Sunday, May 20, 2012

Elke oomblik is kosbaar.


‘n Mens hoor dit soms: mense kry die tyding dat hulle terminaal siek is. Hulle lewens verander dan in vele opsigte en nogal radikaal. Hulle rond hul sake af, sorg vir ‘n testament, reël dat hul besittings uitgedeel word, en nog vele ander. Skielik word dinge vir hulle belangrik wat hulle voorheen nie geag het nie.

Maar hulle kry ook ‘n heel ander gevoel oor tyd. “Elke dag is kosbaar”, het my sus vir ‘n vriendin gesê, drie weke voor sy dood is. En sy het elke dag met kosbaarhede gevul.

Tyd het vir haar ‘n heel ander dimensie gekry. Sy het elk dag intens belewe.
‘n Mens hoef nie net oor die groot, finale dinge so te reageer nie. ‘n Mens kan oor die gewone ding in die lewe ook so voel.

‘n Visserman sal jou vertel dat ‘n mens nie eintlik visvang om ‘n vis aan jou hoek te voel byt en in te katrol nie.

Die visserman wat weet sal vir jou vertel dat die inpak van jou vissak, die planne met watter aas jy vang, die plek waar jy gaan ingooi, maar ook die tydjie met die visstok in jou hand – dit is wat vreugde gee. Hier sit jy, langs die see, met die bries wat teen jou lyf streel, met die see wat in ewige ritme voor jou uitdein, die tyd wat stilstaan.  

Alles wat altyd jou ore laat tuit en jou gemoed uitput, is weg. Daar is nie geraas nie.

Tyd het gaan stilstaan. Jy is verlore in hierdie oomblik.

Meer nog: jy weet dit dat niks behalwe hierdie kosbare oomblik jou lewe vul en vol maak. Daar is ‘n rustigheid in jou wat sommer net daar is. Dit is oor niks wat jy bly is. Net in rustigheid op jou eie, besig met die gewone, dit is genoeg. Dit gee vreugde.

Hier, by die viswaters langs die see, by die kampvuur in die wildernis, hier verdwyn alle konsep van tyd.

Op die manier word ‘n hele dag in die hete son, langs die woelige see, met hande wat lekker stink na aas, ‘n tyd van verfrissing en vreugde. Die doodgewone dinge help jou weer orent, laat jou weer kans sien, maak jou lewe vol van goeie herinneringe en bring in jou gevoelens van innerlike volheid.

Elke oomblik, alles, kan kosbaar wees. 

Hieroor later meer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive