Wednesday, September 22, 2010

Die mistieke karakter van die kerk. Bybelstudie oor Openbaring (13)



Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien. Openbaring 1:12. 

Openbaring is ‘n boek van visioene. Sommer al in die eerste hoofstuk van die boek is daar ‘n inleidende gesig. Johannes hoor ‘n stem, draai om na die stem en “sien” dan sewe staanlampe.

Dit is opvallend dat sy oog heel eerste op die sewe lampe val. Sy lesers sou sekerlik gedink het aan lampe soos hierdie uit die Ou Testament. In Exodus 37:17-22 word ‘n rykversierde goue lampstaander met sewe arms as deel van die ark beskryf. Ons weet uit 1 Konings 7:49 dat daar tien goue lampstaanders voor die Allerheiligste in die tempel was. Nog sterker sou Johannes se lesers kon gedink het aan Sagaria se visioen (Sag.4:2, 10) van ‘n goue kandelaar met sewe lampe. Hier brand sewe lampe dus almal uit dieselfde oliebron. Sagaria hoor in Sag.4:10 dat die sewe lampe is die “oë” van die Here wat oor die hele wêreld kyk. God sien alles, weet alles.

Maar Johannes sien in sy visioen iets anders. Hy sien nie een lampstaander met sewe lampe nie. Hy sien sewe lampstaanders. Hy neem ‘n beeld oor uit sy lesers se verre verlede en hul godsdienstige tradisie, maar geen daaraan ‘n eie betekenis wat nuut en vars is.

Maar hy maak seker dat hulle hierdie simbool nie misverstaan nie. In Openbaring 1:20 hoor Johannes naamlik die “verborge” betekenis (in Grieks: letterlik die “misterie”) van die sewe lampe.

Hulle simboliseer die sewe gemeentes. Duideliker kan dit nie gemaak word nie. Die sewe gemeentes word simbolies as lampe uitgebeeld.

Waarom beskryf Johannes hulle so?

Om dit te verstaan, moet ‘n mens onthou dat ons Openbaring steeds weer as ‘n boek lees wat nie net na die Ou Testament verwys nie, maar dit is ook ‘n boek wat ten nouste verbind is met Jesus en Jesus se leer. In Openbaring kry ‘n mens duidelik tradisies wat op Jesus se prediking teruggaan.

Die beeld laat ‘n mens onwillekeurig aan Matteus 5:14-16 dink. Jesus beskryf daar sy dissipels as die lig van die wêreld. Hulle is soos ‘n lamp wat ‘n mens op ‘n lampstaander sit en lig vir almal gee. Daarom moet hulle hul lig voor mense laat skyn dat hulle gelowiges se goeie werke kan sien.

Die lampstaanders as simbool vir die sewe kerke wys dus op die gemeentes wat hul getuienis vir God lewer. Net soos wat Jesus die lamp sal wees, soos blyk uit Openbaring 21:23, net so is volgelinge van Jesus lampe.

As Johannes sy gesig sien, sien hy dus heel eerste die kerk: sewe gemeentes wat brandende lig versprei – wat hul getuienis getrou bly lewer. Kan ‘n mens genoeg aan hierdie beeld kry? As Johannes aan die identiteit van die kerk dink, sien hy voor hom nie ‘n klomp tevrede, gelukkige mense wat vir mekaar omgee nie. Hy verbind die identiteit van die kerk met lig wat in die wêreld gekaats word. Die gemeente bestaan ter wille van ‘n getuienis wat hulle in getrouheid aan God in ‘n wêreld van onheil en gebrek moet lewer.

Maar wat nou volg is ook verder insiggewend. Nadat Johannes die sewe lampe gesien het, sien hy “tussen hulle” die Menseseun. Ons sal nog sien hoe sterk en magtig is sy eerste visioen van die Menseseun. Die punt is hier dat Johannes se visioen uit twee voorwerpe bestaan: aan die een kant “sien hy” die sewe gemeentes en aan die ander kant het hy ook ‘n gesig van die Menseseun. Baie kommentatore fokus op die Menseseun – en dit is goed so, want die visioen handel grotendeels oor sy wonderlike voorkoms. Maar hier kan ‘n mens maklik eensydig raak. Die Menseseun is nooit op sy “eie” nie. Dit bly veelseggend dat Johannes juis nie by Hom begin nie, maar by die sewe gemeentes.

Twee fokuspunte dus: Die Menseseun en die sewe gemeentes.

Maar selfs dit is nog te min gesê. Want Johannes integreer die twee. Die Menseseun is “tussen” die sewe lampe. Die sewe gemeentes is nie alleen nie. Jesus is in hul midde. In hul getuienis as die lampe wat hulle na die wêreld uitstraal, vind hulle hul krag in die teenwoordigheid van Christus. Daar is ‘n intieme verhouding tussen hulle. Jesus vind sy identiteit in sy bestaan vir die kerk.

Christus se verhoogde status as Menseseun beteken dat hy vir die kerk leef.

Merkwaardig: die kerk is daar om van die lig te getuig. Maar die Menseseun is daar om vir die kerk die lig te gee.

En daar is selfs nog meer: die eerste brief wat Johannes saan die gemeentes skryf, gaan aan Efese – die tuisdorp van Johannes. En hierdie brief begin met ‘n verwysing na Jesus as die skrywer van die brief “wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe “rondgaan.” Daarmee brei Johannes sy beskrywing van Openbaring 1:12 verder uit. Jesus, tussen die sewe lampe, is ‘n dinamiese teenwoordigheid. Hy vul die ruimte van die gemeentes met sy aktiewe, reddende werk.

Jesus is daar vir die kerk. Dit beteken dat Jesus die kerk bemagtig.

Ons sal die sewe gemeentes in Openbaring 2-3 in detail van nader leer ken. Hulle word daar in al hul wel en weë geskets, met al hulle sterk punte en hul skete. Maar van die begin af maak Johannes duidelik dat daar ‘n noue band tussen Jesus en die kerk is. Waar die kerk is, daar is Jesus. En Jesus is by die kerk teenwoordig as die Een wat gedurig na hulle uitreik, wat in hul midde wil bly, wat onder hulle wil woon – en, meer nog, wat onder hulle wil werk.

Dit is die verborgenheid: die kerk is nie maar bloot ‘n versameling van mense nie. Die kerk is mense wat lig uitstraal na buite, maar dit is gekaatste lig. Die heerlikheid van Christus wat ons in die visioen sal leer ken, brand deur die gemeentes. Hulle lig is Christus se lig wat in hulle brand.

Jesus en die kerk is onafskeidbaar aan mekaar verbind. Daar is ‘n intieme verbintenis tussen die goddelike en die menslike. Waar Christus onder mense woon en werk, transformeer dit hulle ingrypend tot getuies.  

Ek vind dit nog die heel merkwaardigste dat Johannes se visioen begin met die sewe lampstaanders. Ons dink altyd – eers God en dan die mens. Maar Johannes sien die kerk eerste. Dit is waarom alles gaan – om die kerk.Só asof Johannes nou al vertel wat hy in die res van sy boek keer op keer gaan herhaal. Die kerk is vir hom wat Paulus die liggaam van Christus sou noem. Wie die kerk sien, sien Christus. Wie Christus wil sien, moet die kerk bekyk.

Die kerk word dus dier ruimte waar Christus in Verborgenheid kragtig teenwoordig is.

Dit is ‘n identiteit wat ons nie genoeg kan bedink nie.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive