Thursday, September 30, 2010

Dit is makliker om vir jou geloof te sterf as om daarvoor te lewe...

Ek gee vandag klas en daar is intense gesprekke met studente oor die betekenis van die Bybel in ons tyd. Hulle is meestal goeie Christene, aktief in hulle gemeentes as predikante. 

In ons gesprekke tref dit my hoe sulke goeie mense eensklaps kan verander. Dit gebeur wanneer ons om een of ander rede begin gesels oor die posisie van die vrou in die kerk.  Blykbaar is vroue hier nog nie regtig in leidende posisies in die kerk nie.

Nog lank nie.

Dit is 'n egte patriargale situasie.

Ek is so gewoond daaraan dat vroue by ons bevry is, dat ek byna nie kan glo wat ek uit hulle monde hoor nie. 

Ek sien voor my totale transformasie wanneer hierdie goeie mense oor die vrou in die amp praat. Hulle lyftaal wil driftig wees, alleen maar getemper deur die teenwoordigheid van 'n gasdosent uit 'n ander land.

Daar is hier nog nie sprake van vroue in die amp nie.

In die klas sit vier of vyf vroue. Ek bekyk hulle terwyl die gesprek aan die gang is. 

Hulle speel saam. Wat kan hulle nou ook doen? Maar in hul oë sien ek die gretigheid dat ek moet praat en meer moet vertel. Dit skeur 'n mens se hart in twee.

Ek dink ver terug - aan die groot stryd in die N.G.Kerk toe vroue tot die amp toegelaat is. En toe die gesiene ouderling in ons plaaslike gemeente onmiddellik uit die amp bedank het en toe ook uit die kerk. Hy was 'n aktiewe kerkganger wat sy vorige kerk verlaat het oor die kerk se "liberale" teologie. En toe moes hy toesien dat die N.G. kerk, die enigste kerk wat volgens hom nog woordgetrou was, ook by die tou ingeval het.

Hy kon dit net nie in sy maag hou dat die N.G.Kerk toe ook vroue in die amp toegelaat het nie. 

'n Paar jaar later gesels ek met iemand wat hom goed ken. Ons sit so en gesels oor hom - ek ewe vriendelik aan die vra oor hoe dit dan met hom gaan. Ek het die een wat uit die kerk bedank het, altyd onthou as 'n interessante mens met wie ek graag gesels het. Dus was dit vir my 'n geleentheid om van sy vriend te hoor hoe gaan dit met hom.

Nee, vertel die vriend vir my, hy is intussen geskei van sy vrou.

Ek moet stil sit om nie van my stoel af te val nie.

Hy het, het dit in die hof uitgekom, sy vrou gereeld geslaan.

Hoekom dink ek vandag aan daardie gesprek? Hoekom, as ek na die paar vroue in die klas kyk, skrik ek skielik terug voor die onbedoelde gemeenheid wat ek aanvoel onder hierdie goeie, gelowige mense? Hoekom voel dit vir my asof ons gesprek van vanoggend vir die vroue in ons midde erger as fisieke houe moes gevoel het?

Ek kom huis toe, na die klasse. Om een of ander rede sluit ek my gesprek met die studente af met die opmerking dat dit makliker is om vir jou godsdiens te leef as om daarvoor te sterwe. Ons behandel immers Openbaring en die dood van die getuies is 'n belangrike motief daarin: 'n mens moet bereid wees om tot die dood toe getrou aan jou getuienis te bly. 

En tog, in Johannes se gedagtes is die sterf van die getuienis nie die belangrikste nie. Keer op keer beklemtoon hy in Openbaring hoe belangrik dit is dat 'n mens met jou hele lewe vir God getuienis moet lewer. Die getuies is hulle wat wit klere dra, fyn linne - 'n simbool van hul regverdige lewe, van hul volharding, hul vasbyt. Dit is nie maklik om te bly getuig nie. Jy kan immers binne die kerk net nog 'n Jezebel word - die profetes in die gemeente van Tiatire. Dit is nie maklik om die bose te herken nie. Dit kom na jou agter 'n vroom, mooi masker. Dit vra nogal om daardie masker af te ruk.

By die huis google ek my gedagte hieroor. En, verrassenderwyse, kry ek die volgende uitspraak van die legendariese Argentynse skrywer Jorge Luis Borges (wat stadig heeltemal blind geword het - maar dit is 'n storie vir 'n ander tyd): Dit is makliker om vir godsdiens te sterf as om dit absoluut te lewe. 

Die internet is vol verwysings na hierdie uitspraak. Hoe moeilik is dit om te kan besef wat jou godsdiens eintlik van jou vra en nog moeiliker is dit om dan aan daardie eise te voldoen...

Hoe baie gaan dit tog vir hierdie mense vra om ter wille van hul geloof ook hul vroue vry te maak?

Ek hou toe vanmiddag op met die klasse. More wou ek bietjie op my laaste dag hier museums toe gaan.

Die studente vra of hulle nie maar nog klas kan kry nie. Hulle het so baie vrae wat hulle nog wil stel. Ons spreek af dat ons 'n ekstra sessie sal werk, al beteken dit nou vir my dat ek my museum-besoek kwyt is. Ek wou dan nog so graag weer 'n keer die Verlore Seun in die Hermitage en die Triniteits-ikoon van Rublev gaan kyk het.

Ek dink na oor hierdie dag: so soos hulle was, so driftig, so was dit by ons, nog 'n skrale vyftien/twintig jaar terug. En ek onthou dat dit volhardende gesprekke, durende getuienis was, ook van die bybelwetenskaplikes wat gedurig aan die kerk bly knaag het, wat uiteindelik vir vroue bevry het. Vandag is ons oor daardie hekkie. En as ek hierdie goeie mense in my klas bekyk, is ek diep dankbaar dat daardie stryd verby is. Al wat my kwel is hoeveel gemorste jare daar sal wees totdat ook hulle sal besef dat God nie mense oor hulle fisiekheid opsoek en uitsoek nie. Al waarin God belangstel is om met mense, alle mense, wie ook al, 'n liefdesverhouding aan te gaan - ongeag wie hulle is. 

Maar dit boei my ook dat die studente nog wil praat. Immers, besef ek, hulle is die produkte van hul kerke se "teologie." Hoe kan hulle dan ook van beter weet as niemand hulle vertel of uitdaag nie (die Etiopier!). En as daar iewers 'n woord kan val wat eendag iemand kan bring tot groter menslikheid...

Miskien kry ek nou nie die Verlore Seun en die Triniteitsikoon te sien nie. Maar ek sal iewers môre op meer as een vlak myself bevind tussen soortgelyke kinders van God  - tussen die vromes, die ouer seuns wat so kwaad in die donker gestaan en kyf het teen die broer wat nou plek in die Vaderhuis weer kom inneem. Hier, by die Vader, is daar volgens hulle net die "goeies" en die "regtes" toelaatbaar. 
Nouwen was reg: dit is dan die tyd dat ons buitentoe moet gaan en as die Vader liefdevol moet bly praat en praat en praat. Ons moet saam met hulle wat nog onvry is en wat nog ander in onvryheid opsluit, gedurigdeur herinner word daaraan hoe God ons ou menslike voorwaardes ignoreer en deurbreek. Meer nog: hoe belangrik is dit om gedurig deur na te dink oor God se liefde. Wanneer ons praat oor die liefde, die liefde wat alle grense oorsteek, wie weet, kom ons dalk uit die donker in en omhels hulle wat ons 'n rukkie terug eerder in die varkhokke sou wou gesien het.

Terwyl ek so nadink, besef ek dat ek vir altyd aan hierdie groep mense vir wie ek klas gegee het, gebonde sal bly - nuuskierig, selfs angstig sal ek hulle geestelike reis saam met hulle loop, terwyl ek gedurig sal kyk of hulle so diep in hulle geloof kan groei dat hulle gedryf sal word om hul groot vooroordele prys te gee. Ek skrik terug voor hul driftigheid, maar groei daardeur in my verbondenheid aan hulle, soekend na groter volwassenheid in die geloof en groter gehoorsaamheid aan God se wil.

Wednesday, September 29, 2010

Die kinders van die kerk was toe uiteindelik die aggressiewe ateïste. Wanneer die kerk sy eie ondergang is.

My gasheer vanaand is ‘n predikant wie se oupa in 1938 in Stalin se tyd op 'n dag uit sy huis weggeneem is en eenvoudig toe doodgeskiet is – bloot net omdat hy as ‘n “uitlander” beskou is. En dit nadat hulle toe al 150 jaar in Rusland gewoon het. Sy ouma met twee dogters is toe in Siberië afgelaai waar hulle moes sien en kom klaar met niks om hulle, geen blyplek en met uiterste weersomstandighede.

Sy oom, voeg hy by, vertel op hoë ouderdom hoe hy in ‘n skool in Siberië uitstekende wiskunde onderwys ontvang het. Hy het eers baie later besef dat die onderwyseres wat vir hom wiskunde gegee het, ‘n professor in wiskunde aan ‘n universiteit in Estonië was wat ook eenvoudig weggevoer is en ook in Siberië afgelaai is.

My gasheer het dus direk uit sy familie-geskiedenis ervaring van die ekstreme vervolging onder Stalin. Hy hou die kommunistiese tye goed in sy geheue vas, vertel hy my.

Nou die dag, sê hy vir my, preek een van die ouer dominees wat ook die tydperk beleef het, in sy kerk. Die predikant het ernstig met die gemeente gepraat: Ons maak in die tyd na die val van die kommunisme van geloof iets goedkoops, preek hy. Ons het vergeet dat geloof ‘n kwessie van lewe en dood kan wees. Ons, voeg hy by, onthou nie meer dat daar kort gelede mense in Rusland was wat bereid was om te sterf eerder as om hulle geloof prys te gee of om kompromieë aan te gaan nie.  

Dit is nie baie dat die ouer dominee so preek nie, vertel my gasheer. Maar in ‘n tyd dat die kerk gemaksugtig geword het en lidmate oppervlakkig, het hierdie boodskap duidelik by hom vasgesteek.

‘n Mens kan jou nooit genoeg voorberei vir die tye van dodelike keuses wat jy sal moet maak as jy God werklik lief het nie.

Ek kou hieraan.

Maar in ons gesprek stel hy toe ‘n vraag: hoe kom dit dat daar in die geskiedenis van Rusland ‘n tyd kon gekom het dat die politieke leiers sommer net so kon oorslaan na ‘n ateïstiese staat en alle godsdienste kon uitban? Hoekom het die kerk en lidmate toegelaat dat dit gebeur? Waar het die kerk gefaal in sy verantwoordelikheid om te keer dat politieke leiers, sy eie lidmate van vroeër, tot hierdie punt gekom het?  Rusland was immers vir eeue nie ‘n ateïstiese staat nie en die kerk was steeds prominent in die samelewing? Mens verwag nie dat mense wat uit die kerk kom van die een dag op die ander tot so ‘n punt sou kom nie.

Dit is ‘n boeiende vraag.

My gasheer vertel vir my hoe hy met sy kinders sit en praat oor hoe hulle moet reageer wanneer hulle met onderwysers te doen kry wat dinge vir hulle leer wat teen hulle geloofsoortuiginge ingaan. Hy sit hulle om die tafel en rig hulle af hoe om die uitdagings op hul geloofspad te hanteer.

Ek luister verwonderd hierna. Ons blameer en ons pak die skuld op die staat en die politiek. Maar dit is uiteindelik ons eie kinders, mense van ons vlees en ons bloed, ons geestelike nageslag wat soms die kerk se grootste vyande kan word. Dan word die tergende vraag: hoe kon ons dit sien gebeur het?

Of ons kan ons kinders vertel en gereedmaak. Hulle moet so deel word, saam met ons, van ‘n gemeenskap van heiliges, dat hulle nie daarsonder kan oorleef nie.

Tuesday, September 28, 2010

Nie sommetjies maak nie, maar self-ondersoek is nodig. Bybelstudie oor Openbaring (14)


Wanneer mense Openbaring oopslaan, wil hulle meestal nuuskierig meer weet oor die voorspellinge daarin.

Wie, is die mees algemene vraag, is die 666? Wie is die Antichris, wanneer gaan hy kom en wat gaan hy alles aanvang? Nuuskierig bedink hulle al die bose mense en dinge om hulle en in die wêreld wat dalk die Antichris kan wees. Ywerig soek lesers na tekens hoe om die Antichris te verstaan.

Openbaring mag nie as ‘n boek gelees word wat die sterre voorspel of wat fortuin vertel nie. Wanneer ‘n mens byvoorbeeld die sewe briewe lees, is daar niks te sien van enige voorspellings of berekeninge nie.  Die eerste brief wat aan die gemeente in Efese gerig is, sê nie dat die gemeente hulle sommetjies oor die Antichris en die einde moet sit en maak nie.

Op die oog af, voorts, is dit ‘n pragtige brief. Kyk hoe mooi begin dit. Dit loop oor van lof vir die gemeente: “Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding… Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.”

Watter beter beeld kan ‘n mens kry as hierdie aanprysing van harde werk en volharding? Die gemeentelede in Efese is voorbeelde van toegewyde, oortuigde Christene.  ‘n Mens sou dink daar steek niks kwaads in hulle nie. Hulle is mense wat maklik nou kan sit en uitkyk vir die Bose wat daarbuite as ‘n brullende leeu rondloop.

Maar kyk nou wat gebeur sommer net daarna: “Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het.”

‘n Mens skrik terug voor die ommekeer wat daar skielik in die brief plaasvind. Skaars kon die skrywer die gemeente in die vorige vers genoeg lof toegeswaai het, of  die toon van die brief word donker. Die gemeente het God nie meer lief soos hulle aan die begin vir God liefgehad het nie. Trouens, skryf Johannes, hulle het al ver agteruitgegaan. Liefdeloosheid en verval kenmerk die lewe van gelowiges in Efese.

Skielik kom die kwaad baie naby aan die kerk. Nie die 666 is die probleem nie. Julle en die kwaad in julle is die probleem, sê die brief.

Die gemeente het so verval dat hulle eintlik niks anders as heidene geword het nie. Daarom is dit nodig dat hulle tot bekering moet kom: “Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.”

Johannes praat hier van die kerk in Efese – hulle wat so ‘n oulike geskiedenis van bekering en volharding gehad het. Hy skryf nie oor ‘n Antichris wat die gemeente sal bedreig nie. Hy skryf in die eerste van die sewe briewe oor hul heidense toestand.

Die kerk in Efese het sy identiteit as kerk verloor. Die kwaad is nie buite die kerk nie, maar in die hart van die kerk. Johannes begin sy brief dus deur oor kerklike verval te skryf. Die bose sit in die kerk self en bring dit tot liefdeloosheid en verval.

Kan ‘n mens nou, as jy hierdie vers lees, Openbaring nog reduseer tot ‘n boek wat allerhande voorspellings oor die Antichris, die 666, wil onthul? Wil die boek ons aandag nie  baie eerder op die belangrikste van belangrike sake vestig nie – ons liefdelose agteruitgang in ons verhouding met God binne die kerk – van alle plekke!

Dit situasie is so ernstig dat die gemeente gedreig word: “Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!”  Hulle het al so ver verval dat God op die punt is om hulle hul plek in die teenwoordigheid van die Here te ontneem.

Die ondenkbare gebeur: God hou nie altyd die kerk in stand nie. Soms kan die kerk die ruimte van boosheid word. En dan het dit geen plek meer by God nie. Dan vind uitwissing plaas. Nie die Antichris bedreig dan die kerk nie, maar God self gryp veroordelend in.

Openbaring is ‘n boek wat gelowiges uitnooi tot diepe self-ondersoek. Lank voordat ons meer hoor van die duiwelse boosheid, die draak, die twee diere, die prostituut in Openbaring 12-19, sê God aan die begin van die boek vir die kerk self: steek jou hand in eie boesem. Ondersoek jouself. Kyk na jou soos ek jou sien – ‘n gemeente wat liefdeloos geword het en agteruitgegaan n het.

Kyk maar goed – goed. Na jouself. Na jou liefdelose, vervalle gesig.

Openbaring is vir die kerk nie ‘n lekker boek om te lees nie.  Dit ontnugter die kerk want dit vertel die kerk hoe boosheid uit sy eie hart opkom….

Monday, September 27, 2010

Om in die aangesig van God te leef. Ervaringe in St Pietersburg.


Ek praat vandag met kollega’s en studente in ‘n poging om die situasie hier in St Petersburg beter te verstaan.  

Op die oog af lyk die stad vir my welvarender as wat ek voorheen gedink het. Die strate is skoon. Die treine is nog dieselfde as met my vorige besoek (nog geen Gautreine nie!), maar is beslis netjieser. Daar is heelwat nuwe geboue wat intussen opgerig is. Die omgewing langs die universiteit lyk nie meer so verlate en afgerem soos voorheen nie. Die pragtige en beroemde Nevski Straat, lyk my, word elke keer net moderner en ryker. Die mense lyk vir my netjieser, al stook hulle soos skoorstene en sien jy jong mense oral met drankbottels in die strate rondhang. Ek sien ook nie meer so baie bedelaars nie.

Miskien verbeel ek my. Die studente kla nie in my gesprekke met hulle nie, maar hulle dink ook nie welvaart het toegeneem nie en hulle raak nie opgewonde oor wat hier gebeur nie. Hulle dink almal ‘n bietjie na as ek vir hulle vra hoe hulle die ekonomie ervaar. Hulle sê wel dat sommige rykes het net nog ryker geword, terwyl daar nog baie armoede oorbly. Baie duidelik is dat hulle skepties is oor die politici en die self-bevoorregting wat onder hulle plaasvind. Maar al is hulle terughoudend, kry ek nie die indruk dat dit ‘n uitsiglose situasie is nie.  

Hulle het, opvallend genoeg, nie juis ‘n slegte woord oor die kommunisme te sê nie. Ek vra hulle pertinent uit. Die meeste van hulle het groot geword in die periode na die val van die kommunisme. Kyk, vertel een vir my, ‘n mens kan eers die bydrae van die kommunisme verstaan as jy begryp hoe die tyd van die tsaars gelyk het. Die tsaar se woord was wet. Hy het nie in die opheffing van die armes belanggestel nie. Die armes het geen beskerming onder die wet gehad nie en het in misrabele omstandighede geleef. Die kommuniste, daarenteen, het ten minste beloof om vir die armes te sorg – en dit is meer as wat ‘n mens van die tsaar kan sê! En al het die kommuniste nie hul beloftes gehou nie,  en al was daar iemand soos Stalin, het hulle ten minste darem op groot skaal behuising, skole en mediese sorg gegee vir mense wat dit nooit voorheen gehad het nie en het hulle die groot diverse land bymekaar gebring deur een taal, Russies, te bevorder.  

Terwyl hulle vir my die blik op die geskiedenis gee, flits meer as een keer voor my geestesoog die tonele uit Les Miserables van Saterdagmiddag. Jean Viljean wat 19 jaar tronkstraf moes uitdien omdat hy brood vir sy suster se kinders gesteel het. Fiksie, ja, maar iewers nie heeltemal uit lyn met die ou feodale Europa in die negentiende eeu nie. Ek kan my al uit daardie opvoering en ook uit die boek voorstel hoe die kommuniste ‘n aanklank gevind het by die armes toe die opstande georgansieer is.

Ek is egter verwonderd terwyl ek na hierdie gesprekke luister. Die jong mense het nie regtig ‘n idee van die kommunisme as repressiewe sisteem nie. Hulle weet niks van die koue oorlog, die gevaar van ‘n kern-oorlog, inperking van persoonlike vryheid en massa-reglementering nie. Selfs nie die geskiedenis van vervolging van hul ouers en voorgeslagte figureer in hul beoordeling van hul geskiedenis nie.

Die ander ding wat my opval uit my gesprekke van vandag is die gebrek aan enige verhouding van die Protestante met die Russiese Ortodokse kerk.  Vanaand praat ek reguit hieroor met ‘n predikant van ‘n messiaanse gemeente in Sint Pietersburg, want ek wil weet hoe voel hulle oor Ortodokse spiritualiteit. Ek vra vir hom om vir my te verduidelik waarom raak die studente so bot as ‘n mens oor die Ortodokse kerk praat. Hy, soos die ander, huiwer nie vir ‘n oomblik nie: die Ortodokse sal met Hindoes, Jode en Moslems praat, maar hulle weier om met die nie-Ortodokse kerke in Rusland enige iets te doen te hê. Hulle het ‘n “ekumeniese” gesprek met ander godsdienste, maar het geen kontak met hul  Christelike geloofsgenote nie. Hulle is afwysend en selfs vyandig teenoor mede-Christene uit die Prostestantse tradisie.

Die Protestane self word by die Universiteit volledig ekumenies opgelei: baptiste, Lutherane, Evangeliese en charismatiese studente sit saam in die klasse. Een van die studente vertel my hoe sy familie  oor die tyd van vervolging onder die kommuniste in die tronk was. Daar het hy as Baptis met al die ander Christene uit verskillende kerke saamgebid. Hulle het nie gehuiwer om mekaar te ondersteun nie. Waarmee hy wil sê dat die konfessionele verskille op kritieke tye soos mis voor die son verdwyn het. Maar ook in hierdie nuwe tye van vryheid lyk my is die verhouding onder Protestante ongekompliseerd.  

Nie dat die studente hul identiteit as kerke prysgee nie. Ek verstom my oor die plekke waarvan die studente kom: Ukraïene, Kazakstan, Uzbekistan, Kirgistan en selfs lande noord van Siberë.  En daar is kerke van alle soorte en gesigte. Hulle werk met groot ywer in hul gemeentes.

Die studente en dosente is duidelik leergierig. Hulle sit almal in ‘n meestersprogram. Hulle reis ver om vir twee of drie weke klasse hier te kom bywoon. Hulle werk hard om hulself akademies verder te bekwaam.

Hulle het verder nou jong dosente wat doktorsgrade aan bekende universiteite begin kry. Een van hulle, my tolk, praat agt verskillende tale (o.a. Duits, Nederlands, Engels, Frans, Spaans, Portugees, Italiaans en Sweeds!) En sy Engels is vlot en uitstekend. Hierdie nuwe jong dosente begin ook, soos ons, ‘n paar jaar terug, droom van akademiese strukture waarin hulle vir hul eie studente in Russies kan oplei, boeke in Russies kan publiseer en die geskiedenis van hul Protestantse tradisie kan begin skryf vanuit hul eie perspektief. Hulle het nog nie eintlik ‘n akademiese tradisie nie. Hulle bring nog dosente in, soos vir my, wat dan deur ‘n tolk lesings lewer. Maar hulle voorsien die tyd dat hulle dit self sal doen. Ek is beïndruk.

Dit is ‘n groep mense met ideale.  

Maar as ek terugsit en dink oor die diepste indrukke wat ek oorhou, is dit die geloof wat ek by hulle opmerk. Hulle kom uit die harde praktyk van die kerklike lewe waar die meeste van hulle in klein kerkies in ‘n baie, baie groot land. Dit is nie maklik om die werk te doen nie. Hulle het nie die status van predikante in die groot gemeentes en kerke nie. Lyk vir my nie of hul gemeentelede invloedryk en van hoë status is nie. Hulle is deur ‘n geskiedenis van vervolging en verwerping. Hulle word nog steeds nie deur die grootste kerk in die land geag nie.

Maar daar is iets deurwinterds aan hulle geloof. Byvoorbeeld: ek sê vir die tolk wat 8 tale praat dat hy seker ‘n reuse salaris in die private sektor kan verdien. Hy antwoord dat hy die werk doen terwyl hy uitdruklik enige loopbaan in ‘n ander omgewing afgewys het. Hy voel God roep hom om teen ‘n klein salaris as dosent te werk. En as God vir hom die werk uitgewys het, moet hy in gehoorsaamheid dit doen.

Praat van om in die aangesig van God te leef.

Sunday, September 26, 2010

Om iemand anders lief te hê, is om God se gesig te sien.

Ek het Victor Hugo se Les Miserables uit 1862 (1200 bladsye) ‘n jaar of drie gelede gelees. Dit is op my lys van die 10 beste boeke wat ek ooit gelees het.

Dit is ‘n verhaal van die stryd tussen goed en kwaad. Maar, boeiend genoeg, is die boek ‘n deeglike ondergrawing en dekonstruksie van wat ons “goed” ag en wat ons as “kwaad beskou.”

Die donker figuur in die verhaal is die van die polisieman, Javert, wat Jean Valjean genadeloos agtervolg vandat hy 19 jaar tronkstraf uitgedien het omdat hy brood gesteel het vir sy suster en haar familie wat erg honger gely het. Maar elke keer ontkom Valjean op een of ander manier.

Ek onthou hoe Hugo vir Javier, die genadelose polisieman, uitbeeld as iemand wat die versinnebeelding geword het van die kwaad en die bose in sy oënskynlike gejaag na geregtigheid. Hy wil ten alle koste wet en orde handhaaf. Wette, is die boodskap van die boek, kan soms immoreel wees – en hulle wat sulke wette handhaaf maak hul skuldig aan onreg. Voordat Javier sy eie lewe neem, is dit dan ook die besef wat tot hom deurdring.

Dit alles terwyl die een wat hy vervolg, Jean Viljean, die sogenaamde skurk, die toonbeeld is van opofferende boetedoening. Na sy tronkstraf van 19 jaar en na sy ontmoeting met ‘n priester wat hom vergewe en aanspoor tot ‘n lewe van goed doen, wil  Villon inderdaad sy lewe verander. Valjean is byna ‘n Christus-agtige figuur. Hy reik uit na ander ten koste van homself. En waar hy goed doen, doen hy dit sonder om daarmee te koop te loop.

Ek en Elsje gaan kyk die middag-vertoning van die musiek-blyspel. Die musikale verwerking is ‘n popularisering van die boek en die gehoor is, soos lesers van die boek oor baie tye, stil voor die aanslag op hul emosies. Voor my sit ‘n outjie en sy meisie en kort-kort is hulle sakdoeke uit en vee hulle hul trane af. (Die boek, ‘n reuse-sukses sedert sy publikasie, is deur sommige resensente as te sentimenteel beskou).

Maar die inhoud is so sterk dat dit die stuk dra. Dit is ‘n stuk wat sing van die liefde, liefde wat ‘n mens tot oor die grens van self-behoud dryf, wat soms so genadeloos misgekyk kan word, wat soms so seer kan kry, maar wat tog, altyd, die sterker mag is.

Van die uitvoering vanmiddag bly vir my tog so baie mooi daardie pragtige lied: He is only a boy. Hier praat iemand, aan die einde van sy lewe, biddend tot God om ‘n hand van beskerming oor iemand vir wie hy baie lief is.

Die akteur het vanmiddag sy hart stukkend gesing aan hierdie lied van Jean Villon vir sy aanstaande skoonseun vir wie hy leer ken as iemand wat sy aangenome dogter met ‘n passie lief het:

And I am old
And will be gone.
Bring him peace
Bring him joy
He is young
He is only a boy
You can take
You can give
Let him be
Let him live
If I die
Let me die
Let him live
Bring him home
Bring him home
Bring him home

Die musiek en woorde wat vanmiddag van die verhoog klink is ‘n belewenis. 

Dit sing tydloos - Die ouderdom weet: as ons op pad is, weg gaan, vra ons vir hulle, die jonges, wat agterbly, van God ‘n lewe vol vreugde  -  meer nog, ‘n lewe vol vrede.

En dan, teen die einde, die ander oomblik wat my bybly:  Sê een van die karakters, “Om ‘n ander mens lief te hê is om die gesig van God te sien.”

Dit is geen wonder dat Hugo se Les Miserables een van die klassieke tekste in die wêreld-literatuur geword het.

Dit was ‘n geseënde dag vir my. Uiteindelik is my lank gekoesterde begeerte om die stuk te sien vervul.

Friday, September 24, 2010

Dit vra moed om na God te luister....


Een van Thomas Merton se bekendste uitsprake word dikwels aangehaal as:

“Net om stilweg in die teenwoordigheid van God te bly, na God te luister, op God te wag, vra ‘n klomp moed en vaardigheid.”

Hierdie aanhaling sou ‘n mens op baie maniere kom verstaan.

Maar miskien het dit veral te doen met die uitdaging om te “luister.”

Ons praat graag, maklik, aanmekaar, oor alles en nog wat. Ons dink net so vinnig. Ons gedagtes loop dikwels onbeheersd deur ons gemoed. Dit is nie maklik om op een gedagte te fokus nie en om ons woorde te tel nie. Dit is ‘n uitdaging om te dink voor ons praat:  is dit wat ons sê tot iemand se voordeel? Bou dit op of breek dit af? Is dit nodig om te sê wat ons so maklik kwyt raak?

Meer nog: lank voor ons dink en sê, moet ons luister. Ons moet ons ons oor draai na die ander een. Ons moet vir daardie persoon aandag gee. Ons moet dus stil bly. Iets in ons moet op die agtergrond raak. En as ons dan oop maak vir die ander persoon, moet ons haar of hom kans gee om te praat. Dan moet ons nie sy of haar woorde aanpas by wat ons wil sê of doen nie.

Maar ons moet regtig hoor wat hy of sy vir ons sê.  En as die persoon praat, kan dit ons voor ‘n dilemma plaas en ons uitdaag.

Ons moet onsself verloor en die ander een vind.

Ons moet op die agtergrond verdwyn en die teenwoordigheid van die ander een moet op die voorgrond raak.

Dit lyk al klaar nie so maklik nie.  Nog moeiliker is dit om na God te luister: om te hoor wat God sê en wil. Dit is al ‘n ding om jouself te vergeet, om gereed te maak om na God te luister. Maar hier kom nog iets by: wie na God luister, hoor dalk wat hy of sy nie graag wil hoor nie.

God het ‘n manier om ons na plekke te stuur waar ons nie wil wees nie.

En dan moet ons luisterend gehoorsaam.

Nouwen is reg: ““Net om stilweg in die teenwoordigheid van God te bly, na God te luister, op God te wag, vra ‘n klomp moed en vaardigheid.”

Thursday, September 23, 2010

Nagmaalsdiens - liturgie en boodskap

Ek loop, na 11 jaar, hierdie liturgiese ontwerp raak wat ek vir 'n nagmaalsdiens opgestel het.

Dit was, onthou ek, 'n poging om op 'n ander, nuwer manier die liturgie in te klee - weg van die geeikte vorme. Die oordenking is 'n poging om die formulier nuut aan te bied.

Elf jaar gelede....

Ek onthou, hoe in 'n moeilike tyd, hierdie diens vir my spesiaal was.

Hier is dit dan:




1. Votum en seëngroet.  Liturg (Ps.46:9-12)
Kom kyk wat die Here gedoen het,
watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring:
die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou,
pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend,
oorlogswaens verbrand Hy met vuur.
Bedaar en erken dat Hy God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Gemeente hardop: Amen.

Liturg
Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.

Gemeente hardop: Die Here is by ons en beskut ons. Amen.

2.  Lofsang van gemeente  Psalm 23:1 en 3
Die Here is my herder, Hy behoed my;
niks sal m’ontbreek, sy ryke volheid voed my.
So sag en soet is sy alwyse leiding
langs frisse waterstroom en groene weiding.
Hy sterk my siel en plant my swakke skrede
op vaste voet in sy geregtighede.

U salf my hoof, U maak my hart blymoedig
en vul my beker met u heil oorvloedig.
U goedheid, so onfeilbaar en weldadig,
omring my op my lewenspad gestadig
totdat ek eenmaal in Gods heil’ge woning
die troue Herder ewig eer as Koning.
(Gemeente sit)

3. Skrifgedeelte (Liturg)  Jes.6-7
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom. Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.

4.  Verootmoediging. Gemeente sing Ges.9:1
Heilig, heilig, heilig Here,
U is heilig sonder perk;
ons kom sing u Naam ter ere -
smeek dat U in ons sal werk.
Laat u heiligheid, o Heer,
sondaars harte meer en meer
tog vervul in mededoë
en ons heilig in u oë.

5.  Skuldbelydenis:  Gemeente sing Ps.130:2
As U, o Heer, die sonde na reg wou gadeslaan
wie sou een enk’le stonde voor U, o Heer, bestaan?
Maar nee, daar is vergewing altyd by U gewees;
daarom word U met bewing reg kinderlik gevrees.

6.  Genadeverkondiging.  Liturg (Jes.54:7-10)
Net ‘n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. In ‘n opwelling van toorn wou Ek ‘n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met ‘n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser.

