Tuesday, May 29, 2012

Om 'n hart te vernietig


Spiritualiteit het veral te doen met verhoudings en daarom gaan dit om wat tussen persone gebeur. Wanneer mense iets doen wat jou nie aanstaan nie, tas dit die  verhouding tussen mense aan. Woede oor wat ander mense doen of sê kan met groot geweld losbars

In twiste en rusies word met mening teen die opinies en optrede van ander uitgevaar.

In die proses verloor ‘n mens maklik jou menslikheid. Die ander persoon word maklik gereduseer tot ‘n “mening” wat ten alle koste bestry moet word ter wille van jou eie siening.

Dit kan maklik ontaard in allerhande beskuldigings waarin die ander persoon op elke moontlike manier verdag gemaak word.

In ons gesprekke by die byeenkoms in Malta beklemtoon Kees Waaijman dit: wanneer ‘n mens oor fundamentalisme praat, is die geestelike manier om te onthou dat ‘n mens met ‘n fundamentalis te doen het. Dit is nie in die eerste plek fundamentalisme waarmee jy gekonfronteer word nie.

Wanneer ‘n mens ontsteld is, opgewerk is en kritiek lewer, is dit belangrik om te onthou. Altyd weer het ‘n mens met iemand anders te doen en nie net met sy of haar sienings nie. Wat iemand dink of doen is vir hom of haar belangrik, kom uit sy of haar hart op en maak vir hom of haar saak.

Hoe ‘n mens oor ander se sienings praat, kan vernietigende gevolge vir daardie persoon hê.

‘n Mens kan iemand se sienings aanvat, maar dit op so ‘n manier doen dat daardie persoon se hart gebreek word.  

Spiritualiteit gaan nie maar alleen net om die regte sienings nie. ‘n Spirituele persoon besef altyd weer dat hy of sy steeds weer in ‘n verhouding staan met mense van wie hy of sy verskil. Wat saak maak is hierdie verhouding. Die verskille mag dit nie stukkend breek nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive