Tuesday, May 22, 2012

Dit is net ‘n kwessie van raaksien. Om die ongewone in die gewone te herken.



 
Berusting is ‘n woord wat ‘n mens nie baie hoor nie. Vir sommige is dit ‘n woord met negatiewe betekenis. Jy word gedwing om te gaan lê voor iets wat groter en sterker as jy is en waaraan jy niks kan doen nie.

Tog het berusting ook ‘n positiewe kant. Soms is ‘n mens inderdaad besig om iets te doen wat jou weghou van meer plesierige, aangename dinge.

Jy moet maar eenvoudig in die ry gaan staan om jou vorm vir ‘n aansoek in te dien. Jy moet maar elke dag jou tas pak en skool toe gaan. Jy moet huis skoon maak. En die lysie kan eindeloos aangevul word.

In sulke omstandighede kan ‘n mens nors, onaangenaam en opstandig wees.

Of jy kan in die tyd dat jy met hierdie dinge moet besig bly, ‘n vry mens word. Dit wat ‘n tydrowende werk en plig is, hoef nie jou vryheid van jou weg te neem nie. Dit is die tyd van aanvaarding, van berusting.

Maar dit maak van jou nie ‘n slagoffer nie.

Daar is ‘n klomp mense wat hulle vryheid vir hulle terugeis wanneer hulle met die verkeerde kant gekonfronteer word. Wanneer die emosies van frustrasie toeslaan, sal hulle nadink wat hulle daaruit kan leer. Of hulle sal vra wat daar wel in die tye van frustrasie teenwoordig is en wat daardie tye transformeer tot iets anders en iets beters.

Iemand vertel my dat sy elke dag wanneer sy die bekende pad werk toe ry, fyn kyk wat in haar omgewing aan die gang is. Sy ontdek elke dag iets wat sy nooit voorheen opgelet het nie. Soms is dit pragtige dinge: die ander dag sien sy vir die eerste keer ooit ‘n groot boom in ‘n tuin naby die pad die allermooiste pienk bloeisels – en dit in die middel van die winter. Die heel dat het die kleure-spel by haar gebly. Vir weke lank was haar reis vol plesier in afwagting om weer die boom te sien. Sy het selfs stilgehou en ‘n foto geneem.

En dan wonder sy waarom dit haar aandag ontglip het.  Deur op te let, deur fyn waar te neem, deur aandag te gee aan die goeie dinge in die alledaagse sleur, kan ‘n mens se lewe getransformeer word. Dit is net ‘n kwessie van raaksien.

‘n Mens aanvaar jou omstandighede omdat jy nie ‘n keuse het nie. ‘n Mens gee in aan iets wat jy nie kan beheer nie. Maar jy kan jou vryheid behou deur te soek na die kort oomblik waarin die helder son van goedheid deur die mistroostigheid dring en sy goeie lig in jou ‘n berusting bring. Want  ‘n mens moet eet en drink. Jy moet woel en werskaf. En tog, te midde van al hierdie alledaagse gesleur, is daar ‘n skat in die hemel wat alles die moeite werd maak.

Die houding van berusting het altyd te doen met berus in. En ‘n mens berus in die wete dat alles, ook die voëltjies se parmantige gerondhoppery, die lelies van die veld se stille teenwoordigheid, al die gewone dinge in die lewe wat so ongesiens by ons verbygaan, in die Vader se goeie wil is. En wie berus in die Vader se goedheid, herken vanuit hierdie grondhouding vele, vele tekens in sy of haar lewe. Dit is net ‘n kwessie van raaksien, herkenning.

Blog Archive