Monday, May 21, 2012

Net nou en dan? As alles kosbaar word....



Ons het in gister se blog gedink daaroor dat ‘n mens in die gewone dinge diep vervuld kan wees. Soos by die viswaters wanneer ‘n mens, weg van alles wat altyd rumoer in jou bestaan inbring, alleen is en eenvoudig net leef.

Sommige mense gryp die lewe so vas veral wanneer hulle hoor dat hulle nie meer veel tyd het om te leef nie. Dan wil hulle elke oomblik voluit beleef. Ander wil in die goeie vakansie, in die wegbreek weer goedheid en mooiheid vind.

Dus: so nou en dan vind ‘n mens die rus....

Of, veral ook: Ons dink dat ons hierdie “rustige” oomblikke wat ons soveel vreugde en genot gee, veral beleef wanneer ons met geestelike dinge op ‘n geestelike manier besig is. In kerkdienste, in stiltetyd, in afsonderingsgeleenthede dink mense om dit te ervaar.

Maar daar is mense wat agtergekom het dat ‘n mens op die vreemdste plekke, in die onverwagte en ongeagte oomblikke en in die mees gewone tye vervulling kan ervaar.

‘n Vriend van my, ‘n mens wat op sy manier graag die dieper dinge in die lewe opsoek, vertel vir my dat hy saans na werk by die huis kom, by sy gesin, en dan, as hy dit doen, bewustelk die herinneringe aan die harde dinge van die dag by die voordeur agter hom toetrek.

Dan is hy by sy vrou, hulle twee seuns en dogter. Hy wil graag die skottelgoed help opwas. Elke bord wat hy was, het kos gehad wat sy kinders se magies volgemaak het. Die lepels wat skoongemaak is, het hulle mondjies vir ‘n oomblik stilgemaak. Dieselfde mondjies wat om die etenstafel  die dag se stories van die skool en die maats en die sport vertel het. Dit is vir hom nie net ‘n ding om borde en eetgerei skoon te maak nie. Om elke bord te was, word ‘n klein ritueel, ‘n liefdestaak, sommer net iets goeds om te doen.
Elke oomblik word vir hom goed. Om net die gewone dinge, die absoluut basiese dinge te doen, daar in die kombuis by sy mense, is vir hom vreugde.

Dit is nie dinge wat hy “diep en filosofies” bedink nie. Maar tog, wat ‘n las moet wees na ‘n dag van ellende, beleef hy anders, want hy bedink en ervaar dit anders.  

Dit is die wonder: wanneer die gewone dinge wonder-lik word. Elke oomblik word spesiaal. Die mees gewone ding, die knip van die heining om die tuin, die sny van gras, die brei van ‘n truitjie, die lees van ‘n boek, die vasbind van ‘n skoen se veters, die drink van ‘n koppie tee, word nie maar net nog ‘n ding om gou agter die rug te kry nie.

Al hierdie dinge wat soveel van ons tyd opneem en wat ons afjaag om by die “groot “ dinge te kom, kan ‘n las en ‘n swaar drag wees waaroor ons mor en kla. Of, dit kan iets heel anders word. As ons dit maar so bedink en ervaar....

Daar is my vriendin wat van elke ete wat sy (moet) kook, ‘n ritueeltjie maak - sonder dat sy dit self besef. Sy doen dit met hart en siel. Sy woel en werskaf in die kombuis. Sy haal haar speserye uit, bedink watter een sal sy gebruik. Sy bekyk haar kruie om te dink wat sou die lekkerste smaak. Sy loer kort-kort in die pot. Sy tel gereeld die deksel op om te loer hoe prut haar brousel. Sy is verlore in haar kos-maak. Tyd staan vir haar stil. Die bedrywigheid in die kombuis is vir haar nooit ‘n gejaag nie en jy sal haar nie maklik hoor kerm of kla nie.

Dit is nou nie dat sy vroom hieroor nadink en teen haar beterwete vir haar dwing om dit “gelukkig” te doen nie. Dit is eenvoudig haar ingesteldheid. Sy is so.

Sy is een van die gelukkigste mense wat ek ken. Elke oomblik is vir haar kosbaar. Sy lewe voluit. Daar is nie gesleur in haar lewe nie.
Sy is nie gekondisioneerd om so te wees nie. Sy rig haar nie self af om dinge so te doen nie. Sy het ‘n innerlike spasie van goedheid wat haar in staat stel om die mees doodgewone dinge met innerlike voldoening te doen.  

Hieroor nog meer.  

Blog Archive