Sunday, December 16, 2012

Wanneer Spiritualiteit verarm tot pligsbesef. Oor die noodsaaklikheid van Spiritualiteit.


Dag Hammarskjöld was Sekretaris-Generaal van die V.V.O. in New York. Hy was ‘n wêreldbekende figuur.  Hy was ook bekend en gewild in Suid-Afrika, maar meestal om politieke rede’s. 

Sy gewildheid is veel groter in Spiritualiteitskringe.

Hy is naamlik bekend as die skrywer van die bekende Spiritualiteitsboek, Merkstene (Markings).

Die boekie is tallose kere herdruk en baie navorsing word daaroor gedoen.

Dit bestaan uit kort stukkies. Sommige net ‘n reël of wat lank. Dit was sy persoonlike aantekeninge oor sy geloofslewe.

Dit is na sy dood gepubliseer, nadat dit in sy woonstel in New York gevind is. By die boek was ‘n brief waarin hy geskryf het dat hy net vir homself geskryf het, maar dat hy later begin dink het om dit te laat publiseer.

Hy skryf aan ‘n kennis: “Jy kan dit laat publiseer as onderhandelinge met myself – en met God.”

Maas skryf in sy artikel oor die noodsaaklikheid van Spiritualiteit oor Hammarskjöld. As ‘n mens Merkstene lees, skryf hy, kom jy agter watter groot rol geloof in Hammarskjöld se lewe gespeel het.

Sy geloof het ‘n mistieke karakter gehad, want hy het veral geskryf oor sy verlange na God as die Oneindige. God is vir hom die Lewe, Die Een wat Bo Alles is.

Deur die werking van die Oneindige, skryf Hammarskjöld, is hy verlei om ver verby die bereik van sy eie Ek te beweeg.

Deur sy Ego agter te laat het hy ‘n Mag ervaar wat sy eie beperkinge ver oortref het. Hierdie Mag het dinge moontlik gemaak wat menslik gesproke onmoontlik was. Dit was, in Bybelse taal, geloof wat berge versit.

Dit klink indrukwekkend mooi om so graag die eie Ek prys te gee.

Vir Hammarskjöld was dit nie eenvoudig nie. Hy was bewus van sy eie uitnemendheid. As ‘n veeleisende mens was hy gedrewe om sukses te behaal en was hy trots op wat hy bereik het. Hy het homself as beter as ander beskou. Hy het hom verlekker, skryf hy pynlik eerlik, in die mislukkings van ander mense.  

Maar sukses maak hom nie gelukkig nie. Hy is, skryf hy, soos ‘n groot, grys  rivier wat deur ‘n stad vloei. Sterk is die stroom, maar die water is vol vullis en weggooi-goed.

Hy verlang na intimiteit. Maas haal dan ‘n verwysing van Hammarskjöld na ‘n Sweedse digter aan:

“As ‘n mens in lig en lied omvorm kon word” (Erik Blomberg). Om jou beeld van jouself in die wêreld te laat gaan, om die beeld wat deur sosiale ambisie en gedrewe wilskrag gevorm is, te laat los. Om te laat gaan, te laat los en te val, te val – die vertroue van ‘n blinde oorgawe, die vertroue in iets anders, in iemand anders…”

Maas skryf: hierdie man wat homself met soveel verbetenheid dryf en ‘n beeld van homself skep sodat ander mense na hom kan opsien, hierdie man wil eintlik maar net laat gaan, laat los, homself oorgee, vertrou – nie in homself nie, maar op iets anders, iemand anders.

Dit alles is nog nie helder nie. Dit is nog net “iets” anders, “iemand” anders.

Veel later as hy ‘n nag in die berge deurbring, ontmoet hy egter die “iets” anders. Hammarskjöld skryf: “Liefde het deurgebreek en deur ‘n wegsmelting van die self in die lig, het liefde ‘n helder lig geword.”

Hammarskjöld word in lig en lied omvorm. Gevul deur die lig, word hy self ‘n kragbron.

Hammarskjöld skryf self oor die transformasie wat in hom plaasvind:

Nou. Toe ek my vrese oorwing het – vir ander, vir myself, vir die onderliggende duisternis:
by die grens van die ongehoorde.
Hier eindig die bekende. Maar, van ‘n bron anderkant die bekende, vul iets my wese met sy moontlikhede.

Sy ego, sy obsessies is verby. ‘n Krag van elders vul hom. Die krag bring hom tot sy volle potensiaal en selfs verby die potensiaal. Hy is meer as net die mens wat so ingelig, so spesiaal, so onafhanklik is. Hy glo, hy vertrou op iets anders. Dit word sy geloof.

Al die mens se groot, goeie dade, die verstandige mens, sou nie kon ontwikkel sonder geloof nie. Dit word gedurig gevoed deur die voedingsbron van die krag wat voortkom uit mense wat hulself verloor het in God.

Ons loop, skryf Hammarskjöld, oor ‘n afgrond op ‘n styfgespande tou. Die tou word styfgespan deur hulle wat getrou bly aan die geloof wat die grootste en diepste offer is. Hulle anker dit in die Hemel.

Maas se boeiende artikel oor die noodsaaklikheid van Spiritualiteit sluit dan af met die gedagte:

Dit is alleenlik in ‘n verhouding met God, in ‘n verhouding met “iemand anders” dat ‘n mens die krag kry om jou volle potensiaal te ontdek. Sonder hierdie verhouding met God, word Spiritualiteit bloedarm, word dit laf en soutloos. Dan is Spiritualiteit niks anders as maar net ‘n pligsbesef.

Blog Archive