Tuesday, November 06, 2018

Gul en goedhartig soos God

Henry Nouwen skryf in sy Die Terugkeer van die Verlore Seun hoe die gelykenis ons leer om God te word.

Hy raak daarmee die diepste deel van ons hart en praat oor dit wat die eintlike sin van die lewe uitmaak.

Die Vader ontvang die seun terug in die huis, met oop arms, met 'n gulhartige goedheid, met onvoorwaardelike vergifnis en met blydskap wat geen perke ken nie. Almal, die hele huis, moet die oomblik vier.

So kom die seun veilig tuis. Hy is, na al sy omswerwinge, sy sinlose, vermorste lewe, terug waar 'n mens altyd geborge is. Daar waar liefde, vaderlik, moederlik, die ruimte is waarin mens na die lang, moeilike reis tot rus kom.

Die lewensreis het sy harde kante: ons begin die reis, vol verwagting. Opgewonde. Ons leef voluit.

Dit is soos om op 'n gul somersoggend wakker te word. Die dag begin lomerig, so vol skoonheid.

Soms hoor 'n mens onverwags nuus wat op 'n vreemde manier jou hart deurpriem. Letterlik, voel jy hoe ruk dit hier in jou.

Jy weet: hier is dinge sleg. Niks is oor van die lou, lomerige, someroggend nie. Daar is 'n onmiddellike begrip van onomkeerbaarheid, van die einde. Dinge het vasgeloop.

Dikwels is dit iets wat aan die gebeur is met iemand anders. Omdat dit iemand anders is, is die nuus juis soveel slegter. Want eintlik is jy nie in beheer nie, jy kan nie die situasie stuur nie.

Nouwen se aweregse uitleg van die Gelykenis van die Verlore Seun kom op 'n vreemde manier in sulke tye ter sprake.

As alles vasgeloop het, die onrus aan ons hart ruk, die toekoms uitsigloos lyk, is daar net een uitweg: om soos God te word.

Ons angs, onsekerheid, vrees, magteloosheid hoef nie die finale antwoord te wees in die aanskyn van lyding nie. Juis in so 'n situasie word dit die groot antwoord: om vir die een vir wie mens soveel omgee, 'n liefdesruimte te skep waar hulle veilig kan wees. Om 'n Vader te wees. 'n Moeder. Die mens wat ten spyte van alles, daar wil wees. Om op 'n heel eenvoudige manier die ander een aan te trek, te voed, te versorg, te omhels, die huis in te lei, met goedheid en guns te omring.

Daar is wel onmeetbare genade in hierdie besef van soos-God-Wees. Want wat is beter as om te gee en te gee, soos wat God doen. Gul en goedhartig te wees, soos wat God is. Sodat die ander een, die een in nood, die sieke, die lydende, aan een ding geen oomblik twyfel nie: ek is veilig, ek is geborge in 'n ruimte van liefde.

Dit is goed om by God te kan wees. Die hart kom tot rus, tot volkome rus, daar waar die liefde woon.


Blog Archive