Op die Mzanzi Kanaal is daar vanaand ‘n program oor Debs Matshoba, ‘n vrou wat verskeie kere aangehou is vanweë haar aktivisme teen die apartheid-sisteem. Ek kyk in die jongste tyd af en toe graag na die kanaal omdat nogal onderhoudende flieks daarop uitgesaai word. Boonop is dit ‘n kanaal met spesfiek Suid-Afrikaanse inhoud.
Vanaand se program is ‘n uur lank. Dit is nie vir kykers onder 16 nie. En dit heet: “Flowers Of The Revolution.”
Ek kyk aanvanklik met my vinger op die knoppie – reg om na ‘n volgende kanaal aan te beweeg. Ek het buitendien net ‘n kwartiertjie om te kyk – dan nog skryfwerk om te doen.
Iets hou my teen om die knoppie te druk. Die vrou vertel self haar verhaal. Sy onthou hoe sy na ‘n internasionale YWCA-konferensie in Ghana gestuur is. Daar het sy veral haar politeke bewusssyn sien deurbreek, hoewel sy van jongs af in die politiek belang gestel het. Sy vertel hoe sy daarna as jong vrou toenemend by studente-aktiwiteite betrokke geraak het.
Nog drie ander mense praat oor hoe hulle haar in die dae van haar aktivisme meegemaak het. Die een is haar man en dan is daar nog twee vriendinne. Uiteindelik, aan die einde vertel ook haar seun hoe hy daardie tyd onthou. En hoe hy vandag oor sy ma dink.
Tussen in is daar flitse van onrustonele: studente wat marsjeer. Dan is daar ook uittreksels van polisie wat mense jaag en vang. Die beelde is beelde wat ‘n mens met daardie tyd verbind. Hulle bring weer die herinneringe terug. Aan die einde is daar kort flitse van haar getuienis voor die Waarheidsp en Versoeningskommissie en dan ook ‘n toneeltjie by Groote Schuur waar F.W. de Klerk en Nelson Mandela voor die media optree.
Niks oordadig nie.
Matshoba, wat op die skerm nog jonk lyk, praat bedaard oor haar aandeel aan die vryheidstryd. Miskien is haar manier van praat, maar ook die gebrek aan sensasie wat my terughou om oor te skakel. Dit is een van daardie ervarings wat van oomblik tot oomblik vir jou onwillekeurig dieper intrek sonder dat jy weet waarom.
Dit is vir my des te meer opvallend omdat ‘n mens gou agterkom sy het dit nie maklik gehad nie. Sy was, vertel sy terwyl sy op die oog af nie emosioneel raak nie, 18 maande lank in ‘n tronk in eensame aanhouding. Vir agtien maande lank is sy alleen in ‘n sel opgesluit, sonder dat sy ooit van iets aangekla is of in ‘n hof verskyn het. Dit was toe moontlik, want sy is onder artikel 6 van die destydse veiligheidswetgewing aangehou. Sy het niemand behalwe haar ondervraers gesien nie. Sy kon nie besoek van familie of vriende ontvang nie.
Sy is aanvanklik vir vyf dae geboei. Sy is regop laat staan. Sy kon nie was nie. Toe is sy uiteindelik toegelaat om haar te was, onder ‘n kraan, buite op die tronkwerf waar mans gevangenes haar kon sien. “Maar”, sê sy, “al wat saak gemaak het, was die water waarmee ek my kon was.”
Sy moes daarna haar lewensverhaal skryf. Dan het hulle die papiere opgeskeur en moes sy van vooraf begin.
Baie later kon sy darem ‘n Bybel kry, vertel sy. Sy onthou hoe sy op ‘n keer baie siek geword het. Op daardie stadium, vertel sy, het ‘n “Afrikaner” vrouelid van die polisie haar gesien en gesê: “Ek gee nie om wat jou ondervraers sê nie, maar ek gaan jou nou na ‘n dokter neem.” Sy is in die hospitaal opgeneem. Ook hierdie verhaal oor ‘n gebaar van medemenslikheid gaan sit dieper omdat dit so skrynend in eenvoud vertel word.
Na ‘n jaar, na twaalf maande, is sy uiteindelik in ‘n motor gelaai met die nuus dat sy vrygelaat gaan word. Sy was vol vreugde om na die maande-lange aanhouding in eensame opsluiting, sonder besoek, weer by haar familie en haar kind te wees.
Maar die oomblik toe hulle haar vrygelaat het van detensie onder artikel 6, het hulle haar onmiddellik weer in hegtenis geneem. Die minister van justisie, Jimmy Kruger, het die opdrag gegee. Sy is direk na die tronk teruggeneem.
Toe sy jare later na haar uiteindelike vrylating voor die Waarheids- en Versoeningskommissie getuig het, het sy vir die eerste keer ooit met ander mense gedeel hoe sy gemartel is. Tot op daardie stadium het niemand ooit geweet wat met haar in die tronk gebeur het nie.
Dit alles en nog meer vertel sy bedaard, saaklik en informatief. Daar is nie woedende uitbarstings nie. Sy huil nie. Sy raas nie. Sy is nie jammer vir haarself nie. Dit was haar pad en dit was haar aandeel in die geskiedenis van die land, hoor ek haar sê.
Een keer merk ‘n mens ‘n warmte in haar stem: sy het, vertel sy, in die moeilike tye dikwels in die bekende Regina Mundi Kerk in Soweto aan byeenkomste deelgeneem. Daardie kerk was oor jare heen vir mense die enigste plek waar hulle bymekaar kon kom om te protesteer teen die bewind. “Hier,” sê sy, “in hierdie kerk met sy kruis en sy warmte, het ons tuis gevoel.”
“As ek aan hierdie plek terugdink, sê sy vir die kamera voor die kerkgebou, dan kom daar wonderlike herinneringe by my op.” Haar gesig, voel dit vir my, laat val vir ‘n oomblik ‘n masker van konsentrasie, van inhouding, van gefokusde konsentrasie. ‘n Mens kry ‘n kykie in die hart.
En net een keer kan sy nie haar gevoelens verberg nie. Dit is toe sy vertel hoedat sy na haar eensame opsluiting uiteindelik in die nuwe tronk waarheen hulle haar gebring het, weer besoek gekry het. Na maande van eensame stilte, het sy vir die eerste keer haar familie en vriende gesien. Sy vertel hoe hulle deur die oomblik oorweldig is, maar nie enige trane of hartseer wou wys nie. “Ons moes sterk wees, sodat “hulle” nie kon sien hoe amper hulle ons gebreek het nie.” Sy vertel dit ook met berekendheid: ystersterk, hierdie greep teen die donker.
Na agtien maande wat jy in volledige afsondering moes leef, gemartel is en net die afsydige teenwoordigheid van jou bewaarders beleef het, sien jy weer jou dierbares. Jy kan nie huil nie. Nie dan nie. Want jy moet sterk wees.
Maar terwyl sy vertel wie almal vir haar kom besoek het, noem sy dat haar seuntjie ook na die tronk gebring is. Hy was maar, werk sy voor die kamera vinnig uit, ‘n jaar en agt maande.
Maar die bewaarder het vir hulle gesê hulle laat nie kinders in die tronk toe nie.
“Ek moes toe deur die hoë venster na buite kyk om my seun te sien.” Die kamera val op die klein, hoë venster hoog teen die muur van die klein sel. “Vandaar kon ek vir ‘n rukkie na buite kyk waar hy gestaan het.”
Dit is die enigste keer in die uurlange film dat sy huil.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.