Godsdiens kan vernietigend wees waar dit sy egte karakter kwyt raak. Die geskiedenis bewys dit oor en oor. Dit is 'n moordwapen in die hand van mense.
In Openbaring word mense mislei deur die Bose om hul godsdiens op die Satan te rig in plaas van op God. Jezebel, die vals profeet, sit in die hart van die kerk en mislei mense om 'n valse godsdiens te beoefen. Daaruit word onverdraagsaamheid en vervolging gebore.
Valse godsdiens verniel mense. Dit bring verdeling in gesinne. Die skerpste haat is godsdienstige haat - daar waar mense mekaar aanval omdat hulle dit in die naam van God doen.
Wat dit alles so erg maak, is dat ons dikwels so hard baklei omdat ons meen dat ons deur ander vervolg word ter wille van ons geloof. Dan het ons 'n martelaar-sindroom ontwikkel. En dit is 'n gevaarlike siekte. 'n Martelaar is die meeste van die tyd nie te onderskei van 'n fanatikus nie.
Die dag as ek myself as 'n martelaar beskou wat vir God se onthalwe die waarheid moet uitbaklei, is al die rooi ligte aan. God vra nie van ons om martelare te wees nie, maar getuies. En getuies wys altyd, altyd na God se liefdevolle genade. Getuies wat God se rol as regter wil oorneem, het fanatici geword.
Wanneer 'n mens op die voorpunt is van 'n stryd teen ander gelowiges, word dit tyd om stil te raak en na te dink. Jesus wou dit gehad het. Gaan klaar eers die dinge met ander uit, voordat jy vir God opsoek. En moenie dink dat jy, as jy jou mede-gelowige haat, God kan liefhe nie, leer Johannes ons.
Ons wil altyd ons argumente wen, ons vyande verslaan, die wat van ons verskil, op hul plek sit.
Daar is 'n uitnemender weg. Die weg van die liefde, van die minste wees en van bemin.
Jesus wou dit verstaan: as iemand jou op die wang slaan, draai jou ander wang eerder as om terug te slaan.
Hoe kry ek dit reg? Deur my in te leef in die ander. As ek verstaan waarom iemand iets doen wat nie vir my pas nie, kan ek dit relativeer. Dan weet ek - die mens doen en dink sulke dinge in omstandighede wat anders as myne was. Miskien, miskien sou ek dit ook gedoen het as ek in daardie situasie geleef het.
Dit pas ons eerder om baie beskeie te wees oor die vraag of ons die waarheid in pag het. Die hand moet maar gedurig in eie boesem wees. Ek moet leer dat ander ook soek na die waarheid en dat dit die eerste teken van valsheid is as ek voorgee dat ek alleen die waarheid in pag het.
Of dalk net moet ek leer om te onthou dat die ander een redes het vir dinge doen en dink wat ek nie kan peil nie. Daarom pas dit my om liewer nie te oordeel nie. Om liewer stil te bly as om die argument te wen.
Wanneer ek so met ander mense omgaan, is dit juis 'n teken dat ek hulle liefhet, dat ek hulle hoogste belang soek.
Die liefde doen die ander geen kwaad nie.
Veral nie die liefde wat uit God gebore is nie.
Volgende keer meer oor pretensie en intensie - wat hiermee saamhang.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2007
(33)
-
▼
July
(7)
- By die dood van 'n Suid-Koreaanse jong Christen
- Oor getuiens en martelare. Spiritualiteit en valse...
- Die teenwoordigheid van God: die hart van spiritua...
- God, laat ek U gedenk! Vergifnis, die onvermoƫ om ...
- Liefde en gehoorsaamheid. Oor spiritualiteit en li...
- Worstel voor God se wil: ‘n Spiritualiteitskyk op ...
- Vastigheid en geborgenheid. Oor ‘n kano en spiritu...
-
▼
July
(7)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.