Tuesday, July 31, 2007

By die dood van 'n Suid-Koreaanse jong Christen

Dankie-sê gebed?

Ek dank U vir goeie nuus wat ek vandag ontvang het. Die kort brief met die maklike woorde en die blye uitkoms. Die baie voordele wat dit vir my sal meebring. Gemak, gerief, goed voel. Maar ook harde werk wat afgerond word.

Dit is alles mense-dinge. Wat ek gedoen het, wat ander bekyk het en wat iewers in die toekoms nog dalk deur ander bedink sal word. Dit is nou vir my lekker om te weet my harde werk word beloon.

*

Maar waar is U in dit alles? In die ure wat ek so hard gewerk het? In die dinge wat ek in daardie ure so uitgebreid bedink het? As ek vanaand my kop neerlê ná die goed-voel van vandag, hoe, Here, het dit werklik ‘n verskil gemaak?

Aan ander, aan u wêreld en aan U?

Vanaand het ek in die nuusbulletin die lyk gesien van die jong Suid-Koreaanse Christen wat op die ouderdom van 29 jaar deur die Taliban vermoor is omdat hulle hul gevangenes vrygelaat wil hê. Hy het op sy sy gelê waar hulle hom gelos het nadat hulle hom vol koeëls gepomp het. Sy jeugdige, gladde jongmens gesig was halfpad toe onder die ryk rooi van jeugdige bloed. Ek het sy moeder se rou krete gehoor en gekyk na sy vader wat vol eindelose verdriet vertel het van sy seun wat altyd vir ander omgegee het en onder die armes wou werk. En dit gebeur dan met hom.

Hoe kan ek dankbaar wees, vanaand, in ‘n wêreld wat deurdrenk is van geweld?

Toe daardie jongman gaan haal is om doodgeskiet te word, het hy, die een wat vir die armes lief was, die een wat vir U getuienis uitgedra het, het hy aan U gedink? Kon hy, toe hy die gewere hoor klik en die skote afgaan, kon hy voel hy is by U? Het hy geweet U is by hom, kon hy sing oor die ewige lewe? Op 29 jaar? Vol drome, vol afwagting vir die lewe en die liefde?

*

Ek dank U dat U my laat nadink omdat ek vanoggend oor die brokkie goeie nuus so goed gevoel het.

Miskien, toe daardie salige gevoel my oorval het, miskien het juis op daardie oomblik sarsies geweerskote die jong Christen se lewe beëindig.

Ek dank U dat ek dink U roep my om dieper te kyk en dieper te soek na wat egte geluk bring. Help my om te ontdek waar ek werklik ‘n verskil kan maak – nie aan my eie lewe nie, maar vir ander en vir U. As U my só roep, lei My dan waarheen U my wil neem.

Sny my as ‘n loot en ent my in die wingerdstok van U teenwoordigheid. Sny my dan seer en stukkend as dit moet. As dit my maar tog net dieper in U sal laat groei, sodat selfs die geweerskote my nie sal verskrik nie en my lewe sal beëindig nie. Gee vir my die ewige lewe, om in U teenwoordigheid te kan bly. Om met die diepste van alle dinge besig te wees.

U is sag. U gee liefde. U bring vrede. Selfs al word ek gedood en gehaat. Selfs al woed oorlog om my. Vanaand, aan die einde van hierdie goeie dag, na hierdie verskriklike dag, dank ek U vir wie U is. Woon by my, bly by my, wees my Leidsman, laat my in U helder lig woon, vul my met U goddelike teenwoordigheid. Veral tot aan die einde van my lewe.

Sunday, July 29, 2007

Oor getuiens en martelare. Spiritualiteit en valse, gewelddadige godsdiens

Godsdiens kan vernietigend wees waar dit sy egte karakter kwyt raak. Die geskiedenis bewys dit oor en oor. Dit is 'n moordwapen in die hand van mense.

In Openbaring word mense mislei deur die Bose om hul godsdiens op die Satan te rig in plaas van op God. Jezebel, die vals profeet, sit in die hart van die kerk en mislei mense om 'n valse godsdiens te beoefen. Daaruit word onverdraagsaamheid en vervolging gebore.

Valse godsdiens verniel mense. Dit bring verdeling in gesinne. Die skerpste haat is godsdienstige haat - daar waar mense mekaar aanval omdat hulle dit in die naam van God doen.

Wat dit alles so erg maak, is dat ons dikwels so hard baklei omdat ons meen dat ons deur ander vervolg word ter wille van ons geloof. Dan het ons 'n martelaar-sindroom ontwikkel. En dit is 'n gevaarlike siekte. 'n Martelaar is die meeste van die tyd nie te onderskei van 'n fanatikus nie.

Die dag as ek myself as 'n martelaar beskou wat vir God se onthalwe die waarheid moet uitbaklei, is al die rooi ligte aan. God vra nie van ons om martelare te wees nie, maar getuies. En getuies wys altyd, altyd na God se liefdevolle genade. Getuies wat God se rol as regter wil oorneem, het fanatici geword.

Wanneer 'n mens op die voorpunt is van 'n stryd teen ander gelowiges, word dit tyd om stil te raak en na te dink. Jesus wou dit gehad het. Gaan klaar eers die dinge met ander uit, voordat jy vir God opsoek. En moenie dink dat jy, as jy jou mede-gelowige haat, God kan liefhe nie, leer Johannes ons.

Ons wil altyd ons argumente wen, ons vyande verslaan, die wat van ons verskil, op hul plek sit.

Daar is 'n uitnemender weg. Die weg van die liefde, van die minste wees en van bemin.

Jesus wou dit verstaan: as iemand jou op die wang slaan, draai jou ander wang eerder as om terug te slaan.

Hoe kry ek dit reg? Deur my in te leef in die ander. As ek verstaan waarom iemand iets doen wat nie vir my pas nie, kan ek dit relativeer. Dan weet ek - die mens doen en dink sulke dinge in omstandighede wat anders as myne was. Miskien, miskien sou ek dit ook gedoen het as ek in daardie situasie geleef het.

Dit pas ons eerder om baie beskeie te wees oor die vraag of ons die waarheid in pag het. Die hand moet maar gedurig in eie boesem wees. Ek moet leer dat ander ook soek na die waarheid en dat dit die eerste teken van valsheid is as ek voorgee dat ek alleen die waarheid in pag het.

Of dalk net moet ek leer om te onthou dat die ander een redes het vir dinge doen en dink wat ek nie kan peil nie. Daarom pas dit my om liewer nie te oordeel nie. Om liewer stil te bly as om die argument te wen.

Wanneer ek so met ander mense omgaan, is dit juis 'n teken dat ek hulle liefhet, dat ek hulle hoogste belang soek.

Die liefde doen die ander geen kwaad nie.

Veral nie die liefde wat uit God gebore is nie.

Volgende keer meer oor pretensie en intensie - wat hiermee saamhang.

Die teenwoordigheid van God: die hart van spiritualiteit

Naby aan God, die Alpha (A) en die Omega (ω)

A - Ω

Hoe bly ek naby aan God? Hoe woon ek in God se teenwoordigheid?

Deur te bid, deur meer oor God te lees in die getuienis van hulle wat God liefgehad het.

Maar daar is ‘n ruimte wat ek moet binnegaan anderkant my woorde en die woorde van God se getuienisse. Ek moet voor God staan. In die ruimte waar God woon.

Ek moet op ‘n plek staan waar my hart onophoudelik net lof wil uitroep. Ek moet daar wees waar alles in my volkome tot rus kom. Waar ek niks meer nodig het nie. Waar ek ontdek wat saak maak.

Ek moet daar uitkom waar God alles is. Waar dit selfs nie meer saak maak wie ek is nie. Om te wees by Iemand wat soveel saak maak, dat dit vir my genoeg is om in daardie Teenwoordigheid te wees. Daar waar my verlangende hart, my koue binneste, my kille gemoed, kan baai in die Warmte van die Volkome. Waar ek nie eers sal weet dat ek nie meer koud kry nie. En dit nie eers sal saak maak dat ek dit nie weet nie. Want ek bly in die volkome liefde en my moeë hoof is neergelê in die koesterende omarming van die Alpha en die Omega. Want ek verlang nie meer nie, ek mis nie meer nie. Ek is by God.

Saturday, July 28, 2007

God, laat ek U gedenk! Vergifnis, die onvermoë om te vergewe en spiritualiteit
















Om God te gedenk, om in God se teenwoordigheid te wees en in God se goedheid te woon - hoe gebeur dit as ek vasgeval is in 'n tyd waarin ek keer op keer herinner word aan die seer wat my aangedoen is? Hoe kan God by my woon as ek fikseer op die onreg wat ander aan my hart vasgeketting het?

Een van die woestynvaders, Abba Marcarius, het gesê: As ons die kwaad wat mense ons aandoen, bly onthou, vernietig ons ons vermoë om God te gedenk. Maar as ons die slegte dade van die Bose onthou, is ons onoorwinlik. (The Sayings of the Desert Fathers, transl. by Benedicta Ward, p.136.)

Hy sê hiermee: Onthou nie die onreg wat mense jou aandoen nie. Maar moet nooit vergeet wat die Bose alles regkry nie.

Dit is die Bose wat my laat fikseer op die onreg wat mense my aandoen, wetende dat ek daarmee nie vir God kan gedenk nie.

Om God te gedenk! Hoe kan ek aan onreg wat my aangedoen is so 'n sentrale plek in my lewe toeken? Wat van die onreg wat ek self doen? God wat die onreg oorsien wat ek bly vertroetel, die onreg wat ek self en selfs najaag om te doen.

Om tog maar eerder te kyk na dit wat regtig saak maak: God wat my liefhet, ten spyte van my swakheid, my selfvergoeiliking en my dwaasheid.

O God, as ek maar net meer aan U kan dink in U skoonheid en heiligheid. Hoekom sou ek in die modderpoele van my verbittering rondploeter, as ek eerder by die suiwer, skoon water van U lewende fonteine kan drink? As ek maar net meer van U kan beleef, in U teenwoordigheid woon, aan U my lof bring – hoe klein en nietig en veragtelik selfs, word my vasgekeerdheid in my eie verontregting dan.

My verbittering oor my gelede onreg is ‘n teken van hoe ver ek van U verwyder is.

Ek wil by U wees, in U Liefde woon.


(c) pgdevilliers.

Wednesday, July 25, 2007

Liefde en gehoorsaamheid. Oor spiritualiteit en liefde.

Johannes 14:13-16 sê: “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle My liefhet, bewaar my gebooie. En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid.”

Thomas Merton skryf in sy No Man is an Island (p.181) dat Johannes 14:16 vir ons help hoe om ons liefde te laat groei. Liefde beteken dat ‘n mens die wil doen van die een wat jy liefhet en wat jou liefhet. Deur die Heilige Gees te gehoorsaam word liefde al hoe sterker in ons harte gekweek. Deur lief te hê, deel ons aan die goddelike lewe en word ons kinders van God. Hoe meer ons aan die Gees gehoorsaam is, hoe meer word ons aangeraak en lewe ons as kinders van God. Dan word ons ook al hoe meer in staat gestel om te verstaan wat die Gees van ons vra en word ons deur die begeertes van die Gees sterker gemaak.

Dit is dus deur gehoorsaamheid dat ons groei in die liefde – en, dan nie gehoorsaamheid aan ons innerlike behoeftes en wil nie. Ons is gehoorsaam aan die groter, reiner en opheffende wil van die Gees.

Dit is ‘n inspanning, hierdie gehoorsaamheid aan die Gees. En daarom kan ons dit so maklik as raaiselagtig of outyds afmaak. Ons soek redes om te kan onstnap aan die een groot eis – egte groei in die liefde kom wanneer ek ingroei in wat God se Gees van my vra.

