Sint Pietersburg, waar ek nou die derde keer kuier (die tweede keer om die M-kursus aan te bied) is 'n mooi stad, maar die Westerse kultuur, die kitskosrestaurante, die jonges se hipperige kleredrag, die selfone wat alomteenwoordig om elke hoek en draai bebel word, die westerse musiek het finaal oorgeneem. Globalisering is nerens meer sigbaar as in Rusland 2006 nie: behalwe dat die Engels gebroke is en die kommunikasie nie altyd vlot nie. Ek begin al tuis raak - ek smelt weg op die moltrein tussen die menigtes en begin al stasies herken al sukkel ek met die Sirillies. Die besoek loop dus gladder as in die verlede.
Dit is eers as ek vir die naweek in Moskou is, dat ek daardie een definierende oomblik van my besoek aan Rusland beleef: Wat staan uit, nadat mens tuis is, in jou gedagtes van 'n besoek aan so 'n ander, vreemde werelddeel? Vir my was dit op hierdie, derde besoek, 'n oomblik in 'n ruimte by God, 'n tydjie in 'n klein Oosterse-Ortodokse kerk in die hart van Moskou se middestad. Moskou is indrukwekkend, met 12 tot 15 miljoen inwoners, reusagtige geboue al is hulle nie lugkliewers nie. Eerder massief in omvang as in hoogte. Rondom die stad hang hierdie reusagtige blokke woonstelle soos die oerske trosse soetdruiwe in Karoo-Hanover se versengende hitte van my kinderdae, diep ingeprent as massief elke keer as ons as gesin gekuier het by tannie Kitty van Poortjiesfontein. Die geboue is klein stede, waar honderde gesinne gehuisves word. My verstand staan stil by die gedagte aan al die mikrokosmosse wat in daardie massiewe plekke bestaan en funksioneer. Hoe leef die massas mense in sulke plekke? Watter lewenskwaliteit kan hulle hoegenaamd handhaaf? Teenoor hulle is die ou kerkie in die middestad minuskuul: by die ingangsportaal 'n tafel met artikels soos ikone. En dan die volledige kontras: Hierdie kerkie self, soos die baie ander ortodokse kerke in die omgewing, gelaai met ikone, oral in 'n oop ruimtetjie ingedruk, staan verdwerg, oordonderd in die groot stad, verwelgd deur die polsende, jaende, maniese lewenspas. Daar is in die kerkies elke dag gereelde dienste en ek stap elke keer weer by een in, asof my siel smag na God. Ek is die Saterdagmiddag 17h00 daar toe die diens begin. Ortodokse gelowiges sit nie op banke nie. Hulle staan so op 'n lot voor die heiligdom waarbinne die priester sy rituele uitvoer. Ek verstaan geen snars van die taal van die sang en die ritueel nie. Reg agter 'n skerm, verskuild in anonimiteit, staan 'n viertal sangers weggesteek en begelei die diens a capella met 'n gesingde ritueel, terwyl die priester dikwels ook self met sy stukke sang deelneem. Daar is 'n paar helder, musikale vrouestemme, maar die basso profundo se ryk klanke vul die hoogs effektiewe akoestieke ruimte en die klanke rol in ryk lae om die ruimte buite en binne jou te vul. Hulle sing die liturgie duidelik, vinnig, maklik, glad geolie. Dit is nietemin 'n gedraagde liturgie, die eeue het een stempel na die ander daarop afgedruk. Musiek is God se manier om ons harte op te tel. Die Oosters-Ortodokse liturgie het 'n manier om treurigheid te besweer en rustigheid te genereer. Ek, Stellenbosse Nuwe-Testamentikus, Westerling, breinkind, voel hoe die vloeiende note by my inkom, insak in donker hoeke van my bestaan en sagte lig maak. Die priesters, almal mans en in pragtige goue klede aangetrek, rond die visualiteit van ikone af, met die wierook wat die sintuig van reuk intrek in die ervaring van God.
Maar vanaand tref 'n verdere stuk visualiteit my: die versameldes is 'n wonderlike potpourri van 'n gemeente. Hier en daar 'n ou vroutjie, maar meestal jongerige mense. Hulle is doodgewone burgers van die land, geen opsigtelikes wat noodwendig aandag trek nie. Hulle loop nou en dan in en uit, maar staan meestal stil en slaan in volledige deelname aan die liturgie elke paar sekondes hewig 'n groot kruis terwyl hulle hul liggame vorentoe buig in gebed of erkenning. Dis duidelik 'n liturgie waarvan hulle deel is en waaraan hulle deel neem. Oorkant my staan 'n jongman met 'n afbeen en leun op 'n kruk: is hy 'n oorlogsveteraan? Hy is alleen daar, verlore in 'n kerk, en sy geskiedenis 'n geslote storieboek wat God aan die lees is.
Na die tyd wil ek 'n ikoon koop. Ek vra een van die teenwoordiges om hulp: hy is jongerig, neig na 'n yupperige voorkoms en help my om uit te vind wat pryse is. Sy Ingels is beperk, maar dis beter as waaraan 'n mens gewoond is in die land. Hy vertel my dat dit verwag word van Ortodokse lidmate om ten minste een keer elke twee weke kerk toe te kom. En toe vra ek hom: But is this important to you? Hy kyk my vinnig aan, duidelik onvoorbereid op die vraag (waarom is jy dan hier, vreemdeling?). En dan, vinnig, oortuigd en met innerlike gedrewenheid antwoord hy: Of course it is important to me, it is all about life.
Ek dink aan die duisende motors wat die lug van Moskou so besoedel dat ek aan die hoes geraak het in die kort tydjie dat ek daar was, die blinkigheid van die nuwe winkels met as hoogtepunt die ongelooflike winkelkompleks vol Westerse top ontwerperswinkels in die beautiful winkelkompleks nogal op die Rooi Plein van alle plekke. Ek dink aan die Westerse hotelkettings wat in massas oral in die binnestad opgerig word, ek dink aan die korrupsie wat in die koerante onthul word, die moorde van donkerkleurige buitelandse studente. Ek dink aan die geweldige pas, die miljoene mense op straat wat van alle dele van Rusland kom om hier werk en geld te soek. Maar eerder hier, op hierdie plek, tussen die ikone, eeue-oud, met a capella sang wat jou hart optel en verhef, vind 'n mens die lewe. Hoe anders dan? It's all about life. Vir my is dit die definierende oomblik van my besoek aan Rusland.
Hoe meer ons sisteme tot stand bring en toelaat dat hulle ons lewens lei, hoe meer gaan ons ontdek waarom die lewe werklik gaan. Daardie stil oomblikke in die klein Plek voor God met ons afbeen en seer binnekant waar die klank van die eeue-oue, vertroude woord en Woord ons gejaagde harte tot stilstand kan bring. Die ruimte, eindig, maar ook eindeloos, waar God woon en gehoor kan word. Die liturgie kan 'n formaliteit wees, ons kan buig en kruise slaan, wierook swaai dat die wolke die kerk vol hang, ons kan ikone aanraak en soen. Dit hoef egter nie alles ydel te wees nie. Iewers, as dit ons maar selfs net vir 'n oomblik bewus maak van die egte, werklike lewe, selfs net vir die kort, eindige moment van herkenning, is dit sinvol, het ons die geestelike lewe, die werklike lewe, ontdek.
Moskou is 'n massiewe stad. Die groot sisteme het gekom en gegaan, met nuwes wat hul plek vul. MacDonalds sit gepak met jongmense wat burgers verorber en oor hul selfone praat. Motors jaag dampe deur die strate. Maar dit is in die sakrale ruimtes, stil van alle tye af net bloot daar vir hulle wat soek, met hul durende musiek, draende klanke, waar ons die egte lewe ontdek, waar die lieflike geur van die Gees om ons hang.
Terug op Stellenbosch kry ek seer, opnuut weer onder houe, onverdiend, voel ek, my toegedien. En nou, laataand, skryf ek hierdie blog in herinnering aan my besoek aan 'n ou, eeuoue, kerkie in die hart van groot Moskou, waar ek deur klank en oog iets van die lewe ontdek het in 'n poging om opnuut weer te peil hoe my geloof my orent hou in sulke omstandighede. Wat is die lewe?, vra ek my die afgelope tyd af, want 'n mens word in jou spiritualiteitsreis deur die kwaad wat so onvermydelik en so onversetlik oor jou pad kom, onverbiddellik teruggevoer na wat werklik saak behoort te maak. En my hart gee al hoe meer die antwoord - wat saak maak is die lewe by God. En dit is die lewe waarin die liefde sentraal staan. Want elkeen wat in daardie Moskou-kerkie op daardie Saterdagmiddag gestaan het, het iewers 'n liefdesband beleef, sou dit minder of meer intens wees. O God, ek staan voor U - vermink. Ek kan skaars regop bly. Maar U ken my verhaal wanneer niemand anders dit wil hoor nie. U luister na my selfs al praat nog net my lyftaal van my wanhoop. U kom na my op die stil Saterdag as alles om my na die dood ruik. As ek die liggaam van Christus in my hande hou, gekruisig, vermink, hoor ek U Gees vir my vertel van die egte lewe, die liefde wat U het, die liefde wat nuut maak, wat optel. In plekke van eenvoud, tussen al die massiewe geboue in, met al die groot aansprake van die groot sisteme, vind ek hierdie liefde, weggesteek, ontroerend aangegee in die suiwer klank van die ewige woord oor 'n God wat ons liefhet. Daar is niks groters as die liefde nie. Dit gee egte lewe.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.