Saturday, September 04, 2010

Jesus is nie hier nie, tog is Jesus teenwoordig.... Oor geloof in die mistieke teenwoordigheid van God.

Johannes se Evangelie het die motief van die ewige lewe as ‘n goue draad wat in die tekstuur van die teks ingeweef is:  Die bekende Johannes 3:16 verwys byvoorbeeld na die Menseseun wat verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. (Sien ook 3:36; 5:24, 26, 29, 40; 6:33, 35, 48, 51, 53, 54, ens).

Die berig oor Lasarus se dood in Johannes 11 is ‘n sleutel-teks as ‘n mens oor die ewige lewe wil dink. Wanneer Jesus Lasarus uit die dood opwerk, gebeur dit in die konteks van Jesus se eie dood – sy teenstanders wil Hom doodmaak. Johannes 11:8 vertel dat die Jode Jesus wil stenig en Johannes 11:53 merk op dat hulle sedert Lasarus se dood “vasbeslote” was om Jesus dood te maak. Johannes wil dus sê: alles wat ‘n mens in jou bestaan as gelowige oor die dood ervaar, moet ‘n mens in die konteks van geloof in Jesus bekyk. Jesus, Self die Een wat in die dood moes gaan, kan daarom vir die gelowige ‘n totaal ander perspektief op die dood gee. Geloof werp lig op ons ervaring van die dood, transformeer ons ervaring daarvan. Terselfdertyd hou geloof rekening met die werklikheid van ons ervaring van die dood. Om te glo, beteken nie dat ‘n mens die dood ontken nie. Die dood is ‘n harde werklikheid (Joh.11:14) – dit is iets wat ‘n mens vierkantig in die oë moet kyk.

Ons menslike bestaan staan in die teken van die dood, wil Johannes eintlik vir ons vertel.  Dit konfronteer ons met allerhande vrae: Veral vir mense wat uit geloof lewe, is die dood ‘n groot raaisel. God het tog die mag, dink hulle. Jesus genees dan selfs die blindes. Saam met die Jode by Lasarus se graf, vra gelowiges van alle tye: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

In hierdie konteks van mooddadigheid kom Jesus met die sagte woorde oor die ewige lewe.  ‘n Mens, sê Hy ten minste twee keer in Johannes 11:4 en 40 moet die dood van Lasarus sien as ‘n geleentheid waartydens God se mag bekend kan raak. Lasarus se siekte loop nie op die dood uit nie, maar op God se wonderdade (vers 4). Mense soos Maria sal deur die dood van Lasarus tot geloof kom. Dus: as die dood ‘n verskriklike werklikheid in gelowiges se lewens is, het die dood nie meer die finale mag nie. Ons moet hier onthou: mense het gedink hulle kan Jesus aan die kruis dood maak. Maar die kruis was uiteindelik die plek waar God se heerlikheid en mag geopenbaar is.

Nou hiermee verbonde is die motief van afstand tussen Jesus en gelowiges: Jesus is geskei van Martha, Maria en Lasarus. Daar is afstand, distansie. Maar tog, skryf Johannes, weet Jesus alles (bv Joh.11:11!). Al is hy nie daar nie, is hy daar! Lasarus se verhaal is bedoel om gelowiges te herinner dat afstand nie afwesigheid beteken nie. Selfs wanneer ‘n mens die dood ervaar, is ‘n mens nie sonder Jesus se teenwoordigheid nie. Selfs al sterwe ‘n mens, leef jy. Wie lewe en in Jesus glo, sterf nooit nie! Vandaar Johannes 11:25 – een van die mees mistieke woorde ooit geuiter: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy of sy ook. En elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” 

Teen hierdie agtergrond verstaan ‘n mens hoe diep Marta se opmerking in Johannes 11:21:22 is. Sy druk daarmee haar geloof uit: Aan die een kant sê sy: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.” Maar onmiddellik voeg sy by: “Maar selfs nou weet ek dat God vir U alles sal gee wat U van Hom vra.”

Maar nog mooier is Martha se reaksie op Jesus se mistieke woord dat Hy die osptanding en die lewe is. Jesus vra haar: “Glo jy dit?” Sy antwoord: “Ja, Here. Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Om dit te kan waardeer, moet 'n mens haar maar net vir 'n oomblik met Tomas vergelyk.

Kyk net hoe skuif die vertelling hier in Marta se belydenis: Dit gaan in die teks nie meer oor Lasarus se dood, oor die ewige lewe nie, maar oor Marta en Jesus. “Glo jy dit” vra Jesus vir Marta. Wat doen jy hiermee? En Marta se reaksie het net een fokus: “Ja, Here, ek glo vas dat U die Gesalfde is wat na die wêreld moes kom.” Ek en U, U en die wêreld. Ons intieme band is wat God wil vasknoop, leer ons hieruit. Ons ontdek: Al is Lasarus dood, is U op pad na hom toe. Al treur ons oor die dood van ons beminde broer, kom U na ons toe. Al is U nie by ons nie, is U na ons op reis, op pad na die wêreld toe. 

Geloof is die begin van hierdie episode. Maar dit is ook die goue draad in die verloop van die episode. En dit is uiteindelik ook die uiteinde van alles wat gebeur. Geloof in Jesus as die een in wie God magtig aan die werk is – ook in sy stryd teen die dood. 

Jesus is die toonbeeld van die gelowige vashou aan God: As Lasarus opgestaan het, is daar die oratiewe moment (Joh.11;41). Dan kyk die Seun op, bid tot sy Vader en loof Hom vir die gebedsverhoring – want, mense wat hierdie oomblikke ervaar het, sal weet: God is dit wat die magtige daad gedoen het. En, vertel Johannes 11:45: Baie van die omstanders het geglo. 

Die hoofstuk, soos Schneiders tereg skryf, eindig taamlik stomp. Hoekom, wonder ons, hoor ons niks van Lasarus nie? Jesus praat nie eers met hom nie. Hy sê net vir almal hulle moet die doodsklere van hom afhaal dat hy kan huis toe gaan! Duidelik wil Johannes dus nie eintlik die verhaal vertel van Lasarus se opstanding uit die dood nie, maar eerder wil hy skryf oor geloof wat moet bly vashou aan Jesus se teenwoordigheid onder ons, ook in tye van rou en sterwe. Geloof laat hom nie deur oenskynlike "werklikhede" oorrompel nie.

Maar dit is nie die rede waarom ek graag hierdie verhaal van my wou skryf nie. Die eintlike rede is die boeiende manier waarop Maria aan die orde kom: Marta, die stoere gelowige, wat twyfel, maar tog so “vas” glo, gaan na haar geloofbelydenis die huis in en sê “saggies” vir haar suster Maria, “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou” (Joh.11:28), wat Maria dan, volgens vrers 31”vinnig” doen.

Maria kniel by Jesus se voete en sê dieselfde woorde as haar suster: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie” (Joh.11:32). Dit is dan dat Jesus vir Lasarus uit die graf roep, sonder om met haar, soos by Marta, ‘n hele gesprek daaroor te voer. Want, lees ons, Jesus is oorweldig deur Maria se smart - soos die teks ons twee keer vertel. In vers 33 word gesê dat sy gemoed vol geskiet het en in vers 35 dat hy gehuil het.

Die rou oorweldig nie net vir Maria nie. Die Seun se trane, skryf Schneiders, is Jesus se egte meelewing in Maria se gebrokenheid. In sy mees menslike oomblik in Johannes Evangelie waarin hy so dikwels as die heerlike Seun van God is beskryf word, wys Jesus hoe Hy as mens pyn ly in die aangesig van die dood. Die dood is verskriklik, sien ons by hom. Dit bring onuitstaanbare pyn.

Geloof, skryf Schneiders, het niks met wanhoop te doen nie, maar is geen vreemdeling aan trane nie.

Maria versinnebeeld vir ons die storms wat geloof moet trotseer. Keiharde lewensstorms. Daar is nie kort paaie vir die geloof nie. Wie glo, staan met albei voete geplant in 'n barre aarde. 


Dit sou nie die laaste keer wees dat die dood vir Jesus met pyn geslaan het nie. Net enkele verse verder, in Johannes 12:27 praat Jesus oor sy eie dood en sê: “Nou is ek diep onsteld. En wat moet ek sê: ‘Vader red my uit hierdie uur?’ Maar juis daarvoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader verheerlik u Naam!” En op hierdie laaste gebed, op hierdie oratiewe oomblik, volg die kontemplasie: “Toe het daar ‘n stem uit die hemel gekom: ‘Ek het my Naam verheerlik’ (!), en ek sal dit weer verheerlk.’”

Martha en Maria, gekonfronteer met die werklikheid van die dood, oorweldig deur vrae en deur rou, kyk na die Leermeester en sien in Hom die groter mag as die mag van die dood. Gelowig hou hulle vas aan Jesus as die Een wat in hul dorp en huis kom wys wie God is. Maar terselfdertyd beleef hulle die verborge ervaring dat hierdie goddelike Seun volkome deel word van hul menslike bestaan soos dit terugsteier voor die dood.  Hy, besef hulle, is by hulle – nie net as die Een wat die dood oorwin nie, maar net so belangrik as die Een wat hul pyn begryp en – ook deel.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive