Friday, September 10, 2010

Wanneer blote letters 'n mens van jouself bevry. Lectio


Terwyl ek loop en dink aan die ervarings van die afgelope week tydens die kontaksessie en die werkswinkel, dink ek soms aan ‘n opmerking van Huub Welzen in hierdie tyd. Hy, Nederlander deur en deur, praat op ‘n stadium van ‘n arbeider wat die heeldag hom of haar afsloof in ‘n fabriek en dan saans by die huis kom en in die naaste stoel insak sonder om weer vir die res van die aand iets te doen. Dag na dag verloop sy of haar lewe langs hierdie harde pad van afsloof en oppervlakkigheid: die arbeider, het hy vervolg, tel nie eers ‘n boek op om te lees nie. Niks gebeur met hom of haar nie. Hy of sy bestaan maar net.

Dit vra, sê hierdie voorbeeld, omvorming om sover te kom om ‘n boek nader te trek en te begin lees, om uit die dodelike en sielsdodende siklus van werk, slaap en weer te gaan werk te kom.

In die Nederlandse wêreld, veral in die middelklas-buurte, het dit my dikwels opgeval hoe sterk die boeke-kultuur is. Jy loop nie verby ‘n huis waarin die mure nie toestaan onder rakke vol boeke nie. Goed onthou ek hoe ons Nederlandse gasvrou tydens een van ons uitruil-besoeke ‘n hele stapel boeke in die voorportaal opgepak het. Dit was boeke wat weggegooi moes word om plek te maak vir nuwe boeke wat sy gedurig aan die koop was. Op haar lessenaar en etenstafel het daar ook hope boeke gestaan wat nog gelees moes word. In elke boek wat sy gelees het was daar papiertjies wat dele van die boek gemerk het en gedagtes neergestippel het.

Vir iemand wat deel is van ‘n boek-kultuur is ‘n lewe sonder ‘n boek feitlik ondenkbaar. Vandaar, dag ek, Huub se opmerking oor die arbeider se sloofbestaan wat ná werk net so leeg bly omdat daar nie ‘n boek is nie.

Eintlik, besef ek, is dit van alle plekke en mense waar.  Van hierdie opmerking van Huub loop my gedagtes om een of ander rede na die geestelike leesproses – ‘n sleutelaspek van ons kursus oor Bybelse Spiritualiteit. Ek was oor die afgelope paar dae verbaas om te merk hoe ver ons in ons kursus met ons studente gekom het in ons werk aan spirituele hermeneutiek en die geestelike lees van die Bybel. Ek onthou nog duidelik hoe een van hulle my raadop gebel en gevra het wat “oratio” beteken. Duidelik was hy aan die sukkel om in die nuwe begrippe-materiaal in te kom – selfs al is die model wat ons bestudeer het heel eenvoudig net ‘n uitbreiding van lectio divina. “Oratio” (letterlik: gebed)  is een van die belangrikste momente in die geestelike leesproses en speel ‘n aangrypend mooi rol in die geestelike reis. Die ander is lectio (lees), meditatio (analise) en contemplatio (die goddelike aanraking). Hierdie vier begrippe, het ons ontdek, word deur ‘n sensitiwiteit vir ‘n mens se eie voorverstaan en deur die leesproses  se uitwerking aangevul.  Al die begrippe is deur mense oor eeue heen byeengebring (bv Guigo in die 11e eeu al), omdat hulle in hul nadenke oor die geestelike leesproses seker vaste punte onderskei het. As iemand uiteindelik deur ‘n teks die Verborgenheid van God ervaar, is dit ‘n oomblik wat diep ingebed is in ‘n basiese dinamika.

Soos die kursus vorder en die studente die momente van die geestelike leesproses bemeester het, het hierdie “tegniese” woorde deel van hulle woordeskat geword.  Dit is inspirerend om te merk hoedat ons deur hierdie werk gaandeweg bevry word van die dorheid van ons intellektuele oorywerigheid in die omgang met die Bybel om weer in lyn te kom met die Bybel as goddelike woord, selfs al dring die volle implikasie daarvan nog nie altyd tot ons deur nie.

 ‘n Mens kan egter ‘n begrip ken, selfs bemeester, maar die volle impak daarvan kan ‘n mens ontglip. Dit kos tyd en inoefening dat dit ook deel van ‘n mens se geestelike mondering word. Maar as dit eers daar is, help die momente om ‘n mens ryk te maak en groei die begrippe steeds weer dieper in ‘n mens se innerlike. In gesprekke met Huub het ek die afgelope tyd opnuut weer nuwe aspekte van oratio raakgesien, wat my laat besef het dat ‘n mens ook oor die ander momente steeds weer vars en nuut moet dink. Dit is juis daaraan wat Huub se voorbeeld oor die arbeider my laat dink het. Steeds weer is ook die leesproses iets wat verdiep en meer en meer uitkring in sy impak op die leser.

“Lectio” is dan een van die momente in die geestelike leesproses. Dit is eintlik die eerste moment in die eintlike proses van lees: heel eenvoudig beteken hierdie Latynse woord om te “lees.” Voordat enige iets met ‘n mens kan gebeur moet ‘n mens, simpel gestel,  eers ‘n boek optel en dit lees. Vir ons klink dit so eenvoudig. Tel op die teks en lees dit. Ons dink nie eintlik dieper daaroor nie.

In die kursus ontdek ‘n mens egter dat dit nie so simpel is nie. Baie faktore, het ons gesien, speel ‘n rol wanneer ‘n mens lees. Dinge soos die lettertipe, die opskrifte, opsommings, oogbewegings, hardop of sag lees bepaal almal hoe ‘n mens lees, of ‘n mens goed lees, en hoe die leesproses kommunikasie vergemaklik. Dink maar net hoe gekompliseerd “lees” eintlik is: ‘n Mens begin by die eerste woord (en herken byvoorbeeld die punt en die hoofletter outomaties as tekens van ‘n nuwe moment). ‘n Woord wat ons lees skep sekere verwagtings by ons oor wat die sin gaan oplewer. ‘n Sin wat begin met: “Lank, lank gelede...” verstaan ons dadelik as ‘n aanduiding dat dit om ‘n sprokie gaan. Die volgende sinne voeg betekenis by. Ons begin ‘n sekere verloop aan die storie herken. Dan bring nuwe woorde ‘n wending in die verhaal. Op die manier lei die lees van woorde ons in ‘n wêreld van afwagting en spanning in.

Aan die begin van die jaar het ek juis ‘n leesoefening met ons studente gemaak waarin elkeen van hulle dieselfde stuk moes voorlees. Bloot net die woorde wat hulle in die leesproses beklemtoon het, het al die verstaan van die teks bepaal. Die Here is my herder kan byvoorbeeld met die klem op “die Here,” die “is”, die “my” en die “herder” gelees word – en elke beklemtoning skep ‘n ander betekenis.

Om te lees, hoe eenvoudig dit ook al mag klink, beteken dus dat ‘n teks met jou resoneer. Gewone woorde wat neergeskryf is, bring jou oë in beweging, dit kom lê in jou oor, roer in jou brein en kan selfs jou hart raak en jou lewe omkeer. Deur die doodgewone leesproses “konnekteer” ‘n teks met die mens.

Dus: Lectio is ryk aan inhoude. Dink maar aan ‘n gedig wat voorgelees word. Dit kan ‘n mens so aanraak dat jou lewe daardeur verander word. Jy neem die gedig aan, gee dit aan jou geliefde, deel dit met hom of haar. Dit bind ‘n verhouding, maak dit selfs sterker.  Net so kan die lees van die Bybel in die erediens ‘n spesiale atmosfeer help skep. ‘n Luisteraar kan deur die teks op ‘n heel mistieke manier God se aanraking ervaar.

Maar juis omdat lectio so resonerend werk, het ek hieoor verder gedink. Want as ‘n teks so deel word van ‘n mens en in jou innerlike kom sit, kom verdere prosesse onwillekeurig in beweging. Lectio, besef ek, kan op iets diepers wys as die dinge wat ons in ons kursus bedink het en wat hierbo kortliks bekryf is.

Om iets te lees is eintlik om weg van jouself te beweeg. Jou ingekeerdheid, jou saai arbeiderslewe, jou moeë terugsit in die stoel word oopgebreek wanneer jy ‘n boek optel en iemand toelaat om in die stilte van jou bestaan en in jou innerlike jou besoeker te word. As ‘n teks met jou resoneer, kom daar in jouself iets nuuts na vore. Jy kan niie dieselfde bly nie. Deur te lees moet jy aandag gee aan ander dinge as jou harde dag of die leegheid van by die huis sit en niks doen nie of passief na ‘n skermpie te sit en staar. Jy word opgeneem in ‘n ander wêreld, die wêreld van die skrywer van die teks in jou hand en van die Verborgene wat die skrywer verteenwoordig en in sy of haar teks ingeskryf het. Jy word dan ook die gas in die huis van die teks en die een wat die teks geskep het. Dit teks wat jy lees bring jou in dialoog met die een in die teks.

Elke skrywer gee iets diepers as hom- of haarself in ‘n teks. En of die leser dit besef of nie, hy of sy word met daardie dieper dinge en met die skrywer daarvan in aanraking gebring. Selfs wanneer die leser nie hou van wat hy of sy lees nie, kwaad word daaroor, raas oor die inhoud, word hy of sy deur die boek omvorm. ‘n Negatiewe reaksie is ‘n vorm van transformasie – die teks maak jou wat jy nie was nie.

Ek onthou ‘n brief wat ek lank terug in ‘n koerant gelees het.  Die skrywer het vertel hoe sy op ‘n dag ‘n klassieke boek opgetel het. Sy het grootgeword in ‘n huis waar daar nie juis gelees is nie. Aanvanklik het sy gesukkel om by te hou. En toe, soos sy bly lees het, is sy al hoe meer ingetrek in die boek. Spoedig het ‘n tweede boek gevolg, En ‘n derde. Teen die tyd dat sy die brief geskryf het, het sy wêrelde verken saam met die boeke wat sy gelees het. Haar leeswerk het haar bestaan totaal omgekeer.  Sy het wel nie uit ‘n boek-kultuur gekom nie. Maar die blote lees van ‘n teks, ‘n enkele boek, het haar in beslag geneem en op ‘n lewensreis gestuur waarin ‘n boek-kultuur by haar gekweek is en vir haar so verryk het dat sy dit in haar brief met ander wou deel.

Dit alles is ook waar van die Bybel. Ons het gewoond geraak dat ons die Bybel lees om sekere “waarhede” daarin te ontdek. Maar om die Bybel te lees, is baie meer as om “dinge” te ontdek. Wanneer ‘n mens die Bybelboeke lees, praat die stem van ‘n gelowige mens met ons. Ons laat iemand wat die Verborgene ken, toe om in ons binneste te kom. Hulle woorde oor God word God se woord en resoneer met ons. Ons is nie meer alleen nie.  Ons word deur ons lees weg van onsself geneem op pad na God toe.  Jou aandag word opgeëis vir die stem van die Ander.

Die teks word dan die vuurpyl wat ‘n mens ver verby jou dodelike bestaan neem. Lees bevry jou uit die tronk van die dodelikheid van jou eie lam ruimte. Dit laat knars die deur van die gevangenis oop: Saam met die skrywer wat sy of haar boek in jou hand gee, kom die leser in die helder sonlig uit en beleef ‘n reis-avontuur. Op die manier word ‘n ingekeerde mens omgekeer en in sy wêreld verruim.

In die Middeleeue is die Bybel weggehou van mense. Dit is boeke, is gesê, wat vir ‘n gewone mens te gevaarlik is om te lees. Hulle het geweet: die blote lees van tekste kan die kerk tot in sy fondamente skud omdat dit mense laat besef wie hulle is en in watter gevangenis hulle opgesluit leef....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive