Wednesday, September 08, 2010

Wat glo ons? Oor God se rare, onopmerklike tekens (2)

Dit was, soos ek in gister se blog geskryf het, tog ‘n rare manier waarop die dissipels se ervaring van die leë graf beskryf is. Toe Johannes met die opstandingsoggend in die graf ingaan, het hy, soos Petrus, ook Jesus se opgerolde hoofdoek gesien. Volgens die teks het hy toe “geglo.” Die hoofdoek was dus vir hom ‘n teken wat hy verstaan het en wat hom tot geloof gebring het. Hy sou gedink het aan die sluier wat Moses weggeneem het as hy in die teenwoordigheid van God ingegaan het.


Maar wat het hy geglo?


Ons kry die antwoord deur te kyk hoe verstaan die Evangelie van Johannes die woord “geloof” wanneer dit so alleen en sonder enige verduideliking vermeld word. “Glo” beteken ‘n geestelike toestand waarin iemand ingestel is op Jesus en gereed is vir enige iets wat Jesus wil doen, skryf Schneiders. Geloof is totale afwagting op en gereedheid vir alles en enige iets wat Jesus doen.


Waar hierdie afwagting bestaan, word geloof spoedig met ryker inhoud ingevul. Kyk maar wat met Martha gebeur. In Johannes 11:25 sê Jesus aan Martha: “Ek is die opstanding en die lewe, wie in my glo sal lewe al het hy gesterwe.” Maar wat dit beteken word eers duidelik in Johannes 11:40 waar Jesus vir Martha by die graf van Lasarus gesê het: “Het ek nie vir julle gesê dat as julle glo julle die heerlikheid van God sal sien nie?” Martha het dus die inhoud van geloof eers ten volle verstaan met die opstanding van Lasarus. Sy was vol vertroue op Jesus, wetende dat Hy op sy tyd sou optree. Maar wat Hy wou doen, sou sy eers met verloop van tyd uitvind. En op die manier word sy uiteindelik gebring voor God se heerlikheid.


Dit is nou ook wat met Johannes in die graf gebeur. Johannes ontdek in die graf wat mense na Jesus se opstanding nog nie weet nie. Trouens, hier het ons nou ook die antwoord op Maria se vraag in die tuin aan Jesus toe sy gedink het Hy is die tuinier: Sê vir my waar hy is?” (Joh.20:15). Die antwoord is nou te vinde in die gesigsdoek: Jesus, die gekrusigde, is nie dood nie. Hy is nie in doeke toegedraai in ‘n graf nie. Hy is in die goddelike heerlikheid. In die graf besef Johannes by die aanskoue van die opgerolde gesigsdoek: Jesus het weggegaan en is by God in heerlikheid.


Dit word vir ons deur woorde van Jesus self uitgewys: Maria vertel in Johannes 20:17 wat Jesus vir haar gesê het: “Gaan vertel vir die broeders ek gaan na my Vader en julle Vader en my God en julle God.”


Nou verstaan ‘n mens meer waarom in Johannes Evangelie van die kruis Jesus se “verheerliking” is. (Hieroor het ek voorheen geblog). As Jesus aan die kruis “verhoog” word, beteken dit dat Hy na God opgevaar het. Hy het weggegaan om by die Vader te wees. Hy het soos Moses van ouds die gesigsdoek afgehaal wanneer Hy in die teenwoordigheid van God gegaan het. En dit behels sy bestaan in heerlikheid.


Jesus se dood is nie deformasie nie. Dit is transformasie tot ‘n goddelike bestaan. Johannes se geloof word gevul met die motief van heerlikheid. Hy herken Jesus se mag en stel hom oop vir wat Jesus nou sou doen.


Maar daar is iets diepers aan Jesus se weggaan na die Vader wat aan die dissipels eers later duidelik word. Hulle geloof word algaande nog verder verdiep en ryker. Die dieper betekenis word verder duidelik as Jesus aan sy dissipels verskyn en sy hande en voete aan hulle wys (bv Johannes 20:18). Sy opstanding en die afrol van die doeke is teselfdertyd Jesus se “terugkeer” na sy dissipels. Dit sou Johannes later ook weer erken. Hy sou besef dat Jesus wat by die Vader in heerlikheid is, kom terug na sy volgelinge. As sy dood vertel van sy heerlike intrede by God, vertel sy opstanding van sy troostende terugkeer na sy dissipels.


Ook hier is weer ‘n verdere transformasie: Jesus word nou op ‘n nuwe wyse weer deel van die lewe van sy dissipels. Geloof is nou gerig op die teruggekeerde Jesus.


Maar daar is nog iets meers: Jesus keer terug en bly by sy dissipels, maar maak hulle tot sy nuwe teenwoordigheid in die wêreld. Waar die dissipels is, daar is Jesus in hulle midde en maak Hy hulle nuut. Hulle word ook getransformeer tot ‘n nuwe bestaan. In die betekenisvolle vers (Johannes 20:22) blaas Jesus op hulle en gee hulle die Heilige Gees. Nog baie ander tekens, lees ons ook in Johannes 20:30 het Jesus in hul midde gedoen. Geloof word aldus geloof in die lewende teenwoordigheid van Jesus wat magtig in die midde van die dissipels aan die werk is. En dit werk radikaal omvormend in op die lewe van hulle wat Jesus lief het: Die gelowiges word nou die gemeenskap in wie Jesus in die wêreld op ‘n nuwe wyse teenwoordig is.


Geloof is ‘n proses: al hoe meer, in ons verlange na God, ons opsoek van die graf, in ons donker tye, word ons verras. En soos ons uit die verrassing, tastend in ons verlange om ‘n dieper verstaan van God, aangeraak word deur ‘n heerlike boodskap, kom ons maar weer tot immer nuwe ervaringe van die plek van die goddelike in ons wêreld. Op die manier verdiep ons geloof soos ons telkens nuwe dade van God raaksien en ervaar en in ons innerlike opneem. Ons word deel van ‘n mistieke proses.


En uiteindelik word hierdie soeke na God en die antwoorde van God so deel van ons bestaan, dat ons die gesig, die beeld van God aanneem. Dan word ons God se gesig in die wêreld. God se heerlikheid kom in ons woon en die lig daarvan begin deurskyn. Ander kan ons sien en hoor en beluister en ervaar en deur ons praat oor God nader kom aan die Verborge dinge. Geloof groei in ons en laat ons dieper wortelskiet in die werklikheid van die goddelike dinge. Die geestelike reis is vol trane, vrae en verlangens. Maar in al hierdie dinge is God besig om ons te verras en om ons te begelei tot volwassewording - as ons onsself maar net oopstel vir die werking van die Verborgene in ons lewe. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive