Friday, October 09, 2009

Liefde is waar geduld woon: Oor 1 Korintiërs 13:4.




Hierdie foto van 'n visser wat in stormweer sy vissie geduldig en vreugdevol staan en vang het my diep laat dink.



Paulus begin sy beroemde lied oor die liefde met ‘n negatiewe deel: As ‘n mens nie liefde het nie, is ‘n mens niks, leeg, sonder enige nut. Elkeen van hierdie negatiewe dinge begin hy met die opmerking, “Al praat ek...", “al het ek....” “al deel ek...” (1 Kor.13:1-3).

Daarna lys hy ‘n hele klomp kenmerke van die liefde. Hy begin hierdie lys met wat sekerlik vir hom belangrik is: Die liefde is geduldig.

Ons oog gly so maklik oor hierdie opmerking, want geduld is nie altyd in ons tyd ‘n gewilde deug nie. Dit is deesdae amper ‘n sonde om geduldig te wees. Mense wat ongeduldig die groot dinge jaag, die aktiviste, die wat nie kan wag nie, wat dinge druk en gedoen kry, hulle is hoog in ons estimasie. Ons reken hulle. Hulle is nie slap nie, lê en staan nie rond nie. Hulle sit nie hulpeloos en wag passief dinge af nie. Hulle kry dinge reg en hulle maak ‘n verskil. Hulle is die presteerders.

Natuurlik maak dit sin om dinge gedoen te kry en aan te gaan met ons lewens. Ons moet ons haas om betyds by die vliegtuig of trein te wees. Ons moet voor ‘n afsnydatum ons werk afgehandel kry. Ons moet ‘n afspraak nakom.

Maar soms het ons net nie ‘n keuse nie. Ons moet ons beurt afwag sodat iemand ons kan bedien, besluite kan neem, toestemming kan verleen of ons kan ondersoek. Dan het ons wel ‘n keuse – ons kan ongeduldig word, beledigend raak, ons opruk.

Geduld bly deksels moeilik. Want ons is afhanklik van wat ander doen en besluit en ons is so geneig om hulle aan te vat as dinge nie volgens ons sin loop nie. Dit is nog moeiliker omdat ons naderhand teenoor onsself ongeduldig raak. Selfs waar ons net by ander mense is, in ‘n ontspanne atmosfeer, kan ons in ongeduld ons opwerk, argumenteer, ons wil afdwing, baie praat, gou oordeel, maklik kritiseer. In ons ongeduld raas ons, praat baie, luister min, verstaan rede nog minder. Ons lewe raserig en vinnig.

Hoe kom ‘n mens prakties daaruit? Ons moet begin deur eers te verstaan wat fout loop met ons. Ons lewe in ‘n spanning om altyd daar te wees waar ons nie nou is nie. Ons sien meestal die huidige oomblik as ‘n struikelblok, as ‘n voorlopige fase vir waar ons eintlik moet wees.

Ons sien uit na waar ons later of eendag moet wees, asof môre meer saak maak as nou, ons aftrede belangriker is as ons werk, ons Vrydag groter as ons weeksdag wat tog net verby moet kom. Ons jaag na ‘n toekoms waar ons eintlk nooit by uitkom nie.

Ons moet hierdie lewenshouding verander. Die hede gaan nie om wag nie, om jaag nie, om uitstrek na wat nog moet kom nie, maar om lewe hier en nou. Daarom kan ons wanneer die ongeduld ons oorval, terugsit en begin soek na die lewe in die plek waar ons is. Dit is waar ons die verskil kan begin inoefen. Hier kan ons prakties aan onsself begin regruk deur ons hele houding te verander oor die omstandighede waaroor ons andersins so opgewerk kan raak.

Ons kan soek om dinge raak te sien wat ons nog altyd misgekyk het. Sommige mense kan ure op ‘n sypaadjie van ‘n restaurant sit en na mense kyk – geboeid oor die ryke verskeidenheid van vreemde gesigte wat daar op ons aardbol rondloop, terwyl ander dit in hul haas en blindheid vir hul hede as tydmors sal beskou. Maar ons kan in ons huidige moment, wanneer ons dinge afwag, ook die lewe op ander maniere ervaar: ons kan bewus word daarvan dat ons gesond is, goed voel, asem haal. Of ons kan die son op ons vel voel, of ‘n wolk deur die lug sien gly, of dink aan ons kinderdae of aan mense naby aan ons. Of ons kan net stiller wees, meer luister, minder praat, ander begin raaksien, ons oomblikke by hulle as kosbaar beskou en beleef.

Dan kan die grysste tyd, die vaalste oomblik, sin kry en vreugde bring, selfs liefde vir waar ons is en wie ons is bewerk.

Maar, dit klink darem maklik - om so elke oomblik anders te probeer beleef. Miskien sal ons, as ons dit regkry, ook die groter dinge kan aanpak: ons sal dalk moet begin karring om die dinge wat ons altyd so haastig as uiters belangrik beskou, ook te begin bedink omdat dit ons wegneem van alles wat ins ons harte vrede kan gee. Dan sal ons dalk agterkom dat wat ons so verbygejaag, soms meer sin maak as alles wat ons so passievol agterna gesit het.

Ons leef in ‘n tyd, ‘n gejaagde tyd, waar ons sulke geduld met ywer kan soek . Ons vernietig onsself en ons wêreld en ons verhouding met God deur alles te jaag, deur altyd te wil wees waar ons nie nou is nie, deur blind te wees vir die skoonheid wat daar elke oomblik rondom ons verborge is, of die lewensdrif wat in self die vaal tye na vore kan kom.

Hoe treurig is dit dat ons in ons gejaag die toekoms in, nooit werklik tot rus kom in die hede nie. En nooit werklik in die liefde anker nie.

Dit is, tussen hakies, merkwaardig dat die evangelie 'n sterk toekomsverwagting het. Ons praat van 'n eskatologiese boodskap - die verwagting van die toekoms by God. Maar die Christendom het geleer dat hierdie toekoms in Christus se opstanding met vreugde deurgebreek het - sodat ons nou reeds God se goeie gawes kan geniet.

Wat nogal 'n goeie tema vir 'n nagmaalspreek kan wees: om die toekoms te vier - wat nou al begin aanbreek het. Terwyl ons bedink dat ons uiteindelik God se liefdevolle teenwoordigheid ten volle sal kan beleef, hoor ons Jesus se woorde: eet die brood, proe die wyn, laat dit julle God se teenwoordigheid by julle hier en nou beleef. Dalk open dit net, as julle dit soek, julle blik vir wie Ek nou by en in julle lewe kan wees.

Geen wonder Paulus het die liefde so prominent met geduld verbind nie. Die teenwoordigheid van die liefde in ons lewe kan gemeet word – aan ons geduld. Dit is nogal skrikwekkend as ons hierdie toets begin toepas op ons lewens.

Om te kan visvang, geduldig en met genot, in die wreedste omstandighede!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive