In Nederland is dit vandag die herdenking van mense wat in die tweede wêreldoorlog omgekom het.
Die televisie wys baie beelde oor die viering in Amsterdam waar mense pragtige kranse lê en ‘n groot skare in ‘n sobere stemming bymekaar is.
Dit is ‘n stil, waardige geleentheid wat ‘n mens deur die eenvoud daarvan aangryp.
Dit is nie ‘n maklike viering nie. Die kommentaar is soms skrikwekkend: van die 80 000 Jode in Nederland is 61 000 na die konsentrasie-kampe weggevoer en doodgemaak.
Verder het die televisie-nuus ‘n berig oor die vervolging van die Jode in Warskou. (Sien 'n volgende blog). Dit is ontstellende inligting.
Maar dit is ‘n derde berig wat my oog vang: dit gaan oor ‘n viering in ‘n klein dorpie waar die burgemeester nie net Joodse slagoffers wou herdenk nie. Hy wou tydens die herdenking ook verby die grafte van 10 Duitse soldate loop om ook vir hulle in gedagte te hou.
Joodse slagoffers van die Nazi-terreur het heftig beswaar gemaak teen die burgemeester se optrede en ‘n hofuitspraak bekom wat hom verbied het om binne ‘n sekere afstand van die Joodse soldate se grafte te kom. Jode wat die aansoek gekry het, voel dat hul pyn te diep is om die dood te herdenk van die soldate wat hul vyande was en wat hulle doodgemaak het.
Maar, sê die verslaggewer, in Nederland is daar ‘n al hoe sterker tendens in die afgelope jare om ook die Duitse soldate te herdenk. Want, word geredeneer, hulle het nie veel van ‘n keuse gehad nie. Die staat het hulle opgeroep en hulle moes eenvoudig in die weermag dien. En vele van hulle het dit onder protes gedoen of het teen die einde van die oorlog geweier om deel te neem.
Ek luister verwonderd na die twee menings: aan die een kant die onmeetlike pyn van mense wat honderde duisende, selfs miljoene van hul geloofsgenote in die dodelike gaskamers verloor het. Aan die ander kant die tragiek van ‘n weermagslid wat die staat se oproep tot weermagsdiens nie mag geweier het nie.
Tussen die uiterstes is die gevolge orals dieselfde: families wat kosbare mans, vrouens en kinders – Joods of Duits of Nederands of Engels – verloor het, wat deur die oorlog van dierbares ontneem het wat nog in die fleur van hulle lewe was. As ‘n mens hulle herdenk praat ‘n mens juis nie oorlog goed nie. Jy vier nie die oorwinning of ly bitter onder die nederlaag nie. Jy onthou mense, gesneuweldes, dierbares, vriende, kamerade. En daardie menslike herinneringe sal ‘n mens met ‘n geestelike ingesteldheid altyd weer laat besef hoe verskriklik oorlog is.
En toe, aan die einde van die berig, vertel die verslaggewer, dat die burgemeester en sy kollega’s op die raad inderdaad aan die hofbevel gehoor gegee het en nie verby die grafte van die Duitse soldate verbygestap nie. Wetsgehoorsaam.
Maar, voeg hy by, almal wat die diens bygewoon het, het verby die grafte gestap, ter herinnering aan ook die hoë tol wat die oorlog van die Duitsers geëis het. Immers, voeg die verlaggewer by, daar was nie net Joodse slagoffers nie. Ook die Duitse soldate was slagoffers van die oorlog.
En, terwyl ek dit beluister, besef ek hoe ter sake hierdie dinge ook vir ons land is. Ons gaan immers ook deur die proses om die pyn van die verlede te probeer verwerk en in hierdie proses vergeet ons dat pyn nooit net aan een kant kan lê nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.