Sunday, September 19, 2010

Onvroomheid is die broer van vroomheid. Oor nog 'n kulturele oorlog.

Die pous se besoek aan Engeland (sien vorige blogs) word deur die Sky kanaal lewendig uitgesaai. Hulle onderbreek niks nie. ‘n Mens kan elke oomblik van die besoek feitlik ongesteurd volg.

Daar is werklik ontroerende oomblikke. Dit bly ‘n gesig om die skare mense te sien wat in sekulêre Engeland nog hul geloof op hierdie manier kom uitleef. Die kore sing mooi. Die rituele is plegtig en ryk aan betekenis. Daar is kere dat die ernstige pous wegbreek, mense se hand skud, ‘n glimlag laat blyk, ‘n babatjie op die kop streel of ‘n soen gee.

‘n Mens kry dus soms die gevoel van hoe sinvol en selfs hoe heilig sulke oomblikke kan word. Die ononderbroke, goeie kommentaar op die kanaal help ook om ‘n nie-katolieke en nie-gelowiges ingelig te hou.

Vanmiddag, na die diens waarin John Henry Newman salig verklaar is, kry Sky twee persone om kommentaar te lewer.  En dit is wanneer hulle aan die praat raak, dat ‘n mens bewus word van ánder, minder heilige en minder mooi kante van die pouslike besoek. En dit is dan dat ‘n mens ook weer ‘n gevoel kry vir die groot kultuuroorloë waarin ons ook op kerklike terrein ingetrek word.

Eers die inligting: Die een gas is ‘n priester wat iewers kapelaan aan ‘n universiteit is. Hy is eerste aan die woord. Vol ywerige entoesiasme blom hy in die glorie van al die publisiteit: hy prys die pous en, nie te vergete nie, natuurlik ook vir Newman. Hy is duidelik meegevoer deur die 80 000 mense wat gisteraand die aanddiens ter voorbereiding vir die salig-verklaring bygewoon het en die 50 000 mense wat vanoggend by die diens was. Hy brei ook uit oor drie redes waarom Newman salig verklaar word (sy vroomheid, sy geleerdheid en sy invloed).

Die ander gas is Prof. Diarmaid MacCulloch, die bekende kerkhistorikus aan Oxford Universiteit. Hy is nie ‘n liggewig nie. Dit is die moeite werd om MacCulloch se kort C.V. te bekyk: 

Professor Diarmaid MacCullochMA DD (Ma, PhD Camb; Dip Theol Oxon; Dip Arch Admin Liv), FBA, FSA, FR Hist S; Professor of the History of the Church. Diarmaid MacCulloch is Professor of the History of the Church, in the Theology Faculty; he is a Fellow of the British Academy, and co-edits the Journal of Ecclesiastical History. He has written extensively on Tudor England; his biography Thomas Cranmer: a Life (Yale UP, 1996) won the Whitbread Biography, Duff Cooper and James Tait Black Prizes. Previous publications have included "Reformation: Europe's House Divided 1490-1700", with Penguin/Allen Lane (appearing in the USA as The Reformation: a History). Professor MacCulloch can currently be seen presenting "A History of Christianity - the first 3,000 years" on BBC4 (the series will be repeated on BBC2 in the new year).

Dit is dus ‘n ingeligte persoon wat hier op die skerm verskyn. ‘n Mens is nuuskierig om te hoor hoe hy dink oor Newman se salig-verklaring.

Die fisieke plasing van die gaste is al interessant: Hulle twee is in kleiner raampies links en regs op die televisie-skerm ingelas terwyl die middel van die skerm fokus op die pous se kavalkade. Maar daardie paar sentimeter is eintlik te mete in kilometers:

Bedaard sit Prof. MacCulloch en luister na die priester se drie redes vir Newman se salig-verklaring. Toe vra die omroepster vir MacCulloch of hy dink dit is drie geldige redes. Net so bedaard as wat hy lyk, sê die professor, nee, hy dink nie dit is redes waarom iemand salig verklaar moet word nie en seker ook nie waarom Newman salig verklaar is nie. Newman se salig-verklaring is ‘n politieke handeling waardeur die huidige pous, bekend as ‘n konserwatiewe leier, Anglikane in Engeland wil oortuig om tot die Rooms-Katolisisme oor te kom.

