Sunday, September 12, 2010

Egte menslikheid. By die herdenking van 11 September.



 












Vandag, op die Geskiedenis Kanaal, kyk ek ‘n program oor die11 September aanval op die Wêreld-Handelsentrum in Manhattan wat my weer oor die jare heen terugsleur na daardie slag in die hart van die mensdom.

Die program is meestal sonder veel woorde begelei. Geen kommentator of verteller wat ‘n teks voorgedra het nie. Niks musiek om te luister nie. Die hele tyd speel daar oor en oor beelde wat van verskeie hoeke geneem is en wat genadeloos ‘n mens weer rou skaaf oor die matelose ellende wat mense aangedoen is.

Soms hoor jy tog wel hoe reddingswerkers met mekaar praat, of luister jy na afgemete, moeisame, maar beheerste kommentaar van televisie- en radio-stasies. Soms is daar  telefone wat desperaat lui, alarms wat kermend loei, mense wat angstig uitroep en gille wat gedurig opklink – meestal  uitroepe na Bo. Ander kere is daar weer net stilte.

Honderd en twee minute wat die wêreld verander het – sê die programtitel. Mense sal nooit weer dieselfde wees nie, wil hulle wys.  En om dit te onderstreep word nou en dan die presiese tyd op die skerm geflits –  10.28.01 / 10.28.02 / 10.28.03, rol die sekondebreuke onbeheersd daarop aan.

Dit neem minder as een minuut, sien ek, vir die tweede gebou om inmekaar te stort.  

Bloot visueel is die apokaliptiese tonele van vernietiging genoeg om die Bybelse boek Openbaring vaal te laat lyk. Kilometers ver sien ‘n mens die gitswart wolke van die inploffende geboue wat donker-dreigend uit die groot stad se hekseketel van geweld na bo beur. Twee keer rys hulle, mitologies,  soos reusagtige wilde honde oor Manhatten wat gierig die weghardlopende dwerg-mensies insluk. En in hul spoor laat die wolke, vreemd genoeg, ‘n vaal doodse stofkleed na. Wat oorbly is ‘n toneel van grieselige verlatenheid, ‘n woesteny, so asof vir oulaas net seker gemaak word dat niks – en ook niks dan – herinner aan die twee geboue as die meester-simbool van welvaart in ons wêreld.

Onwillekeurig flits vir ‘n oomblik deur my ‘n gedagte aan die Titanic.

Mense, op en ver van die toeneel, staan verstar, huil met kwalik beheerde emosies, bel hulle gesinne om ‘n kort woord van gerusstelling oor te dra, vertel gedempt hul verhale van ontsnapping, ontruim angstig hulle huise en kantore, sluit nog selfs hulle winkels toe, maak hulle vinnig uit die voete, hardloop voor die naderstormende wolk van die neerstortende geboue uit, neem video’s en staar gedurig weer, asof getoor, na die toneel waar alles gebeur, stroom oor die brûe weg van die eiland.  Van die krioelende geel Manhattan taxi’s, busse en treine en woelige mense-massas op ‘n goeie werksdag is daar geen spoor nie. Die strate is leeg juis aan alles wat ‘n mens sou wou gebruik om jou vinnig uit die voete te maak, met net reddingsvoertuie wat spokerig oral geparkeer staan, klein vratte teen die groot toneel van twee brandende geboue wat dik vulkaanagtige, wolkemassas  lug in brand asof hulle, broeiend uit ‘n reuse krematorium, in hul grote die dood van duisende mense aan die omstanders wil uitspel. Kort-kort strompel iemand uit die wolk uit of straat-op, al hoesende, verstikkende, oortrek deur dik lae van stof. Ek onthou weer, is toe met ongeloof, ook ontsetting, saggies gesê, dat mense by vensters uitgespring het, klein strepies angs teen die lang, hemelwaarts-getrekte lyne van die vensters wat altyd so sierlik die twee aartsvaderlike trotse geboue se aangesig gestroomlyn het.

En, brei dit my oog, daar is, soos ‘n herhalende motief, steeds weer die hand, verdwaasd, gehou voor die monde van die toeskouers. Mens na mens na mens staar na die rookwolke bo hulle hande wat hulle op hul monde lê. Dit is ‘n gebaar, byna hipnoties, van ontsetting, terugskrik, amper van gebed na uitkoms.

Ek het al vergeet, besef ek, hoe ons daardie dag beleef het. Ek het nie meer onthou met watter emosies ek in die Tygervallei sentrum in die televisie-winkel se toonvenster nie wou sien hoe die tweede gebou ineenstort nie:  eers daardie toring bo-op die dak, vir ‘n oomblik weifelende, asof dit homself deseperaat wil keer om ineen te val, maar wat toe in een fel val na onder toe boor en, al verkrummelende, as ‘n verskietende wolk, die hele gebou met hom saamsleur die dieptes in. En toe was dit vergby, met net die kolkende, malende swart wolk wat na bo uitwyk.

Ek het vergeet van die angsgille, die histeriese en vlugtende mense , die desperate uitroepe van die televisie-kommentators, die tonele van ‘n apokalips.

Die tyd het die herinneringe laat vervaag.

Sekonde vir sekonde se beelde in die program bring al hierdie herinneringe terug en hervertel die trauma. Dit is amper of die herbelewing, die kyk na alles vanuit verskillende hoeke, die oorspronklike ervaring nie net terugroep nie, maar intenser maak. Ek wil-wil my hand op my mond hou.

Wat my laat besef hoe waar dit is: daardie dag is diep in die kollektiewe geheue van die mensdom ingeëts.

Twee dinge bly my aan die einde van die program by. Die eerste is die brandweer-mense wat heel saaklik, byna ongeërgd vir nog ‘n dag se werk by die gebou opdaag en regmaak om hulp te begin verleen. Hulle is feitlik almal nog jong, jong mense in die fleur van hulle lewe. Telkens weer hoor ‘n mens hoe een van hulle uit die brandende gebou aan sy kollega’s op die grond verslag doen oor wat hy doen en waar hy is. Dit is koel kommentaar, feitelike mededelings: Die hysers werk nie, vertel hulle, daar is gewonde mense wat hulp nodig het, die verdieping brand, mense word ontruim. Kraak-kraak hoor ‘n mens hul stemme oor hul walkie-talkies: hulle word immers betaal om hierdie risiko-werk te doen.

Dit is soveel skrynender om na hulle te luister terwyl ‘n mens weet dat die gebou binne minute gaan ineenstort. In die onmenslikheid van die traumatiese dag is hulle stemme, hulle nugtere aan-die-werk-wees skerp lemme wat donker haat in repies sny en helder ligpunte wat deur die swart nyd vlammetjies van goedheid laat brand.

Hulle, in menslikheid, in dade van omgee, gee hulle self.

Die tweede ding wat by my bly is die tonele aan die einde van die program nadat die tweede toring ook ingeval het.  Pure verdwasing. Niemand praat nie. Niemand gee bevele nie. Die reddingswerkers loop op die toneel rond – ‘n maantoneel, ‘n kaas-landskap met kraterskeure, gemerk deur rommel-hope en deurtrek met eindelose, treurige verlatenheid. Hulle gesigte is strak, op die oog af sonder veel emosie. Maar hulle loop met hangskouers, hul lyftaal is dié van begrafnisgangers, hul stilte is die stilte van rouheid. Hulle staan of sit doelloos rond. Stof, rommel en stukke van die gebou omraam hul verslaentheid. Vaal as is plek-plek as doodskolle oor hul klere uitgeskud. Waar ‘n toringgebou ‘n uur of twee tevore nog fier en hoog die lug in gerys het, sien hulle nou, is daar skaars ‘n verdieping rommel wat oorbly. Hulle dink nie eers daaraan om te begin soek na oorlewendes nie. Niemand begin grawe, roep of organiseer vir ‘ n soektog nie. Hulle dwaal rond, asof in langsame pas in ‘n maanwandeling. Hulle weet – hulle besef van hul mense wat in die gebou was om ‘n vuur te blus en reddingswerk te doen, hul kollega’s van elke dag, vriende, mense wat jonk en sterk was, op wie hul families tuis sit en wag, is weg, verpletter onder die rommel om hulle. Die droefheid, verberg onder hulle verslae stilte, kan nie sterker uitgebeeld word nie. As die mens se hart breek...

Dit is, besef ek na die program, die ou-ou verhaal van die mens se lewensreis, soos die Boek ons leer: daar is ‘n tyd om te lag en daar is ‘n tyd om te huil.

In die huil-tyd is die tyd ryp om terug te sit en te dink wie ons is.

Ek onthou dat ek ‘n week of ses na die aanval in Manhattan was waar ek by die toneel ‘n draai gaan maak het.  Ons het soms, tydens die kere dat ek by Yale was, Manhattan toe gegaan en ook met die kinders in die gebou tot op die boonste verdieping gery om na die verstommende uitsigte te kyk. Onvergeetlike oomblikke. Jy kon anderkant die horison sien.

Ek het met hierdie treuriger besoek die verlate plek van geweld bekyk, ook verdwaas, met daardie een stuk wat soos ‘n swart vinger regop gestaan het wat ‘n mens se oog keer op keer nader getrek het.  Dit was apokalips, lees ek uit die toneel.

Terwyl ek na die program kyk, kan ek uit daardie een besoek, lank na die tyd toe die “site” al bietjie reggedokter was, my so bietjie indink in hul gevoelens.

Dit is die menslike kant van die dag se gebeure wat my deur hierdie dag besig hou. Daar was niemand op die program wat vertel het van hulle familielede of vriende wat omgekom het nie. Maar hulle kon nie helderder van onmenslikheid en verlies gepraat het as die tonele wat in die program gewys is nie.  Hulle verlies kan nie sterker onder die aandag kom nie. Dit was tonele wat verder vertel het van menslike harte wat gebreek is.

Hoe menslik was ook die woede van sommiges: Byna terwyl die torings nog val, roep in die program van die omstanders uit dat die lafaards wat dit gedoen het, geëlimineer moet word. “Gaan maak hulle dood,” “gee hulle terug wat hulle aan ons gedoen het.”

Wit brand die woede in hul stemme.

Maar, dink ek, terwyl die moeilike woorde van die Vredemaker by my opkom dat geweld nie met geweld beantwoord moet word nie: Hoe kan iemand erger gestraf word as om te leef met die vretende wete in hul dor binneste oor die kwaad wat hulle ander op daardie apokaliptiese dag aangedoen het. Hulle het op hulle gewete ‘n seuntjie of dogtertjie in Brooklyn wat steeds verlangend bly vra na pa se terugkom huis toe. God sien en weet van die ma in New York stad wat elke jaar getrou haar dogter se dood met ‘n kers herdenk. Geregtigheid sal geskied, weet ons, aan die vrou in haar Mahattan woonstel wat haar man se Bybel in haar bedkassie-laai hou as herdenking aan hul gedeelde lewenspad wat tot niet gemaak is. ‘n Pa in China Town, weet die Here, onthou hoe hy en sy seun dikwels saam gaan visvang het in die ryke see-waters.

Leed wat ‘n mens ander aandoen het ‘n manier om by jou te bly en soos ‘n wilde kanker in jou te groei. Dit vernietig uiteindelik die dader veel meer en wreder as sy slagoffer. Hulle wat geweld najaag, wat arrogant dink dat ‘n bom wat doodmaak vir hulle toegang tot die paradys sal verleen, sal tot niet gaan juis deur die kwaad wat hulle verrig het.

Dit is eerder hulle wat vergifnis jaag, wat die vrede soek, wat toegediende leed ongedaan wil maak, wat die paradys sal binngaan – soos die Kruiseling ons geleer het toe hy die berouvolle moordernaar met Hom saamgeneem het.

Dit is die vredemakers wat kinders van God is... Die mens wat op reis is met en na God, se lewe is deursuur met menslikheid.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive