Tuesday, October 13, 2009

Versorg die liefde.




‘n Mens leef te veel op ‘n vanselfsprekende manier met mense vir wie jy lief is. En iets wat 'n mens vanselfsprekend aanvaar, kan maklik verwaarloos word.

Die ou mense het dikwels gesê: leef saam met iemand na aan jou asof dit die laaste dag is wat julle bymekaar is. Dan word julle saamwees spesiaal, verdra ‘n mens wat jy anders toelaat om jou lewe te verniel, en doen jy moeite. Die Bybel skryf hieroor heel indirek wanneer dit vra dat ‘n mens nie die nag moet sien breek terwyl daar woede in jou hart is nie. Moenie dat die son sak oor jou bui van viesgeid nie.

Later, veel later, as jy nie meer so vanselfsprekend kan aanspraak maak op die teenwoordigheid van hulle vir wie jy lief is en wat naby aan jou is nie, pak die gevoel jou dat dit maar dalk liewers anders kon gegaan het in alles waaroor jy jou so vererg het en die griewe wat jy opgebou het. Dan sou 'n mens dikwels meer goeie dinge oor jou lewe saam met hulle vir wie jy lief is, wil onthou.

Ek het dit al dikwels in my lewe by mense gesien hoeveel pyn hulle beleef wanneer hulle afskeid moet neem van geliefdes. Natuurlik as hulle mense begrawe. Maar onlangs nog, op ‘n lughawe, terwyl ek wag op my vliegtuig, sien ek ‘n jong man en sy vrou afskeid neem van sy ouers. Hulle is op pad terug Nieu-Seeland toe, hoor ek hulle later vertel. Hy druk sy pa, omhels sy ma en vat sy broer om die skouer. Dan druk hy weer sy pa en hou sy ma weer vas en groet weer sy broer. En steeds is dit nie genoeg nie. Die pyn van afskeid staan wreed uitgeskryf oor hulle familie. Jongmense, uitmekaar geruk oor baie redes van mense wat die naaste van naby aan hulle is. Deur ons land se geskiedenis en ons land se situasie. Later, as sy ouers weg is, staan en huil hierdie groot, brawe kêrel soos ‘n seuntjie. Dit is egte, swaar afskeid neem, kosbare bande wat weer deurgesny word.

Daar is tye dat afskeid neem so diep in jou insny dat die jou fisiek seermaak. Die meeste mense huil bitter-seer trane uit ‘n rou hart as die tyd van weggaan aanbreek. Ander hou dit in, wat amper nog seerder maak. Hoe groter die liefde, hoe rouer die seerkry.

Dit is net jammer dat ons meestal eers wanneer ons dit moet ontbeer, besef hoe ‘n groot gawe ons daagliks het in mense naby aan ons. Ons moet hulle so lief hê, dat ons weet, selfs al breek die groot finale weggaan aan, sal ons liefde hulle bybly en die herinneringe daaraan hul lewens verryk. En ons sal weet, ons afskeid van hulle is ‘n weggaan van mense wat ons lewe mooi gemaak het.

Ons kan nie die finale afskeid keer nie, maar ons kan dit versag deur so te leef dat pynlike herinneringe nie die pyn van die afskeid oorheers nie, dat dankbaarheid verwyte oorskadu, dat die goeie, gedeelde lewens al die foute wat ons onvermydelik gemaak het, sal oortref. Laat ons nooit gaan slaap met liefdeloosheid in ons harte nie. Laat ons die liefde eerder najaag en soek. Ons kan nie maar vanselfsprekend aanneem dat ons vir altyd saam sal wees nie. Ons moet die liefde soek en koester.

En tog, miskien moet 'n mens nie te idealisties wees nie: dalk is die liefde juis so spesiaal omdat dit die tye van vanselfsprekendheid kan vergeet en agter laat. Dit is egte liefde wanneer die ander een kan oorsien, selfs kan vergeet wanneer sy of hy te maklik en te vanselfsprekend aanvaar is.

Die liefde is miskien juis so spesiaal omdat dit tye van seermaak en onsekerheid kan vergewe, omdat dit mens kan aanvaar ten spyte van jou foute en mislukkings. Hoe onvergeetlik, byvoorbeeld, die liefde van die pa teenoor die rondloop-seun wat gedink het hy het nie 'n pa nodig nie. Dat hy kan terugkom na die Vaderhuis wat hy neus-optrekkerig en parmantig agtergelaat het. En dat hy dan nog omhels en met soene oorlaai word (Lukas 15).

Miskien is die liefde juis uitsonderlik groot en intens wanneer 'n mens weet jy word bemin ondanks die kwaad wat jy aangedoen het.

Wat 'n geheimenis is die liefde nie. Iets om nooit te verwaarloos nie, iets om elke dag bewustelik te soek en te versorg.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive