Tuesday, September 14, 2010

Skole van spiritualiteit (1)



(Franciskus van Sales / Saint Francis de Sales 1567-1622)

 
Daar is nie eintlik iets soos “spiritualiteit” nie.

Die geskiedenis wys uit dat daar ‘n ryke verskeidenheid van “spiritualiteite” is. Ek sit weer met verbasing en lees aan al die name wat Waaijman as vorme van spiritualiteit lys en waarvan ek maar min in my opleiding destyds gehoor het: die woestyn-monnikke, die Benediktyne, die bedelorde’s, die Moderne Toewyding (Thomas a Kempis), die Jesuïete, die oratoriane, die volgelinge van Franciskus van Sales, die volgelinge van Vincentius a Paolo, die spiritualiteit van Grignon de Montfort, die kongregasies van die passioniste, redemptoriste, salesiane en die nuwe kongregasie van Charles de Foucauld. Dit is maar ‘n paar voorbeelde van vorme van spiritualiteit oor die eeue heen – baie van hulle is deel van die Christelike kerk en ook van die Christelike tradisie voor die Hervorming. In hulle lê ook ons wortels en met hulle deel ons ook ‘n geestelike erfgoed. Ander weer, ken ons so bietjie uit die kontra-reformasie en uit tye van hoogspanning met die protestantisme.

Ek bekyk die name en besef dit is ‘n amper onoorsigtelike lys. En tog, skryf Waaijman, as ‘n mens hulle met mekaar vergelyk kan ‘n mens hulle begin groepeer in “skole van spiritualiteit” en ontdek jy ‘n sekere patroon wat hulle met mekaar deel.   ‘n Skool van spiritualiteit het volgens hom sekere tipiese kenmerke:

1.  Bronervaring: Iewers begin so ‘n spirituele weg, beweging, stroming of tipe by iemand wat ‘n spesiale ervaring gehad het en daardeur ‘n bepaalde reis begin of wat ‘n groot invloed uitoefen op ‘n bestaande skool. Hierdie ervaring is die bron vir die skool van spiritualiteit wat hieruit ontstaan – ook bekend as die Bronervaring. Bernard van Clairvaux het byvoorbeeld die cisterciëncers op ‘n beslissende manier beïnvloed. Die Augustynse orde is nie deur Augustinus gestig nie, maar is fundamenteel deur sy denke geïnspireer.  ‘n Skool van spiritualiteit is dus gekoppel aan ‘n “bron-ervaring”  wat ‘n baie sterk beginpunt verteenwoordig. Elke skool van spiritualiteit begin daar waar op ‘n merkwaardige manier God ‘n mens in haar of sy situasie aanraak en dit oor eeue heen kan uitkring om baie ander mense te betrek. Op die manier ontdek ‘n mens die goddelike inisiatief wat deur die geskiedenis heen telkens weer op ‘n eie manier mense en gemeenskappe gevorm en gestuur het. Terselfdertyd besef ‘n mens ook hoe God se ingrype deur mense heen plaasvind: die skole ontstaan waar Iemand op ‘n dag in God se teenwoordigheid gestaan het en waar so ‘n persoon radikaal geïnspireer word om ‘n pad van toewyding te loop.

2. Leerlinge: Hierdie bronervaring het die inherente neiging om mense daarby te betrek. ‘n Skool van spiritualiteit kry beslag wanneer ‘n klomp mense wil deel in die bronervaring, dit hulle eie wil maak en hulle lewe daarvolgens wil inrig. Deurdat mense hulle by ‘n visoenêre leier aansluit, word ‘n skool gevestig. Hulle is die eerste generasie wat lede is van die skool.

3. Konteks: Hierdie groep ontwikkel spoedig ‘n sterk eie bewussyn dat hulle deel uitmaak van ‘n eie konteks waarin hulle ‘n eie plek het. Hulle is met mekaar op reis, maar dan in ‘n spesifieke situasie. Hulle geestelike reis is altyd konkreet afgestem op ‘n omgewing waarin hulle geloof aan die werk is. Allerhande omstandighede werk saam om mense te laat besef dat hulle ‘n gemeenskap of groep uitmaak wat as ‘n skool van spiritualiteit anders is as ander groepe met ‘n eie roeping en ‘n eie taak. Hulle herken hulle eie identiteit, besef hulle vorm as geesgenote ‘n samehangende groep mense en ontdek hulle het ‘n eie plek in hul konteks en wêreld.

4. Oriëntasie: ‘n Skool van spiritualiteit ontdek ook dat hulle sekere unieke waardes en doelwitte het.  En om dit te bevorder, ontwerp hulle sekere middele. Hulle fokus daarop om dit te doen wat vir hulle belangrik geword het. Sommige is ingerig op sendingwerk, ander op onderwys, terwyl sekere skole op die versorging van siekes ingestel is. Ander weer, soos die Benediktyne het ‘n sterk band met die studie van die Bybelteks, waaruit later die lectio divina sou voortvloei. Sommige het ‘n besondere aanvoeling en gerigtheid op Christologiese momente in hul geloofslewe, terwyl ander weer ‘n sterk teologiese oriëntasie het. In sommige Katolieke kontekste is daar skole wat ‘n Mariologiese instelling het.  Hierdie perspektiewe en waardes ontwikkel op ‘n latere fase in die bestaan van ‘n skool. Daarin word die bronervaring uitgewerk en ‘n bepaalde kleur gegee. Hier ontstaan dus ‘n grondvorm van ‘n skool van spiritualiteit.

5.  ‘n Samehangende geheel. Mettertyd kom daar ‘n tweede en ‘n derde geslag in ‘n skool tot stand.  Hulle bou die grondvorm wat deur die eerste geslag in die skool gevestig is, verder uit in ‘n goed georgansieerde geheel. Elke onderdeel van hierdie geheel is belangrik. As dit versteur word, word die geheel wankelrig. Die mense in ‘n spesifieke skool besef hulle unieke karakter. Maar hulle vra ook hoe die “geheel” samehang met die groter geestelike wêreld waarin hulle bestaan. Hulle begryp dat hulle as skool byvoorbeeld een deel is van die Christendom wat uit vele sulke skole bestaan. Hulle besef hulle deel met ander skole ‘n gemeenskaplike karakter, maar hulle is ook sensitief daarvoor dat hulle verskil van ander skole. Hulle wil die verskille bewustelik bedink en dit vashou in terme van die groter geloofsgemeenskap waarvan hulle as skool ook ‘n onderdeel uitmaak.  Hulle weet die doel van hul skool is om, soos alle ander skole,  die geestelike weg te reis, maar hulle besef dat hulle as ‘n eie skool binne hierdie groter samehang dit anders doen as ander skole.

6. Toeganklikheid. Soms word in ‘n skool ‘n fase bereik waarin groot klem gelê word op die leer van daardie skool. Hoe meer die grondvorm uitgebou word in ‘n sisteem met gepaardgaande metode(s) wat verskil van ander skole s’n, hoe meer word lede van die skool geïndoktrineer om hulle “leer” as die regte een te beskou en dit aan te hang. Ditwerk weer ‘n sekere formalisme in die hand. Uiterlike dinge word beklemtoon, al is daar ook in ‘n skool pogings om hierdie “uiterlike” kenmerke toe te eien en deel van die lid se innerlike bestaan te maak. Daar is dus ook ernstige pogings dat die inhoude en vorme van ‘n skool die mens by God moet bring en nie bloot net lidmaatskap van ‘n skool moet uitspel nie.

7.  Hervorming. Soms loop hierdie proses van uitbouing uit op stagnasie en verval.  Die skool as instelling word so oor-georganiseer dat dit tot stilstand kom. Daar is nie meer ‘n sinvolle interaksie van ‘n skool met sy omgewing nie. Mense in die skool vind dat hulle nie meer deur die skool in hul geestelike reis bevorder word nie.’n Mens sou byvoorbeeld kon sê dat dit tans in ‘n Wes-Europese situasie aan die gang is.  In so ‘n fase kry ‘n mens dikwels in ‘n skool ‘n hervormingsbeweging. Dan kom die Bronervaring van die skool weer tot sy reg. Dit het byvoorbeeld met die Benediktynse orde gebeur tot Cluny sy groot hervorming begin het.  ‘n Hervorming vind plaas in tye van groot krisis wanneer ou skole van spiritualtieit tot niet gaan, mense sulke skole begin kritiseer en verlaat. Dit is tye waarin die leiers van ‘n skool nie meer effektief is nie en uit voeling met lede raak. Dit is die tyd dat ‘n skool nie meer aan sy lede geestelike vervulling bied nie en waarin hulle hul bedreig voel deur die skool waarin hul hul bevind.

Dus, besef ek as ek hierdie inligting bedink, is daar nie net vele skole en vorme van Spiritualiteit nie, maar elke skool het weer op sy eie manier verskillende fases en sub-vorme. Wat ‘n mens net weer laat besef dat die geestelike weg nooit gestol word nie. Dit is ‘n dinamiese proses. God is gedurig weer op baie uiteenlopende maniere besig om mense aan te raak.

Die geskiedenis is al ‘n groot leermeester – dit hou ons nederig, bewus van hoe anders God se reis met mense kan wees as die een wat ons self aan die aflê is. Maar dit maak ons ook nuuskierig, want juis in die anderheid is daar ook iets boeiend. En dalk iets aantrekliks – uit wat God oor die eeue heen gedoen het kan die Christendom uit die hede dalk heel belangrike moment oorneem. Die geskiedenis word op hierdie manier ‘n simbool van die rykdom van ons erfenis.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive