Ek sien vandag vir die eerste keer Goya se uitbeelding van Christus aan die kruis (1780). Die Spaanse Goya, een van die groot name in die kunsgeskiedenis, was 'n bekende, gesogte kunstenaar wat tuis was in koninklike howe en in die huise van invloedryke mense.
Maar wie hy ook al was, is vir 'n mens se eerste ontmoeting met die skildery onbenullig. Daar is iets besonders daaraan. Geen bloed, geen wonde, geen lyding nie, al is die kruis en die spykers so duidelik getekend.
Die kruiseling hang nie aan die kruis nie.
Hy staan met opgehefde hande wat uitreik na die hemel.
En die uitreikende hande word verduidelik deur 'n blik na Bo. Van buite die skildery sien ons as kykers die kruiseling biddende. Ons is bevoorreg om te kan deel in die mees intieme oomblik van iemand se lewe, die laaste gebed tot die Een wat die lewenspad met ons geloop het.
Verder net die sagte lig. Lyding verdwyn totaal in die sterker lig van die liefde en vertroue.