Maar dit word ‘n uitdaging wanneer ons kyk na iets anders: terwyl ons sukkel om die onkruid van ons eie wil uit te roei, begeer ons diep iewers in ons om tog soos God te wees. So liefdevol en vol vergifnis. Dit is vir ons aantreklik dat ons altyd maar kan terugval op God se oneindige, eindelose liefde. Dit gee ons ‘n vastigheid wat ons lewens draaglik en dan ook mooi maak.

En ons streef ook werklik daarna. Ons probeer liefde gee en ons smag na ‘n lewe wat versier word deur liefde. Wat verhinder ons dan om so liefdevol soos God te word? Dit kan nie ons eie wil wees nie, want die algemene en die besonder openbaring vertel ons die groot geheim van die Liefde wat buite om ons oral bestaan en wat die voorwerp is van ons diepste verlange. Wat tussen ons en die Liefde kom, is ons sondige wil. Want in ons skuil ook kragte van self-vernietiging wat teen die Liefde inwerk.

Paulus skryf hieroor duidelik – in Romeine 7:15. Wat ek wil doen, dit doen ek nie, skryf hy, en wat ek haat, dit doen ek! Daardie onverstaanbare proses van jouself kwaad aandoen, is deel van ons bestaan.

Die antwoord gee Paulus ook in Romeine 6:14. Ons moet besluit wie ons baas is. Die sonde? Of kies ons vir die Liefde, vir die Gees, vir vernuwing, vir groei? Dit is egter méér as ‘n keuse téén sonde. Dit is ook ‘n keuse vír God, vir die lewe en vir die liefde. Daarom beloof Johannes die Trooster: die een wat ons troos, wat altyd by ons bly en steeds vir ons aan die arm vashou en op reis neem om soos God te word – vol liefde.

Monday, July 23, 2007

Worstel voor God se wil: ‘n Spiritualiteitskyk op God se wil

Daeraad na duisend nagte

‘n Spiritualiteitskyk op God se wil

‘n Mens praat dikwels oor iets wat aan jou bly knaag. Die woord “knaag” roep by my altyd die beeld op van Asjas wat in die agtertuin ‘n week lank na die Sondagete bly kou aan die oorgeblewe, kaalgestroopte en reeds afgevrete boudbeen. Kan nie los nie. Die been bly net daar. Dit vra om tande en proe na die laaste smakie. Elke dag is daar genoeg ander kos, maar jy moet terug na die been.

‘n Geknaag kan jare lank aanhou. In jou binneste weet jy as die eerste tekens daarvan tot jou bewussyn begin deurdring. Dit word so ‘n diep ervaring, so vinning, dat jy begin aanvoel daar is iets Groters aan jou ervaring. Hier kom iets los in jou lewe wat lastig is. Dit los jou nie. Jy wil dit nie regtig hoor nie. Jy verstaan dit nie. Jou agenda is bepaal. Plek is daar nie eintlik vir die geknaag nie. En tog, skep jy die ruimte daarvoor. En jy verdring dit. Dit is aantreklik, maar dit kan soms ook eerder maar ophou.

Soms moet jy daaraan dink. Die geknaag is oor iets wat vra vir ‘n eenvoudige beslissing. Kies om iets te doen, te reageer en ‘n saak af te handel. Soms gaan dit oor iets wat baie kompleks is. Werk aan ‘n moeilike saak. ‘n Lewensveranderende rigting inslaan. Dan neem jou lewe, jou belangstelling, jou sport of jou loopbaan ‘n loop waarvoor jy ruimte skep, maar wat jy weet jou neem na plekke wat jy nie wil wees nie.

‘n Geknaag ontstaan buite die normale gang van sake. Daar is geen geknaag daarin om te besluit om jou huiswerk te doen of ‘n boek te kies om te lees nie. ‘n Geknaag het te doen met die onvervulde, die verkeerde, die doen van iets wat jy uitstel of nie wil doen nie. En die harde geknaag kom wanneer ‘n kanker in jou siel uitgeroei moet word of wanneer jy ‘n fundamentele nuwe lewenskoers moet inslaan.

Dan word dit ‘n stryd, want ons gee nie graag die bekende en die roetine prys nie.

Ek voel dit nou al die afgelope paar jaar – sedert 2000. Sewe jaar se geknaag. Waarheen lei dit, vra ek myself nou al hoe meer af. Op die weegskaal van my lewe is daar in die twee bakke die bekende, wat ek tot dusver gehad het, vol en ryp en groot en gevestig aan die een kant, met die onbekende, die nuwe, ook mooi en uitdagend aan die ander kant. Saam daarmee, egter, is dit duidelik. Hier gaan groot skoongemaak word. En baie opgeoffer word as die geknaag my daartoe bring om ‘n daadwerkliike besluit te neem. Ek worstel wat ek sal doen as die weegskaal omslaan en uitwys dat ‘n nuwe tyd vir my aangebreek het. Dis nie maklik nie. Dit is vir my ‘n donker nag, ‘n reis in ‘n bloedige son met geen skadu om onder te gaan skuil nie.

Ek weet hierdie gekaag wys op iets Groters wat met my aan die gebeur is. Ek glo dit nie eintlik nie, maar my hart sê vir my ‘n Reisgenoot het my aan die hand en lei my na die groen velde. Iemand Groters worstel met my by die Jabboksdrif om my na waters van rus te lei. Dit is net dat ek nog nie werklik weet watter rus dit sal wees en of ek reg is vir die rus nie.... En, ek het nog so baie ander dinge om te doen - ek wil nog die bruilof bywoon, die vrolikheid geniet, die plesier belewe.

Dit is donker, ‘n dal van doodskaduwee wat ek beleef. Dit knaag aan my. Iets wil my nie laat los nie.

Dit is God, dink ek, wat met my in die donker nag bly worstel.

Tuesday, July 17, 2007

Vastigheid en geborgenheid. Oor ‘n kano en spiritualiteit.

Die mag van water















Ek klim vir die eerste keer in my lewe in ‘n kano op die roeiklub se dam anderkant Stellenbosch. Die middagse winterson gee so bietjie hitte en alles is weer feëverhale hier op God se goeie aarde. Na weke se goor weer in Nederland is ek uitgehonger vir son, vars lug, water en veral fisieke oefening. Ek word ‘n platboomkano gegee, synde ‘n beginner wat nederig moet reken met omdop en inval. Nee, word ek vertel deur die bedrewe kano-genoot, ‘n rondeboomkano is nie ‘n tuig om mee te begin nie. Jy kan te maklik ontmoedig word as jou kano ook nog teen jou is.

En die water is koud. Winterkoud. Maar gelukkig sit ek in die kano en ek sorg maar dat ek nie onnodig beplas word nie.

T-hemp uit, swembroek aan, sit ek in die kano en ry so bietjie dobber-dobber dam in – nie te ver nie, met die wal binne bereik. Ek moet gewoond raak aan balans hou, reg roei, pedale stuur en sommer koers hou ook. Net iemand wat al kano geroei het sal weet dat koers hou ook al ‘n kwessie is. ;-)

Dit gaan goed – nie verniet so drie jaar terug my paddleski op Gourits darem goed gebruik nie dink ek bietjie self-ingenome. Ek gly stil-stil en rustig oor die dam. My kano-genoot roep my patroniserend allerhande komplimente toe en laat waai dam in om sy eie genot te soek. My oë volg hom onder ‘n swaar hoop van bewondering en benyding. Maar sy woorde tref die goeie kol: Gekomplimenteerd en tevrede, veral na die eerste rondte (‘n kilometer lank), wil ek arrogant en parmantig raak. Ek begin diep hale trek met die roeispaan. Spoed, spoed, soek ek. En adrenalien en nog meer trots. Al die oersondes wat mense altyd onvermydelik tot val gebring het, slaan soos die masels rooi massas op my uit. So af en toe swenk ek dus bietjie swierig dieper dam in, weg van die wal af. Ek doen nou al ‘n klomp dinge outomaties: roei en stuur en orent bly en rondkyk en berge bewonder en vrae uitroep. Daar was geen skoner toneel nog ooit voorheen op aarde nie.

Uiteindelik kom dan die onvermydelike val. Ek voel nie eers die koue nie, so skrik ek toe ek in die water beland. Ek voel ook nie grond onder my voete nie. Maar, herinner ek myself aanmoedigend, swem was mos nog nooit ‘n probleem nie, ‘n mens moet net nie in water paniekerig word nie. En die kano loop vol water. Dit trek my onder die water in, want dit is swaar en ek wil dit pligsgetrou nie verloor nie. Ek moet ook terselfdertyd vashou aan die roeispaan sodat dit nie sink nie. Wie sal my aangesig met eerbied aanskou as ek ooit hierdie storie van ‘n verlore roeispaan en ‘n gesonke kano moet oorvertel? Ek hoor helder hoon-gegiggel van meer as een genadelose familielid en vrind. En ek besef intussen dat ek vinnig moet wal toe, die water is te koud vir lank oorleef. In die winter is die oorlewingstyd immers logies korter. My kano-vriend kom aangery, maar kan nie eintlik iets doen nie. Hy sirkel om my, maar ek kan sien hy weet nie veel raad nie.

Uiteindelik kan hy die roeispaan oorneem. Ek bly klou aan die kano, swem duim vir duim en sukkelend wal se kant toe. Die las word al hoe swaarder. En die water is bruin – hier kry ‘n mens nie maklik ‘n lyk nie, miskien nog wel die kano...
My lewe het nie voor my oë verbygeflits nie, so paniekerig was ek nog nie. Maar my asem het begin kort raak en die benoudheid slaan darem al toe. Iewers registreer ek dat ons net drie kano’s op daardie dam is en dat ek hier nogal taamlik aan eie genade oorgelewer is.

Na ewigheidsoomblikke en naby groter paniek, skop ek skielik en onverwags grond raak. Dit is dan die groot oomblik. Nie die omslaan van die kano nie.
Vastigheid, dink ek, volgepomp met aderenalien, later. Ons soek vastigheid in die lewe. Toe ek eers die grond voel, ontspan ek heeltemal. Ek kry beheer. Ek bedink alles haarfyn. Gaan staan, draai die kano om en laat die water uitloop. Klim weer in en roei flink voort. Voel glad nie die koue nie. Eintlik gloei my liggaam van inspanning en opwinding.

Maar ek bly die keer naby die wal. Baie naby. Vir die vastigheid.
My gedagtes loop vir ‘n paar dae oor van hierdie middag. Ek dink aan baie dinge. Die mag van water en koue. Die voorreg om gesond te wees en om nuwe dinge te doen. Lekker mense wat jou lewe ryk maak met nuwe avonture. Ek onthou ook my pa se woorde, dikwels as hy mense sien infoeter see toe met klein vissersbootjies: ‘n mens sukkel nie met water nie. En ek beplan al ‘n tweede keer op die dam.

En iewers dink ek ook aan die bekende woord, holrug al in baie opsigte maar ewe skielik gevul met heeltemal nuwe betekenis na my kano-middag op die dam: Die Man wat die storm op ‘n keer stil gemaak het en water goed geken het, die Man wat ook lewenstorme getrotseer het – wat vertel het dat dit maar die beste is om jou huis op rots te bou. Vastigheid bring egte avontuur. As jou voet grond kan vat, is die stryd al halfpad gewonne.

Ek is terug op Stellenbosch. Ou gesigte, egte blydskap. Vreugdevolle groetery. Ons plekkie voel meer as ooit na tuiste. My eie bed, my eie motor, my boeke, my eie stoel, my muurskilderye. Tuiste, my trots, vastigheid.

Maar ek bedink die dieper dinge: die groot Vastigheid wat na my kom in soveel vorme van die ou, ou tyding. ‘n Woord, Gebed, Simbool, Herinnering, Stil oomblik. Die lewe is ‘n mosaïek van klein steentjies wat almal saam vir jou vertel van vastigheid. En dit weer, gee jou die geborgenheid.

Blog Archive