‘n Deel van die museum
Wat my veral bybly daarvan is die dik tekstuur van die skildery: Kiefer, ‘n Duitser, wat in 1945 gebore is, worstel gedurig met sy Duitse identiteit. Hy skilder hier die Rykskanselary in Berlyn, maar die kamer is heeltemal leeg en die oppervlakte van die skildery is met as bedik. Al wat die spasie vul, is ‘n groot, gedroogde sonneblom. Die blom simboliseer transformasie. Uit die as van die verwoeste ou bedeling en die vernietigde Derde Ryk kom nuwe beelde op.
Transformasie van verhoudinge is ‘n sleutel-hoop in die Christendom en is een van die kern-momente van Spiritualiteit. Spiritualiteit praat altyd van dinamiese verhoudinge, van ontwikkeling, veranderinge en omvorming. Interaksie tussen vennote in ‘n verhouding kan destruktief wees en op verwoesting uitloop, wat ellendig genoeg, so baie gebeur. Maar soms kom daar uit die as van ons verbrande wêreld tog hoop – meer nog as ons vanuit die geloof in Christus vashou aan die liefde.
Dis my tweede besoek aan hierdie museum en skildery, maar elke keer weer is ek dieper aangespreek daardeur. Ons sien deur ‘n spieël in ‘n raaisel, deur as heen. Maar uit die donkerte, die moeilike tye, die vernietiging kan ons tog weer opstaan, is daar tog sprake van die son – al het die blomme uitgedroog en al is ons geestelike reis bult-op.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.