Saturday, April 22, 2023

Vas hou

 Jy het dit 'n lang ruk terug geskryf. 

In jou netjiese, noukeurige, geduldige drukskrif. Die aanhaling:

"The nameless and unsearchable one, silent and yet near... God, who when he comes to us out of his own self in grace, just cannot be mistaken for anything else." 

Op die eerste bladsy van jou nuwe aantekeningboek. So wou jy begin... 

Net die aanhaling. Nie wie dit waar geskryf het nie. Die gedagte was belangrik. 

Dit is die enigste inskrywing in die boek. Die gedagte oor die onmiskenbare koms van God in ondeurgrondbare, maar intieme nabyheid. 

Jy wou die gedagte vashou. 

As ons maar toe en nou daaroor kon praat... 




Monday, April 03, 2023

Geestelike oefeninge:

Ons kort geestelike oefeninge om te groei as mense:  die chaotiese en afbrekende aanbod van buite, van ons vernielsugtige wêreld is oorweldigend en die negatiewe soms te veel. Mens se gees word afgebreek, word dan vermoeid.

Vandaar die drang om weg te kom en dan die vreugde om tog dan wel iewers in aanraking te kom met dit wat mooi en sielsverheffend is. 

Dit word vir sommige 'n hele bedryf: die groeiende publikasies woel en werskaf oor hoe om geestelike uitkoms te kry. Allerhande geestelike "oefeninge" word bekyk en beleef. 

Dus sonder mense hulle af. Weg van die geraas. Eenkant, alleen, waar mens nadenkend, mymerend kan vra na wat jou weer op jou voete kan bring of jou net weer moed kan gee. 

Luister en lees, fokus op gidse, geestelike vriende wat mens weer goed kan laat voel. 

Pelgrimstoere word byvoorbeel 'n gewilde, selfs top spirituele oefening. Mens stap deur die natuur en ontdek die klein dingetjies wat verligting gee. 

Dit is, egter, nie altyd 'n kwessie van kilometers en kilometers sweet en worstel deur vaal en verlate landskappe nie. Iemand skryf dat 'n mens sulke reise byvoorbeeld stil, sonder skoene  stap sodat jy die aarde onder jou voete kan voel. In daardie gevoel kom 'n nuwe gewaarwording na vore. Mens kom in aanraking, so eenvoudig soos deur die klippe en grond met die wereld, met wat groter en anders is. Mens word een met die wonder van die mooi wêreld om ons. 

Jy oefen om op 'n "natuurlike" manier op 'n nuwe, geestelike manier te leef. Vernuwing kom sonder grootse inspanning op 'n gewone manier na jou. 

Op klein skaal is daar dan ook die labirint: 'n gerigte, doelbewuste wandeling, hulpmiddel om in verwondering op 'n mens se eie te wees, al wandelende in 'n stil voetpad met 'n vaste rigting. 

Nog vele ander oefeninge is daar: Stilte in 'n retraite sentrum, selfs met 'n geestelike leier, is meer direk geestelik. Gebede, meditatiewe lees en luister, sang, musiek, liturgiese viering. 

Gesprekke met 'n ervare vriend wat kan help rigting gee vir die pad vorentoe - juis wanneer 'n mens se gemoed troebel is oor wat op jou moontlik kan weg. 

Eredienste met mooi, kleurryke dinge, orkeste wat meevoer, sangers wat biddend en smekend sing oor geestelike nood en verlange na uitkoms. 

Alles belangrik, verheffend en mooi. 

Ons tyd maak erns met ons verlange na die diepere. 

Daar is 'n intense soektog na goedvoel.

Dit is goed so. 'n Mens moet immers na jouself kyk. En tyd maak vir jou eie dinge. 

Net dat 'n mens goed kan voel, jou egte self kan ontdek sonder om te voel en te weet dat 'n mens in die teenwoordigheid van God is. Goedvoel kan skraal wees, kan 'n mens tog ook weer onvervuld laat.  

Want dit is 'n onvermydelike aspek van die geestelike lewe hoe goedvoel oorweldig kan word. Soms, dikwels, miskien selfs altyd word hierdie goedvoel dan weer maklik deur ons kwytgeraak.  

Dit is hier waar 'n mens onderskei wat eintlik gebeur. Die reis bring goeie en slegte tye, sodat 'n mens iets groters as jou goeie gevoelens kan weet. Iets, 'n wete, 'n gevoel wat nie môre as jy terug is tussen die ou dinge, vinnig sal verdamp nie. 

Tog: dit gaan oor Iemand. Die enigste vaste wete, die enigste egte gevoel, is dat ons tye in God se hande is. Wat ook al oor ons pad kom. Die eenvoudige besef, 'n mens leef in 'n Teenwoordigheid wat geborgenheid skenk.   

Die geestelike oefeninge lei mens dus uiteindelik veral om te wag op God. Om oop te wees vir 'n aanraking wat al ons begeertes stil en vervul. 

En, stil, sober, kom God in ons afwagting na ons. Die Geliefde bly by ons, juis in die donkerste nag, Mens wag met aandag, met verlange, met 'n brandende liggie in die donker nag - omdat 'n mens weet - wat werklik saak maak is dat Iemand op pad is na ons. 

Daarom is selfs en veral die nag mooi. 

Veral die donkerste nag, want, weet ons, die nag is die tyd van liefde, van minnende intiemheid. 


Blog Archive