7.   Die wet as reël vir dankbaarheid.  Gemeente sê hardop saam (Psalm 119:129-133)
U verordeninge is wonderlik,
daarom kom ek hulle na.
Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig;
dit gee insig aan dié wat nog onervare is.
Met my hele wese smag ek na u gebooie,
verlang ek daarna.
Sien my in genade aan soos U altyd doen vir dié wat u Naam liefhet.
Laat u woord my op die regte pad hou.

8.   Gemeentesang.  SOM  25
Heer, U bring vryheid. Heer, U bring blyheid -
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde/
U is die Here. U maak ons vry.

9.   Sang.  Kerkkoor. JSB2, 39

10.  Skriflesing
Ps.22:2-4,23-32.

11.  Epiklese.  Gemeente sing JSB 2 45
Spreek Heer, spreek Heer, want u kinders luister
Net u Woord, Heer, bring weer lig in duister

Spreek Heer, spreek Heer, want u kinders luister
Net u Woord, Heer, bring weer lig in duister

12. Woordverkondiging. Lukas 24.
13. Gemeentesang by die gereedmaak van die tafel  Ges.294
Ons Vader wat woon in die hemel, geheilig sy u Naam,
laat u ryk kom, u wil geskied,
soos in die hemel so ook op die aarde,
Gee ons vandag ons dag se brood
en vergeef ons al ons skulde, net soos ons vergewe,
dié wat teen ons sondig.
Laat kom ons nie in die versoeking,
maar verlos ons van die Bose.
Want U is die ryk en die sterkte en die ere,
vir ewig en ewig, amen (2x).

14. Geloofsbelydenis
15. Gebed om seën by die nagmaal
16. Bediening en kommunie
17. Lofprysing
18. Dankseggingsgebed
19. Sang:  Annali Venter - Gebed
20. Offergawes.  (Orrel: Jesus, bron van al my vreugde)
21. Slotsang: Ges.10

Ons loof U, troue Heer, ons God, ons lig, ons lewe!
Dis U wat eens aan ons die lewenslig gegee het -
U, Vader wat getrou u kinders onderhou
en elke oomblik sorg dat niks ons hier ontbreek.

22. Seën




Nagmaalsboodskap

Jesus Bind Ons aan Hom
Wanneer ons vriende vir ‘n ete oornooi, bied ons vir hulle baie meer as net kos vir hulle liggame aan. Ons bied vriendskap, gemeenskap, goeie geselskap, intimiteit en nabyheid aan. Wanneer ons sê, “Help jouself…, skep nog in…., moet tog nie jou so ordentlik hou nie…, laat ek vir jou nog inskink,” bied ons vir ons gaste nie net voedsel en drank aan nie, maar ook onsself. ‘n Geestelike band groei, en ons word voedsel en drank vir mekaar.
          Dit gebeur op die volmaakste manier wanneer Jesus Hom as voedsel en drank vir ons in die nagmaal gee, soos vir ons vertel word in 1 Kor.11:23-26. Deur aan ons sy liggaam en bloed te skenk, bied Jesus vir ons die intiemste moontlike gemeenskap aan. Dit is ‘n goddelike gemeenskap, ‘n blye verbondsgemeenskap waarin ons so intiem aan Hom gebind en met Hom verbind word soos wat die brood en die wyn intiem deel van ons word.

1.  Jesus onthou

Wanneer ons om die nagmaalstafel bymekaar kom en van dieselfde brood eet en dieselfde wyn drink, terwyl ons sê, “Dit is die Liggaam en Bloed van Christus,” word ons lewende Christusse, hier en nou. Ons geloof in Christus is nie in die eerste plek ons oortuiging dat Jesus, die Seun van God, lank gelede geleef, groot wonders gedoen, wyse leerstelling geleer, aan die kruis gesterf, en uit die graf opgestaan het nie. Ons geloof is eerder dat ons ten volle die waarheid aanvaar dat Jesus in ons leef en Sy goddelike diens in en deur ons verrig. Maar hierdie spirituele kennis van Christus wat in ons leef, is wat ons toelaat om die geheim van die vleeswording, die dood, en die opstanding as historiese gebeure ten volle te bevestig. Dit is die Geesvervulde besef van die Christus in ons wat ons verbind aan die Christus in die geskiedenis. Daarom kan ons by die nagmaal as gedagtenismaaltyd met blye ootmoed bly dink aan die lydensweg van Jesus en Sy oorwinning oor die dood en met blydskap weet dat Sy verlatenheid beteken dat ons nooit deur God verlate sal word nie.

2.  ‘n Werklikheid hier en nou

In en deur die viering van die nagmaal ervaar ons die dood en opstanding van Jesus as ‘n waarborg. Ons sien hoedat die brood gebreek word. Ons kyk hoedat die wyn geskink word. Ons smaak die brood en proe die wyn. Ons kan nie twyfel dat dit wyn en brood is nie. Net so wil God ons deur die nagmaal laat besef hoe seker ons deel het aan Jesus se dood en opstanding. Dit is asof ons self gestraf is vir ons sonde, asof onsself aan die kruis gehang en asof ons self ons geregtigheid voor God verwerf het.

3.   Jesus Lewende in en onder ons

Wanneer die twee dissipels Jesus herken toe Hy die brood in hulle huis in Emmaus vir hulle gebreek het, “het Hy uit hulle gesig verdwyn” (Lukas 24:31). Die herkenning en die verdwyning van Jesus is een en dieselfde gebeurtenis. Waarom? Omdat die dissipels besef dat hulle Here Jesus, die Christus, nou in hulle leef en dat hulle Christus-draers geword het. Daarom sit Jesus nie meer aan die tafel oorkant hulle as die vreemdeling, die gas, die vriend met wie hulle kan praat en van wie hulle goeie raad kry nie. Hy het met hulle een geword. Hy het hulle sy eie Gees van Liefde gegee. Hulle vriend op die reis het die vriend van hulle siele geword. Hulle leef, tog leef hulle nie meer nie, maar Christus in hulle (sien Galasiërs 2:20). Somtyds sê ons, “ek wens ek was daar met Jesus en sy apostels!” Maar Jesus is nader aan ons as wat Hy aan sy eie vriende was. Vandag is Hy ons daaglikse brood!
Die nagmaal is die plek waar Jesus veral vir ons teenwoordig word omdat Hy nie net die Christus word wat in ons lewe is nie, maar ook die Christus wat onder ons leef.  Net soos die Emmausgangers wat Jesus met die breek van die brood herken het, ‘n nuwe intimiteit tussen hulle ontdek het en moed gekry het om na hul vriende terug te gaan, so ontdek ons wat die liggaam en bloed van Jesus ontvang het, ‘n nuwe eenheid onder ons. Soos ons besef dat Christus binne in ons leef, so besef ons ook dat Christus onder ons leef en ons tot ‘n groep en liggaam mense maak wat saam getuienis lewer van die teenwoordigheid van Christus in die wêreld. Die apostel Paulus skryf, “Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood” (1 Korintiërs 10:17).
So vier ons met die nagmaal die gemeenskap met die lewende Here en met mekaar.

4. Die nuwe toekoms

In en deur die viering van die nagmaal word die dood en opstanding van Jesus hier en nou vir ons ‘n werklikheid. Soos ons die liggaam en bloed van Christus eet en drink, word ons sterflike liggame een met die opgestane Christus. Daarom beteken ons dood, soos Jesus se dood, nie vernietiging nie, maar oorgang tot nuwe lewe. Soos die doop die sterwe van die ou mens en die opwekking van die nuwe mens uitdruk, so wil die nagmaal opnuute weer hierdie verandering bevestig en in ons harte inskerp. Ons het nuut geword. Die Vader verwelkom ons, verlore kinders, terug in die Vaderhuis na ons in die veraf land weggedwaal het, trek vir ons die feeskleed aan. Die oorgang tot die nuwe lewe sal uitloop op die bruilof van die Lam wanneer God in die groot einde in heerlikheid sal kom om met ons ‘n feesmaal te hou. Die oortog na die beloofde Land is in volle swang! Ons is op pad met ‘n nuwe toekoms.
      
5.  Die Menslikste en Goddelikste Gebaar
Die twee dissipels by wie Jesus op pad na Emmaus aangesluit het, het Hom met die breek van die brood herken. Wat is meer gewoon, alledaags as die breek van brood? Dit is dalk die menslikste van alle menslike gebare: ‘n gebaar van gasvryheid, vriendskap, versorging en die begeerte om saam te wees. Om brood te neem, te seën, te breek en uit te deel aan mense om die tafel, kommunikeer eenheid, gemeenskap en vrede. Wanneer Jesus dit doen, doen hy die mees alledaagse en maak Hy harte brandende van vreugde.
God verskyn aan ons in die mees alledaagse dinge en maak so die alledaagse iets buitengewoons. Jesus se breek van brood is die menslikste en goddelikste gebaar. Die groot geheim is dat hierdie daaglikse en menslikste gebaar die manier word waarop ons die teenwoordigheid van Christus onder ons herken. God word veral teenwoordig waar ons veral menslik word.      Deur ons gasvryheid, versorging en kameraadskap, deur die gewone menslike gebare, herskep God ons verontmenslikte, dikwels dierlike samelewing en maak dit na die Beeld van God.  Wat ‘n vreugde! Ons eet brood en wyn, so menslik en so alledaags, maar in hierdie alledaagse, gewone dinge word God Self aan ons gegee!

Slotgebed
Barmhartige God en hemelse Vader
Ons dank U vir Jesus Christus wat ons in die gewone alledaagse brood en wyn herinner aan sy liggaam en bloed. Die eenvoud van hierdie maal, die menslikheid daarvan, is vir ons ‘n wonder, ‘n geheimenis, ‘n herinnering aan U goddelikheid. U herinner ons dat ons deur hierdie maaltyd nie maar net nog ‘n span of ‘n vriende om ‘n tafel is nie, maar tot U liggaam gemaak word. As U liggaam, word ons, feilbare sondaars, geheilig om U gesig in die wêreld te word.

Amen

Seëngroet



Gedagte van die week:

Op die Armes Fokus

Soos elke menslike organisasie word die kerk gedurig deur korrupsie bedreig. So gou mag en rykdom die kerk binnekom, is manipulasie, uitbuiting, misbruik van invloed, en naakte korrupsie nie ver weg nie.
Hoe voorkom ons korrupsie in die kerk? Die antwoord is eenvoudig: deur op die armes te fokus. Die armes maak die kerk getrou aan sy roeping. Wanneer die kerk nie meer ‘n kerk vir die armes is nie, verloor dit sy geestelike identiteit. Dit raak verstrik in geskille, jaloesie, magspolitiek en kleinlikhede. Paulus sê, “God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra” (1 Kor.12:24-25). Dit is die ware visioen. Die armes word aan die kerk gegee sodat die kerk as die liggaam van Christus die plek vir onderlinge sorg, liefde en vrede kan wees en bly.

Blog Archive