Wednesday, September 01, 2010

“Ek het geskrik. Is my invloed op die jeug so sterk?” Oor Koos Kombuis se lewensverhaal

Ek het vanaand Koos Kombuis se boek oor sy lewe klaar gelees. “Seks & drugs & boeremusiek. Die Memoires van ‘n volksverraaier.” Ek lees dit tien jaar nadat dit vir die eerste keer verskyn het.


Ek begin die boek lees en word so opgevang daarin dat ek ‘n middag afneem om dit klaar te lees. En die boek bly by my nadat ek dit neergesit het en vra om oor geskryf te word.


Koos Kombuis is vir baie mense ‘n ikoon. Ek self het baie pret uit sy songs geput. Ek onthou hoe ek in 1993 deur Anton Vorster sy rasend snaakse lied oor ou tannies leer ken het. (Toe ek later 'n vertoning van Koos gaan luister het, wou hy nie toegee aan mense se uitroepe dat hy die lied moet sing nie. Later het hy toe tog ingestem en toe heel kuis die woorde aangepas tot 'n "genuanseerde": “Ek haat sommige ou tannies”!).


Sy droë, eerlike en harde humor is verder ‘n groot rede waarom mense hom lees. En dit is boeiend om deur hierdie gevatheid heen te sien hoe hy vanuit absolute vodde tot heelheid kon kom. Trouens, die goue draad van ommekeer maak die boek tydloos. Daar is iets merkwaardigs aan die menslike gees wat soveel donker kan oorleef en bly vashou aan wegbreek van vernieling. 


In sy geval het die heelheid gepaard gegaan met erkenning en gewildheid. Hy skryf in die boek hoe bekendheid sy lewe verander het. Aan die een kant het ‘n lewe in die kollig sy nadele, vertel hy, soos byvoorbeeld verlies aan privaatheid en misbruik deur bewonderaars. (Die bladsye wat hy daaroor skryf het my laat besef, weereens, hoe verganklik, maar veral hoe leeg, roem is. En dit, op sy beurt, spoor 'n mens tog mos aan om te vra - maar wat bly dan? Wat is die onverganklike? Maar dit net tersyde).


Aan die ander kant het bekendheid by hom ‘n besef gebring dat hy mense se lewens beïnvloed. Byvoorbeeld: Terwyl hy soms oor belangrike onderwerpe in hierdie boek net een reël skryf, spandeer hy byna sewe bladsye om ontsteld te vertel hoe hy, op een van die swart dae in sy lewe, '“Vrydag die dertiende” deur die polisie vir dagga gevang is. Kort daarna word hy uitgenooi om deel te neem aan ‘n openbare debat, waarin hy toe juis probeer het om die negatiewe gevolge van dagga-rook te beklemtoon. Hy skryf op bladsy 268 hoe hy vir hierdie debat by die saal aangekom het en etlike honderde studente in Rasta-klere op hom wag, “gereed om vir my te betoog” en skryf dan: “Ek het geskrik. Is my invloed op die jeug so sterk?” Dit het bygedrae tot sy besluit om mense in te lig oor die afbrekende van dwelmgebruik. Sy toespraak is, tot sy misnoeë, in die koerante só gerapporteer dat die teenoorgestelde indruk geskep is.


Sê tog wat, soos die Hollanders sou sê, dat iemand daarmee, soos hy skryf, sy toetrede tot die gemeenskap wou doen. En daarmee die vernieling van die kwesbares wil help stuit. 


Maar, besef ek, wat 'n sad skemerwêreld teken hierdie boek. Ek is eintlik ontnugter terwyl ek dit lees. By al die bewondering dat iemand soveel kan oorleef en behoue, heler anderkant kan uitkom, is daar die knaende gevoel, byna van verbystering oor wat 'n samelewing aan sy beste mense kan doen en wat mense van talent hulself aandoen. Maar ek wonder ook oor die ander kant: hoe sou die storie lyk van die predikante wat in hierdie boek so bedroe daarvan afkom? En hoe sou die storie lyk van die ouers van iemand wat 'n kind soos Koos Kombuis het en oor jare heen as kind moet vashou? Hoe klop sy weergawe met wat sy ouers beleef het en sy gemeenskap en die kerk?


Dit is tog die vreemde van ons menslike bestaan, eeue lank al uitgedruk in die tradisionele simbool van die stryd tussen goed en kwaad. Aan die een kant is daar die kwaad, die lewe wat in vernieling verstrengel raak. Die kwaad word, dink ek, nog intenser gemaak deur die argeloosheid van mense oor die donker en leegheid van die lewens van sulke mense onder en langs en by hulle. Wie is ons as soms so ongenaakbaar toelaat dat die kwesbares in ons midde in die gutter kan bly? Onderwyl alles so meedoenloos voortploeter, kyk ons onbelangstellend toe hoe sif en sif tyd genadeloos aan al die desperate lewensgrepe van hierdie kwesbare mense - tot hulle maar net teen die sif self vaskyk.


Maar dan is daar weer die ander kant, dat die kwesbares soms, uiteindelik, deur hierdie stroom van donker waters kan beur en behoue ander kant kan uitkom. Die oorwinning van die goeie, is die groot metafoor hiervoor - al is die groot mineurtoon dat vele die kans nooit vind nie en in die donker waters verdrink, soos maar al te goed en al te tragies uit voorbeelde wat Koos Kombuis in die boek noem, blyk. Tog, moet ons dankbaar wees: Die enkele blink uitkoms, die majeur-toon, al kom dit eers aan die einde, maak dan die skerp vrae stiller, skuif hulle bietjie op die agtergrond. Wat tel, besef 'n mens hier, is vorentoe gaan, nie vasval in die verlede nie.


Die eerste deel van die boek het my laatnag nog aan die lees gehou: sy hoofstukke oor “Tussen hemel en aarde” vertel met unieke, gevatte humor en ironie (die blommerangskikings!), maar ook met oneindige patos, van sy toenemend ontnugterende reis van kerk tot kerk om God te vind – al het hy, vertel hy dikwels, ook goeie dinge in kerke ervaar. Die hoofstuk begin met Paulus se “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword” as motto.


Die eerste reël van die hoofstuk lui: “O, ek het na God ook gesoek in hierdie tye.” Van kerk tot kerk het hy gereis om te soek, soos hy dit stel op bladsy 81, na die “eerste liefde, jou aanvanklike, kinderlike, ongekompliseerde ervaring van genade en ootmoediging.” Na ‘n lang tyd waarin hy weggebly het van kerke, vertel hy (bladsy 159-160) van ‘n droom waarin die simbool van Jesus as die brood van die lewe deur hom heel konkreet beleef word en waardeur hy homself as ‘n “gelowige” wil voel. In die droom sê “Liewe Jesus,” soos Koos hom konsekwent noem, ‘n mens hoef nie kerk toe te gaan nie. ‘n Mens hoef ook nie te glo nie, “jy moet My net groet in die verbygaan.” Hy vervolg: “sedertdien is ek okay met Liewe Jesus. Ek ken Hom nie vreeslik goed nie, maar ek kom beter oor die weg met Hom as met die meeste van die sogenaamde business partners.”


“Christene” (‘n woord waarvoor Koos ‘n “mental block” opgebou het) wat dit alles hoor of lees, sal seker by hul hondertalle nou vir Koos wou bekeer met ‘n eenvoudige woord: jy het ‘n lekker-geloof. Dinge werk nie só nie, hoor ek ‘n koor hom bestraf: om van Jesus iemand te maak wat jy in die verbygaan groet en met wie jy oor die weg kom lyk al te veel na ‘n “God – ons almal se ou Pel” gemoedelikheid. Of die teoloë sou vermanend met Koos kon praat oor sy “ietsisme” wat die goddelike tot ‘n vae, swewende gevoel van genoegdoening reduseer. Godsdiens as “goedvoel oor Jesus?,” sou hulle hul wenkbroue lig. Met ‘n dieper raakboor: Die “Liewe” Jesus is dan juis deur ywerige ouens gekruisig wat nie goedgevoel het nie oor hierdie heilige man se oproep – en sy eis – dat hulle maar met inspanning en selfs pyn, deur ‘n kruisweg heen, moet opoffer, prysgee, omgee vir ander, uitreik na die verworpenes en slegtes. En wat as die goeie gevoel skielik verdwyn en die swaarkry-tye, die tye sonder roem en faam breek weer los in ‘n mens se lewe? Verdwyn “God” ook dan?


Só sou ‘n mens van alle kante af met ‘n groot hamer op Koos Kombuis se siening van godsdiens kon afkom en vanuit verskillende hoeke en groepe en kerke vir Koos kon "reghelp."


En tog – as ‘n mens bietjie terugdink, na die tyd, as die boek goed gelees is, is dit asof mens by tye iets van hierdie "evangelisese" self-loosheid op meer as een vlak sien deurskemer in Koos se eie boek. Ek het lank laas ‘n boek gelees wat so brutaal eerlik is. Gits, dink ek, later, dit moes moed gekos het om alles so byna genadeloos tot die helder lig te bring. Al is die toon van die boek sardonies, ironies, by tye selfs te ligsinnig hierin, en al is daar te veel kere dat ‘n mens selfs terugskrik van die vulgêre en kru inhoude, moes dit moed gekos het om jouself so te ont-masker. Hy wat teen die einde van die boek daarop uit is om terug te keer na die gemeenskap, om die slegte dinge in sy eie lewe uit te wys, moet tog weet hoe hierdie gemeenskap venynig oor ontblote siele kan wees (soos die tollenaar in Bybelse tye al moes hoor). Hy waag baie dus, gee veel van homself prys.


Kyk verder, nou, wat skryf hy op bladsy 150:


"Ek het begin verstaan dat, as daar ‘n God was, Hy nie noodwendig spreek deur luidrugtige tale of opspraakwekkende visioene soos kultusmense geglo het nie. Hy kon ook spreek – Hy het meesal gespreek – in die stil, klein stemmetjie van die hart. My eie hart het met my gepraat, met ander woorde, God was daar buite iewers, en Hy was terselfdertyd ‘n Metafoor vir my eie beste moontlikhede. Die stuurlose skip van my lewe het weer begin koers kry, ek het onthou in watter rigting die hawe lê.”


Hierdie paragraaf, sou ons in spiritualiteit sê, vertel ‘n kernwaarheid – hoe die proses van deformasie omgekeer word, hoe die rond-doberende skip weer begin koers kry. Die omvorming vind plaas wanneer God van “daar buite iewers” kom praat met woorde wat lewe skep. Dit is, soos ons in spiritualiteitsjargon geleerd sê, “transformasie in herskepping.” Dit is ‘n transformasie wat maak dat, in Koos se woorde, daar ‘n “nuwe rustigheid” in ons kom (bladsy 150). En in die proses word ons weer herstel in ons menslikheid. Ons word weer soos God en vind ons goddelike beeld weer terug – wat ons bedoel was om te wees met die skepping (“God as Metafoor vir my eie beste moontlikhede” skryf Koos). Die boek is duidelik: die terugkeer tot heelheid kom stadig, worstelend, soekend, soos in elke geestelike reis.


Die "uitwerking" van die lewensvernuwende proses kom oor ‘n lang tyd in die afskeid aan ‘n prodigale jeug, verslawing, selfsugtigheid. Dit is ook nie net ‘n blote weggroei van die negatiewe nie. Hy word heel in sy verhouding met sy pa, byvoorbeeld. Maar eintlik het dit my ook geroer om op bladsy 149 te lees hoe hy skryf oor sy versoening (my woord) met die Bybel na 'n lang tyd van vervreemding. Hy het “mooi goed” in die Ou Testament weer raakgesien. Skryf hy met wonderlike humor: “As jy verby al die geslagsregisters kan kyk, al die arme geofferde diere en die weemoedige profete en die wederstrewige Israeliete en almal wat onrein was tot die aand toe, was daar iets daar. Ek het lief geword vir die boek Spreuke. Geleidelik het ek gewaag om weer te begin bid, kinderlike gebedjies tot (baie spesifiek) die God van die Ou Testament.” Juis deur die boek Spreuke, skryf hy dan, het “’n gevoel van heelheid” hom beetgepak. Op reis, dus, met die geestelike erfenis, met die verborge wysheid van hulle wat voor ons die pad geloop het.


Maar dit is nie eintlik waaroor ek wou skryf nie. Ek het gemengde gevoelens oor die boek, soos hierbo uitgespel. Dit is 'n boek wat elke geestelike werker moet lees, bloot net om te weet hoe lyk ons gemeenskap werklik. Want tussen die reëls van die lewensverhaal ontdek 'n mens hoe selfs in die "room" van ons gemeenskap, hoe selfs in die sentra van hoog-geleerdheid en hoge aansien, ona jongmense 'n leefstyl het wat skynbaar onaangetas bly staan naas alles wat ons so hoog as "evangelie" en as "Christelik" aanprys. En dat die boek al dertien herdrukke beleef het....  En die van ons wat in hierdie plekke bly, weet Koos Kombuis praat van wat gebeur.

Dit is ‘n boek wat wemel van boere-humor. Dis mos nie aldag dat jy lê en kliphard lag terwyl jy boek lees nie. Dit is ‘n harde boek, want dit vertel van ‘n vernietigende lewensstyl wat ander mense oor jou bring en wat jy oor jouself bring. Dit is iewers ‘n sagte boek met begrip vir en belydenis van skade wat ander aangedoen is en kan word. Dit is ‘n boek waarin Koos die rol van die alternatiewe beweging in die politieke veranderinge dalk bietjie te hoog aanprys. Ek onthou hoe ek op Grahamstad die Voëlvry aand (met Johannes Kerkorrel) gaan bekyk het omdat ek gevoel het hulle gee uiting aan ons bestaande verset teen die sisteem. Die musiek (Sit dit af! het dit oor ons stadjie uitbundig gebewe) het uiting gegee, nie aangestig nie. (Wat niks verander aan die opwinding nie, maar wat perspektief gee aan hoeveel mense buite die opstandige Voëlvry-ers om wel in daardie tyd in verset was).


Koos Kombuis se boek is verder ook miskien te eensydig, selfs onregverdig verdoemend oor die kerk, of, soos hy dit noem, God se “business partners.” Ek dink byvoorbeeld dat daar tans in sommige kerklike tradisies en in teologies ontwikkeling aan die gang is wat aan sekere basiese insigte van Koos aandag gee. Wat hy aanvoel en uitspel, reflekteer op 'n baie arm, selfs hoogs verskraalde manier ervaringe wat in die geskiedenis van die kerk ryk uitgewerk en beleef is en wat tans opnuut weer sy regmatige plek kry.


‘n Mens sou dus op hierdie maniere baie dimensies op die boek kon uitlig en ontwikkel. Jy sou oor eensydighede en onnadenkendhede en selfs gemeenheid kon praat (sy slegte, rassistiese opmerking oor Jode is regtig onvanpas). Maar dit is ‘n gesprek wat in nadenke oor spiritualiteit verder gevoer kan word.


Ek het nie beplan om oor die boek iets skryf nie omdat ek dit as ‘n ligte lees opgetel het. Dit het meer as vier maande op my bedkassie sy beurt gelê en afwag om gelees te word. Nou is ek spyt dat dit tien jaar geneem het vir my om 'n boek te lees wat ongetwyfeld 'n klassieke teks in Afrikaans sal wees - hoe onverteerbaar sommige dele vir baie vromes in ons midde ook al sal bly. 

Ten slotte: As ek dink aan my leeservaring van die afgelope twee dae, bly daar iets in my broei wat vra om uit my sisteem uitgeskryf te word. Wat my naamlik veral in die boek getref het, was hoe ‘n mens se lewe verduister kan word as jy in 'n posisie van onmag is.


Lyding, weet ons almal, is die groot toets vir karakter. Ons kan baie goedkoop hieroor praat. Lyding kan geromantiseer word. Selfs op bloot simboliese vlak domestiseer en vergoelik ons lyding wanneer ons allerhande “mooi” kruise deesdae op elke tweede muur, tot in toilette toe, uitstal. Hierdie boek het vir my weer laat besef wat lyding is en hoe maklik ons verby lyding leef. Dit vra staal om te kan oorleef as jy deur harde magstrukture fyngemaal word. Ek het by die lees van dele van die boek soms so gevoel soos ek gevoel het toe ek Bonhoeffer se briewe uit die gevangenis gelees het en besef het hoe brutale mag, uitgeoefen in die naam van ordentlikheid, mense se lewens vernietig (ek het elders hieroor geblog). Ek dink hier veral aan Koos se vertelling van die terapie wat hy ontvang het. Sy skokbehandeling, sy verblyf in Weskoppies, sy maandlange swye, van die outoritêre Rosa wat hom amper tot die permanente afdeling (“oor die brug”) laat oorplaas het en van sy mede-pasiënte is ‘n ontstellende aanklag teen die samelewing. Die humor waarmee hy dit vertel, gee 'n karakter van understatement aan hierdie gedeeltes van die boek en terselfdertyd vertel dit iets van Koos se karakter wat dit kan oorleef en met ligtheid kan relativeer. Maar juis die understatement maak die lyding soveel erger.


Eintlik is dit wat hy beskryf onvoorstelbaar. Ek het benoud geword toe ek die impak van hierdie gedeeltes bedink het.


Maar dan was daar ook weer die ander kant van die verhaal: In die onmenslikheid van wat Koos in Weskoppies as 'n "plek van genesing" ervaar het, is dit des te meer opvallend hoe die menslikheid van die twee of drie mense wat hom in die donker tyd ondersteun het as helder lig uitstraal.


Die karakters van die mense wat gekeer het dat hy in Weskoppies oor die brug van sugte geskuif is, wat hom van die ultieme kruisweg terug kon hou, bly, na die lees van hierdie opmerklike boek, my by. Hulle, voel ek, is getuies van die Lig. Hulle vertel vir ons wat egte menslikheid is. Hulle bly in my gedagtes noudat ek die boek toegemaak het en word nou deel van my eie lewensverhaal. Uit alles wat ek gelees het, het hulle die invloed op my gehad....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive