Hoe
soek ‘n mens God se wil? Eergister se bloginhoud wil ek van 'n effe ander hoek bekyk.
Gewoonlik,
sal die nugter gelowige mens sê, gebruik jy jou goeie, gesonde verstand wat die
Here jou gegee het. Jy ontleed die saak versigtig. Jy sorg dat jy al die
implikasies van die saak verstaan. Jy soek daarna om verstandige besluite te
neem.
In
Handelinge 15 sien ‘n mens hoe die apostels en ouderlinge in Jerusalem uit hul
bemoeienis met die sending onder nie-Jode agterkom dat hulle net soveel na God
verlang as Jode. Die nie-Jode het in groot getalle vir God opgesoek (Hand.15:19).
As
goeie Jode het die apostels gewonder: beteken dit nou dat hierdie mense besny
moet word? En moet hulle ook die reinheidswette van die Jode onderhou?
Paulus
en Barnabas, daardie groot sendingwerkers van die eerste jare, het gou besef
dat dit nie nodig was nie. God, het hulle verstandig uitgewerk, neem nie mense
aan omdat hulle besny is nie. God het mense lief, gee aan hulle genade en bring
hulle tot geloof (Hand. 15:11). ‘n Mens, beklemtoon Petrus ook, word alleen
deur die genade van die Here Jesus gered.
Dit
was nie ‘n maklike antwoord nie. Sommige van die lidmate in die kerk was diep
hieroor gegrief. As Jode, het hulle weer God se wil uitgelê, is ons
gehoorsaamheid aan die wet verskuldig. Niemand kan gered word as hy of sy nie
besny is of die wet gehoorsaam nie (Hand.15:2).
Twee
groepe in die gemeente: die een groep hou aan die wet vas. Die ander groep
vertel hoedat God mense genadiglik seën en red, sonder enige verdienste.
Toe
besluit die gemeente volgens Handelinge 15 albei is reg: die wet is nie ‘n
vereiste nie (Hand.15:28). Maar ‘n mens moet tog, voeg hulle by, darem sekere
vereistes van die wet nakom – soos om nie afgodsoffers te eet nie, of vleis van
verwurgde diere nie, of bloed en om nie immoreel te lewe nie.
Op
die manier het die gemeente die wil van God uitgelê.
Maar
hoe weet ‘n mens nou dat hulle reg was?
Ons
weet uit Handelinge 15:24 dat die Fariseërs se siening van God se wil mense verwar
en hulle gedagtes vertroebel het. Maar toe die besluit van die gemeente aan hulle
bekend gemaak is (Hand.15:31) was hulle bly en bemoedig deur die boodskap.
Wie
was reg? Kyk maar na die afloop: waar mense bemoedig en bly is, kan jy maar
weet – daar ontdek hulle God se wil vir hulle lewens. Maar verwarring en
belasting is nie tekens van God se wil nie.
Dit
word dat ‘n belangrike toetsteen vir ons onderskeiding van God se wil: of dit
van ons beter, geïntegreerde, heel, gelukkige en tevrede mense maak.
Waar
dit nie gebeur nie en waar ons selfs buite die wil van God met al ons groot
aansprake leef, bring die gedeelte ‘n donker woord. Wanneer ‘n mens in die naam
van God die wil van God bekend maak wat ‘n las vir mense is (Hand.15:10), is ‘n
mens besig om God uit te daag en te toets. Duidelik waarsku hierdie donker vers
in Handelinge 15:10: Waarom is julle besig om God uit te daag deur mense te
belas?
Deur te soek na alles wat mense innerlik bly en bevry sal laat voel. Oral waar God se genade gevier word en die ligte las van die goddelike liefde opgeneem word, daar, daar sal 'n mens God se wil ontdek.