Sunday, October 11, 2009

Die kosmiese Christus. Oor spiritualiteit en geestelike krag.

Daar is allerhande "groot" debatte oor die historiese Jesus wat soms groot nuus is en baie opspraak verwek. Sommige Bybelwetenskaplikes ontleed die evangelies versigtig om allerhande vaste “feite” oor Jesus uit te sif.

Hulle ontwerp dan allerhande meer "betroubare" beelde van Jesus: Jesus was ‘n Jood wat in opstand teen die Romeinse oorheersers gekom het, of hy was veral ‘n wonderdoener, of hy was ‘n sosiale hervormer of ‘n rondreisende prediker.

Hierdie beelde maak van Jesus 'n meer "aanneemlike" godsdienstige figuur en gee vir baie mense 'n meer "redelike" of "realistiese" verklaring van hul tradisionele godsdiens.

Maar as ‘n mens die Nuwe Testament lees, ontdek ‘n mens daarin maar min belangstelling in allerhande "realistiese" verklarings van Jesus se lewe en boodskap. Die skrywers van die Nuwe Testament teken konsekwent ‘n boodskap oor ‘n Jesus wat mens en wêreld radikaal verander. Hulle sien Hom in die eerste plek as iemand wat radikale verandering bring. Hy is die goddelike, onpeilbare Een, wat deur sy mistieke teenwoordigheid kragte loslaat wat nie gestuit kan word nie. Jesus is juis nie maar net nog 'n redelike figuur uit die geskiedenis nie. Vir hulle gebeur daar deur Hom iets oorrompelends in hul lewe. Hulle spiritualiteit is 'n spirtualiteit van krag.

En hierdie krag stuit voor niks en niemand nie. Jesus is nie net die Een wat mense red nie, maar ook die wêreld. Jesus is die eersgeborene van die skepping in wie alles geskape is (Kol.1:15). Hy is die een voor wie elke knie in die wêreld sal buig (Fil.2).nD

Die Nuwe Testament brand onder die vuur van hierdie transformerende werking van God in Jesus. Jesus het kragte losgelaat wat oor alle grense heen losgelaat word.


Ek lees byvoorbeeld weer vandag met geboeidheid die eerste woorde van die skrywer van die Hebreerbrief: God het al baie in die verlede gepraat, maar nou praat God deur Jesus deur wie die aarde geskep is en wat erfgenaam van alles is. "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord tot stand" (Heb.1:1-3).


Om te dink: deur Jesus is die aarde geskep! Hoe kragtig werk die geloof in Christus nie.

Dit is hoe die eerste geloofsgetuies oor Jesus gevoel het. Hulle het nie in die slote van die geskiedenis gaan grawe na vondse wat dalk iets oor Jesus sou kon openbaar nie. Hulle het Hom ervaar op 'n oorweldigende manier as die groot Bron van energie in ons lewe.

Daar is vir hulle voorts ‘n spesiale band tussen Jesus en die skepping. Hulle het hom nie tot hulle "harte" ingeperk nie. Die man van Nasaret is ook die heerser oor die skepping. Die Jood in Palestina is ook Heer van die heelal. Om in Jesus te glo, beteken dat ‘n mens in Hom die skepping as sy plek en sy tuiste herken. Ons ontdek ‘n “heerlike” Christus, in wie God se heerlikheid woon (Heb.1:3). Deur Hom word ons aan alle volkere en aan die heelal verbind. Ons is saam met die heelal die voorwerpe van God se liefde in Christus.

Egte geloof word gedryf deur die begeerte dat God se heerlikheid en Christus se heerskappy oor die heelal sigbaar sal word. Dit soek daarna om die wêreld die plek te maak waar God in ontferming en liefde woon. Wie in Christus is, is onlosmaaklik verbind met hierdie wêreld en almal wat daarop woon.

Dit maak ons nou natuurlik verantwoordelik vir wat op die aarde gebeur. Ons kan nie onverskillig staan oor wat mense aan ons siek planeet doen nie. Ons kan ons nie terugtrek in ons veilige geloofshuisie asof die res van die wêreld niks met ons te doen het nie. In Christus soek ons ook die heling van die planeet en vrede onder alle nasies. Ons geloof kan nie selfsugtig net op onsself gerig wees nie. Ons geloof in Christus as die kosmiese Here dryf ons uit om ook hierdie aarde vir God op te eis.

Terwyl sommiges wil delf na allerhande “historiese” feite of kennis oor Jesus, is egte geloof op iets anders gerig. Dit leef vanuit die krag wat Jesus losgelaat het en dit wil in daardie krag van hierdie aarde God se woonplek maak. Jesus het nie 'n bankrot boedel agtergelaat nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive