43).

Goddelike redding soos ons dit so duidelik in Jesus sien, goddelike genade, die liefde van God, word aan mense nou in die hede gegee. Ons ervaar God se teenwoordigheid hier en nou.

Elke dag van ons bestaan, is God by ons: in die vrolike, bly tye wanneer ons ‘n geboorte vier, in die merkwaardige tye wanneer ons ongewone dinge sien gebeur, in die tye van ons verlange as ons deur ons sonde oorweldig voel, en in die tye van desperaatheid waneer ons die dood in die gesig staar.

God woon nie ver van ons nie, maar kom ons lewe binne. God sit nie en wag tot die eindtye om met ons ‘n verhouding aan te knoop nie. God is nie afwesig vir hulle wat op God se liefde reageer nie. Ons wag nie meer vir God nie. God is by ons. Elke dag is ‘n goddelike vandag (Welzen 179).

Wanneer ons in die Gees lewe, is ons bewus van God wat vandag by ons is. Waar ons ook al mag gaan en wat ons ook al mag ervaar, daar is nie ‘n oomblik dat God se goedheid nie by ons is nie. God se verhouding met ons bestaan voortdurend, elke dag van ons lewe.

Daarvan kan ons gedurig bewus wees. Dit is rede genoeg om God te aanbid in verwondering en in dankbaarheid.

Om te dink: daar is nie ‘n oomblik dat God in alle heiligheid by ons woon nie. Nou al. En hoe kan ons anders as om liefdevol in reaksie op God se durende teenwoordigheid ook in heiligheid te leef nie?

Monday, November 02, 2009

Die rol van ons beelde van God in ons spiritualiteit

In Spiritualiteit word uitgegaan van die standpunt dat God ‘n verhouding met die mens en die skepping soek.

Dit klink pragtig en indrukwekkend. Wie sou nie 'n verhouding met God begeer nie?

Maar ‘n mens kan God wat op die manier na ons uitreik, op meer as een manier verstaan. Tradisioneel het ons dikwels ‘n prentjie van God in ons koppe wat ons eintlik bang maak vir ‘n God wat ‘n verhouding met ons wil hê. God is dan die God wat alles beheer, wat die mens meet aan sekere standaarde en wat dan tug wanneer die mens nie aan daardie standaarde voldoen nie. Dit is die God wat ons liefhet soos ‘n strenge Vader wat uit liefde sy kinders tug sodat hulle in hul spoor trap. God is die almagtige God en ons is die klein kindertjies wat van God afhanklik is.

Dikwels ervaar ons God dan as Iemand wat so bietjie distansie handhaaf van ons. God gee om, maar bly origens die Een wat alles “van bo” af dophou en reël. Ons het respek en eerbied vir hierdie God. In die respek en eerbied is ons bewus van alles wat ons van God skei.God het mag en ons speel maar veilig dat die mag nie teen ons gerig word en ons tot niet maak nie.

As ons dan as gelowiges hierdie beeld van God in ons omdra, word ons ook iewers mense wat ander “beoordeel,” meet en selfs op hulle plek hou.

Natuurlik moet ons God eerbiedig en respekteer. En uiteraard is God as Skepper die Een met mag. Maar dit is jammer as mense op die manier oor God dink en eintlik iewers heimlik bang is vir God as die Regter wat ons met 'n Oog dophou. Want God se mag kan ook op 'n ander manier verstaan word en God se verhouding kan ook 'n ander karakter vertoon.

In die geval kan ons God sien as ‘n God wat die mens se hart van naby ken, wat die mens graag aanvaar net soos hy of sy is en wat niemand wil uitsluit van die ryke genade nie. Dit is die God wat in die eerste plek vergewe en wie se oordeel eintlik die ondenkbare moontlikheid is. Dit is 'n God wat intieme bande aanknoop en nie 'n veilige waarnemerstatus inneem nie.

God is dan soos die vergewende Vader van die Verlore Seun wat sy kind wat sy vaderhuis so totaal verwerp het, omhels en bly soen, of die genadige Here wat die tollenaar se desperate gebed om vergifnis met vreugde aanvaar. Of dit is God wat die moordenaar aan die kruis in die paradys onvoorwaardelik verwelkom. Dit is hierdie God wat die Vader is van Jesus met wie hy op so ‘n intieme manier praat en met wie hy lang tye in alleenheid deurbring en na wie hy so sterk verlang en wie se wil hy uiteindelik bo sy eie wil kies.

Hoe ons God verstaan, gaan ons spiritualiteit bepaal. Dien ons met onderdanigheid, of soms selfs met 'n kruiperigheid 'n God van oordeel? En dra ons dan die beeld van ‘n strenge God in ons om wat in liefde tug? Of wil ons graag wees by ‘n God wat in oorvloed en in genade liefde uitdeel en met ons deel, wat ons harte ken, wat in ons diepste innerlike in rykheid woon? Is ons mense wat, soos God, ander met 'n Oog dophou, meet, in toom hou, streng lief het? Of reik ons uit, omhels ons, selfs al lyk dit na 'n waagstuk? Gee ons om vir hulle wat gebroke is, ook deur lelike, slegte sondes sodat hulle deur ons liefde nuwe krag kry om op te staan en graag soek om 'n nuwe lewe na God se wil te begin? Het ons mag om alles om ons te orden en te beheer, om te oordeel, of word ons bemagtig om in liefde ander te inspireer en in te sluit in ons gemeenskap?

Dit raak ons spiritualiteit baie diep: in die een geval kan dit so sleg word dat ons in ons godsdiens eintlik niks anders is as die onderdaniges wat geregeer word deur 'n God wat ons lewe beheer en regeer nie. In die ander geval neem God ons op in 'n liefdesgemeenskap waarin ons geinspireer word om ons lewens af te gee vir ander, om van die aarde 'n beter plek te maak en om aktief God se beeld van omgee in ons lewens uit te leef.

Dit is indrukwekkend om te weet dat God 'n verhouding met ons wil aanknoop. Maar dit is woorde wat baie dinge kan beteken. Daarom is dit belangrik om diep hieroor na te dink.

Sunday, November 01, 2009

Die lewende waters wat uit ons vloei: oor Johannes 7:38

Die laaste paar dae van ons besoek aan Engeland berei ek my voor vir die ontmoeting met kollega’s oor Bybelse Spiritualiteit in ‘n klein Engelse dorpie, Bourton-on-the-water. Dit is ‘n skilderagtige plekkie met die bome in herfskleure (sien foto) en pragtige ou geboue.



Die Engelse kyk baie goed na hul historiese plekke. Die kleinste veranderinge moet eers geadverteer word vir openbare kommentaar voordat dit gedoen kan word. Sulke mooi plekke “gebeur” nie sommer net nie. Dit kos inspanning om dit te skep en so mooi te hou.

Maar daar is ook ander lieflikhede. Die pragtige weer maak opslae – ‘n “Indian summer”, vertel die koerante. Dit is asof die somer teruggekeer het.

Ons voel bevoorreg en geniet die tydjie saam.

Maar wat my opval in hierdie droomplekkie is ‘n helder waterstroom waaroor astrante loopbruggies van klip gebou is. Die skoon, vloeiende, maar veral helder water, met geen teken van ‘n modderspatsel of ‘n tikkie onreinheid nie, gee aan die dorpie nog meer karakter. Ongesteurd spoel die getytjie deur die dorp terwyl ‘n paar eende rustig daarin dwalende rondswem. Oor my sak ‘n spesiale gevoel.



Die innerlike rus, opgeroep deur die stil waters, herinner my aan Johannes 7:38 toe Jesus op belangrike dag van die loofhuttefees mense uitgenooi het om na Hom te kom. Terwyl, soos altyd volgens die wettlike voorskrifte gebeur, die water op die altaar uitgegiet is, nooi Jesus mense uit om hul dors ewig te kom les – nogal by hom! Nie meer die feeste van die ou bedeling sal mense vrymaak nie, maar die nuwe bedeling in Hom is aan die deurbreek. Duidelik is die band met Hom wat ‘n mens nuwe lewe gee. Die krag wat mense nou kry, is ‘n innerlike, geestelike krag.

Deesdae kan ek so ‘n gedeelte nie lees nie sonder om te dink aan spiritualiteit as gelykvormigheid aan Christus (bv van Thomas a Kempis). Spiritualiteit is transformasie, omvorming. En ons word gevorm om meer en meer soos Jesus te lyk. Vir Thomas is transformasie steeds weer ‘n word-soos-Jesus.

Jesus roep uit: “As iemand dors het, laat hy na My toe kome en drink!” Hy is immers die geestelike tempel van die nuwe bedeling (Joh.4:21-24 is sy mistieke woorde aan die Samaritaanse vrou). Hy vra geloof in Hom en waar mense dit waag is daar “kragtige” gevolge: “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’” Lewende water – strome daarvan – water wat die lewe bevat en wat lewe gee, sal uit ons vloei.

In Johannes is Jesus die een wat in hoofstuk na hoofstuk, van karakter tot karakter, woorde van lewende water laat vloei. Ons volg hom deur dei boek en sien hoe hy praat. Mense word deur sy woorde van krag genees, hulle lewens word omvorm. Hy raak aan, en dinge is nooit weer dieselfde nie.

En, wil Johannes onderstreep, ons word uiteindelik net so – ons word ook ‘n bron van lewende water. (Julle sal groter dinge doen!). Niks kan sonder water bestaan nie. Maar daar is ook niks so dodelik soos vrot water nie. Jesus praat daarom van “lewende” water – die kosbaarste gawe wat ‘n mens kan ontvang. En dit is nog kosbaarder as ons daaraan dink dat hy in Palestina, die droë land, hierdie beeld gebruik. Vir mense wat in dorstige gebiede woon, is water nog meer spesiaal. So – so spesiaal is die Seun van God wat mense lewe gee. En so is ons ook as ons al hoe meer soos Hy lewe deurgee.

Wat my egter hierdie keer by my lees van die teks tref is Jesus se opmerking dat water “uit sy of haar binneste” sal vloei. Diep in ons, daar waar ons hart klop, daar waar niemand kan sien nie, soms nie eers onsself nie, daar sal lewende water opkom en vloei. Daarmee, sê Johannes 7:39 het Jesus na die Gees verwys. Ons sal dit kry, ontvang, uitdeel as ‘n gawe van die Gees wat ons sal bekragtig!

Só sal dit met ons geestelike reis wees: rein, skoon, vloeiende water stroom uit ons uit. God, die heilige Gees, woon in ons, in ons binneste en gee die skoonheid van die lewe daar waar ons dit nie altyd verwag of ervaar nie.

Dis eintlik ondenkbaar, dink ons: want ons lewens is vol groen, verrottende moeraswaters waarvan ons soms self terugskrik en wat ons vergiftig met wanhoop, depressie en ongelukkigheid.

Maar ons kan by sulke negatiwiteit verby kom. Ons kan diep in onsself kyk, verby alles op die oppervlakte wat ons sig op ons innerlike lewe verduister, na die Seun wat by ons inwoon, daar waar ons soms self nie meer goed kan sien nie. En ons kan weet: waar God in ‘n gelowige hart woon, is daar ‘n lewegewende bron.

Hieraan moet ons bly vashou: God in ons – en waters van die lewe wat ons deurstroom en by ons uitstroom.

Wat ervaar ek hier? Want die woorde van Jesus is mooi, maar dit moet as mooi woorde deel word van ons bestaan. Jesus praat dit sodat dit in ons lewens kan roer en lewe bring. Dit is iets wat ons moet bly bedink: Jesus belowe ons dat wanneer ons naby aan Hom bly, aan Hom vashou, sy lewe en sy leer steeds weer onthou, deur Hom altyd weer God se liefde herken (Joh.3:16!), ons sulke lewende water uit ons lewe sal sien voortvloei.

Laat ons dit bly bedink: hierdie beeld van die stromende waters wat skoon, diep in ons opwel. Want hoe meer ons daaroor dink, hoe werkliker sal dit word. En sal ons die vrede, die rustigheid van die nuwe lewe ervaar. Dit, sou Thomas wou hê, is wat ‘n gelowige moet doen: bedink die woorde van Christus. Neem dit aan. Leef daaruit. Sodat die waters van rus kan begin vloei.

Maar die belangrikste is om dit konkreet te bedink: Ek sit nog dikwels terug en kyk na hierdie foto – die helder water wat so skoon vloei. Ek het geboeid gestaan en kyk hoe die waters Bourton-on-the-Water spesiaal maak. En elke keer as ek na die foto kyk, besef ek, in my is ook so ‘n bron, so ‘n stuk heiligheid. En as dit in my is, kan dit my hele lewe verfris, nuut maak.

Biddend, mediterend, nadenkend word ons so dieper gebind aan die groot wete: in my, in my binneste woon die Bron van die lewe. Dit maak my vry van moddergedagtes, dankbaar vir onuitspreeklike skoonheid en verwonderd dat ek hierdie wonder kan deel, kan laat vloei na almal om my wat dors daarna.

Die lewende water is die Gees en my vashou en soeke na die lewende water in my is deel van die heiligmaking wat die Gees in my bewerk. Die Gees maak ons vry van ons kragteloosheid deurdat ons met toewyding en dissipline die goeie wat in ons woon, herken en ons eie maak. Ons moet word wat ons reeds is. Ons moet die lewende water wat in ons opgedam is, laat vloei. Dit soek ons met inspanning, maar ook met verlange. Want waar ons die lewende water vind en drink, word ons vry. Die stromende water sal die donker gedagtes wegneem en deur ons vloei na ander wat dors daarna.

Spiritualiteit praat van ‘n proses. Dit is ‘n hele proses om hiedie wonderskone woorde oor lewegewende waters in ons binneste, so te beleef dat dit ons lewe word. Ons woon in ‘n stil plek waar rustige waters van die lewe vloei en dit inspireer ons om ander te laat deel in hierdie bevrydende, lewegewende ervaring.

Friday, October 30, 2009

Klein groepe as geestelike dissipline: om die lewende woorde by God te soek

Dit is opvallend watter groot rol klein-groep besprekings in die lewe van die kerk en in die lewe van gelowiges speel. Vir ‘n lang tyd het ons spesiale aandag aan “selgroepe” gegee. Dit was ‘n interessante ontwikkeling naas die “mega”-kerke waarin duisende mense in een gebou bymekaar kom.

Hierdie kleiner groepe het ‘n groot behoefte vervul naas die mega-groepe van die mega-gemeentes met sy baie bedieninge, lidmate, predikante en groot geboue. Dit was die huis-byeenkomste waar ‘n klein groepie mense bymekaar was om ‘n gemeenskap te vorm en ook om geestelike besig te wees. In sommige gevalle word hulle omgee-groepe genoem.

Sulke groepe is wonderlike klein strukture waarin mense wat origens maklik van mekaar vervreemd is in kleiner verband juis vir mekaar beter kan leer ken en omgee. Dit is 'n plek waar mense rustig kan praat en bymekaar kan wees.

In die spiritualiteitstradisies was sulke groep ‘n belangrike konteks waarin mense geestelik kon groei. Maar in die tradisies was sulke intieme byeenkomste gemik teen ‘n klomp los, gesellige gepratery. Dit was eerder die tyd vir 'n “leergesprek” as ‘n geestelike dissipline.

Mense in ‘n klein groep wil as pelgrims op belangrike tema’s en geestelike materiaal fokus. Hulle wil met 'n diep verlange hul geestelike lewe beter leer verstaan in gemeenskap met mekaar. Hulle smag daarna om deur hul byeenkoms te groei in hulle lewenskuns, in hul alledaagse heiligmaking.

Daar is dus twee duidelike behoeftes: nadenke oor: wat behels ons geestelike weg? En, tweedens, waartoe word ons in ons geestelike weg omvorm of getransformeer?

Maar hierdie byeenkomste gaan uiteindelik nie maar net om ‘n mens se eie geestelike groei nie. So asof ‘n mens dan geborge, gelukkig, versorgd en bemind voel nie. Of dit eindig ook nie waar ‘n klomp mense saam die geestelike weg bedink en najaag nie. Dit is nie maar net nog 'n kans om beter te voel of om jouself reg te ruk nie. Iets baie meer spesiaal gebeur hier.

In Boek 1.10.12 van die Navolging van Christus praat Thomas a Kempis van sulke geestelike byeenkomste. Dit is vir hom van groot belang vir ‘n mens se geestelike reis, veral waar mense in geloof aan mekaar verbind is en een is van hart en gedagte.

Thomas beklemtoon dat dit ‘n gerigte, ywerige gesprek en ‘n ontmoeting is tussen mense wat deur hul geloof in God aan mekaar verbind is. Dit is nie maar net ‘n los, gesellige geselsery nie. Maar in die fokus op geestelike sake, wil hy eintlik sê, is ‘n mens nie net in geloof aan mekaar verbind nie, maar die heel belangrikste is dat die groep dan in die teenwoordigheid van God is. Dit is ‘n innige band wat ons aanmekaar bind, maar meer nog aan God. Daarom gaan die byeenkomste ten diepste om ‘n ontmoeting met God.

Dit is ‘n hoogs spesiale tyd waarin mense op ‘n spontane manier in hul gesprek oor God, op heilige grond bymekaar is. Om voor God te wees, bind hul nog sterker as ooit tevore aan mekaar en gee vir hulle nuwe krag vir die geestelike reis.

Dit beteken nie donker en swaar gedagtes nie. Dit is ook nie 'n gesmous met vroomheid nie. Die gesprek met mekaar is 'n intense soektog om die belangrikste dinge in ons lewe met groot diepte en vreugde te ervaar. Daar is genoeg woorde wat oor ons pad elke dag kom. Wat ons soek en ons hart inniglik begeer is om die woorde van die lewe, die woorde van verfrissing te hoor. Dit is die kans om deur toewyding en geestelike dissipline nader aan God te kom.

Thursday, October 29, 2009

Drie maande van verryking om oor dankbaar te wees

My besoek aan die kollega's in Engeland om te praat oor Bybelse Spiritualiteit het my in een opsig veral goed gedoen. Die afgelope drie maande het ek weer eens besef hoe gesekulariseerd Europa is. Die kerke kry swaar, met mense wat al hoe meer huiwer om die kerke te vertrou, in ag te neem en selfs uit te luister. Dit beteken nie dat die daar nie 'n soeke na dieper dinge is nie. In baie opsigte is die gemeenskappe in Europa mense wat omgee vir ander, wat van ons aarde 'n beter plek wil maak en wat op soek is na geestelike heelheid en vorming.

Maar by my Engelse kollegas met wie ek die hele dag kon gesels en waar ek 'n twee uur lange byeenkoms kon inlei en die bespreking kon meemaak, het ek 'n spontane geestelikheid ontdek wat my besoek vir my die moeite werd gemaak het. Hulle is kerklik aktief en heel spontaan met die feit dat hulle hul Christenlike getuienis in hul akademiese werk uit wil leef. Wat my opval, is dat hulle dink dat heelwat van ons kollegas in die vakgebied van die Bybelwetenskappe dikwels dieselfde spontaneiteit het en boonop waardering het vir 'n onbevange en eerlike uitlewing van 'n mens se geloof in jou wetenskap. Ek het in die opsig 'n stuk verryking en ontspanning ervaar. Dit was, interessant genoeg, ook my ervaring in die drie uur lange bespreking te Nijmegen. Na al ons wetenskaplike besprekings waarin ons oor Spiritualiteit op 'n rasionele en wetenskaplike manier gepraat het, was daar byvoorbeeld een moment dat ons saamgestem het dat 'n mens die geestelike erfenis en boodskap van die bybel slegs vanuit 'n gelowige houding kan verstaan.

In Nijmegen en in Engeland (waar slegs 10% mense nog kerk toe gaan), was dit vir my 'n sleutelmoment.

Dit is waarom, het ek later besef, die kollegas in Engeland nie in Bybelse Spiritualiteit belang stel omdat hulle hulle departement se getalle wil opstoot of bevorder nie. Maar, het ek met verwondering besef, bloot omdat hulle dink dit is belangrik.

Ek keer dus oor hierdie eenvoudig ervaring 'n verrykter mens terug. Ek tik hierdie gedagtes terwyl ek op Heathrow sit en wag om aan boord van ons vlug te gaan. Ons land vroeg in die oggend in Suid-Afrika. Die somer wag op ons en ons sien uit om na drie maande terug te wees.

Dit was ryke maande vol harde werk en wonderlike ontmoetinge, gesprekke en nuwe perspektiewe.

Deur die eeue, weet ek, stuur God ons op 'n geestelike reis vol verrassings, met geloofsgenote wat oor ons pad kom waar ons dit dikwels nie verwag nie.

Dit was maande om oor dankbaar te wees.

Gebed vir my ma

In die Joodse Museum in Berlyn, bly ek dink, is daar 'n boom waarin besoekers 'n kaartjie kan ophang met 'n "wens" daarop. Toe ons die oggend vroeg daar aankom, hang daar al 'n paar granate met 'n wens agterop geskryf. Ek loop nader en lees van hulle. Die meeste is van mense wat geraak is deur die uitstaling en 'n gebed of wens neerskryf dat die rassehaat van die Nazi tydperk nooit weer sal plaasvind nie.

Maar daar hang ook een kaartjie waarop 'n seuntjie geskryf het: "Ek bid dat my ma nie meer die verskriklike hoofpyne sal kry nie."

En ons dink ons kinders weet nie....

Sunday, October 25, 2009

Transformasie - son uit die as

In die Dallas Museum vir Moderne Kuns hang hierdie skildery van Anselm Kiefer uit die jare 1983-1997 met die titel Blomme van As. Hierdie enorme doek hang in hierdie gebou met sy besondere ontwerp van Toyo Ito, die Japannese argitek.

‘n Deel van die museum




Wat my veral bybly daarvan is die dik tekstuur van die skildery: Kiefer, ‘n Duitser, wat in 1945 gebore is, worstel gedurig met sy Duitse identiteit. Hy skilder hier die Rykskanselary in Berlyn, maar die kamer is heeltemal leeg en die oppervlakte van die skildery is met as bedik. Al wat die spasie vul, is ‘n groot, gedroogde sonneblom. Die blom simboliseer transformasie. Uit die as van die verwoeste ou bedeling en die vernietigde Derde Ryk kom nuwe beelde op.



Transformasie van verhoudinge is ‘n sleutel-hoop in die Christendom en is een van die kern-momente van Spiritualiteit. Spiritualiteit praat altyd van dinamiese verhoudinge, van ontwikkeling, veranderinge en omvorming. Interaksie tussen vennote in ‘n verhouding kan destruktief wees en op verwoesting uitloop, wat ellendig genoeg, so baie gebeur. Maar soms kom daar uit die as van ons verbrande wêreld tog hoop – meer nog as ons vanuit die geloof in Christus vashou aan die liefde.

Dis my tweede besoek aan hierdie museum en skildery, maar elke keer weer is ek dieper aangespreek daardeur. Ons sien deur ‘n spieël in ‘n raaisel, deur as heen. Maar uit die donkerte, die moeilike tye, die vernietiging kan ons tog weer opstaan, is daar tog sprake van die son – al het die blomme uitgedroog en al is ons geestelike reis bult-op.

Saturday, October 24, 2009

Nuut uit die puinhoop

Ek het lank gewag om hierdie droom te verwesenlik: Op pad terug huis toe van Berlyn, klim ons af by Dresden wat in die voorheen Oos-Duitse gebied is en wat in die oorlog swaar verwoes is. Die beroemde Friedenskirche, oor die eeue 'n baken in die stad, was ook grotendeels 'n puinhoop, maar is in 2005 (Hervormingsdag)opnuut ingewy na 13 jaar se herbouwerk teen 'n koste van 2000,000,000 miljoen rand (180,000,000 Euro!). 'n Nobelpryswenner het o.a. sy prysgeld vir die restorasie geskenk.

Die gebou, wat met sy indrukwekkende struktuur menige oorlog oorleef het, het in 1945 ineengestort nadat 650,000 brandbomme op die stad gegooi en en die hitte uiteindelik sy tol geeis het.

Die kommuniste wou dit verander in 'n parkeergarage, maar die Dresdeners het hulle dapper daarteen verset. Mettertyd het die kerk 'n groot rol in vredesbewegings begin speel (vandaar die naam Vredeskerk) en byeenkomste wat daar gehou is, het ook bygedra tot die val van die kommunistiese Oos-Duisland. Tienduisende mense het dikwels, o.a. op Kersdag, die proses van die herbou en inwyding meegemaak - soos 'n uitstalling in die kerk op 'n heel sober manier vertel en dokumenteer met pragtige foto's.


Dit is vandag seker een van die bekendste kerke in Duitsland. Pres. Obama het die kerk in 2009 besoek. Daar is tientalle toeriste wat gedurig in en uit die gebou stroom - wat dit selfs nog meer van 'n simbool maak.


Ons begin ons besoek met afwagting. Maar Dresden dra nog swaar aan sy kommunistiese verlede. Dit is beslis nie nog 'n Berlyn nie. Maar oral sien 'n mens tekens van nuwe lewe, van herstel en van transformasie weg van die boeie wat mense vir soveel jare gebind het.

Op pad na die kerk is daar byvoorbeeld 'n winkel met hierdie fyn, gerestoreerde bo-paneel:




'n Reuse standbeeld van Luther is reg voor die kerk opgerig. Dresden is in Reformatoriese land. Dit is 'n pragtige standbeeld van 'n sterk, jeugdige Luther. Die beeld staan 'n indrukwekkende ruimte vol:





Dit is ontstellend om foto's oor die verwoesting te sien. Hier is die kerk nadat dit ineengestort het in 1945:




Hier is die herstelde kerk:





Die liturgiese ruimte (met al die toeriste...)





Nog 'n deel van die liturgiese ruimte:





Die binne-ruimte van die kerk met sy hoë galerye is in sagte pastelkleure geverf. Dit skep in my die gevoel van ruimte, ligheid en kom sit sag op my oog:




Op 'n stadium gebeur iets interessants met my. Na al die katedrale wat ons tot dusver gesien het, het ek 'n vreemde gevoel van herkenning in my ervaar toe ek voor die liturgiese ruimte staan en sien die preekstoel staan in die sentrum. Boonop het dit 'n pragtig ontwerpte kanselkleed gehad. Ek dink nog steeds oor hierdie gevoel wat ek gehad het en hoe dit in my baie herinneringe teruggebring het van my teologiese opleiding (Sola Scriptura....). Ek besef al hoe meer hoedat 'n mens se teologiese tradisies deel is van jou dieptestrukture - jy resoneer onmiddellik en direk daarmee, sommer so met 'n oogopslag.





Deel van die liturgiese ruimte:




In die groot kelder van die kerk is 'n uitstalling van grafstene wat onder die puinhoop uitgegrawe is en eeue oud is. Daar is pragtige aantekeninge in die kerk dat hulle nie net oor die geloofshelde van die verlede getuienis gee nie, maar ook vertel van die geloof in die opstanding.

Hierdie deel van die biddende vroue trek 'n mens se aandag oor die biddende hande.... Ek het teruggeloop om die hande af te neem. Dit het soveel mistieke krag.




In die kelder van die kerk waar daar 'n stil kapel is, is ook hierdie aangrypende voorstelling van 'n altaarklip van deels gepoleerde kalksteen deur die Britse kunstenaar Arish Kapoor. Die tregtervormige holte, volgens die aantekeninge, simboliseer die dieper dimensies van ons lewe wat in ons oppervlakkige bestaan dikwels verlore gaan. Bo hang 'n kruisvormige lig.






Op pad terug na die stasie, in die hoofstraat, stap ons verby hierdie man met sy kommunistiese vlag. Wat dink 'n mens hiervan? Nie alle mense ervaar die Weste as vryheid nie.




Ek het 'n droom vervul om hierdie kerk te gaan sien, maar weggekom met dieper gemoedservaringe as wat ek voorsien het. Om te dink watter ongelooflike ellende die oorlog veroorsaak het. Die vernietiging van hierdie kerk het duidelik 'n hartslag aan die Dresdeners toegedien. Dis aangrypend om te lees hoe hulle na die oorlog die Kommuniste gevra het vir hulp om die kerk te herbou, maar 'n koue skouer gekry het. En vir baie jare het hulle uitgehou, totdat hulle in hul tienduisende die herinwyding beleef het. Om te dink dat die kerk nie deur bomme vernietig kon word nie, maar uiteindelik deur brandbomme geval het. Oorlog is sleg. Sleg. Maar uit hierdie puinhoop kom nuwe hoop, want die kerk word 'n simbool van vrede.

Ek dink weer opnuut oor my skryfwerk oor 'n spiritualiteit van vrede. As 'n mens 'n kerk soos hierdie sien, besef 'n mens hoe akademies 'n mens se skryfwerk kan wees. Dit is eers as jy by puinhope staan, dat jy oorlog aan jou lyf voel en dat die drang na vrede onstuitbaar in jou groei.

Dit was 'n spesiale besoek.

Friday, October 23, 2009

Die koei lok ons huis toe....




Joekie stuur vir my hierdie opstel. Ek ruik plaas en stal terwyl ek dit lees, hier in die koue Regensburg en Afrika-nostalgie oorval my. Na 300 jaar is die son behoorlik in hierdie Hugenote bloed ingegrein. Gelukkig is dit oppak-tyd vir ons. Sondag is ons op pad. Volgende week is my laaste byeenkoms - samesprekings met kollega's in Engeland oor hul moontlike kursus in Bybelse Spiritualiteit en dan 'n aanbieding by hul Universiteit oor Bybelse spiritualiteit.

Daarna klim ons Donderdag in Heathrow op die vliegtuig om Vrydag vroeg in ons geboorteplekkie en ons Kaapstad te land. En daarna tuis in ons eie plek.

Oor die naweek doen ons al die lekker dinge wat ons nou vir drie maande ontbeer het. Stap langs die Eersterivier, lekker vars broodjies en pie's, 'n stewige potjie muurbal en al ons ou vrinde groet. Lekker.





Die koei is 'n soogdier. Hy is ook 'n huisdier. 'n koei is orrals. 'n koei het 'n baie fein reik - jy reik hom oor die jele plaas. Agteraan die koei sit die stert. An die een kant van die stert sit die pint van die stert wat die kwas genoem word en an die anner kant sit die koei. Die koei gebruik die kwas om die flieje van haar weg te hou anners val hulle innie melk. Vooran die koei sit die kop. Daar groei die hoorings. Die kop hou ook die bek vas. Tissen die stert en die kop sit die koei. Die koei is oorgetrek met 'n beesvel. Onderan die koei hang die melk. Om die melk te kry, maak jy die koei se bene vas. Die agterstes. Dan sit jy onner die koei en trek die toutjie. Dan kom die melk. As die gras goed is, is die melk goed. As die gras sleg is, is die melk sleg. As die donner-weer in die lug is, is die melk weg. As dit 'n ou koei is, is die melk suur. Dit is baie goedkoop om 'n koei aan te hou want jy gee hom net eenkeer kos, dan kou hy twee maal. Die man van die koei is die os. Dit lyk soos die koei maar daar hang net nie melk aan hom nie. Om os te sê is nie 'n vloekwoord nie. Verder weet ek niks. Behalwe dat as 'n koei baie stip na jou kyk, moet jy padgee want dan is dit 'n bul.

Thursday, October 22, 2009

Die stad met die ewige wonde. Berlyn.

Op pad terug van ons konferensie in Nijmegen (vorige inskrywing) reis ons oor Berlyn. Ek was laas voor die hereniging van die stad daar en wou nou al vir ‘n hele paar jaar weer daar uitkom.

Ek is nie teleurgestel nie. Berlyn is nou ‘n pragtige stad. Die ou deel, vaal en grys en donker in die dae van die Duitse Demokratiese Republiek (!), is nou vol pragtige nuwe geboue.

Dit is eintlik ironies: die westerse deel is nou die ouer, moeër deel, terwyl die kommunistiese deel nou vol nuwe geboue is – pragtig ontwerp.

Maar as jy onder die oppervlakte kyk is Berlyn ‘n diep verwonde stad. Dit is wonde wat deur haat en onmenslike haat en geweld veroordsaak is. Die troos is dat die Berlyners weet om hierdie wonde nie weg te steek nie. Dit word gewys en oral herinner dit ‘n mens aan die innerlike donkerte wat in menseharte woon, wat so maklik tot die uiterste vorme van geweld kan omslaan.

Ek word vanoggend wakker en luister na ‘n Duitse program oor ‘n nuwe instituut wat hier naby Regensburg opgerig is vir die studie van Nazisme. Daar is ‘n onderhoud met ‘n vrou wat onthou hoe mal mense gegaan het tydens die Hitler tydperk. Mense, vertel sy, het hulleself heeltemal te buite gegaan in hulle histeriese reaksie. In ons dorp het sommiges vir weke nie hulle hande gewas nadat hulle met Hitler hand geskud het nie. “Malligheid,” sê sy, “almal was waansinnig.”

Haar woorde herinner my aan ons besoek aan die Joodse museum verlede Sondag in Berlyn. Wat ‘n uitsonderlike gebou. Die inhoud is gewoon: wonderlike, interessante inligting oor die Joodse geskiedenis en godsdiens. Maar dit is die ontwerp van die argitek Liebeskind wat ‘n mens oorweldig. Die eenvoudige, maar aangrypende ontwerp van die gebou is een van die oorweldigende ervarings in my lewe. Ek neem foto’s (sien hieronder), maar net ‘n besoek kan reg laat geskied aan die simboliek wat hy in sy gebou uitbeeld nie.

Ek loop verwonderd deur die gebou, diep geraak deur die argitektuur. Dit word byna 'n mistieke ervaring.

Juis oor die besondere gebou wat my 'n gevoel van innerlike rouheid gee, is die uitbeelding van die Shoa, die Jode-slagting, vir my opnuut weer ‘n slegte ervaring. Daar is naby die ingang eenvoudige items van individue in glaskaste uitgestal: Joodse gelowiges wat omgekom het se dokumente en briewe. ‘n Brief van ‘n vrou wat aan ‘n vriendin skryf hoe sleg sy behandel word in die kamp, maar ‘n tweede brief aan haar dogter met minder detail om die dogter nie te ontstel nie. Mense wat briewe in die treine op pad na die kampe waar hulle geëkstermineer is, uitgooi in die hoop dat dit hulle families sal bereik. En die baie foto’s vertel grafies en genadeloos van eindelose geweld en vernietiging.

Dit kan tog nie, dink ek, terwyl ek dit bekyk, ooit weer gebeur nie. En dan, later, by Checkpoint Charlie, die ou grenspos waar ek baie jare terug nog ‘n foto geneem het, sien ek ‘n uitstalling langs die straat van die duisende mense wat doodgeskiet is omdat hulle na vryheid oor die muur wou vlug. En later dink ek aan ons eie land met sy verlede, aan die moord op 20 000 Nedebeles in 1985 in Mashonaland deur Mugabe-handlangers, aan die waansinnig xenofobiese moorde verlede jaar, en nog later, aan die massa-slagting in Rwanda waarby die Weste hande gevou gestaan en toekyk het. En ek dink aan die slagting in Srebrenica toe Nederlandse en V.V. soldate niks gedoen het om te keer dat meer as 8000 mans deur Serviërs vermoor is nie.

Daar is niks ergers aan mense wat hul menslikheid verloor nie. ‘n Geperveteerde menslikheid is ‘n dodelik gevaarlike verskynsel.

Ons hotel, netjies en modern, vind ons later uit, staan waar die muur gestaan het. ‘n Mens sou dit nooit dink nie. Maar die Berlyners het die muur se spoor behou deur ‘n dubbel ry bakstene: en daar sien ‘n mens dit duidelik rondom ons hotel.

Wat ‘n simbool.... Om elke dag te onthou hoe kosbaar vryheid is. Of nog meer: hoe belangrik menslikheid is. Berlyn wys hoe diep die wonde van die wêreld is....




Die plek waar die muur gestaan het wat Oos en Wes-Berlyn geskei het, is gemerk deur 'n paadjie van dubbel bakstene wat in die pad ingebou is. Dit loop regs op die foto tot onder die motors wat in die verste geparkeer is.




As 'n mens nie daarvan weet nie en ook nie mooi kyk nie, sal jy nie die ry bakstene sien wat al om die sypaadjie kronkel en wys waar die muur gestaan het nie:




In die museum het Liebeskind kamers ontwerp wat heeltemal leeg is om die afwesigheid van Jode in die Duitse gemeenskap te simoliseer:





In een so 'n kamer is daar 10 000 metaal gesigte op die vloer - 'n ontwerp van die kunstenaar Radeshna. Dit heet "Gevalle blare" en simboliseer slagoffers van oorlog en geweld. 'n Wag het vir my kom vertel besoekers mag maar op die metaal-gesigte loop. Die koue metaal-klanke bly hang in my gemoed.





Hierdie foto's met lyke, gevangenes en mense wat afgevoer word, is ingebrand op ons kollektiewe geheue:





Hy was in 1962 18 jaar oud toe hy saam met 'n vriend na Wes-Berlyn gevlug het. Die soldaat wat hom doodgeskiet het, is 'n ruk gelede tot een jaar gevangestraf veroordeel. Sy naam was Peter Fischer. Net 18 jaar oud. Na vrede:


Blog Archive