Sunday, October 18, 2009

Stilte wanneer mense oor God praat






Ons is praterig wanneer ons tot God nader. Die gebede van gelowiges is dikwels gelaai met woorde. Ons het baie om van God te vra en ons stort dikwels graag ons harte voor God uit.

Dit is goed so. God hoor graag ons gebede en luister met behae na die begeertes van ons hart.

Maar ons moet ook onthou dat daar ‘n negatiewe kant aan praterigheid is. Om met God te praat het sy tyd en plek. Iewers moet ons ook wag dat God met ons praat. Ons het God se woorde nodig, dringend nodig – dit is lewensbelangrik dat ons luister na God se stem.

Daarom lees ons die Bybel en luister na die geloofsgetuienis van gelowiges oor die eeue heen. Wie praterig met die Bybel as God se woord omgaan, sal dikwels net sy of haar eie woorde soos ‘n eggo hoor of terugontvang. Ons hart wat so vol gedagtes is, maak dat ons gevanges word van ons eie gedagtes. Of ons is so opgevang in wat ons dink en praat, dat ons nie ontvanklik is vir wat God dalk vir ons wil sê nie.

Dit is daarom ‘n goeie oefening om die Bybel in stilte oop te maak – vir stiltetyd. Egte stiltetyd. Ons kan eerder te min of glad nie praat wanneer ons na die woorde van die groot gelowiges in God se woord luister.

Des te meer omdat die Bybel “sag”, baie “sag” oor God praat. Die geloofsgetuies in die Skrif wil in gebroke, beperkte mensetaal praat oor God, wat ver bo ons taal verhewe is en nooit in woorde vasgevang kan word nie. Dit is al baie moeilik. Want hoe kan ons in mensetaal die verborge dinge van God raakvat en oordra? Dit is ‘n groot uitdaging. En om te verstaan wat hulle eintlik oor God wil sê, moet ons dubbel versigtig luister: versigtig sodat ons gedagtes nie inmeng nie en versigtig sodat ons hulle gedagtes kan peil. Hulle praat so versigtig, so sag, soms so sukkelend (Prediker! Job!), dat ons hulle dikwels nie goed hoor nie, nie verstaan nie – omdat ons nie werklik luister nie, te gou begin praat en ontleed en vrae vra.

Om te kan luister, moet ons stil wees. Stilte is goud. Dit is vrugbare grond. Dit is die ploeg wat ons harte omploeg sodat die saad van die Woord daarin kan val. Wanneer ons die Bybel oopmaak vir ons stiltetyd moet ons woorde en gedagtes verstil en verstom. Ons moet traag wees om te praat, om te vinnig ons mond oop te maak. Soms is die antwoord te vind in die stilte. Die verborgene kom tot ons waar woorde nie kan kom nie. En ons hoef net daar te wees, om te weet....

In 1 Konings 19 word vertel hoe Elia ‘n aardbewing, donderweer en vuur beleef het. Maar God was nie in al daardie groot geraas nie. Toe het die groot stilte gekom – en God was in die stilte.

Wanneer mense in die Bybel oor God praat, pas dit ons om stil te wees. Ons kan dalk nader aan God kom as deur stringe en hordes van woorde. Of, beter gestel, ons kan agterkom dat God in die stilte by ons is.

Hieroor wil ek ‘n bietjie verder dink en skryf.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive