Soms ontbreek die gawe van onderskeiding in ‘n mens se lewe. Die daaglikse program is vol. Besluite moet geneem word.
In die neem van besluite, word ons gelei deur ons aanvoeling vir wat reg en verkeerd is. Of ons weeg voor – en nadele van ons besluite teen mekaar af.
In Handelinge 15 word vertel dat die Fariseërs 250 kilometers na Antiogië gereis het om daar te vertel dat mense wat nie die teken van die besnydenis het nie, nie gered kan word nie.
Hulle is baie godsdienstig. En hulle voel sterk oor wat die wil van God is.
En tog sê Paulus in Handelinge 15:28 dat hulle God uitdaag en toets met hul eis dat die heidene besny moet word. Hiermee wys hy daarop dat hulle arrogant en eiesinnig is. Hulle is deel van die kerk waarin wonderlike nuwe dinge gebeur. Hulle sien hoe apostels spesiale ervarings het.
Maar al hierdie dinge sê vir hulle niks nie. Wat vir hulle tel, is hoe hulle die wet interpreteer – en wat die wet sê, is wat ander moet gehoorsaam.
Daar is by hulle nie die moontlikheid dat God dalk op ‘n ander manier werk as wat hulle kan dink nie. God is nie groter as hulle gedagtes nie. Hulle pas God by hulle “gewoontes” (Hand.15:2) aan. Wat Moses te sê het, is wat God ook sê.
Deur die eeue heen het mense hierdie houding gehad: Petrus het Jesus aangehoor dat Hy sou ly en sterf. Petrus het gedink dit is onmoontlik. Op ‘n ander plek het Petrus weer gedink Jesus moenie voete was nie. So iets het nie in sy denke ingepas nie.
Hy het nie gaan stilsit. Gaan nadink en gemediteer oor God se weg met mense nie.
Dit is vir ons moeilik om te dink dat God nuwe dinge doen en dat God ‘n God van verrassings is. Dit is ‘n genadegawe dat ‘n mens bereid kan wees om jou lewe te bedink vanuit God se perspektief: ‘n mens moet reken dat dit ‘n lydensbeker kan wees. Maar uiteindelik is wat saak maak dat God ons selfs deur lyding en pyn ot groter volwassenheid en geluk kan bring.
Dit is 'n uitdaging om nie net sommer te besluit nie, maar om af te vra wat God met jou lewe wil doen. Veral omdat wat God wil doen soms nie ons idee is van wat gedoen moet word nie. Wanneer 'n mens dit doen, is daar in jou lewe 'n stuk openheid vir iets anders as jou eie wil. En dit is bloot 'n stuk nederigheid.
Hierdie nederigheid word gedryf deur die besef dat ons maar net skepsels is. Ons het ons bestaan aan die Skepper te danke. Dit was deur die Skepper se wil dat ons die lewe ontvang het. As ons so 'n groot gawe uit sy hand gekry het, as teken van God se wil, sal die goddelike wil vir ons lewe net so genadig en goed wees.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.