MacCulloch maak sy punt helder en beslis.

Onmiddellik begryp ek wat hier gebeur. Verlede jaar was daar, onthou ek, groot opspraak in Engeland toe die pous Anglikane priesters uitgenooi het om by die Rooms-Katolieke kerk aan te sluit – sonder om ooit die aartsbiskop van Kantelberg op enige manier te betrek in sy uitsprake. Dit is ‘n moontlikheid wat sedert die Anglikaanse kerk se toelating van vroue in die amp en hul diskussie oor seksuele oriëntasie, vir baie Anglikane ‘n reële opsie geword het.

Hier, besef ek, woed ‘n oorlog.

MacCulloch voeg by dat die huidige pous in elk geval Newman baie selektief lees om sy eie ideologiese agenda te bevorder. Newman, sê hy, is ‘n figuur wat ‘n mens in die verlengde van die baie belangrike hervormingsinisiatiewe van die tweede Vatikaanse konsilie moet verstaan. Hy kan nie, soos blykbaar gebeur, ingespan word vir die verkrampte  agenda van die huidige pous nie. Die huidige pous maak byvoorbeeld baie van die sogenaamde liberalisme in Wes-Europa en steun in sy verset daarteen op Newman en sy jarelange kritiek op liberalisme. Maar Newman het die woord “liberalisme” nie gebruik soos die pous dit verstaan nie. En, voeg hy by, dit is ook ironies dat dit juis Newman is wat die idee van ‘n pouslike monargie bevraagteken het. Newman is nie, soos die pous hom ‘n paar maande wou voorstel, iemand wat teen enige verset of kritiek was nie. Trouens, Newman was by uitstek die persoon wat gesprek en gedagte-toetsing bevorder het.En, voeg MacCulloch ten slotte by, dit is duidelik dat die proses van salig-verklaring verder behendig gehanteer is om 'n wonderwerk van twyfelagtige voorkoms iewers in Suid-Amerika in te sluit. Sonder 'n wonderwerk kan iemand nie salig verklaar word nie.

Toe die ander gas, die kapelaan priester, in sy reaksie hierop weer allerhande lofprysinge uit op Newman se goeie vroomheid, het die professor, weer bedaard, eenvoudig opgemerk dat die priester in sy reaksie die kluts kwyt was en nie op die inhoud van McCullock se kritiek reageer nie. Die professor is ‘n helder denker.

Daar was niks strydlustig aan die professor se opmerkings nie, maar hulle was maar taai en op die saak af. Hy praat bedaard.

Kulturele oorloë noem hulle dit. In Amerika is dit ‘n groot onderwerp: kerke wat teen mekaar stry, wat lidmate van mekaar afrokkel, wat getalle aanbid, wat mekaar ondergrawe en verdag maak.

Daar is die meer obsene vorme hiervan. Maar daar is ook die bedekte, verskuilde agenda’s wat netjies agter hoë woorde en vrome ideale verberg word.

En hulle wat nie weet nie, wat op ‘n Sondagoggend die Here wil ontmoet....

Nie dat ek die gesprek geringskat nie. Trouens, ek besef onmiddellik hoe waardevol dit vir my is. Dit is tog boeiend, besef ek, hoe noodsaaklik dit is om ingeligd en helder te wees – veral as dit om godsdienstige sake gaan. En ewe belangrik is dit om steeds weer heel analities te werk gaan juis met die aansprake en groot aksies van magsinstansies soos die kerk.

Deur die gesprek is ek baie gehelp. Newman het vir my sterker na vore getree as ‘n denker wat krities staan oor magstrukture in die kerk, maar ook as iemand wat in sy spiritualiteit ‘n hervormingsgesindheid gehad het soos dié van die tweede Vatikaanse konsilie.

Ek is nog altyd verwonderd dat juis die huidige pous, wat as jong teoloog in daardie Konsilie so ‘n belangrike hervormingsrol gespeel het, in latere jare so radikaal kon omswaai. Kollega’s het dit dikwels aan my probeer verklaar dat hy later ontnugter is deur die groot sosiale omwenteling wat in die jare na die konsilie in Europa plaasgevind het. Uit skok daaroor het hy al hoe meer ‘n verkrampte houding ingeneem.   Tog begryp ek dit nie heeltemal nie. Maar waarom het ander bekende deelnemers aan Vatikaan 2 (soos Rahner en Kung) ‘n ander pad geloop? Is dit net omdat hulle in die akademie gebly het en nie in kerkpolitieke strukture opgeneem is nie? As dit waar is, sê dit ook iets van die effek van magstrukture op oop denke.

In ons opleiding, maar ook in ons kursus oor Bybelse spiritualiteit het ons baie aandag gegee aan spirituele hermeneutiek. ‘n Mens moet, in lyn met wat belangrike hermeneute en denkers sê, altyd weer bedag wees op die magsgrepe van mense wat die Bybel gebruik om hul agenda’s te bevorder of om sekere doelwitte te bereik wat vir hulle belangrik is. Selfs wanneer ons met waardering praat oor die geestelike reis wat ons geestelike voorouers afgelê het, kan ons dit doen om iewers ons eie belang te bevorder. Dit kos soms net ‘n enkele drie-minute lange debat om dit uit te wys.

Nietemin, ek wil vir myself meer inligting kry. Ek slaan dus intussen ander opinies na oor McCulloch se stellings  - net om my eie suspisie oor sy motiewe te toets.  Is McCulloch besig met sy eie private oorloggie en verteken hy dalk Newman in die proses?

Dadelik loop ek Newman se beroemde uitspraak oor die pous na: “Drink op die pous, as jy wil, maar, drink liewers in die eerste plek op jou gewete.” MacColloch is reg: As Newman só oor die pous gepraat het, is dit duidelik dat hy, die spirituele mens, kritiese denke nooit wou versmoor nie.

Gou besef ek uit my bietjie speurwerk hoe wyd die kulturele oorlog loop. Kyk bietjie hierdie artikel van Merrigan wat in die gesaghebbende Theologcial Studies (2005) verskyn het (http://goliath.ecnext.com/coms2/gi_0199-4780868/Newman-and-theological-liberalism.html). Daarin skryf die outeur dat beide verkrampte en progressiewe Christene later vir Newman vir hul saak opgeëis het. Die rede is deels Newman se dubbelsinnige uitsprake en sy eie ontwikkeling. Terwyl hy inderdaad die “gees van liberalisme” sy “lewe lank” (soos hy geroem het) in godsdiens bestry het, het hy later duidelik aanvaar dat in ‘n sekulêre staat ander godsdienste ‘n plek het. Liberalisme in hierdie sin van oopheid vir andere was vir hom nie totaal verwerplik nie. Wat hy wel gedurigdeur sterk verwerp het, was ‘n liberalisme wat godsdiens uit die samelewing tot die private domein wou uitban. Hy het nooit hierdie onverdraagsaamheid geduld nie.  

Lees ook: http://news.yahoo.com/s/csm/20100917/wl_csm/326650 vir ‘n paar ander perspektiewe.

Dis maar enkele punte wat ek in ‘n kort tydjie kon nalees.

Alles wat ek vandag weer geleer het, laat my besef dat spiritualiteit ‘n noodsaaklike band met ‘n goeie teologie het. En dat Spiritualiteit ook vra vir ‘n goeie hermeneutiek. Beide teologie en hermeneutiek kan ‘n mens op ‘n spesiale manier vry maak.

Ek bedink later die kulturele oorloë: hoe is dit tog dan moontlik dat die kerk in die feesviering rondom die toewyding van die gelowiges van die verlede, besig is met allerhande magspeletjies?

Wat ons in ons tyd uit ons hart soek is daardie ongemanipuleerde, eerlike en heilige soeke na God.Hoe kan daardie skares van mense en die wat oor die skerm kyk, hierdie inligting rym met hul verlange na oomblikke om by God te wees. Is ook hierdie verlange na God nie heilig genoeg dat niemand hulle moet manipuleer nie.

Ek dink weer aan Newman se onvergeetlike woorde: “Alles wat ek skryf, skryf ek asof in die teenwoordigheid van God.”  Watter toetssteen word dit tog nie vir alles wat ons doen nie – ook vir ons selebrering van mense wat God in die verlede opreg en ernstig gesoek het.

Terwyl ek dit skryf, besef ek hoe verweefd onvroomheid en vroomheid is. Die probleem is nie net dat die twee so ineengevleg is nie, maar dat ons ons aandeel daaraan so vroom vir onsself wegsteek.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive