Monday, October 05, 2009

Oor sokker en seuntjies: buig die boompie as hy nog jonk is...

Seuntjie se span:





Die teenstanders se spannetjie het lang mannetjies in hulle geledere:





Ons kyk seuntjie-sokker. Die spelertjies is almal tjokkertjies uit Graad 1, so ses jaar oud, wat hierdie jaar begin het om sokker te speel. Dis ‘n hele gedoente, hierdie Saterdag-oggend wedstryd wat terselfdertyd ook ‘n familie-uitstappie word. Uitgevat in hulle helder-blou en son-geel uniforms, in die kleinste maat aangekoop en nog steeds heeltemal te groot vir die klein lyfies, voorsien deur ‘n ma-borg met genoeg geld, en elkeen met hul eie bal waarmee hul voor die tyd kan oefen, daag hulle op vir die Saterdag-wedstryd op die pragtige, groen, goed versorgde velde in hierdie land van melk en heuning waar ons kuier.

En dit wemel van die tjokkertjies. Orals speel spannetjies. Dis ‘n klomp mensies wat hier aan die gang is en baie families wat hul vroeg-oggend hier deurbring. Die atmosfeer is totaal ontspanne, die omgewing rustig en die gemoedere vol.

Om hierdie spannetjie is baie meer as net hul families. Coach Dave is self ‘n speler, maar vanoggend is hy die afrigter wat elke spelertjie vrindelik groet met hul aankoms en hul voorberei vir die wedstryd. Hy is gedurig by, later, tydens die wedstryd. Hy haal spelers van die veld af, roep komplimente uit, prys hulle omdat hulle vir mekaar die bal aangee (duidelik om hul van ‘n spangees bewus te maak).

Dis nie net vir bal skop en tande tel nie. Die outjies speel nogal ‘n lange wedstryd, verdeel met ‘n pouse waartydens elkeen ‘n koeldrank en ‘n pakkie vars appels kry. Na die tyd is daar ‘n koepon waarmee elke kind vir hom ‘n snoepie by die winkel kan gaan uitsoek. Beloning vir die sweet en natuurlik ook nog lokmiddel.

Dis alles net vir “fun.” Elkeen, is die filosofie van hierdie doen van dinge, moet die wedstryd veral geniet. Niks afpersery, rasery, druk op die outjies nie. Maar tog is daar ‘n dieper sin aan alles: hier ontdek hulle op ‘n ontspanne manier die basiese dinge oor die wedstryd, die grondreëls van die grootste sportspel op die aardbol. Daar is daarom ‘n skeidsregter, ‘n hoërskool-seun, opgetooi in skeidsregter-drag wat so af en toe fluit blaas. Hulle moet leer om volgens die reëls te speel en om die man met die fluitjie te respekteer as hy ‘n beslissing maak. Hier word hulle geleer om vaardig te wees, om na pale te mik, om vir mekaar die bal aan te gee, om ‘n doel voor oë te kry, maar veral om sportmansgees te openbaar. Hulle speel ook nie in posisies nie. Almal hol in ‘n heerlike malhuis van skop oor die hele veld. Mooi.

En mens kan sien waarom hulle maar op die stadium eers net op ‘n baie basiese vlak moet skop. Dit is nie altyd so ‘n maklike storie om daardie groot bal met die klein voetjies te tref nie. Dikwels is die mannetjies reg voor die doelhok, maar dan trek daardie skop skoon skeef mis verby. Die beentjies kan nog nie so lekker mik nie.

Maar almal klap entoesiasties hande selfs as daardie skop mis is. Probeer weer, boet. Volgende keer is dit in. Boeta word luid aangemoedig, gekomplimenteer en hoog geprys asof hy so pas vir Ronaldino of Ronaldo of David Beckham gewys het hoe moet ‘n mens sokker speel.

Hier is die sokker taai-vas gereël. Ouers kry streng voorskrifte oor gedrag langs die veld. Daar word onmiddellik toegeslaan op enige onbeheersde of ongure gedrag. Hierdie is seuntjie-sokker wat bedoel is om nie kompeterend te wees nie. Die reëls is streng en alles is daarop ingestel om die kinders goed te laat voel oor hulle sport en om niks druk op hulle te plaas nie. As ‘n spannetjie te swaar kry, word die wen-span se getalle afgebring om te sorg dat geen span te ver wen nie en niemand ontmoedig word nie.

Maar moenie dink dis net paradys nie, né. Ook hier loer die Groot Gedagtes van die Groot Dinge en die Groot Toekoms in ons Donker Harte. Jy kan sien daar is ‘n pa of twee by wie die spanning hoog loop. Hoog. As sy seun die bal kry, is hy soos blits op en hol langs die veld, en, soms, daardie instruksie wat hy uitroep - seun bly maar altyd bewus pa is langs die veld. En jy sien ook dit is maar knyp-knyp om nie oorboord te gaan nie. Ons droom tog mos almal van seun wat in Beckham se spore sal loop (met die vet geldbeursie). Maar dit word, gelukkig, weggesteek.

Ek onthou, ‘n paar jaar terug, toe ‘n skoolhoof in die Wes-Kaap oor die slegte gedrag van familie en spelers op die sportvelde voorgestel het dat die skole-sport nie kompeterend moet wees nie. Baie van die kinders se depressies, frustrasies, geweld, minderwaardigheidsgevoelens, nydigheid en hatigheid, het hy gemeen, sou uitgeskakel kon word as hulle net in vrede sonder enige druk hul sport kon geniet. En hier, by seuntjie se skool, verstaan hulle dit nog op hierdie vroeë stadium. Vir hierdie eerste jaar is dit bloot net “fun.” Later, soos hul ouer word, kom die kompeterende gees. Nou word eers net atmosfeer geskep.

Seuntjie het twee doele geskop. Maar dit is nou nie regtig wat vir hom saak maak nie. Later kan hy ook nie juis onthou wat hul telling is nie. Hy is baie meer opgewonde oor die snoepie wat hy na die tyd kan gaan uitsoek. Goed so. Maar moenie dink die ouers weet nie dat hulle spannetjie het hierdie seisoen al al hulle wedstryde gewen nie. En dat die ander spannetjies maar soms droewig vertoon nie. In hierdie prestasie-maatskappy loer die begeertes van roem op meer plekke uit as wat reëls kan toestop.

Wat sê ‘n mens oor hierdie dinge? Ek ontmoet ‘n paar jaar gelede ‘n mediese student by ‘n swembad terwyl hy al vier uur se oefentyd agter die rug het. Elke naweek sit hy ten minste agt uur per dag se oefen in vir die Olimpiese Spele van die volgende jaar, vertel hy my. Maar dit is tussen sy studie-tye in, want hy was toe vyfde jaar medies en moes graad kry. En ‘n mens lees van atlete wat elke dag van hul aktiewe sport-loopbaan alleen, volhardend, toegewyd sulke ongelooflike ure insit. Hier is min tyd vir die lewe “geniet” of vir net lekker “kuier.” En ek herken iets daarin van die uitdagings wat soms ook oor die akademikus se pad kom: die lang ure van lees, nadink, ontwerp, bedink en dan uitskryf en oor uitskryf.

En sulke harde, afgemete toewyding bring ongelooflike voordele: daar is die erkenning van ander vir wat die sportlui presteer, ook die feit dat hulle kan uitstyg en hulself bewys, dat hulle suksesvol doelwitte stel en kan behaal. Hulle reis na baie lande, ontmoet begaafde atlete, word finansieel sterk en is ‘n mens wat weet om te volhard en nie tou op te gooi nie, wat teleurstellings kan verwerk en wat ander kan aanspoor en bystaan.

Maar hier op die vlak van die jongstes en die weerloses het ‘n mens die ontspannende benadering: die kleintjies wat nie natuurlike talente het nie, of wat nie die vasberadenheid van ‘n Gary Player het om uit te styg nie, ervaar die genot van sport, die buite-lewe, die meelewing van ouers, die waardering vir hul saamspeel. Hulle word ryk in karakter, mooi in mens-wees en ontspanne in hul aktiewe lewe. Hulle het dalk iewers anders die groot bydrae te lewer, maar hier kan hulle ook iets anders geniet. En dan is daar kans om die natuurlike talent uit te ken van die tjokkertjie wat ‘n David Beckham kan word. Hulle moet nou verder geneem word.

Maar hier werk 'n ander besef. Een van daardie sokkerspelertjies kan eerder ‘n toekomstige beroemde Nobelpryswenner in medisyne. Of iemand wat eendag ‘n vlieënier sal word vir Dokters sonder grense en ‘n kwaai opleiding daarvoor sal moet ondergaan. Of net ‘n wonderlike ma wat lief is vir haar kinders. Of ‘n onderwyser wat weet om die beste uit kinders te haal. Of ‘n sendingwerker wat op ‘n afgeleë oorde hoop in die lewens van minder bevoorregtes indra. Of 'n kunstenaar wat skeppend werk.


Soms sal hierdie inspanning baie, baie ure uit hul lewe neem. Maar altyd weer is die maat vir ons inspanning of dit ons innerlike vervulling bring en of dit ons in ons volle mens-wees ontplooi. Dit is pragtig as ‘n mens reeds as ‘n seuntjie op ‘n sokkerveld iets van hierdie waardes kan ontdek. Die groot uitdaging is dat ons hierdie kleintjies moet inlei in waardes wat die beste in hulle uitbring.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive