Maar só ‘n “verhouding” het baie kante.
Eerstens is hierdie verhouding vir alle mense beskore. God se beeld kom in almal voor. God gee nie aan mans ‘n goddelike beeld en aan vroue iets anders nie. En as ‘n mens beeld van God is, beteken dit summier dat ‘n mens hierdie oop, innemende liefde moet verbeeld – iets wat Christus as Seun kom onderstreep het (Gal.3:29!).
Tweedens is die mens se hele wese deur sy of haar beeldskap van God bepaal. Van die begin af, sê die Ou Testament, was mense intens bewus van ons goddelike oorsprong, identiteit en bestemming. Die hele skeppingsverhaal is byvoorbeeld opgebou na die groot oomblik as die mens geskape word. En dan volg in Genesis 1:26-27 die klimaks. Eers is daar die voorneme: “Toe het God gesê: ‘Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.’” Die Ou Vertaling lui: “Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” Deur hierdie twee beelde onderstreep die boek aan sy lesers dat die mens na God lyk. Iemand is 'n mens omdat hy of sy 'n verhouding met God het. Ons menswees kom nie uit onsself op nie. Ons identiteit is nie natuurlik nie. Dit is aan ons geskenk. Ons het dit ontvang.
Derdens: God die groot kunstenaar skep beelde. Net soos ‘n mens beelde van Rodin op ‘n afstand herken en die hand van die kunstenaar onmiddellik kan eien, net so is dit met die mens. In die mens as beeld herken ‘n mens die goddelike skeppershand. Sien die beeld, sien God....
Maar hier hou dit ook nie op nie. In die volgende vers word vertel hoe God se besluit ‘n werklikheid word: “God het die mens geskape as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep.” Deur al hierdie herhaling word die goddelike beeldskap diep in mense se bewussyn ingeprent: die lesers moet weet en ervaar dat die mens reeds van die begin af, reeds in God se gedagtes as beeld bedink is en dat dit toe in ‘n verdere stap ‘n werklikheid geword het.
Die beeld-motief is so belangrik dat dieselfde gedagte weer in Genesis 5:1-3 herhaal word – maar hierdie keer word vertel dat wat God met die skepping gedoen het, nou van geslag tot geslag oorgaan. God se beeld is so kragtig dat dit in die geslagte bly voortbestaan. Daar is iets ontstuitbaars aan God se werking. Wat God as beeldhouer begin het, werk voort deur alle geslagte heen. In die mens van alle tye bly woon God se krag. Kyk ook maar na Genesis 9:6.
Al is God die Skepper en Onderhouer en dus heel anders as die mens, lyk die mens op God en is die mens God se ewebeeld. Wat in God is, is ook in die mens. Ten spyte van die ongelykheid tussen Skepper en skepsel, is die geestelike band ‘n verhouding verhouding van “gelykheid,” ‘n baie noue, intieme verbintenis – sommige, skryf Waaijman, praat selfs van ‘n “verwantskap.” Dit is gedagtes wat ‘n mens aan 1 Petrus 1:4 laat dink – dat die mens deelgenote aan die Goddelike natuur is.
Dus, in God se verhouding met die mens as God se gelykenis, gee God krag, woon God by die mens, bind mense as God se beeld saam in ‘n gemeenskap van Godsbeelde. God het skeppingskrag in die mens ingeskape.
Die mens vind dus die sin en inhoud van sy of haar bestaan in God. Deur die verhouding met God ervaar die mens dus God se teenwoordigheid in die menslike bestaan. As God nie meer daar is nie, is die mens ‘n verlepte vaalheid, voer hy of sy ‘n skimbestaan.
Maar daar is, vierdens, meer: Psalm 8:5-8 vertel daarom van die spesiale status van die mens: “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.” Dit bevestig wat ons uit Genesis weet. Die mens as beeld van God geniet ‘n koninklike status. Genesis 1:28 praat van die mens wat as beeld oor die aarde “heers.” Dit word nog helderder wanneer ‘n mens dink hoe ‘n koning in Israel by uitstek God se beeld op aarde verteenwoordig. Volgens Psalm 72:12-14 is die koning die een wat die behoeftige red wat roep om hulp. Hy is die een wat omsien na die ellendige wat geen helper het nie. Die koning wys ook God se beeld as iemand wat regverdig, opreg en rein is (Ps.18:24-27). Daarom soek die koning ook om die verhouding met God konkreet te ervaar: In Psalm 101:2 druk die koning sy begeerte na opregtheid en reinheid uit en vra dan: “Wanneer kom U na my toe?”
‘n Mens wat omgee, straal God se beeld uit.
Maar daar is, vyfdens, nog meer: die mens as beeld van God is aan God eerbied en gehoorsaamheid verskuldig. ‘n Verhouding bring verantwoordelikheid en aanspreekbaarheid. ‘n Mens bestaan dus sodat God ‘n appel op jou kan maak. As mens staan ‘n mens bloot aan God se roeping.
Daarom kan deur die geskiedenis heen die verhouding met God ook as ‘n verbondsverhouding beskryf word. God gee seëninge, maar die mens reageer in toewyding en aanbidding.
Sesdens: Die mens het natuurlik ‘n keuse. Immers, om soos God te wees, beteken om vry te wees, om nuwe dinge te kan doen. Op ‘n dag kan God skep. So kan die mens ook doen. Maar as beeld van God, sal die mens – soos God – wys en verstandig wil wees. Altyd weer sal die mens soos God lyk wanneer ‘n mens kies om in vryheid verantwoordelik te wees. Want ‘n mens leef in ‘n wêreld waar ander om jou God se ewebeeld is – en verdien om bemin te word.
In die sewende plek: In die geestelike reis groei die mens al hoe sterker in hierdie beeld van God in. Wees, sê Jesus, soos julle Vader in die hemel. Wanneer Moses die berg opgaan in Exodus 19, kom hy in God se teenwoordigheid. As hy weer van die berg af terugkom, straal die heerlikheid van daardie ontmoeting soos ‘n glans op sy gesig. As Jesus op die berg van verheerliking is, word sy klere spier-, skitterwit. Dit is asof die mens wat naby aan God bly, al hoe meer heerlikheid weerkaats. Ons weet dit is so. Ons sien dit dikwels in die lewens van mense wat in intiemheid naby aan God woon. Ons herken in hul opregtheid, hul omgee, hul wysheid meer as ooit meer van God se beeld.
Hoe boeiend, hoe mistiek: hoe nouer ons met God verbind is, hoe helderder ons die beeld van God uitstraal, hoe mooier mense word ons!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.