Thursday, May 31, 2012

Die moordenaarshart van die kerk...


In een van die referate by ons byeenkoms in Gloucestershire, praat Lloyd Pietersen oor 2 Timoteus 3:10-17. Dit is deel van Paulus se tweede brief aan Timoteus waarin hy, kort voor sy dood en uit die tronk, aan Timoteus, sy getroue medewerker, sy “testament” stuur.

Paulus kyk terug op sy bediening en herinner Timoteus aan die voorbeeld wat hy vir hom gestel het. Hy praat oor sy lewe, sy ideale, sy geloof, geduld, liefde en volharding.

Maar dan vertel hy van die vervolgings wat hy moes verduur en die lyding wat hy ondergaan het. Die Here het hom egter in al hierdie dinge bewaar. Dan skryf Paulus in vers 12 hierdie opvallende woord: “Elkeen wat soek ‘n dapper, vroom lewe te lei, sal vervolg word.”

Lloyd verduidelik dat die vers nie ‘n sug na martelaarskap is nie. Reeds van die vroegste tye het Christene besef dat hulle bloot net deur hulle getuienis ‘n prys sal betaal. Lateraan het gelowiges heeltemal perspektief verloor en aktief gesoek om doodgemaak te word, veral omdat hulle graag martelaars vir hulle geloof wou wees. Dit was nooit wat Paulus in gedagte gehad het nie.

Die moeilike deel van Lloyd se aanbieding kom wanneer hy vertel hoe die vers in die latere kerkgeskiedenis gebruik is. Dit word ‘n afgryslike verhaal, want hy vertel die geskiedenis van die Anabaptiste van die sestiende eeu en spesifiek stories waarin hulle gruwelik vervolg is.

Hulle is dikwels, bloot omdat hulle Anabaptiste was, deur die owerheid, Protestante en Katolieke, gevang, in tronke opgesluit en dan verhoor. As hulle nie bereid was om hulle geloof te verraai nie, is hulle monde toegespyker sodat hulle nie op die brandstapel kon getuig nie. Hulle is origens verbrand, opgehang of in sakke gestop en verdrink.

Sommige het hul geloof verraai, maar sommige het geweier. In reaksie op hul vervolging het hulle soms uitgeroep dat Paulus reeds geskryf het dat gelowiges vervolg sal word en dan verwys na 2 Timoteus 3:12.

Ek sit en luister na sy verhale oor die skanddade van kerke deur die geskiedenis heen.

Na die tyd gaan lees ek weer sy referaat. Daar is die een verhaal na die ander wat ‘n mens met moeite, en ontgogeld, deurlees. Uit al die verhale haal ek hierdie een aan. Dink net: die moordenaars van mense wie se groot sonde was dat hulle bietjie anders gedink het, het veral hulle monde toegeskroef sodat hulle nie in hul laaste oomblikke van hul geloof kon getuig nie.

Hier volg sy weergawe

Picolet and two companions, Henderick van Etten and Herman, were walking in a forest near Antwerp in 1569 “singing and speaking of the word of the Lord” when they were arrested by the local bailiff. They were searched and several books were found, including a New Testament.

They were then asked when they had last been to confession and to the sacrament. Abraham replied that it had been in Italy four years previously whereupon they were arrested and brought to Antwerp. On interrogation Herman broke down and lied that he had actually been to confession the previous Easter. As a result he was released but the other two refused to change their story. They were sentenced to death and were burned alive after having had their tongues fastened out of their mouths with screwplates to prevent them from speaking. Following their death their bodies were left exposed to the birds. Picolet, whilst in prison, wrote to his sisters, reminding them of Christ’s example of suffering and quoting a number of texts including 2 Tim 3:12. He is comforted by the fact that, after suffering for a little while, he will enter into the Lord’s presence. He informs them that he has been told of the date of his execution and thinks that his captors meant to frighten him with this information but that instead he experienced great strengthening from the Lord.

Gedink daardie dae is verby? Letterlik is dit nog by ons: Daar word vandag nog duisende mense doodgemaak omdat hulle Christene is.

Maar dit is die "sagte" kant, dink ek, aan vervolging, as 'n mens kan waag om dit so te noem. 

Daar is ander venynige vorme van vervolging wat ons gerieflik miskyk en wat diep, weggesteek in ons donker kerk-harte skuil.

Die harde kant van vervolging is hoeveel mense binne die kerk leef wat deur onverdraagsaamheid, oor en weer bakleiery, belastering en vyandigheid vernietig word. Hoeveel mense op die rand van die samelewing – daardie mense met wie Jesus gemeng het en wat in die oë van die respektabeles onaantasbaar was, hoeveel van hulle is nog onwelkom in die kerk? Verag oor hul mens-wees, oor hul velkleur, oor hul gender, oor hul seksualiteit.

Maar ons hoef nie eer so ver te soek nie. Ons teologiese debatte, ons agter-die-rug gesprekke, ons venynige kommentaar is soms deurspek met dade van verwerping en selfs vervolging.

Moord, het die Heiland geleer, kom nie maar net deur die bloedige messteek nie.

Dit kom deur die hatige kyk, die woedende kwetswoord, die afwysende vinger, die meerderwaardige blik.

Een ding wat ek besef, en wat in gesprekke tot my deurdring hierdie twee weke van byeenkomste is dat 'n mens nooit te gou moet vingerwys nie. Die boosheid van die geskiedenis wys ons: diep in ons innerlike, in elkeen van ons innerlike, skuil die moordenaarshart van die kerk. Dit is ons eie mense, ons voorouers, wat deur hul vrome ywer maklik ander kon ophang, verdrink en verbrand oor hul "verkeerde" geloof. 


Wednesday, May 30, 2012

Die liefde is juis so groot omdat dit tot in die detail omgee.

Mark Sedrak stuur die volgende uittreksel in sy daaglikse brief uit. Dit herinner my aan Jesus se Bergrede-woorde dat die kleinste mislukkings en nalatighede 'n mens se innerlike verraai. Dit is nie bloot net die moord op mense wat sonde is nie. Die hatige, harde woord oor en teenoor ander wys dat daar binne in 'n mens donker kragte werk.  Iemand wat in die teenwoordigheid van God leef, is getrou tot in die kleinste dinge. Die liefde is juis so groot omdat dit tot in die detail omgee.

One time some seniors from the Athonite School asked him [Elder Paisios] what they should watch out for most in their lives. “Pay attention to the little everyday things,” he answered. “You sit there comfortably in your armchair, and you think that it’s not bad or a sin; you say, ‘It doesn’t matter.’ It doesn’t matter if we eat a little more, or if we ask for good food. It doesn’t matter if we sleep a little bit more. It doesn’t matter if I was a little short with my parents or someone else. This doesn’t matter, that doesn’t matter…. We justify all these little wrongs. But not paying attention to the small things will lead us to do even bigger wrongs – and then we’ll say, ‘it doesn’t matter’ about them too. We shouldn’t let the body be lazy because the body affects the spirit. We have to be vigilant.

Tuesday, May 29, 2012

Om 'n hart te vernietig


Spiritualiteit het veral te doen met verhoudings en daarom gaan dit om wat tussen persone gebeur. Wanneer mense iets doen wat jou nie aanstaan nie, tas dit die  verhouding tussen mense aan. Woede oor wat ander mense doen of sê kan met groot geweld losbars

In twiste en rusies word met mening teen die opinies en optrede van ander uitgevaar.

In die proses verloor ‘n mens maklik jou menslikheid. Die ander persoon word maklik gereduseer tot ‘n “mening” wat ten alle koste bestry moet word ter wille van jou eie siening.

Dit kan maklik ontaard in allerhande beskuldigings waarin die ander persoon op elke moontlike manier verdag gemaak word.

In ons gesprekke by die byeenkoms in Malta beklemtoon Kees Waaijman dit: wanneer ‘n mens oor fundamentalisme praat, is die geestelike manier om te onthou dat ‘n mens met ‘n fundamentalis te doen het. Dit is nie in die eerste plek fundamentalisme waarmee jy gekonfronteer word nie.

Wanneer ‘n mens ontsteld is, opgewerk is en kritiek lewer, is dit belangrik om te onthou. Altyd weer het ‘n mens met iemand anders te doen en nie net met sy of haar sienings nie. Wat iemand dink of doen is vir hom of haar belangrik, kom uit sy of haar hart op en maak vir hom of haar saak.

Hoe ‘n mens oor ander se sienings praat, kan vernietigende gevolge vir daardie persoon hê.

‘n Mens kan iemand se sienings aanvat, maar dit op so ‘n manier doen dat daardie persoon se hart gebreek word.  

Spiritualiteit gaan nie maar alleen net om die regte sienings nie. ‘n Spirituele persoon besef altyd weer dat hy of sy steeds weer in ‘n verhouding staan met mense van wie hy of sy verskil. Wat saak maak is hierdie verhouding. Die verskille mag dit nie stukkend breek nie.

Oor eeue heen





Hoor 'n mens van Malta, sal jy, as bybelleser, dink aan Paulus wat op die eiland beland het. Hy het die woord aan die goewerneur, Publius verkondig. Nadat hy deur 'n slang gepik is, ontkom hy wonderbaarlik aan die dood.


Ons besoek die plek waar hierdie gebeurtenis herdenk word. Met die trappe gaan 'n mens af in 'n grot waar daar 'n standbeeld van Paulus is en ook 'n pragtige model van 'n skippie.


Dit is 'n vreemde, selfs boeiende, gevoel: om by hierdie plek te staan en te besef dat 'n mens so naby aan die Bybelse verhaal kom.





Sunday, May 27, 2012

Nederigheid en God se wil. Oor geskapenheid.


Soms ontbreek die gawe van onderskeiding in ‘n mens se lewe. Die daaglikse program is vol. Besluite moet geneem word.

In die neem van besluite, word ons gelei deur ons aanvoeling vir wat reg en verkeerd is. Of ons weeg voor – en nadele van ons besluite teen mekaar af.

In Handelinge 15 word vertel dat die Fariseërs 250 kilometers na Antiogië gereis het om daar te vertel dat mense wat nie die teken van die besnydenis het nie, nie gered kan word nie.

Hulle is baie godsdienstig. En hulle voel sterk oor wat die wil van God is.

En tog sê Paulus in Handelinge 15:28 dat hulle God uitdaag en toets met hul eis dat die heidene besny moet word. Hiermee wys hy daarop dat hulle arrogant en eiesinnig is. Hulle is deel van die kerk waarin wonderlike nuwe dinge gebeur. Hulle sien hoe apostels spesiale ervarings het.

Maar al hierdie dinge sê vir hulle niks nie. Wat vir hulle tel, is hoe hulle die wet interpreteer – en wat die wet sê, is wat ander moet gehoorsaam.

Daar is by hulle nie die moontlikheid dat God dalk op ‘n ander manier werk as wat  hulle kan dink nie. God is nie groter as hulle gedagtes nie. Hulle pas God by hulle “gewoontes” (Hand.15:2) aan. Wat Moses te sê het, is wat God ook sê.

Deur die eeue heen het mense hierdie houding gehad: Petrus het Jesus aangehoor dat Hy sou ly en sterf. Petrus het gedink dit is onmoontlik. Op ‘n ander plek het Petrus weer gedink Jesus moenie voete was nie. So iets het nie in sy denke ingepas nie.

Hy het nie gaan stilsit. Gaan nadink en gemediteer oor God se weg met mense nie.

Dit is vir ons moeilik om te dink dat God nuwe dinge doen en dat God ‘n God van verrassings is. Dit is ‘n genadegawe dat ‘n mens bereid kan wees om jou lewe te bedink vanuit God se perspektief: ‘n mens moet reken dat dit ‘n lydensbeker kan wees. Maar uiteindelik is wat saak maak dat God ons selfs deur lyding en pyn ot groter volwassenheid en geluk kan bring.

Dit is 'n uitdaging om nie net sommer te besluit nie, maar om af te vra wat God met jou lewe wil doen. Veral omdat wat God wil doen soms nie ons idee is van wat gedoen moet word nie. Wanneer 'n mens dit doen, is daar in jou lewe 'n stuk openheid vir iets anders as jou eie wil. En dit is bloot 'n stuk nederigheid.

Hierdie nederigheid word gedryf deur die besef dat ons maar net skepsels is. Ons het ons bestaan aan die Skepper te danke. Dit was deur die Skepper se wil dat ons die lewe ontvang het. As ons so 'n groot gawe uit sy hand gekry het, as teken van God se wil, sal die goddelike wil vir ons lewe net so genadig en goed wees.  

Saturday, May 26, 2012

Blou waters


Malta se blou waters omring sprokiesagtige dorpies. Maar dit is die kleur van die water wat by my bly...



Die "Blue Grotto" was helder, helder blou.


Die kranse maaak 'n groot vuis.



Die hawetjie waarvandaan ons na die grot is, is 'n prentjie




Op die bootjies ry ons die grotte binne.



Die bootjie was klein en die wind het sterk geraak.






Friday, May 25, 2012

Selfs jou mure praat van oorlog




Voor ons konferensie in Malta kry ons die kans om die eiland bietjie te verken. Dit is nie ‘n groot eiland nie. ‘n Mens kan in twee ure reg rondom die eiland ry.

Klein.

Maar jy is skaars op pad of jy loop teen die verskriklike geskiedenis van die plek vas.
Wat my die meeste opval is die geweldige mure wat om elke hoek en draai gebou is. Dit is reusagtige mure wat almal ten doel het om die viand uit te hou.

Want, sien, Malta is, vanuit ‘n strategiese hoek gesien , die kosbaarste stukkie aarde in die Mediterreense See.

Wie Malta beheer, beheer die noorde van Afrika en Europa. Daarom was Malta die slagoffer van al die groot ryke. Die groot slag teen die Ottomaanse Ryk het in die sestiende eeu hier plaasgevind. Die Ridders was hier. Die Britte was daarna die base.

Dit is ‘n verskriklike geskiedenis van geweld en oorlog.

Gisteroggend is ons vir die oggend op ‘n bootjie uit na die Blue Grotto. Die water is helder, helder, gloeiend blou. Die kranse is oorweldigend hoog. Die onherbergsame kuslyn laat jou wonder hoe die skepies vanouds benoud moes gesoek het na ‘n hawe waar hullle anker kon gooi.

Op pad daarheen, ry ons verby ‘n eiland langs die kus, so groot soos ‘n rugbyveld. Daar is pragtige rotsformasies op die eiland. Maar niemand mag meer daarop land nie, behalwe wie ‘n spesiale permit kry. Die plek is te verniel en word tans beskerm.

Ja, vertel ons gids, in die tweede wêreldoorlog het die verveelde Britse soldate teiken na die eiland geskiet.
Bedink dit: jaar na jaar, decade na decade, eeu na eeu, het die plaaslike inwoners base gehad. Onder hulle, sien ek, was die kanon-malle Lord Methuen wat van 1915-1918 goewerneur van Malta as kolonie was. Ons ken hom. Hy was een van die booswigte wat in die Boere-oorlog die aarde verskroei en die duisende kinders se dood in konsentrasie-kampe aanskou het. Hier op Malta sou hy sy mag met nog groter toewyding kon laat geld.

Arme land: Generaals was hul politieke heersers. Vreemde heersers het hul land beset. Dag en nag het hulle oorlog ingeasem en teen die gesigte van vreemde magshebbers vasgekyk.

 Wat ‘n geskiedenis het ons aardbol tog nie.

Tuesday, May 22, 2012

Dit is net ‘n kwessie van raaksien. Om die ongewone in die gewone te herken.



 
Berusting is ‘n woord wat ‘n mens nie baie hoor nie. Vir sommige is dit ‘n woord met negatiewe betekenis. Jy word gedwing om te gaan lê voor iets wat groter en sterker as jy is en waaraan jy niks kan doen nie.

Tog het berusting ook ‘n positiewe kant. Soms is ‘n mens inderdaad besig om iets te doen wat jou weghou van meer plesierige, aangename dinge.

Jy moet maar eenvoudig in die ry gaan staan om jou vorm vir ‘n aansoek in te dien. Jy moet maar elke dag jou tas pak en skool toe gaan. Jy moet huis skoon maak. En die lysie kan eindeloos aangevul word.

In sulke omstandighede kan ‘n mens nors, onaangenaam en opstandig wees.

Of jy kan in die tyd dat jy met hierdie dinge moet besig bly, ‘n vry mens word. Dit wat ‘n tydrowende werk en plig is, hoef nie jou vryheid van jou weg te neem nie. Dit is die tyd van aanvaarding, van berusting.

Maar dit maak van jou nie ‘n slagoffer nie.

Daar is ‘n klomp mense wat hulle vryheid vir hulle terugeis wanneer hulle met die verkeerde kant gekonfronteer word. Wanneer die emosies van frustrasie toeslaan, sal hulle nadink wat hulle daaruit kan leer. Of hulle sal vra wat daar wel in die tye van frustrasie teenwoordig is en wat daardie tye transformeer tot iets anders en iets beters.

Iemand vertel my dat sy elke dag wanneer sy die bekende pad werk toe ry, fyn kyk wat in haar omgewing aan die gang is. Sy ontdek elke dag iets wat sy nooit voorheen opgelet het nie. Soms is dit pragtige dinge: die ander dag sien sy vir die eerste keer ooit ‘n groot boom in ‘n tuin naby die pad die allermooiste pienk bloeisels – en dit in die middel van die winter. Die heel dat het die kleure-spel by haar gebly. Vir weke lank was haar reis vol plesier in afwagting om weer die boom te sien. Sy het selfs stilgehou en ‘n foto geneem.

En dan wonder sy waarom dit haar aandag ontglip het.  Deur op te let, deur fyn waar te neem, deur aandag te gee aan die goeie dinge in die alledaagse sleur, kan ‘n mens se lewe getransformeer word. Dit is net ‘n kwessie van raaksien.

‘n Mens aanvaar jou omstandighede omdat jy nie ‘n keuse het nie. ‘n Mens gee in aan iets wat jy nie kan beheer nie. Maar jy kan jou vryheid behou deur te soek na die kort oomblik waarin die helder son van goedheid deur die mistroostigheid dring en sy goeie lig in jou ‘n berusting bring. Want  ‘n mens moet eet en drink. Jy moet woel en werskaf. En tog, te midde van al hierdie alledaagse gesleur, is daar ‘n skat in die hemel wat alles die moeite werd maak.

Die houding van berusting het altyd te doen met berus in. En ‘n mens berus in die wete dat alles, ook die voëltjies se parmantige gerondhoppery, die lelies van die veld se stille teenwoordigheid, al die gewone dinge in die lewe wat so ongesiens by ons verbygaan, in die Vader se goeie wil is. En wie berus in die Vader se goedheid, herken vanuit hierdie grondhouding vele, vele tekens in sy of haar lewe. Dit is net ‘n kwessie van raaksien, herkenning.

Blog Archive