Tuesday, May 08, 2012

Hoe weet 'n mens dat jy binne God se wil leef?


Hoe weet ‘n mens wanneer ‘n mens in ooreenstemming met God se wil leef?

Oor eeue heen het mense oor hierdie vraag bedink.

Dit gaan oor onderskeiding as die groot, sentrale vraag in Spiritualiteit. Dit is ook 'n vraag wat opkom uit die hart van 'n wyse mens: te goed weet die wyse mens dat niemand die wysheid in pag het nie. Dit bly verstandig om gedurig die lewensreis te toets aan wat werklik saak maak.

Wanneer ‘n mens ‘n onseker pad loop, verlang ‘n mens om seker te weet dat jy in ‘n rigting loop wat jou by God sal bring. Niemand wil geestelike in ‘n doodloopstraat beland deur buite God se wil te wees nie.

Dit kan ook met ‘n groep mense gebeur dat hulle op soek is na wat God met hulle lewens wil doen. In een van die vinnig groeiendste kerke van die eerste Christendom het dinge vinnig gebeur: nuwe mense van ander oortuigings het by die gemeente in Antiogië aangesluit. Hulle het nie, soos die eerste gemeentelede, ‘n Joodse agtergrond of Joodse bande gehad nie. Hulle het nie die Joodse gebruike geken nie. Alles wat belangrik was vir Christene wat as Jode vir die weg van Jesus gekies het, was vir hierdie nuwe mense eintlik minder belangrik. Hulle was aangetrokke tot alles wat Jesus geleer en gedoen het. In Jesus het hulle dinge oor God ervaar wat vir hulle genoeg was.  Dinge het goed gegaan. Daar was vrede.

Toe kom daar ‘n groepie Jode uit die land van die Jode om vir die gemeente in Antiogië te vra om nie hul Joodse identiteit op te gee nie. Dit het, volgens hulle, beteken dat die nuwe bekeerlinge die wet moes gehooraam deur die besnydenis te ondergaan. Vir hulle was dit God se wil waarbuite niemand behoort te leef nie. Vir hulle was dit so belangrik dat hulle vir die bekeerlinge vertel het dat hulle nooit daarsonder gered sal word nie en in hulle lewe vervulling sal ervaar nie (Hand.15:1-2).

Paulus en Barnabas wat hierdie groot vernuwingsbeweging met hul getuienis-lewering aangevuur het, was hewig ontsteld oor die groep se onverwagte ingryping en het verontwaardig gereageer.

In ‘n kwaai woordewisseling het hulle die standpunt van hul Joodse mede-Christene uit Juda heftig teengestaan.

Hulle kon nie tot ‘n vergelyk kom nie.

Toe gaan hulle almal Jerusalem toe om dieper oor die saak na te dink. Want in Jerusalem was daar die apostels en ouderlinge wat jare lank by Jesus was en uit hul ervaring ‘n wyse woord sou spreek.

Hoe het die apostels en ouderlinge die saak besleg?

Hulle het op meer as een manier nagedink oor wat God se wil oor die moeilike probleem was. Immers, vir eeue en eeue heen het geslagte van Jode vas geglo dat die besnydenis een van die belangrikste aanduidings van God se wil was. Oor baie dinge sou ‘n mens kon twyfel, maar oor die besnydenis het min mense getwyfel: dit was God se wil. Daaroor is die Ou Testament te duidelik.

Toe die klomp mense na hierdie debat uit Antiogië in Jersualem aankom en vergadering hou, het die apostels en ouderlinge saam met hulle diep begin nadink oor wat God vir hulle in ‘n nuwe situasie wil sê. Dit was immers ‘n saak wat vele mense se lewens baie kon beïnvloed.

As ‘n mens Handelinge 15 lees, is daar ‘n opvallende manier waarop die apostels en ouderlinge kon weet of iets na God se wil was. Hulle het naamlik geweet dat God se wil nooit vir mense sal belas nie.

Paulus staan tydens die vergadering op en sê vir daardie behoudende, gelowige en gedrewe Fariseërs wat so graag volgens God se wil geleef het: die wet en die besnydenis waaroor julle so aangaan, is ‘n swaar juk. Julle wil hierdie las op ander mense lê. En tog is die opvallende dat julle self en almal in julle geskiedenis net swaar gekry het onder die wet. Niemand kon nog ooit hierdie juk dra nie (Hand.15:10). Enige iemand wat so ‘n juk op ander mense se skouers wil laai, voeg hy by, is besig om God te versoek en uit te daag!

Dit is die skreiende ironie: Hulle wat dink dat hulle groot is in die gehoorsaamheid aan God se wil, kan dalk net met beskaming uitvind dat hulle eintlik buite God se wil is.

En toe staan Jakobus op. As broer en apostel het hy Jesus geken soos min ander mense. Hy was deur en deur ‘n Jood. As iemand met gesag oor die wet kon praat, was dit Jakobus.

Hier kom mens na God toe, sê hy. Wat meer wil ‘n mens hê? Waarom moet ‘n mens dit vir hulle moeilik maak? (Hand.15:19). He, saam met al die apostels wil nie vir mense belas nie (Hand.15:28). Jakobus is eerder die geestelike vriend van hierdie nuwe bekeerlinge. Daarom praat hy ernstig met die Joodse yweraars vir die wet wat dink hulle ken God se wil so goed: julle, vertel hy, is besig om mense te ontstel en julle gemoedere te vertroebel (Hand.15:24).

Die negatiewe gevolge van julle dade moet al vir julle ‘n rooi lig laat skyn.

Wanneer ‘n mens hierdie verhaal lees, doem die beeld van Jesus by ‘n mens op. Hy het immers die skare, moeg gehiet en gebied deur die vroom mense van hul tyd, uitgenooi om by Hom te kom rus vind. Hy het hulle uitgenooi om die ligte juk op te neem. Dit het Jakobus maar te goed geweet.

Dit is nie God se wil dat godsdiens verdrukkend en manipulerend is nie. Trouens, toe Judas en Silas later die brief met die besluite van die byeenkoms in Jerusalem aan die mense-menigte in Antiogië oorgedra het, vertel Lukas (Hand.15: 31) was hulle “bly oor die bemoediging.”

‘n Mens weet wanneer jy in die wil van God leef wanneer jy in blydskap en met moed jou geestelike reis kan voer.

Nog meer: wanneer ‘n mens in God se wil leef, kom al jou innerlike onrus tot bedaring. Dit het juis gebeur toe Judas en Silas uiteindelik na hul kuier in Antiogië terug huis toe is. Die gemeente het hulle “met vrede” laat gaan.

Na die bitter twis, het daar vrede gekom. Dit is wat gebeur wanneer mense in God se wil leef.




Blog Archive