Friday, October 23, 2009

Die koei lok ons huis toe....




Joekie stuur vir my hierdie opstel. Ek ruik plaas en stal terwyl ek dit lees, hier in die koue Regensburg en Afrika-nostalgie oorval my. Na 300 jaar is die son behoorlik in hierdie Hugenote bloed ingegrein. Gelukkig is dit oppak-tyd vir ons. Sondag is ons op pad. Volgende week is my laaste byeenkoms - samesprekings met kollega's in Engeland oor hul moontlike kursus in Bybelse Spiritualiteit en dan 'n aanbieding by hul Universiteit oor Bybelse spiritualiteit.

Daarna klim ons Donderdag in Heathrow op die vliegtuig om Vrydag vroeg in ons geboorteplekkie en ons Kaapstad te land. En daarna tuis in ons eie plek.

Oor die naweek doen ons al die lekker dinge wat ons nou vir drie maande ontbeer het. Stap langs die Eersterivier, lekker vars broodjies en pie's, 'n stewige potjie muurbal en al ons ou vrinde groet. Lekker.





Die koei is 'n soogdier. Hy is ook 'n huisdier. 'n koei is orrals. 'n koei het 'n baie fein reik - jy reik hom oor die jele plaas. Agteraan die koei sit die stert. An die een kant van die stert sit die pint van die stert wat die kwas genoem word en an die anner kant sit die koei. Die koei gebruik die kwas om die flieje van haar weg te hou anners val hulle innie melk. Vooran die koei sit die kop. Daar groei die hoorings. Die kop hou ook die bek vas. Tissen die stert en die kop sit die koei. Die koei is oorgetrek met 'n beesvel. Onderan die koei hang die melk. Om die melk te kry, maak jy die koei se bene vas. Die agterstes. Dan sit jy onner die koei en trek die toutjie. Dan kom die melk. As die gras goed is, is die melk goed. As die gras sleg is, is die melk sleg. As die donner-weer in die lug is, is die melk weg. As dit 'n ou koei is, is die melk suur. Dit is baie goedkoop om 'n koei aan te hou want jy gee hom net eenkeer kos, dan kou hy twee maal. Die man van die koei is die os. Dit lyk soos die koei maar daar hang net nie melk aan hom nie. Om os te sê is nie 'n vloekwoord nie. Verder weet ek niks. Behalwe dat as 'n koei baie stip na jou kyk, moet jy padgee want dan is dit 'n bul.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive