Wednesday, October 21, 2009

Nugter mistiek. Oor die mistiek van Thomas a Kempis se Navolging van Christus.

Op ‘n koue, ysige winteroggend naby my busstop vorm die ys op die heining.





Hoog in die blou, winterlug vlieg drie vliegtuie in formasie en ek, verwonderd, neem hulle af – al is hulle ver...






Die voëls het besluit hulle kan ook maar afwys..... Hoekom vergeet jy ons? vra hulle as ek die foto oplaai en hulle onverwags ook daarin ontdek...






Tydens my besoek aan Nijmegen verlede Vrydag, het ek saam met Huub Welzen aan 'n byeenkoms oor Bybelse Spiritualiteit deelgeneem. Die drie uur lange bespreking was ‘n spesiale ervaring, want ons kon deeglik besin oor wat Bybelse Spiritualiteit vir ons is.

Dit was vir my weer eens opvallend hoe jonk en onontgind die vakgebied is – en dit terwyl ek al hoe meer besef hoe lewegewend die gebied is. Ons staan nog werklik maar heel aan die begin daarvan.

In my bydrae kon ek my eie visie op Bybelse Spiritualiteit met die groep deel en luister na Huub se siening. Hy het al heelwat goeie materiaal gepubliseer, wat ek weer eens met veel genot gelees het toe ek my vir die byeeenkoms voorberei het.

In die aanbieding kon ek ook my ervaring van ons M.Kursus in Bybelse Spiritualiteit met die groep deel. Dit is interessant, as ‘n mens daaroor moet begin nadink, hoeveel ‘n mens die afgelope twee jaar geleer het uit die wisselwerking tussen die deelnemers, dosente en studente, aan ons kursus. Toe ek besig was om daaroor na te dink, het ek met groot dankbaarheid besef watter goeie twee jaar dit vir my self was, in my eie geestelike vorming en in my akademiese aktiwiteit. Ek is geseënd, baie geseënd om dit alles te kon beleef het. Des te meer omdat ons so ‘n bekwame groep studente gehad het wat met soveel entoesiase en meelewing gehelp het om van die kursus iets ryks te maak.

Ek het uit die bespreking en terugvoering van kollegas ook oor my bydrae en my visie in Nijmegen baie geleer en met heelwat idee’s daar weggegaan.

Maar daar is eintlik iets groters op my gemoed vandag. Tydens my verblyf kry ek van Jos Huls en Hein Blommestijn die 2006 uitgawe van die boek, “Nuchtere Mystiek,” geskryf deur Kees waaijman en sy kollegas (Kampen: Ten Have). Wat ‘n lekker tema - veral vir iemand soos ek wat maar ‘n slagoffer van ‘n brein-tyd bly. Die boek is die resultaat van die bespreking van Thomas se Navolging tydens die 25e studieweek van die Titus Brandsma Instituut.

Dit is ‘n besondere leersame boek wat vir my een van my hoogtepunte in my leeswerk van die jaar is. Ek wil so bietjie aan die hand daarvan oor die mistiek en Thomas gesels.

Ek het die afgelope paar maande myself steeds bly afvra of ‘n mens Thomas werklik vanuit ‘n mistieke hoek kan benader, veral omdat hy so prakties skryf. Ek het ‘n intense belangstelling in die mistiek ontwikkel – daardie diepste vraag wat ‘n mens ooit kan vra: wat is dit waarna die menslike hart werklik begeer? En om na te dink oor ons verlange na eenwording met God het my die afgelope tyd uitgedaag, besig gehou en baie keer wild laat soek na meer verstaan en meer betrokkenheid.

‘n Mens sou Thomas as ‘n voorbeeld van ‘n spiritualiteitskrywer kon beskou wat in die algemeen skryf oor hoe die verhouding van God en mens oor ‘n lewe lank transformatief is. Hy is so prakties ingestel om konkreet vir God na te volg. Maar is hy ‘n mistikus? Is hy agter al die konkrete dinge, die lewenskuns (soos Albert Geyser dit genoem het) ook op soek na die stiller, mistieke lewe? Gaan dit vir hom om God op 'n spirituele wyse te dien met al die intieme verbintenisse wat dit behels, of is daar by hom ook die mistieke soeke?

Ek het elders op heirdie blog geskryf hieroor en toe gedink dat Thomas nie baie aandag daaraan gee nie. Dat hy selfs ‘n bietjie afwysend teenoor die mistiek gestaan het. Hierdie boek het my oë laat oopgaan vir die feit dat dit nie so was nie en vir my ‘n nuwe perspektief op Thomas ontsluit. Ek verstaan nou ook al ‘n bietjie beter waarom Thomas se boek so ongelooflike impak het. Ek het ook so ‘n vermoede dat hierdie nuwe insig vir ons in ons land besondere betekenis gaan hê. Ons kom uit ‘n geloofstradisie met ‘n hoogs nugtere karakter – en tog – in ons tradisie is die mistiek altyd ‘n subtiele teenwoordigheid.

Net een voorbeeld: Volgens hierdie boek is Thomas sekerlik in elkeen van die vier afdelings van sy werk as ‘n mistikus aan die skrywe. Die eerste boek in die Navolging handel oor die mens se aktiewe navolging van Christus. Die afdeling beklemtoon dat om Christus te volg, ‘n aktiewe toewyding vra.

Maar, skryf Rudolf v an Dijk (wat die Latynse teks van die Navolging in moderne Nederlands vertaal het), hierdie aktiewe inset van die gelowige kry sy diepste betekenis wanneer dit gebeur as reaksie op wat God in ‘n mens spreek. Die navolging is die gevolg van God se lewegewende en skeppende spreke en ook 'n aanduiding van sy mistiek. Dit is volgens hom duidelik in die gebed van boek 1.3.10-12.

Ek lees dadelik nuuskierig hierdie gebed van Thomas en onmiddellik gaan ‘n wêreld vir my oop. Sommer heel aan die begin van die boek, in die derde afdeling, onderbreek Thomas homself en raak hy aan die bid. Hy is “oratief” aan die woord, soos ons ‘n belangrike dimensie in die spirituele hemeneutiek benoem (en iets wat jammerlik deur ons verwaarloos is). Terwyl hy oor die navolging nog maar net begin praat, slaan hy skielik oor in ‘n gebed wat hy direk tot God rig. Een oomblik praat hy met sy leser en dan skielik sommer met God self.

En – in aansluiting by die vorige blogs – speel stilte ‘n groot rol in hierdie gebed. Die gebed lui as volg: “O waarheid, o God, maak my een met U in ewigdurende liefde” begin hy. Die Latynse “fac me unum” is helder en duidelik: Hier is die mistieke verlange na God en die diepe begeerte na eenheid met God (unio mystica). Te midde van al die praktiese dinge, kom hy hier na vore, heel onverwags, met 'n gebed. Hier praat hy met God en roep hy na God om by God te kan wees. Alles wat ek doen, sê hy as te ware, is gerig op hierdie eenwording met die goddelike.

Maar kyk net waarop loop die eenheid dan uit, want Thomas kwalifiseer dit versigtig: Maak my een “in ewigdurende liefde” (in caritate perpetua” – mooi is Van Dijk se vertaling: “altyddurende liefde”). Liefde is daarom die diepste verlange van die een wat Christus navolg. (Laat my dink aan Hadewych van Antwerpen se spiritualiteit van liefde – sien elders op die blog). In ons navolging en nugtere dissipelskap is ons op weg na God se omarmende, ontfermende liefde, of “caritas.”

En dan volg Thomas se verdere gebed, eintlik ‘n stukkie humor: “Die baie gelees en geluister stuit my dikwels teen die bors.” Hier hoor ons van die nietiging – die dinge wat moet verdwyn omdat dit die Godsverhouding benadeel – ‘n belangrike faset van die mistieke ervaring. Lees (woorde!) en luister (woorde!) maak ‘n mens naderhand lam in jou knieë, bid Thomas eintlik. Hierop volg: “In U is alles wat ek wil en begeer” (volo et desidero). Ek moet alles afsterf, selfs my woorde, want by God vind ek alles wat ek ooit sou wou hê of ooit sou wou begeer.

Vir Thomas is dit so belangrik dat hy dieselfde gedagte op ‘n ander manier in ‘n parallelisme herhaal: “Laat alle geleerdes swyg, laat alle skepsels stil wees voor U aangesig. Praat U met my, U alleen.” Let op hierdie totale afhanklikheid van God, van God se spreke. Let ook op die besef van hoe leeg, nutteloos en selfs vermoeiend al ons slim praatjies kan wees (en dit nogal oor die "waarheid"). Die slimmes en die hele klomp – almal moet maar net sonder woorde voor God kom staan. God alleen gee woorde van die lewe (Samaria!).

Mense wat tekste interpreteer, sê die belangrikste dele van ‘n teks is nie daardie dele wat oor en oor dieselfde dinge sê nie. Die geheim van ‘n teks is te vind in daardie unieke deetjies, soms half weggesteek. Hulle vertel jou baie keer waaroor ‘n teks werklik gaan. Lyk my hier is dieselfde dinamiek aan die werk.

Thomas is dus 'n mistikus. Maar gekoppel met sy konkreetheid, moet 'n mens hom 'n "nugtere" mistikus noem.

Mooi.

Ek lees Thomas met nuwe oë. En dit is nog lank nie al wat in hierdie boekie van Waaijman en kie. staan nie. Ek het heelwat stof tot nadenke daarin gevind.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive