Thursday, December 06, 2012

Die soeke na stilte en die droom van nuwe dinge. Oor jeugdigheid

-Vandag is daar op die Vlaamse televisie ‘n onderhoud met ‘n persoon wat veral onder jongmense van 12 tot 20 jaar werk. Die onderhoudvoerder wil van hom weet hoe hulle deesdae dink en of daar merkbare tendense is wat hy raaksien.

Die jeugwerker, self nog iemand van in die dertigs, weet seker:

Jongmense is moeg. Hulle hoor elke dag slegte nuus. Die ekonomie is onder druk. Die wêreld is besig om vernietig te word. Omgewingsbesoedeling neem toe. Hulle sien enorme geweld en onmin om hulle. Dit raas in hulle ore.

Hulle word deur die nuus ontstel.

Hulle soek rus. Hulle wil nie meer in ‘n gedrewe maatskappy leef wat net eenvoudig voortraas nie. Hulle wil uit en weg. Hulle soek dit nie so nie.  

Maar, voeg hy by, hulle soek veral stilte. Hulle wil wegkom van die lawaai waaraan hulle daagliks blootgestel word. Hulle wil nie meedoen aan die meedoënlose afdraande-pad waarop mense in dolle spoed voortjaag nie.

Hulle wil in ‘n veilige omgewing wees. Een van die dinge wat hulle veral koester is familie.

Maar sy verhaal is nog lank nie uit nie.  Jongmense beweeg weg van retro. Hulle ervaar nie meer die nostalgie van ‘n ruk terug na vervloeë tye en hulle deel nie die terugverlang na wat verby is van hul ouer tydgenote nie.

Nee, voeg hy by, hy sien onder jongmense dat hulle veral na die toekoms kyk. Hulle wil nuwe dinge beleef. Hulle wil iets doen om hul mooi drome vir die toekoms waar te maak.

Dit is boeiende dinge. Die jeugwerker is baie beslis: jongmense kyk nie agtertoe nie. Die  nuwe jongmens is die een wat drome droom.

Ek sit en bedink die verhaal. Dit is my retro-oomblik. Ek dink terug aan die dae toe ons op loom, somerdae in ons eike-plekkie sorgeloos die lewe begin aanpak het. Dit was egter ook wintertye, het ons te goed geweet, woeste dae. Hatigheid, brandende townships, outoritêre, gewelddadige instellings, oorlog, sanksies, reisverbod, dissipline, ses van die beste, snorlippe wat jou weggejaag het as jy nie ‘n das aangehad het wanneer jy vorms in hul vaal kamers gaan invul het en vele ander benoude plekke en persone.

Ons het maar, jeugdig en driftig, ons dink gedink en ons prate gepraat vervul met afkeer aan die groot geraas van die tyd.

Maar ‘n vaste deel van die tye was ons ywerige drome vir nuwe tye.

Ons sou nie meer so wees nie.

Ewige jeug, in Vlaandere en in die Eike-plekkie, nou en toe, wat sy skoonheid veral vind in die hoop op beter, ander tye verby die geraas van menslike feile, van vaal vasgebrandheid en moedelose uitbranding.

Hoe diep is die verlange na transformasie, die hoop op ‘n nuwe hemel en aarde in ons ingeplant – as ons jonk is. Oral en altyd sal dit by ons wees. Dit is ons menslike natuur wat ook weet van stilte, vrede, en van paradys.

Dit is ‘n goddelike gawe wanneer ‘n mens in die ouderdom nog weet hoe goed en waar die drome is. En dit is genade dat 'n mens in die skemertye dankbaar kan vashou aan die ewige gawe van die jeug aan die wêreld.


Blog Archive